Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Thursday, 17 November 2011

Eden...'n parys

Eden, die tuin van God…so perfek soos wat my menslikheid iets kan voorstel…stroompies water wat kristalhelder oor groot, ronde klippe kabbel. Groen plante met majestieuse bome en die son wat strepe deur die blare laat syfer.  ‘n Wasigheid oor die waters in die vroeë oggendlug.  'n Pragtige bokkie wat rustig kou aan 'n grassie.  Dit moes beeldskoon gewees het en so suiwer! 

HEILIG

Dat God vir Adam vra om die diere wat hy pas met Sy Skepperhand gemaak het name te gee, getuig van verhouding.  Amper soos ‘n pa wat vir sy seuntjie ‘n hondjie gee en sê hy kan self besluit wat sy naam gaan wees.  God het dit alles goed gemaak en besluit om die vreugde daarvan met Adam te deel.

My klein mensebrein dink dat God groot planne gehad het vir Adam en sy Eva.  ‘n Nader as naby verhouding met Sy skepsels, Sy kinders wat Hy na Sy beeld gemaak het.  En kyk, God lyk nie soos ‘n mens nie, dink ek.  Die beeld waarna Adam-hulle (en dan natuurlik ook ons wat vandag lewe) gemaak is, is die geestelike beeld in die mens, die karakter van God, Sy heiligheid.  Liefde.  Vreugde.  Vrede.  Geduld.  Vriendelikheid.  Goedhartigheid.  Getrouheid.  Nederigheid.  Selfbeheersing... 

Wat my die meeste tref van Eden is die intieme, persoonlike, direkte verhouding tussen God en Adam en Eva.  Kan jy jouself indink?  Saligheid op sy beste.  Rustigheid.  Sekerheid.  Dit, glo ek, was die plan – ‘n liefdesverhouding tussen God en die kroon van Sy skepping.  Tog het Hy dit nie afgedwing op Adam en Eva nie.  Hy wou hê dat hulle dit moes KIES.  Hy wou hê dat Eva moes NEE sê vir die slang en nie inkoop in sy slinkse planne nie.  Hy het haar ‘n vrye wil gegee, want anders sou dit gedwonge liefde (of dan ‘n element daarvan, naamlik gehoorsaamheid) wees. 

En toe begin ek wonder – hoeveel van Eden kan ek vandag, hier, in Pretoria, hê?  Kies ek nie soms om God se teenwoordigheid mis te kyk nie?  Ontgaan die volmaan of die sonsondergang my nie as gevolg van my eie nalatigheid nie?  Kies ek nie ook maar die appel wanneer dit vir my aangebied word en ek dink God sien dit nie?  En dit is nie wat God wil hê nie. 

Ek wil kies om in Eden te lewe en al die wonderlikheid daarvan te ervaar.  God is hier by my en jou in ons omstandighede en wil hê ons moet Hom raaksien.  Ons moet kies om met Hom te gesels en vir Hom te vertel van elke opwindende nuwe ding wat ons leer of elke hartseer wat onverwags tref of oorwinning wat kom.  Koningskinders moenie sonder hul Koning in hierdie wêreld lewe waar dinge so effens hand-uit geruk het nie.  Koningskinders moet koningsverhoudings met hul Koning hê.  Jip, dis bonatuurlik, dis ongewoon, maar kom oor dit.  Kan jy regtig verwag dat God natuurlik/normaal moet wees?  Komaan!  Hoe het jy gedink werk die Ewige Lewe?  Dis NOU reeds hier!  Eden is hier!  Kies dit.

Wees heilig, want God is heilig.

Wednesday, 2 November 2011

Mallemeule van gebeure

Soms gebeur slegte dinge met goeie mense deur hul eie toedoen.  (In hierdie scenario sien ek nou myself ewe hooghartig as die goeie mens).  Soms gebeur 'n REEKS slegte dinge met 'n goeie mens oor 'n tydperk...  In my geval is motors die afgelope tyd 'n refrein in my lewe.  Kom ek brei uit...

Ene Konstabel Iemand van Bloemfontein skakel my nou die dag:  "Onthou jy my nog?"  Die gebeure van so 'n jaar en 'n half terug toe ek 'n motorbotsing sien gebeur het en ek en my twee broers eerste op die toneel was om die polisie en ambulans te bel, speel weer voor my oë af.  Ja, ek onthou.  "Ja, uhm, jy moet kom getuig."  In Bloemfontein?  "Ja".  Die staat gaan my dagvaar om te getuig in die saak wat nou 'n saak van strafbare manslag is.  Dis in Bloemfontein.  Jammer, hoor, maar dit beteken jy sal verlof moet insit.  Skokgolf.

Laasweek was ek een oggend so bietjie omgekrap en toe ook nie so aandagtig toe ek by ons werk se ondergrondse parkering uit "reverse" het nie.  Toe ek nog so ingedagte kyk, sien ek 'n sagte beweging by my baas se motor.  Ek het hom geskraap!  Skokgolf.

Ter agtergrond:  die motor waarmee ek bestuur het, is wit.  My baas se motor is swart.  Die gevolg is 'n wit strepie op 'n swart motor en 'n baie verleë werknemer wat URE vat om die nuus te breek.  Ek doen dit toe wel en my baas is, soos te wagte, ontsteld (maar darem nie so ontsteld dat sy onredelik is nie).  Die ooreenkoms is dat ek paneelkloppers toe moet gaan en kwotasies kry...

Vandag kom my baas in my kantoor in met 'n smaal op die gesig en 'n spoedkaartjie in die hand.  PRAGTIGE foto van die werksmotor wat ek tot onlangs toe nog geleen het se agterkant.  R375, die "discount" bedrag.  Skokgolf.

En so is ek verantwoordelik vir my eie informele sekwestrasie. Wat de os, Boklammetjie?  :)  Waar is die dae toe ek nog my pa veroordeel het oor 'n spoedkaartjie naby Keimoes?  En waar is die dae toe ek net eenvoudig nie 'n MOONTLIKHEID van 'n motor-krap-geval gehad het nie?  In die verlede, dis waar!

As iemand weet van 'n naweek-joppie, laat weet maar.  As enige van my vriende my nie meer sien in die volgende maand nie - ek vra byvoorbaat verskoning.

Einde van dag 2 November 2011:  Boklammetjie minus een dag verlof minus R375 en minus die wit krap op die swart motor.  Jy kan nie sê ek stagneer nie, ne!  :) 

If life gives you lemons, make lemonade! 

Tuesday, 25 October 2011

Jou dag is...wat..BLOU?

Mmmm, jy kom by die toegangshek by een of ander winkelsentrum en kan nie die knoppie bykom nie.  Recalculating...sit motor af, maak die deur oop en gryp vies die toegangskaartjie.  Nou wil jy iets pragtigs koop by die winkel, maar die kaartmasjien werk nie.  Recalculating...hardloop na die OTM en vang jouself in 'n omstrede lang ry.  Ugh! 

Vanoggend gebeur daar ook weer so iets wat nou net nie loop soos wat ek dit beplan het nie en ek ruik my eie selfsug raak.  Ek parkeer weer 'n myl ver en stap die helfte van die myl oppad na waar ek moet wees voor ek besef ek het 'n dokument in die motor vergeet.  Op hierdie stadium begin sin weer terug in my brein in syfer...kyk rond, jong.  Jy het seker nou net iets gemis wat mooi was.  Ek sien pragtige jakarandabloeisels en kyk twee keer na die kleuterskool wat pouse hou...jillende kinders is oral op die terrein besig om mekaar te jaag of te gly of net rug-aan-rug te sit en niks eens te sê nie.

Oppad terug verkyk ek my sommer weer aan die kinders en die bloeisels en nou ook sommer die ander karakters op straat.  Die verskeidenheid is asemrowend.  Dit roof my van my asem.  Swart en bruin en wit en selfs oosters.  Wit motors, rooi motors, groen motors, geblomde motors, gebreekte motors...  Aktetas-draers, hoë-hak trotse dames, karwagte, groot-oog kleuter aan ma se hand... 

Jy sê jou dag is blou?  Toegegee, dit gaan nie altyd goed nie, MAAR  jy mag nie toelaat dat die motor wat jou na 'n amperse ongeluk lei jou bui bepaal nie.  Jy sê dis nie jou dag nie?  Jy is reg - die dag behoort nie aan jou nie.  Dis die Here s'n!  Let's rejoice in it!  Recalculating...JY HET 'N WONDERLIKE DAG EN IEMAND OM DAARVOOR TE DANK!

Monday, 3 October 2011

To Dearest Beryl

“Words don’t come easy to me.  How can I find a way to make you see I love you.  Words don’t come easy…” – F.R. David, Words

Die inskrywings in boeke kan soms nogal interessant wees.  In ‘n Charlotte Brontë boek, Jane Eyre, sien ek die inskrywing:  “Kym Mills ‘86” en op die volgende bladsy staan daar:  “Helen’s Philosophy pg 56”.  Dit was verseker ‘n voorgeskrewe boek!  Ek wonder wat Helen se filosofie was en of arme Kym darem die boek geniet het.  So, ek blaai na bladsy 56 en ja, daar het Kym dit onderstreep:  “It is far better to endure patiently a smart which nobody feels but yourself, than to commit a hasty action whose evil consequences will extend to all connected with you – and besides, the Bible bids us return good for evil.”  Kym het nie genoeg geskryf dat ek kan aflei of sy die boek geniet het nie, maar sy het onderstreep en omkring en prentjies geteken tot op die laaste bladsy.

My eie liedboek het ‘n inskrywing met my pa se geliefde, netjiese handskrif. 

“Beatrix Janetta Kennedy.  Geb.  22.3.1986
Met baie liefde van jou ouers; John en Ria Kennedy:  28.10.2001
Psalm 68 vers 20 ‘Dag na dag dra Hy ons’”

Hierdie getuig van ‘n pa wat lief is vir sy dogter en iets daarvan wou verewig.  Sy liefde vir doopname en ons van kom ook sterk deur.  Ek wonder wie gaan my liedboek eendag erf en spekuleer oor wat ek op 15jarige ouderdom deurgegaan het.  Sal die persoon weet dat dit die jaar was wat die nuwe Liedboek die ou Psalms en Gesange vervang het in die NGK?

Ek leen ‘n boek van ‘n vriend wat hy tweedehands gekoop het, This Present Darkness van Frank E. Peretti, en ek begin dit toe lees vanaand.  Op die binneblad staan die volgende inskrywing:
“To Dearest Beryl
May the Lord use this to give you
further insight into His mission
for your life
Love
Stasi
Xmas 1988”
Sjoe, ek is sommer van voor af bly vir Beryl se part dat sy ‘n vriendin soos Stasi (gehad) het wat omgee vir haar hart!  Dis darem nou nie vir ‘n swak rede wat Salomo geskryf het dat mens ‘n vriend kan kry wat nader as ‘n broer is nie.  So het “Dearest Beryl” ‘n sussie-vriendin gehad wat saam met haar wou hê haar lewe moet doen wat God wil hê dit moet doen.

Soms kom daai woorde nie maklik nie, maar tog, wanneer hulle kom, kan hulle so mooi wees en nog vir jare later ‘n lewenslessie vir ander gee.  Dis nou te sê as iemand die hart sal hê om die boek aan ‘n tweedehandse boekwinkel te verkwansel. 

Monday, 22 August 2011

Chick flieks...

As ek hierdie blog-inskrywing kon begin met 'n verleë smile dan het ek. Hoek, lyn en sinker...ek val elke nou en dan sommer GOED vir 'n chick fliek. Dit maak nie saak wat jy sê nie - as die dag by die werk verby is en die uitstappie Pick 'n Pay toe om die week se inkopies te doen jou nie opgewonde maak nie, dan voel dit GLAD nie sleg om 'n Mandy Moore romantiese komedie van die rak af te haal, 'n glasie witwyn te gooi en in die gemak van 'n sweetpak jou sorge te laat gaan nie.

Ag, ek weet die flieks is onrealisties en ek raak nie verlief op die ridder wat stylvol sy wit perd beheer nie. Dit laat my net goed voel. Dit maak my lus om met klein Jack Russeltjies te speel of my tone in 'n stroompie te steek. Dit laat my wonder waarom ek nie meer klein dingetjies doen waarmee ek die mooi van die lewe waardeer nie. Ek koop sommer vir myself 'n bos kleurvolle blomme en gee dit vir myself met 'n vreugdevolle Aquafresh smile.

Chick flieks moet ons nie op 'n idilliese romantiese wolkie laat sweef nie, maar as dit ons kan herinner daaraan om lekker dinge te doen, is dit darem seker ook okay.

Hulle sê: "The best things in life are free"...kou daai gedagte soos 'n chappy... Ons praat nou van "verniet" in die sin dat dit nie geld kos nie. 'n Verhouding met enige ander uniek-spesiale mens kos jou nie geld nie (alhoewel 'n paar manne dalk sal verskil hiervan), maar dit kos tyd en energie. 'n Goeie lagsessie is verniet, maar kos dalk dat jy soos 'n varkie klink! {Snork!} Dat 'n eine-kleine dogtertjie vir jou sê jou ring is "nice" kos net 'n oor wat luister.

En BBM is ook free! ;) En reënboë en watervalle en swaeltjies en sonsondergange en skoenlappers en seepbelle en en en...

Thursday, 11 August 2011

Lukraak

Mens kry darem anderster mense. So moet ek soms dokumente aflaai by mense se huis. Ek het nog nooit die mense van die huis ontmoet nie, maar ek ry al die pad soontoe toe-oë. Die omgewing interesseer my omdat daar worshondjies is en tieners met laag-hang broeke en 'n kerk en strate met name soos Graniet en Sandsteen en Dakota en Vampire...en so aan. Ek het selfs al die mooiste hamerkopvoël daar gesien rondpik en -knik. Dis 'n normale woonbuurt (as daar regtig so iets bestaan).

Die huis se binnekant is verborge vir ons, maar die buitekant waardeer ek veral vir die brawe Basset met sy lang ore wat my ore van my lyf af blaf. Dit help ook nie om persoonlikheid te wys en vriendelik te wees en te "Ounooi se honne" nie. Hy is die baas van die agterjaard en hy sê dit!

Met al die besoeke aan die erf wie se eienaars ek nie ken nie, kry ek wel te doene met die bediende. Bediende 1 is, dink ek, gefire, want die laaste twee kere is daar 'n nuwe vroutjie. Ek begin wonder wat aangaan daarso, want vandag kom sy daar uit met blou goeters in haar hare. Nee, nie krullers nie! Ek praat van haarkleursel wat nog nie oor die hele kop gevryf is nie. Dis snaaks! :)

Ek wens soms ek kan so random wees. Dan onthou ek weer dat ek Leon Schuster se hele Gautful in Paradise CD ken en ook sy Hoppitie Skoppetie Rugbybal en ander dergelike liedjies. O jitte, mense. Ek dink ons sit met 'n klomp "randoms"! Geniet die "randoms" in jou lewe en geniet dit om 'n "random" te wees. Die lewe is te kort!

Saturday, 6 August 2011

Stukkend, maar mooi!

"The broken pieces of you past is just a beautiful mosaic of you future." So sê Retha McPherson in een van haar gesprekke op Dvd. Dis een van daai sê-goed wat ek nooit sal vergeet nie omdat dit so waar is, so mooi is en op daardie stadium so bevrydend.

Want mens voel nie altyd mooi nie. Jy voel soms stukkend en goor en soos 'n slagoffer van omstandighede. Of net 'n slagoffer. PUNT.

Dink daaraan - 'n mosaïek is *pragtig*. Die stukkies daarvan is gebreekte glas van verskillende kleure en groottes (mens kry nie elke keer op dieselfde manier seer of ewe seer nie). Die kunstenaar het elke stukkie vir 'n rede op 'n spesifieke plek gesit om die hele prentjie te vorm. Dit is hoe kragtig God werk.

Dis nie God wat ons kom breek nie. Dis Hy wat die stukkies kom optel en bymekaar voeg. Dis Hy wat kom mooi maak wat lelik gemaak is deur omstandighede of deur die vyand, hoe jy dit ookal sien.

As ons dalk net so bietjie kan wegbeweeg van die mosaïek-beeld af... Ek dink 'n seer persoon kort liefde soos 'n vlieskombersie. Spesifiek 'n vlieskombersie omdat dit lig is en nie versmoor nie, maar daai veiligheidsgevoel gee - 'n sagte, maar definitiewe vertroosting. Jy is nie alleen nie, maar jy is teer en iemand neem kennis.

Jes 38:5 - "Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien"

Moenie alleen wees in jou seer en pyn en hartseer nie. Skryd 'n briefie\gebed vir God en lees dit vir Hom. Hy weet wat in jou hart aangaan, maar Hy wil hê jy moet dit vir Hom vertel, want Hy wil daai verhouding met jou hê. Dis soos enige ander verhouding. Die 'n groot voorreg en eer om te mag deel in iemand se storie. So is dit ook met ons Hemelse Vader.

Hy bring die gom en die goedjies om te genees, om die stukkies bymekaar te sit op 'n nuwe manier, want soos mens breek en seerkry, so leer jy ook nuwe dinge en as gevolg daarvan leef jy anders . Al is dit net dat jy daarna ook ander raaksien wat deur dieselfde ding gaan.

Liewe mensie, die Here het jou lief genoeg dat niemand anders jou hoef lief te hê nie. Hy het jou prys betaal. Hy gaan jou kom haal. Vir nou is jy hier op die aarde met jou mosaïek vir 'n sekere doel. Jou lewe tel!

Wednesday, 27 July 2011

My Favourite Things

‘n Vars bos blomme, die geur van koffie, die reuk van reën, ‘n lekker lang stywe drukkie, ‘n uit-die-maag-uit skaterlag, groet na ‘n lang tyd van iemand nie sien nie, McFlurry, meer as een keer om ‘n sirkel ry, tok-tokkie speel, die gevoel wat jy kry as jy jou duvet tot onder jou ken trek op ‘n koue wintersaand, pannekoek, pizza, die gekabbel van ‘n riviertjie se water, ‘n hondelyfie wat wriemel van opgewondenheid om jou te sien, die gesig van ‘n kat wat skuins onder die oor gevryf word, ‘n pragtige ou boklammetjie wat blêr om sy ma te vind, stilte, diep gesprekke met mense, 30Seconds-verwarring, kamp, bergklim, ysskaats, roadtrip-musiek, kitaar speel en saamsing...hierdie is maar net ‘n PAAR van my gunsteling dinge.

Julie Andrews is steeds beeldskoon na jare in die vermaaklikheidsbedryf en nog boonop suksesvol na al die jare.  Dieselfde kan gesê word van ‘n oulike liedjie wat sy sing in The Sound of Music, “My Favourite Things”.  Die liedjie is ‘n treffer in my hart en ek sing dit graag, want dis een van die min liedjies wat ek so ‘n titseltjie kan speel op die kitaar. 

Net vir die lekker, want lekker is lekker en nie sleg nie, deel ek graag ‘n paar van my eie “bestes”, gunstelinge.  Gedeelde hartseer word halveer, maar gedeelde geluk dupliseer.  Ek dink nie ek hoef iemand aan te haal op daardie laaste sin nie, want dis een van my eie slagspreuke.  As iemand beroemds dit egter wel gesê het, is ek jammer en hoop ek maar ons kan die geluk oor die waarheid daarvan verdubbel!  J

‘n Groot gunsteling is my pa se nagsê-soene gevolg deur ‘n dag-oud baard wat hy in my nek skuur!  Ja, met ‘n uitroepteken!  Natuurlik ook om bed toe gedra te word nadat ek aan die slaap geraak het voor die televisie(toe ek nog klein was).  My ma se tuis- en varsgebakte warm brood met regte-egte plaasbotter op.  Dik genoeg gesmeer dat jou tande merke daarin maak(as dit nie wegsmelt in die warmte nie). 

Laatmiddag waatlemoen eet en pitte uitspoeg, gevolg deur ‘n swemsessie in die plaasdam.  Dit maak nie saak hoe dik die slik onder op die bodem lê of dat daar ‘n koggelmander op die oppervlak dryf nie. 

Teetyd breuk saam met my beste vriendin in haar sagte blou pajamas, terwyl die radio speel en sy nog ‘n roompie aansmeer.  Dis dan wanneer die eksamen-blues iets van die verlede geword het en die lewe weer REG gepraat is.  Gebeure van die dag was goed soos die eksamenopsigter wat alweer deur AL die eksamenreëls gelees het in Engels EN Afrikaans en daai motoris wat nie respek het vir voetgangers nie (in Stellenbosch het voetgangers voorkeur, hulle stap immers nog swot-swot oor die voetoorgang!).

Langarm-sokkie saam met ‘n spul vriende.  Draai en draai en draai tot jy voel jy wil omval, of WEL omval en jouself besimpeld lag.  Sokkie was nog altyd lekker, selfs die keer toe ek ‘n vreemdeling moes vra om te dans sodat my vriendin met sy vriend kon dans!  Sy naam was Alex en hy het ‘n chappy gekou dat die spoeg so spat.  Sy lewe en die poging tot ‘n gesprek wat ons gehad het, het om homself gedraai en die liedjie het vir ewig aangehou…maar my vriendin het die dans van ‘n leeftyd gehad.

Herfstyd in die Eikestad se mooiste straat, Victoriastraat.  Blare wat dartel in die wind en plek maak vir die lowerste groenes.  Seisoene van klasloop, toets skryf, vergaderings bywoon en mense in die verbygang groet.

Ek trek vir jou ‘n goue draad van genade deur al my gunsteling dinge.  Dis saam verweef en omraam die lewe sodat ons dit kan waardeer.  Dis klein en fyn sodat ons moet soek om dit te vind.  Dis baie beslis oral om ons heen…vandag het ek weer ‘n silwer randjie beleef.  Ek was oppad van die werk af huis toe.  Net soos ek uit ons werk se oprit ry, sien ek die ander prokureurs in die kantoorpark se ontvangsman.  Ek waai en bestuur gelyk en woeps, daar blaas hy vir my ‘n soen!  Dit het sommer my dag gemaak en ‘n groot glimlag op my gesig gesit.  J  Ek is dankbaar vir my “Favourite Things”…en “now I don’t feel so bad”!

Monday, 25 July 2011

"Blogger's block"

Ek weet ook nou wat dit beteken om ‘n skrywersblok te hê.  Die boklammetjie het lanklaas geblêr.  Tog kan ek met ‘n geruste hart sê dis nie weens sielkundige redes nie.  Depressie het my nog nie kom vang nie en daar was ook nie ‘n liefdesteleurstelling nie.  Daar is pleinweg net nie woorde nie, alhoewel daar baie idees is.  Dis maar soos die Prediker sê:  “Elke ding het sy vaste tyd… ‘n Tyd op stil te bly(nie te skryf nie?)…”

Intussen was ek baie bevoorreg om ‘n skootrekenaar (punte vir die mooi Afrikaans) by my dierbare suster te kry.  Ek sê altyd – as sy kon, sou sy haar voortande ook vir iemand gegee het en gaan inval het by Gatiep, Meraai en die Cape Flats se “passion-gap” bende.  Hier sit ek nou soos ek nog altyd gedroom het, met ‘n koppie boeretroos en ‘n rekenaar op my skoot.

Voordat dit regtig begin klink asof ek nie eintlik ‘n punt het nie en julle begin glo dat ek nogsteeds ly aan die “Blogger’s block”…hier is wat ek wil vertel van ‘n gebrek aan woorde.

‘n Gebrek aan woorde is oukei.  Daar kom tye wat jou mond nie die ligte (of swaar) dinge binne jou hart kan verduidelik nie.  Ek skat dit gaan so wanneer mens behoorlik verlief is – al wat jy dan kan doen is om maar net die ander helfte se hand te vat en te vryf.  Dit help nie jy probeer verduidelik hoe jy voel nie, want dit skiet te kort.  Ek glo daar is gevoelens waarvoor daar nie woorde is nie.

Oe, ons moet oppas om nie gevoelens goedkoop te maak deur dit te probeer verduidelik nie.  Dit kan plat uitkom en net heeltemal die verkeerde boodskap bring.  Dis waarvoor daar drukkies is en glimlagte en kyke en hande-klap en fluit en bollemakiesie en wawiele en kanonskote (gits, ek moes julle eintlik vertel het van die ongelooflike harde kanonskoot wat ons nou die dag afgesit het by ‘n padwedloop – my hart het amper die hele dag se slae in een minuut geslaan!) en vuurwerke en sommer net ‘n vredevolle oë-toemaak.

Ja, ek weet, woorde is nogal fantasties, veral (as jy my vra) in ons Afrikaanse woordeskat.  Dink byvoorbeeld aan name vir plante – leeubekkie, bokhoringtjie, kruidjie-roer-my-nie…  So kan mens aangaan tot dit voel asof jy rondhardloop in ‘n groot oop veld met gras.  J  Tog, dink ek, kan ons ook in stilte dinge “sê” en “hoor”.  Of is dit nou weer die introvert in my wat hier skryf?  Nee, julle, dis Bybels…God was in die briesie!

Monday, 11 July 2011

Diere maniere

"Animals and children tell the truth, they never lie. Which one is more human? There's a thought. Now, you decide."

Hierdie woorde van Savage Garden van die liedjie, "Animal Song", het my al lang jare terug aan die dink gesit. Diere is net hulle eerbare self. Honde én katte, maak nie saak watter een jy verkies nie. As 'n kat nie by jou wil wees nie, kan jy hom nie by jou hou nie. Hy sal ronddraai in jou arms en wanneer hy desperaat raak, sal hy daardie skerp naeltjies iewers in 'n sagte vleisie inkry. Maar wanneer 'n kat by jou wil wees is dit moeilik om daai dooiegewig, slap lyf van jou af te kry. Dan is kietsie ewe skielik ook sommer tonne swaarder as gewoonlik.

Ag, jinne, en het jy al 'n ongelukkige hond gesien? Hang ogies, gesig so half in 'n hoek en tussen sy pote gedruk. Tog kan jy nie help om saam rond te trippel as 'n hond so glimlag-glimlag en met 'n kwassie swaaistert na jou toe hardloop nie. Kan almal asseblief, vir huidige troeteldiere en troeteldiere in die verlede, net saam met my sê: "AAWWHH"

Diere-plesier... Ag, vertel my bietjie van jou kleintyd troeteldier. Ek moes eenkeer, ter wille van spangees en hoofsaaklik omdat ek die jongste is, teen ons boerboel, Boelie, resies hardloop. My ouer broer en suster het nogal so ewe 'n "lint" by die wenstreep vasgehou. In werlikheid was dit 'n growwe stuk tou en in werklikheid was hulle nie van plan om dit te los wanneer ek "die lint breek" nie. Kleinsus het teruggebons teen die tou en kaplaks op die grond geland!

Dieselfde Boelie kon vreeslik grommerig raak wanneer hy homself in die spieël gewaar het. :) Boelie se ouderdom is tot vandag toe nog 'n punt van dispuut in ons huis, maar almal is dit eens dat Boelie 'n formidabele hond was. Hy het los bo-oor 'n proefdraad (so 1,5m hoog) gespring om 'n haas te vang en jy kon nie naby hom kom as hy iets geëet het nie. Toe hy klein was, het hy onder gebed my tone gebyt!

Ek het nie vandag 'n punt nie - net dat ons miskien 'n bietjie meer soos diere kan wees en eerlik en opreg met ons medemense kan leef. En dalk ook so bietjie meer vreugde in mekaar se lewens bring. Dit kan net lekker wees! ;) Miaau! Woef!

Sunday, 10 July 2011

Lekker week!

Die doel van hierdie blog-inskrywing is eintlik maar om julle 'n goeie week toe te wens. Elke persoon kort elke nou en dan 'n week waarin dinge reg sal loop en goeie dinge gebeur.

Mag die groen verkeersligte jou soos 'n erewag begroet en mag die ander motoriste vir jou glimlag. Mag die koerantman vriendelik vir jou wuif. Wanneer jy in die kantoor instap, hoop ek jy beleef 'n opgewondenheid om jou dagtaak te voltooi. Wanneer jy jou kantoordeur sluit, hoop ek dat jy werksbevrediging sal ervaar. Ek hoop dat jy na werk of studies iets goeds sal hê om te doen, soos na die sonsondergang kyk of 'n goeie vriend te sien.

Mag jy rustig slaap en regtig energie daaruit put vir elke volgende dag. Mag jou lewe regtig geseënd wees en mag JY 'n seën wees vir die mense om jou. Want jy is nie net hier om die wind van agter te kry nie, maar ook om die wind van agter te WEES.

Geniet jou week en maak seker jy doen alles in jou vermoë om seker te maak dat ander mense hulle s'n ook geniet! :)

Thursday, 30 June 2011

'n Onwaarskynlike aanraking

'n Moegheid het my gister dwars oor my hele wese geslaan. Nie omdat dit sleg gaan nie, maar net 'n sameloop van omstandighede en toe die moegheid. Ek pluis dit toe ook vir myself uit...diagnose: moegheid. Medisyne: finesse se "Ek is 'n lewende bewys van..." Stories, 'n rustige aand en vroeg gaan slaap. Dan sal die week verder makliker wees. Na 'n lang wroeging oor of dit soms vir mens beter kan wees om tyd alleen te spandeer as om sel toe te gaan, kanselleer ek my sel en maak myself gemaklik met die Finesse...

So begin ek toe met 'n nuwe vriendin te gesels op BlackBerry Messenger en ek vertel haar nog van my plan van nuwe krag en dat ek daarom nie kan gaan koffie nie. Tog, na 'n langerige tydjie se gesels, maak dit nie meer sin nie. Ons kon netsowel gaan koffie drink het...een ding lei na 'n ander. Pajamas inruil vir meer publieke uitrusting, vat die pad Menlyn toe en vind my vriendin vir daai nimmereindigende, massiewe cuppicinos.

Almal weet nou al dat die warmte van 'n koffie deurspoel na die gesprek wat daarmee saamgesels. Die warmte hou net aan, al verdwyn die koffie. So ja, ons gesels tog te lekker. Tussendeur merk ek 'n middeljare-plus oom wat oorkant ons sit met sy tydskrif. So nou en dan kan ek sien hy kyk na ons kant toe, so ek wonder toe effens ongemaklik by myself wat hoor hy en wat dink hy? My vriendin draai ook kort-kort om, want sy voel ook hy luister. Dis eers toe ons heelwat later besluit om te loop dat hierdie oom vir ons 'n seën word...

Soos ons verby hom stap, merk hy op dat ons darem te lekker kan gesels. Hy het glo 'n paar dinge geleer uit ons pratery! Ons lag en vra of hy dan nie dalk vir ons ook iets wil leer nie. Hy vertel ons aanvanklik van gesondheid en hoe ons meer yster kan kry, maar toe raak ons praat heelwat dieper. As jy my ken, moet jy my maar eendag meer hieroor vra, maar vir nou moet jy weet dat ek en my vriendin albei diep geraak is deur hierdie oom. Ons kon na die tyd maar net weer die gevolgtrekking maak dat die Here ons BAIE lief moet hê om op so 'n manier met ons harte deur 'n wild vreemde man te praat. Vandag het ons baie gehad om oor te dink, maar een van die dinge waaroor ek wonder is op hoe baie sulke tipe geselsies ons uitmis omdat ons nie oop is vir ander mense nie? Daar is grense om ons omdat ons leer om nie mense te vertrou nie. Maar ek vertel jou nou dat hierdie oom, wat heeltemal onbekend was aan my, die mees sinvolle gesprek van die afgelope maand met my gehad het...en in my hart lê daar vandag vrede en hoop. :)

Ek het toe my eie storie gekry - Ek is 'n lewende bewys daarvan dat daar iets soos 'n onwaarskynlike aanraking is in die vorm van 'n vreemdeling se woorde.

Sunday, 26 June 2011

Wil jy dans?

Daar is vir my in hierdie lewe min dinge so mooi soos 'n ou en meisie wat saam dans. Die ou lei en die meisie volg. Min meisies sal dit so wil sien, maar 'n meisie is eintlik totaal uitgelewer aan die ou se bestuursvernuf. Hy keer dat sy in iemand vasdans en wanneer hy haar dip, keer hy dat sy val. Die meisie kan eintlik in so 'n oomblik maar net agteroorval en hoop die man is sterk genoeg...en dan selfs 'n plesier-gilletjie gee, want nie een meisie kan dit ontken nie - die dip is die lekkerste gevoel!

So droom ek een aand dat ek 'n ou ontmoet en ons is op daardie stadium van leer mekaar beter ken. Daar was 'n openlikheid tussen my en die ou. Ek het byvoorbeeld geweet hy hou van my en wil nou meer wees as vriende. En ons is by 'n dans en hy vra my vir 'n spin. O, en ewig die skaam meisie, kan ek net nie in die man se oë kyk nie, so ek kyk af voete toe. Die ou was egter 'n selfversekerde jong man wat my ken oplig en vir my sê: "Hoekom is jy so skaam vir my? Kyk in my oë - ek sal jou lei." Hoogs romanties, né? Dis egter nie hoekom ek die droom met julle deel nie.

Die droom het my herinner aan my verhouding met God. Soms is ek (en jy dalk ook?) "skaam" vir Hom en besef ek nie hoe "persistent" hy met my hart werk nie. As Sy Gees ons eers in Sy arms het, wil Hy hê ons moet ons laat lei waar Hy wil dans. Ons moenie eens afkyk na ons voete en probeer sien of ons die regte treë gee nie. Ons moet IN Sy oë kyk en Hom vertrou! Ook met die dips, want Sy arms is sterk genoeg om ons te vang op 'n manier dat dit ons met die beste wow-gevoel sal los, terwyl ons verwag het om te val!

Die lekkerste dans is wanneer jy net totaal oorgee en die ou volg, sonder om te dink oor wat sy plan is, sy volgende beweging. So, glo ek, sal dit ook met die Heilige Gees wees - volg Hom sonder bedenkinge en sonder om te probeer verstaan wat die volle prentjie is, want daar is 'n volle prentjie en wanneer jy eendag terugkyk sal jy sien dit was 'n dans saam met jou Hemelse Vader!

En ouens, dalk identifiseer jy moeilik met die danser wat moet volg. Dink 'n bietjie hoe lekker dit is om in beheer te wees van 'n dans en ook wanneer die meisie jou net volg. Gun dit vir God om so te voel oor JOU!

Wil jy dans?

Monday, 20 June 2011

Wat drink jy?

Hmmmm, die geur van koffie het baie konnotasies en vir my is hulle almal min of meer GOEIE konnotasies. Ek het begin koffie drink as eerstejaarstudent wat net nie meer kon bekostig om altyd die duurder lemoensap of hot chocolate te bestel nie. Dit was iets wat ek vir sosiale redes gedoen het. In daardie dae was dit Ricoffee, twee suiker en geen melk nie, want ek het toe ook nie 'n yskas gehad om melk in te bêre nie... Deesdae vat ek hom met een suiker en melk (nou kan jy my nooi vir enetjie) en dit was ter wille van die figuur.

Tee, weer, het ek begin drink omdat my beste vriendin geweier het om haar kamer soos koffie te laat ruik! Ter wille van die vriendskap het ek die opoffering gemaak. Dis immers ook meer gesond...blykbaar.

Dan word mens blootgestel aan beter koffie - Nescafé, Jacobs, filterkoffie... Trappe van vergelyking vir koffie-geluk.

Maar jislaaik, mensies, dis die gesprekke wat saam met daai koffie en tee gaan wat selfs sin gee aan Frisco! (Frisco is ekonomies!!!). Toegegee, koffie help ook met wakkerbly, maar vir my is die ware sin in koffies steeds daai sosiale redes. Koffie bring mense bymekaar en hou hulle vir 'n wyle saam. Daai gepsrekke is die kaffeïne van die siel! Soos ek hier in my deurmekaar kamer sit en skryf, hoor ek my niggie-woonstelmaat en haar vriendin se koffie-gesels-stemme en ek sê vir julle, daai twee vriendinne gaan vanaand met rustiger harte slaap.

Die warmte wat mens raakvat aan 'n koppie tee of koffie is so simbolies van die warmte in 'n gesprek. Vind 'n mens. Vind 'n sonkol. Gee vir daai mens 'n koppie warmte en jy sal vind dat jou dag lekkerder is.

Sommer vir die lekker haal ek 'n reëltjie uit die musiekgroep, Kaleidoskoop se liedjie, Bittersoet van koffie, aan: "Nou rook ek koffie in die oggend, snuif koffie in die aand, eet koffie op my brood en drink koffie in my slaap, want ek is verslaaf aan die kaffeïen. Of eerder, verslaaf aan jou." Dis verseker eerder 'n verslawing aan mense en nie die inhoud van die koppie nie. So, nou, met wie gaan JY vandag koffie drink?

Friday, 17 June 2011

Doodgewoon-uniek

Kom ek vertel jou meer van myself. Ek sien myself as doodgewoon...lengte, breedte, gewig, hare, oë, skoengrootte, blah-blah-blah... Maar wat is gewoon nou eintlik? Dis 'n relatiewe begrip! Gewoon, normaal, gemiddeld, eenvoudig, plein... Nie juis 'n label wat mens wil dra nie, of hoe?

Vier en 'n half maande gelede trek ek Pretoria toe. Eerlikwaar, nie omdat ek wou nie, maar omdat ek werk hier gekry het. Ook het ek geglo dat ek enige plek gelukkig kan wees en dat daar 'n ongemaklike aanpassing sal wees...wat ook verby sal gaan. God gaan mos oral saam en Hy is in beheer. Inderdaad.

Tog maak ek nie so maklik vriende nie... Ek is gereserveerd, behalwe wanneer ek voel ek het daai ruimte om die willewragtag uit my uit te haal. So, dit gebeur toe dat ek verlede week op 'n kerkkamp gaan met 'n naïewe verwagting - dat ek net sal kan "chill" en geestelik gevoed word en wegkom uit Pretoria.

Die kamp draai toe uit om soveel meer as net dit te wees, alhoewel dit oorgenoeg sou wees. Ek vind daai ruimte om myself te wees en lag myself verby pap vir 30 Seconds verduidelikings en sommer net gesprekke. Ons gesels diep en ver en naby en drink koffie tot more oggend! Ek het nie eens 'n kamera gevat nie, want in my kop sou daar nie iets wees om af te neem nie. My een selgroepmaatjie neem egter gedurig foto's, tot my spyt soms - wanneer ek beskuit in my mond het, wanneer die son my voorkop tot 'n frons verkreukel, wanneer 'n kind op my nek sit en haar handjie voor my mond hou sodat ek dit kan blaas, maar moenie glo dis 'n mooi foto nie.

Een ding lei tot 'n ander. 'n Klompie fantastiese jong mense vind mekaar, drink saam koffie en reël 'n braai, met 30 Seconds. Ek verbaas my oor hoe maklik gemaklik is en hoe die Here my seën met die klompie! En daai vriendin, sy neem toe 'n foto van my waarvan ek self baie hou en ek wonder by myself...is daai meisie wat so toe-oë lag doodgewoon? Is ENIGE iemand doodgewoon? Ag, g'n niks nie, man! Ons is almal uniek en VERDIEN die ruimte om daai uniekheid te kan uitleef! Just do it... Nie doodgewoon nie, nie plein nie...spesiaal, kosbaar, doelbewus geskape...

Thursday, 16 June 2011

Moenie uitmis nie!

Dis ook maar net per ongeluk, in die verbygaan, terwyl ek JacarandaFM luister, dat ek hoor dis weer sulke tyd vir die maan - maansverduistering.  Nogal 'n algehele maansverduistering...  So maklik mis ek hierdie tipe goed, want ons het nie 'n TV nie en koerantlees was nog nooit een van my gunsteling tydverdrywe nie, alhoewel ek dit nou meer doen as in my prille jeug!  :)

So, toe my liewe vriendin van Potch af kom kuier op hierdie spesiale dag, besluit ons om die HELE vertoning van die grasperk buite ons woonstel te kyk.  Dis stoele en duvet en slaapsak en serp en ons soek vir ons 'n semi-beskutte hoekie uit. 

Van skuins onder af bekruip die eerste skaduwee die maan en stadig maar seker eindig dit af in 'n geskadu'de maan, grys en tog nog goed sigbaar.  In leke taal het daar toe 'n meer intense skaduwee oorgekom en die maan het rooierig verkleur - ongelooflik.  Ons kon nie anders as om aan al die skeppingsliedere te dink, en  selfs te sing nie.  Wat toe gebeur het, is dat die son-maan-aarde perfekte lyn gebreek is en die son weer agter die aarde uit begin skuif het sodat die maan weer van skuins onder af al hoe ligter word en toe weer sy normale "shiny" self.

Deur dit alles gesels ons tweetjies land en sand oor dit en dat, maar die sentrale tema bly daardie Skepper wat ons een keer in 11 jaar bederf met 'n algehele maansverduistering.  49miljoen mense kon kyk na sy spesiaal gereëlde vertoning, met die voorprente in die vorm van die sterre en 'n asemrowende volmaan en advertensies in die vorm van 'n verskietende ster.  WIE kan so 'n groot show reël EN bekostig om nie toegangsfooie te vra nie?  WIE het die talent om aandag te gee aan soveel detail?

Lees gerus deur die woorde van die liedjie "Indescribable" van Chris Tomlin (en ander gospel bands):

"From the highest of heights to the depths of the sea
Creation's revealing Your majesty
From the colors of fall to the fragrance of spring
Every creature unique in the song that it sings
All exclaiming

Indescribable, uncontainable,
You placed the stars in the sky and You know them by name.
You are amazing God
All powerful, untameable,
Awestruck we fall to our knees as we humbly proclaim
You are amazing God

Who has told every lightning bolt where it should go
Or seen heavenly storehouses laden with snow
Who imagined the sun and gives source to its light
Yet conceals it to bring us the coolness of night
None can fathom

Indescribable, uncontainable,
You placed the stars in the sky and You know them by name
You are amazing God
All powerful, untameable,
Awestruck we fall to our knees as we humbly proclaim
You are amazing God

Indescribable, uncontainable,
You placed the stars in the sky and You know them by name.
You are amazing God
All powerful, untameable,
Awestruck we fall to our knees as we humbly proclaim
You are amazing God
Indescribable, uncontainable,
You placed the stars in the sky and You know them by name.
You are amazing God
Incomparable, unchangeable
You see the depths of my heart and You love me the same
You are amazing God
You are amazing God"

ONS SKEPPING IS 'N EGGO VAN GOD SE SKEPPER-HART.  HOE MOOI EN GOED EN REG IS ONS SKEPPER SE HART DAN NIE? 

Die maansverduistering het my baie aan God se genade ook laat dink.  Dis vir almal beskikbaar, maar nie almal maak gebruik van die geleentheid nie.  Dis 'n geskenk wat elkeen van ons kan oopmaak.  Kyk, jy kan nog die maansverduistering mis en dis okay, maar moenie uitmis op God se genade nie!  Dis verniet en dit maak al die verskil in die wêreld...en in die lewe hierna!  En as jy reeds genade so 'n bietjie verstaan, wees die JacarandaFM van genade en vertel ander daarvan...

Tuesday, 14 June 2011

Dis 'n straatlewe

Victoriastraat... Matiestudente wemel soos miere op en af tussen klasse en groet mekaar so sydelings wanneer hulle verby mekaar (klas)draf. Die nuutste modetendense kan hier dopgehou word. Die akkerbome tik die seisoene af, met die mooiste bruin herfsblare en die lowerste groenes aan die begin van somer. So was dit dan dat, na 6 jaar op Stellenbosch, hierdie straat vir my 'n gunsteling geword het vir ontmoetings met mense, maar ook met die Skepper van die skakerings.

Ek sou letterlik met 'n lied in my hart afstap Ou Hoofgebou toe en so gelukkig voel wanneer 'n blaar reg voor my in die wind begin dartel, dartel en hom dan gryp en glimlag. So het God my spesiaal laat voel wanneer ek liedjies in my kop vir Hom geneurie het en met Hom gesels het.

En dis asof ek daar vasgehaak het en God nie Sy ereplek in Pretoria wou gee nie. Totdat ek een dag, so twee weke gelede in Pretoriusstraat ry en 'n menigte klein blaartjies van die bome (waarvan ek die naam nog nie ken nie, maar dis NIE Jakarandas daai nie) sien val, soos fyn confetti op 'n troue oor die getroude paartjie. Dit tref my toe dat God hier ook in die strate met my wil gesels. Net omdat ek nie meer stap nie en tussen miljuisende motors deur moet ry, beteken nie ek kan nie die geselsies van ouds geniet nie.

Vandag het my oë weer oopgegaan vir die verskeidenheid mensies op straat en ek is beïndruk met ons land. Daar was onder andere die volgende mense wat my verbeelding aangegryp het: die stokou blanke tannie wat haar handsak STYF onder die blad vasdruk in by PEP Stores, die kwartjarige bruin man met sy Afro-style hare, bellbottom jean en baadjie, die ouerige swart omie met sy skuifelstappie op die kierie en trotse hoed op sy kop, die jong swart meisie jeugdig-modieus aangetrek in skinny jeans en kleurvolle hempie, straatveërs, straatverkopers, motorwagte, ID foto-nemers... Noem dit en jy sal dit kry in die middestad.

Nee, ek is nie 'n stadsmeisie in my hart nie, maar wraggies, dit begin 'n leefstyl word. Ek kan rebelleer...of ek kan integreer...die jong, blanke kandidaat-prokureur-meisie met die lêertjie onder die blad wat oplettend rondloer wat sy vandag op straat kan raakloop oppad na die Hooggeregshof, Meester se kantore, CIPRO se kantore, Binnelandse sake...

Friday, 10 June 2011

"Queue here"

"Hate is such a strong word. Rather say you STRONGLY dislike something." - my graad 8 Engelse juffrou oor hoe maklik ons die woord "hate" in ons mondelinge gebruik het. So, nou praat ek nie meer van haat nie, maar daar is 'n paar dinge in my klerikale lewe wat ek nie baie van hou nie...

Soos wanneer ek 'n lêer in die hof (wil) gaan trek en 'n hele string klerke wag reeds baie lank om hul "requests" in te gee. Tog is daar in die hooggeregshof se argiewe 'n paar interessante karakters en 'n paar mensies wat erg trots is op hul werk. Ek het 'n sagte plekkie in my hart vir Charlotte met die kopdoek wat altyd een of ander klerk probeer help met 'n lêer en 'n smile en dan vra jy moet vir haar 'n Coke gaan koop, want die foon hou nie op lui nie.

Of wanneer jy by CIPRO of die Meester se kantore kom en iemand keer jou voor om jou handsak deur te soek. Hulle kyk altyd so halfhartig en dan wonder ek hoe groot die ding is waarvoor hulle soek. Dit moet 'n geweer wees of die Cullinun diamant (nee, wag, is hy nie opgesny en in die koningin van Engeland se kroon aan die skitter nie?) of ten minste iets voor-die-handliggends, want daar word nie lank gekyk nie. Tog is ek dankbaar vir 'n paar van die vrouens wat so mooi my handsak toegezip het! {Voeg glimlag hier in}

Sal ek dit waag om die P-woord te noem? PARKERING is 'n groot probleem. Soms parkeer ek dan kilometers van waar ek moet wees en stap my beentjies af! En dan, net om die hoek, vind ek 'n parkeerplek wat nie nou net oop was nie en ek kry so séér in my diepste wese en stap maar met my ken in die lug verder.

Dan is daar die immergewilde bordjie wat sê: "Queue here". Demotiverend soos min. Vandag toe ek hom sien (en die lang ry waarby ek moet inval) dink ek aan daai versie - kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is, Ek gee rus. Daar is 'n bordjie by ons Vader wat sê kom queue hierso. Ek het plek vir jou. Kom los daai goedjies wat jou pla en RUS...

Sta-Soft en ander dinge wat jou wasgoed raak

Wat bedoel mnr Chameleon wanneer hy sing van die klein-klein jakkalsies wat krap? Ek kan net wonder of vuil skottelgoed nie een daarvan is nie. Of dalk het hy spesifiek vuil wasgoed in gedagte gehad? So 'n wasgoedbondel bekruip jou mos op die onmoontlikste tye, soos 'n dief in die nag. Jy beplan so mooi wanneer jy tyd sal hë daarvoor, dan val tienduisend dinge voor en jy begin wonder waar die naaste wassery is. Nie omdat jy twyfel in jou eie vermoëns nie, maar omdat jy nie 'n tuimeldroër het nie en die koue omstandighede buite dra nie by tot droë klere nie. Dan onthou jy weer die Laundromat is nie deel van jou finansiële begroting nie, so wysheid beduie jou in die rigting van 22h00 in die nag in die koue rondharloop om klere op te hang. Dan wonder jy weer of jy genoeg Medlemons het vir ingeval die verkoue jou nou beetkry. Beter nog, jy wonder oor jou eie "sanity" en was sommer die skottelgoed ook!

Om wasgoed te was is beslis nie een van my gunstelinge nie (dis natuurlik deel van die penarie wat my vanaand na bybelstudie(en bedtoe-gaan-tyd) getref het), maar die reuk van skoon Sta-soft klere is heerlik! En om vir 'n week of wat nie meer te bekommer oor vuil klere nie, is 'n bonus. :)

So lyk dit my het elke slegte ding wat tyd opslurp ook sy goed en mooi! Nou sal ek darem gaan kamp met skoon klere. Of dit sal droog wees teen paktyd, is natuurlik 'n ope vraag.

Wednesday, 8 June 2011

Klein dingetjies

Koue hande, warm liefde. So sê hulle. Wat van koue voete? Kyk, om koue voete te kry, is nie 'n mooi ding nie, want trou is nie perde koop nie! Letterlik is koue voete nie 'n lekker besigheid nie en dit was vandag my voorland.

Almal het my altyd vertel hoe Gauteng net die beste weer het en dat dit donderstorms reën en dan is dit tjoef-tjaf verby. Vandag het ek 'n uitsondering op die reël gesien en beleef. Dit was kompleet asof ek weer klasdraf op Stellenbosch se rooi-baksteen Victoriastraat. Jy kon my vandag hóór aankom met my sjloef-sjloef papnat skoene. Ek het so skaam gekry! Genugtig! Hahahahaha!

Ek kla op Facebook dat dit reën en my een vriend herinner my daaraan dat hy motorfiets ry, terwyl ek 'n maatskappy-motor het. Ek was vandag net so dankbaar vir my "maatskappy-sambreel" wat my baas in my hand gestop het voor ek stad toe is. Ek sou wraggies sukkel om die positiewe in te sien met nat hare en gesquashte makeup (nie dat ek in elk geval tevrede was met vandag se poging nie)! Ek wil nie eens dink oor die nat papiere nie. Wat 'n gemors!

Nou is dit alweer bibber-koud. Iemand het iets gesê van sneeu in Johannesburg? Vanaand toe ek by my tannie wegry, sien ek een van die manlike sekuriteitswagte het 'n definitief-pienk serp aan. Koue vra nie watse kleur jou serp is nie, hy vra net jy moet hom aantrek! Ek het hom gekomplimenteer op sy serp en toe 'n heerlike warm glimlag gekry! :) Dis die klein dingetjies waarvoor mens dankbaar kan wees!

Tuesday, 7 June 2011

Eet jou groente!

As uitvloeisel van my intense siekbed van gister, besluit ek toe vanmiddag om my gunsteling groentesop te maak. Daar kan nie iets beter vir die gestel wees nie. Dis 'n vloeistof. Dis vol vitamines. Jy kan dit lekker warm eet en bedien. So staan en sloof ek myself toe vir myself af voor die stoor...

Net met een ding moet mens jou nie misreken met groentesop nie, en dis nou die tyd wat dit neem om allerande groentes op te "chop". {Vir een of ander rede het ek gedink dat iemand soos ek sekerlik verantwoordelik moes wees vir die Mc'Cain advertensie-idee. Iemand het 'n haastige vrou bekyk en gedink hy/sy kan geld maak deur vrouens minder te laat sny.}. Ek het presies 'n uur gehad om die soppie aanmekaar te slaan. Helaas, toe die horlosie se wyser so na Pinkster-dien-tyd toe aantik, moes ek maar vrede wees met 'n bun! Wat 'n teleurstelling!

Glo jy nou maar vir my as ek jou vertel daar lê 'n paar stukkies wortel in ons sitkamer (dis oopplan met die kombuis) en die skottelgoed staan lekker vuil oral rond en roep miere...nee, wag, miere moet slaap, want dis winter! Ek ontdek in kerk dat ek my wysvinger gebrand het en wonder by myself hoe dit moontlik is dat mens so haastig kan wees dat jy nie eens jouself voel brand nie! Genugtig! Les nommer twee vir die sopresep-notaboek: moenie hastig wees met groentesop kook nie, want jy kan jouself verniel.

Die groentesop-storie het my al op 'n vorige geleentheid ook 'n les geleer en dit is dat jy liewer moet vries as in die yskas bêre. Dis of dit, of jy moet 'n groepie vriende oornooi om te kom help eet. Komplimente aan Leéf tydskrif vir 'n wenresep! Dit was nog elke keer lekker...al is dit ook met haas(nie die tipe met ore nie!) gemaak. En dis nou nie hierdie maand se Leéf nie, maar jy kan gerus die tydskrif koop. Dis baie oulik!

Tuesday, 31 May 2011

Hoe gaan dit met Boklammetjie?

Ek het dalk lanklaas ietsie persoonliks geblog. Dis my introvertisme. Wel, die wind het gaan lê en afstand is geskep. Dis nou die tyd om my groot gebeurtenis van die week te onthul. Ek het amper die werk se motor omgegooi! Ja, jy het reg gehoor en dit was beslis nie snaaks nie. Ek moet dit ook net duidelik maak - dit was nie my skuld nie. Dit het so gebeur...

Vrydagoggend, in die ysige koue, ry ek en die Corsa'tjie werk toe. Jakaranda FM speel lekker en bars heeltemal my bubble toe hulle met Survivor South Africa Maldeves se wenner praat. (Toemaar, ek sal jou dit spaar as jy ook, soos ek, droom oor die hele reeks kyk wanneer dit op Dvd beskikbaar is). Toegegee, ek weet nie regtig hoe ek verwag het om dit nie iewers te hore te kom nie...Ignorance dalk?

So, met die dag se hofsaak wat my kop besig hou, ry ek reguit oor 'n sirkel met die nodige draai-bewegings wat daarmee gepaard gaan. Toe ek die stuurwiel weer links draai vir die finale beweging, verloor ek heeltemal beheer en daai karretjie swaai 180grade om sodat ek en die vrou agter my se motors neus-aan-neus staan. Dit was asof die stuurwiel net nie gewerk het nie. Na 'n diens en parte-vervanging is die finale oordeel nog nie duidelik nie. Daar was niks fout met die stuurwiel nie en ook nie die bande nie. So, dalk was daar 'n oliekol op die pad. Ek weet nie.

Ek weet net dat ek aan die bewe gegaan het van adrenalien en dat ek toe nog moes werk toe ry (net soos 100m verder). Ek het parkeer met oë wat begin swem het in die warm voggies. Ek dink my arme kollegas dink teen hierdie tyd dat ek die mees emosionele meisie is wat bestaan! Dis net dat ek wraggies nie 'n nuwe motor vir die werk kan bekostig nie en dat ek dit so baie waardeer dat ek die motortjie kan leen! Dis ondenkbaar om die vertroue te breek deur 'n ongeluk te maak.

Maar motor en bestuurder het beide nou aangesterk en voel heelwat beter teenoor mekaar. Dankbaarheid lê in my hart, want die motor en ek is nie een beskadig nie.

O, en verder as dit gaan ek nie vertel nie. Hierdie is, after all, 'n publieke spasie.

(500) Days of Summer - review

"Moenie hierdie lees as jy onlangs aangeraai is om die fliek self te kyk nie."

Hulle vertel jou reguit, aan die begin al, dat die storie gaan oor 'n ou wat 'n meisie ontmoet, maar dat dit nie 'n liefdesverhaal is nie. Ek het hard probeer om die agtergrond reg te skets. En tog, as ek my weer kom kry, dan wil ek hê dit moet 'n roman wees met 'n gelukkige einde. Dis mos waarvoor flieks daar is - om ons om die bos te lei oor hoe maklik die liefde gebeur of te laat glo dat dinge mooi moet eindig vir die storie om 'n goeie een te wees.

So die storie flits vorentoe en terug in 500 dae van die jong man se te-doen-hê-met 'n pragtige dame met die naam, Summer. Sy is anders en glo beslis nie in die liefde nie. Hy weer, glo van kleins af in toeval en die liefde, ewige romantikus. Hulle beleef 'n wonderlike tyd saam en dan verdwyn sy uit sy lewe en hy beleef die dip van sy lewe. Sy werk as "greeting card" (is daar 'n goeie Afrikaanse woord daarvoor?) raak vir hom sinneloos en hy bedank na 'n groot uitbarsting/opstand teen die idee van kaartjies skryf vir mense wat nie weet wat om te sê nie. Hierna word hy gekonfronteer met die realiteit dat Summer 'n ring aan haar vinger het en begin glo het in die liefde. Dis vir hom so moeilik om te verstaan hoe haar opinie so drasties kon verander en dit nadat HY haar begin liefkry het. Tog gaan hy aan en begin sy hartsdroom van argitekwees na te jaag, geskend in sy geloof in die liefde. Onderhoud na onderhoud, totdat hy in die wagkamer 'n vriendelike meisie ontmoet met die naam, Autumn...

Dis minder goedvoel as jou deursnee romantiese komedie en baie meer realisties. Ons ontmoet mense, stap 'n pad met hulle, leer iets by hulle (soms ten koste van iets anders) en pas dit toe in 'n volgende stadium van ons lewens. Party mense het net 'n paar minute nodig om iets in jou hart te los, maar bly self nie in jou lewe nie. Ander wil weer langer saam met jou wees en beïnvloed jou langer.

Jy mag met my verskil, maar ek dink niks is toeval nie. Ons loop beslis die gevaar om iets mis te kyk, maar die iets gebeur nie sonder meer nie. Ons wil hê alles moet voordiehandliggend (vergewe my as dit nie reg gespel is nie) wees. Dit moet net gebeur. Dit moet "kits" wees, sonder moeite. Nee, jong, daardie tipe lewe bou nie karakter nie. As jy vir iets moet wag, waardeer jy dit meer wanneer dit kom! As jy iets self moes uitpluis, verstaan jy dit beter. Sal 'n huwelik hou wanneer daar gewag word vir toeval om in te gryp? Nee, wat!

Gelukkig is ek nie 'n gerekende liefdeskenner nie en frankly het ware liefde my nog nie te beurt geval nie, so neem my opinie vir wat dit is - 'n menslike opinie. 'n Goeie dosis geduld met 'n redelike hoeveelheid logiese denke en waagmoed, tesame met jou hart se roepstem? Klink vir my goed! Ek moet egter nog reg of verkeerd bewys word. God het sy perfekte tydsberekening!

Monday, 30 May 2011

Slaap

As ek so moeg-moeg en met half-toe oë in my bedjie klim en myself verdrink in die duvet, dan onthou ek met 'n glimlag my kamermaat van universiteitsdae se woorde: "Aaaah, dit voel nou net so reg! Nou is ek gelukkig!". Gewoonlik was dit ook na 'n lang swot-sessie of 'n dag se harde akademiese werk. Ek onthou hoe my ligpers beddegoed met die silwer sirkeltjies op vir my 'n simbool van "accomplishment" geword het. Ek kon nie daarin klim as ek nie die dag se swottings afgehandel het nie.

Dis okay as jy soms baie uitsien na daai slapie. Dis selfs okay dat jy soms bietjie vroeër as die "normale" (wie het in elk geval besluit wat is normaal?) mens van jou ouderdom, geslag, ambag of kultuur gaan slaap. Slaap is goed vir jou!

Dis nou gegewe die feit dat jy dan nou nie onrustige drome droom nie. Ag aarde, ek was alweer gisteraand swanger (uit simpatie met die artikel in die Finesse wat ek gelees het oor ongehude 15-jarige meisies)! Jy kan selfs daardie tipe drome droom, solank jy net verfris uit jou bed kan opstaan!

Ek is vreeslik jaloers op my suster wat in haar polisiedae met die moeilike ure, 'n skakelaar gekry het waarmee sy slaap kan aan- en afsit! Dis iets om te beleef! Maar, outjies, vanaand gaan ek nie sukkel met 'n geslapery nie. Die feit dat ek nog hier tik, is eintlik klaar verbasend. Dis nou net eers 'n lekker gebed en dan sal my moegheid my kom haal. Lekker slaap!

Slaap

As ek so moeg-moeg en met half-toe oë in my bedjie klim en myself verdrink in die duvet, dan onthou ek met 'n glimlag my kamermaat van universiteitsdae se woorde: "Aaaah, dit voel nou net so reg! Nou is ek gelukkig!". Gewoonlik was dit ook na 'n lang swot-sessie of 'n dag se harde akademiese werk. Ek onthou hoe my ligpers beddegoed met die silwer sirkeltjies op vir my 'n simbool van "accomplishment" geword het. Ek kon nie daarin klim as ek nie die dag se swottings afgehandel het nie.

Dis okay as jy soms baie uitsien na daai slapie. Dis selfs okay dat jy soms bietjie vroeër as die "normale" (wie het in elk geval besluit wat is normaal?) mens van jou ouderdom, geslag, ambag of kultuur gaan slaap. Slaap is goed vir jou!

Dis nou gegewe die feit dat jy dan nou nie onrustige drome droom nie. Ag aarde, ek was alweer gisteraand swanger (uit simpatie met die artikel in die Finesse wat ek gelees het oor ongehude 15-jarige meisies)! Jy kan selfs daardie tipe drome droom, solank jy net verfris uit jou bed kan opstaan!

Ek is vreeslik jaloers op my suster wat in haar polisiedae met die moeilike ure, 'n skakelaar gekry het waarmee sy slaap kan aan- en afsit! Dis iets om te beleef! Maar, outjies, vanaand gaan ek nie sukkel met 'n geslapery nie. Die feit dat ek nog hier tik, is eintlik klaar verbasend. Dis nou net eers 'n lekker gebed en dan sal my moegheid my kom haal. Lekker slaap!

Sunday, 29 May 2011

another one bites the dust!

Dit was vandag so 'n heerlike Sondag. Rustig en goed. Uiteindelik kon ek verlore slaap inhaal en kort voor 09:00 opstaan om RSG-kerk uit Witbank te luister. Dit was so kosbaar toe die eerste liedjie een van my gunstelinge, In die Hemel is die Heer, was. Veral gesien in die lig daarvan dat ek nie kon kerk toe gaan nie omdat my (eintlik die werk se) motor siek by die dokter is. Kerk was toe baie lekker. Die res van die dag ook, maar die lekkerste was my lekker laaaaang Bybelstudie-sessie.

Ek het besluit om Hooglied te lees, in Afrikaans en Engels. Dit fassineer my dat twee mense sulke mooi dinge van mekaar kan skryf. Ek is maar so bietjie soos my pa. Ons het elke aand Bybel gelees, maar wanneer Spreuke afgesluit is met die hoofstuk oor die wonderlike Spreuke 31 vrou, het ons sommer gespring na Jesaja. Hy het gesê ons kan dit op ons eie gaan lees. So, ek gaan nou nie ongemaklike paragrawe aanhaal nie. "Jy kan dit op jou eie gaan lees.". Tog hoop ek dat my oë ook eendag vir iemand soos duiwe sal wees. Dit kan ne lekker wees. Tog is die een ding wat my bybly, en wat ek in my belydenisjaar aanmekaar onderstreep het, dat mens nie die liefde moet wakker maak wanneer die tyd daarvoor nog nie reg is nie.

Dis nogal ironies dat een van my dierbare vriendinne juis vandag 'n kêrel ryker geword het en dit nogal op haar verjaardag! Ek moes seker snuf in die neus gekry het toe sy vir my bel hier laterig in die aand. So het haar tyd vir die liefde aangebreek en dit klink asof die tyd daarvoor reg is. Sy is so 'n spesiale mensie. Ek dink Spreuke 31 beskryf haar grootliks. Alles wat mooi is vir hulle verhouding. Dis nou (dalk nog) nie trouklokkies nie, maar hierdie uitganery is tog ook baie belangrik. Jong liefde! There's nothing like it. Jip, ek dink nie so nie, want daar lë my vriendin op haar wolkie en bel almal om te vertel sy het vandag 'n kêrel vir haar verjaardag gekry!

Saturday, 28 May 2011

Bibber-winter!

Ek is nou weer innig danbaar dat Blogger, my blog-fasiliteerder, 'n slag van my foon af laai! Ek mis dit sommer om hier te skribbel, en dit in die heerlike warmte van my bed. Pretoria is besig om ysig koud te word en my weerstand teen die koop van duur kettingwinkel-jasse af te breek! Die koue kruip in by my nek en vang my neus! So, dis nou tyd vir serpe en lae en lae klere. Gisteroggend het ek amper my vingers verloor so teen die koue stuurwiel!

Toe dink ek weer aan die dae van skelm hand-vashou op skool. Ek en my eerste (en tot op hede enigste) kêrel het so sy-aan-sy gestaan en hande vasgehou in een van ons se baadjie(blazer)sak. Op ons kerk se uitreik, Trap der Jeug, het ons span soms ook sulke lekker warm bondeltjies mense gemaak. Jinne, dit was lekker om die een in die middel te wees! Laasnaweek het ek en drie vriende net so lekker gepantser teen die koue deur hand-om-die-lyf te "pose" vir 'n foto. Mmm, het Dawid dan nie vir hom 'n jong vrou op sy oudag gekry om hom warm te hou nie? Kontroversie!

Gisteraand kom kuier my suster vir my en slaap die aand oor. Oudergewoonte, en omdat ek nie 'n oog toemaak wanneer iemand saam met my in die bed slaap nie (ek bekommer my dat my rondrollery die ander persoon sal wakker hou), maak ek vir haar 'n matrassie in die sitkamer reg. Nee wat, sê sy, vanaand moet jy maar jou "issue" sluk, want ek slaap by jou! Dis kwansuis darem te koud! Haai, julle, en was ek darem nou dankbaar vir my suster se ruggie toe daai koue ons begin slaan! Jy sal nie glo nie - ek het so lekker geslaap! Watse lepellê - rug-aan-rug werk net so goed! :)

Vanaand sal ek nou my eie hitte moet vind, nugter weet waar! Ek oorweeg om myself in die massiewe dubbelbed-duvet te kokon-rol en natuurlik, dik sokkies vir daai verste liggaamshoekies wat soms nie gehaal word met die bloedsomloop nie.

Ek weet nie wat jou slaapgewoontes is nie, maar ek hoop jy het genoeg komberse en kouse em serpe en warm sjokolade om van hierdie winter 'n snoesige herinnering te maak. En wees tog maar spaarsamig met die elektriese toebehore. Warm persoonlikhede en hardloop op een plek! En lê stil, want jy wil nie omdraai en vind dat die nuwe oppervlak yskoud is nie - so gaan kosbare warmte verlore!

Wednesday, 25 May 2011

Jy is jy en niemand anders kan dit wees nie

Ek weet nie of jy al 'n moeilike legkaart gebou het en dan, waneer jy die laaste stukkie wil insit, pas hy nie daar in nie.  Jy kan hom maar draai en draai en draai, maar hy hoort nie daar nie.  Hy het 'n ander plekkie waar hy moet wees, maar hoe om daai plekkie te kry, dis die vraag!

Dalk voel jy ook soos daai stukkie.  Ander mense het jou probeer inpas en uitpluis, maar kry jou nie geplaas nie.  Dan praat ek nie eens van jouself wat nie kan snap waar jy hoort nie.  Meer spesifiek praat ek van jou plekkie in die gesin...

Ek het nou die dag groot, diep hartsake met my tannie gaan praat en sy sê my toe 'n waar ding.  Die Here plaas mens in 'n spesifieke gesin MET 'N DOEL.  As jy dan nou die "ander" een is, dan is jy ook nodig.  En glo my mooi, jy is nie die enigste een wat dink jy is die anderster een nie.  Ek het al baie keer, op grond van wat ander oor my sê, myself in hul boksie gaan sit.  Groot nuus is, jy het beheer oor jou boksie.  Om die waarheid te sê jy het nie die boksie nodig nie, want daar is oorgenoeg tyd en ruimte vir verandering en ontwikkeling.

Hoe klink hierdie:  jy is 'n INFJ in Myers Briggs en daarom sal jy so en so optree in so en so situasie.  Of - jou pa was ook so!  Of - Hy is te 'n goeie mens, hy sal dit nooit doen nie (en dan wou jy eintlik, of jy dink nie dis so 'n uitgemaakte saak nie).  Maar my grootste probleem is eintlik nie wat mense van my sê nie (hoewel dit ook 'n probleem is).  Dis eerder hoe ek myself as gevolg daarvan in my kop beperk.

So, kom ons leer nou almal saam dat net die eie ek kan bepaal wie en wat elkeen is.  God maak ons uniek met gawes en talente en ons bou elkeen ons eie foute.  Ander het jou nodig vir wie JY is en wat JY kan beteken.  Jou manier van praat oor 'n gevoelige onderwerp werk dalk beter as iemand anders s'n, selfs al weet jy mense ervaar jou as baie diep en ernstig.  Die teenoorgestelde kan ook waar wees.  Jy is dalk nodig om iemand se moraal te lig, al dink ander mense dalk jy kan nie ernstig wees nie.  Jy sal jou plekkie raaksien.  God gee jou vlerke!

En nog 'n ding:  hoekom kan ons na die mooiste sonsondergang kyk en vrede ervaar oor God se skepping, maar na onsself in die spieël kyk en nie daardie selfde tevredenheid ervaar nie?  Jy is die kroon van God se skepping!  Laat dit so wees:  every creature unique in the song that it sings!  Blommetjie, bytjie, JY'TJIE!  :)

Sunday, 22 May 2011

Dankbaar

Ek is dankbaar vir Mango lugdiens se vliegkaartjie specials en die vlieënier wat mooi kan vlieg.  Ek is dankbaar vir twee vriende wat geleenthede raaksien en dit met albei hande aangryp.  Ek is dankbaar vir Facebook en hoe dit my en my vriendin help om 'n naweek te beplan.  Ek is dankbaar vir opgewondenheid.

Ek is dankbaar vir die werk wat my 'n motor leen en dat ek geld verdien om petrol daarin te gooi.  Ek is dankbaar dat petrol in 'n motor se tenk jou na plekke kan neem.  Ek is dankbaar dat daar plekke is waarheen mens wil gaan.  Ek is dankbaar vir Engen se garage en buns met kaas, tamatie, komkommer, koue vleis en vrugte.  Ek is dankbaar vir kamera's.

Ek is dankbaar vir paaie, al het hulle slaggate in.  Ek is dankbaar vir veilige bewaring op paaie.

Ek is dankbaar vir Potchefstroom se kampus en dat 'n goeie vriendin daar kan swot (die wêreld sal ook nog dankbaar wees sodra sy daardie kennis begin terugploeg).  Ek is dankbaar vir Afrikaanse musiek en dansplekke en die "Wille olifant".  Ek is dankbaar vir studente-afslag.  Ek is dankbaar dat verskillende ouens verskillende style dans.  Ek is dankbaar vir be-there-jokes.

Ek is dankbaar vir die bordspeletjie, Settlers of Catan en vir sy uitbreiding, Cities and Knights.  Ek is dankbaar vir 'n vriendin se gawe gesin wat hul huis vir ons laat oopstaan.  Ek is dankbaar vir staproetes met rooibokkies, veld en 'n uitsig.  Ek is dankbaar vir diep gesprekke en 'n braaivleisvuur.  Ek is dankbaar vir kampplekke se swembaddens en bom en duik daarin.  Ek is dankbaar vir swak grondpaaie en geo-caches wat nie gevind word nie.  Ek is dankbaar vir die turksvy in die plek van geo-caches.  Ek is dankbaar vir die interessantheid van 'n spinnekopweb.

Ek is dankbaar vir koffie en koek en kielie-speletjies.  Ek is dankbaar vir moeilike boublokkies en om te sien hoe ander dit geniet.  Ek is dankbaar vir verloor in 30 Seconds, maar nog meer vir lag oor verkeerde verduidelikings en antwoorde.  Ek is dankbaar vir 01h00 in die oggend gaan slaap en vir die volgende oggend se alarm.  Ek is dankbaar vir kos, maar nog meer vir energie.  Ek is dankbaar dat ek vriende het wat kitaar kan speel en daarmee praise and worship.  Ek is dankbaar vir die Vaalrivier se vertel van ons Vader se Skeppershand en Hadida's se raas. 

Ek is dankbaar vir Stiltetyd en God se stem.  Ek is dankbaar vir gebed en die geleentheid om met God te praat.  Ek is dankbaar vir lewe en dankbaar vir wees.  

Ek is dankbaar vir kosmaak en nog meer as dit wanneer dit lekker smaak.  Ek is dankbaar vir intellektuele gesprekke en vir nonsens praat.  Ek is dankbaar vir roomys en koffie en tee.  Ek is dankbaar vir sagte matte en kussings en komberse. 

Ek is dankbaar dat ek 'n wonderlike naweek met drie fantastiese vriende kon spandeeer.  Ek is dankbaar vir hoe ons mekaar bemoedig, lewe in mekaar se lewens spreek en ons wêrelde met mekaar kon deel.  Ek is dankbaar vir die sagte kyk in my liewe vriendin se oë wanneer sy kyk hoe my vriende kitaar speel en sing.  Ek is dankbaar vir my vriend se toe-mond glimlag.  Ek is dankbaar vir die ander een se oopmond-lag.  Ek is dankbaar vir elkeen se uniekheid.

Ek is dankbaar vir totsiens-drukkies (en drukkies oor die algemeen).  Ek is minder dankbaar vir die knop in my keel en die lastige traan in my oog op die lughawe as ek alleen terugstap motor toe.  Maar dan...dan word ek weer dankbaar dat God my beste Vriend is en dat ek met hom oor my knop en my traan kan praat en dat Hy altyd, altyd daar is.  Ek is dankbaar...

Monday, 16 May 2011

17 Mei 1951, 60 jaar later

In 'n boere-bazaar preek het ons dominee een keer gesê dat ons moet onthou dat ons geliefdes, dié mense wat die heel naaste aan ons is, nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Hulle is in die eerste plek Syne en in die tweede plek 'n geskenk van Hom aan ons. En ek moet sê dat ek dit so maklik vergeet. Hulle is tog baie veiliger in ons Hemelse Vader se hande as in myne!

Môre word my lewegewer, my ma, 'n ryp 60 jaar oud. Dit was nie die maklikste 60 jaar wat ek my kan indink nie en tog, weet ek, dat God daardie 60 jaar van haar lewe in Sy hand hou en elke glimlag en traan van haar koester. Daar sal nie 'n haar (wat al hoe meer grys word) van haar kop af laat val, sonder dat Hy daarvan weet nie. Daar sal nie 'n woord aan haar gesê word wat Hy nie hoor nie. En Hy sal weet wanneer iemand iets goeds vir haar doen.

My ma het een van die sagste harte waarvan ek weet - sy word van die kleinste dingetjie gelukkig en ook van die kleinste dingetjie ongelukkig. Sy is ook sterk! Sy lag so maklik met haar lagplooi-glimlag. Sy het haar eie manier van liefde gee - ek kan dit nie eens beskryf nie, maar moenie 'n fout maak (soos ek al baie in my lewe gefouteer het) oor die feit dat dit wel bestaan nie. My ma het nie iets slegs van enige iemand te sê nie en sal altyd ander bo harself stel. Wat 'n voorbeeld!

My wens vir haar lewe vorentoe is dat sy waardeer sal word, lank gespaar sal bly, God se liefde sal ervaar, vreugde uit die lewe, 'n selfbesef dat sy kosbaar is en genoeg selfvertroue om elke dag te pak. Mag die beste jare nog voorlê, Mamma!

Friday, 13 May 2011

Dogtertjies

Sugar and spice and all things nice - that's what little girls dream of. Ek slaap vanaand in 'n huis waarin drie klein dogtertjies rondhardloop voor bed-toe-gaan-tyd. Te oulik kom hulle een-een in hul pienk pajamas en uitgekamde blonde haartjies om nag te sê. Groot-oog, onskuldig, spontaan en gelukkig.

Lag is maklik en huil ook, maar lag troef huil en onophoudelike giggel maak hul hartjies gelukkig. Wanneer ek die sjokolade 'n skip gee, vat een van hulle sonder om te dink, nonchalant 'n blokkie en sit dit woeps in haar mond. Hul grootste uitdaging is om hul oom te wen met snap of om sy kaart-toorkuns te toets. Die een wil my neus met die slaaitang knyp, die ander een vertel my breedvoerig van haar tand wat gewissel het en die tandmuis wat 'n gaatjie in sy sakkie gehad het en haar tand op haar ma se spieëlkas laat uitval het. Die ander dogtertjie gaan wys my waar my kamer is, maar vertel my nog voordat ons daar is dat daar 'n sjokolade op my bed wag!

Ai, dis so lekker wanneer die lewe bestaan uit pienk en wit waas, lag en gesels en prinses-stories. Die dae van bed toe gedra word en duisende drukkies. En dan verstaan mens dat 'n ma nie wil hê haar dogtertjies moet grootword nie. <3.

Tuesday, 10 May 2011

Bergklim

Hallo geliewe blog-leser. Jy is voorwaar geliefd, hoor! Soms wonder ek of ek darem altyd iets te skryf sal hê en dan onthou ek weer 'n lekker oomblik of iets wonderliks gebeur en dan skryf ek maar weer.

Jy sal moontlik weet dat ek so paar weke terug huis toe, plaas toe, was en wat 'n voorreg. Ek moet sê dit was wel 'n lang rit en ek en my ousus was redelik lam en tam. Ons het 03h30 opgestaan en is vertraag deurdat 'n petroljoggie vir ons 'n papwiel gegee het. Ja, regtig, nadat ons vir hom gevra het om die bande na te gaan. Verder het ons ook padwerke gekry dat dit goed gaan. Ousus is een met 'n slaapskakelaar - sy sit hom af en dan slaap sy, of jy nou Bok van Blerk kliphard aangesit het of nie. Gewoonlik sit ek dan byvoorbaat die musiek kliphard aan, want wakker bly is die enigste opsie op ons land se paaie.

So op die land se paaie en terwyl ousus in 'n rare oomblik wakker is (o, wag sy het bestuur!), vertel ek haar ek wil die massiewe berg op die reservaatgronde wat grens aan ons plaas gaan klim. Nou, een ding moet jy van my suster weet - sy is die definisie van energie en vat nie nee vir 'n antwoord nie. So, toe daai idee haar idee word, toe is dit nie meer my idee nie. Dis toe ook sommer geskeduleer vir net die volgende oggend. Nie heeltemal my bedoeling nie, maar so 'n geleentheid kom nie elke dag nie.

Redelik vroeg die volgende oggend stap die twee susters, 'n trop van vier skaaphonde en ook 'n Jack Russel die massiewe berg tegemoet. Vir eens in my lewe was ek meer energiek, want my sus het olik gevoel. Helaas kom ons bo en begroet die mooiste-mooi uitsig oor Namakwalandse koppies ons. Dis net natuur waar jy kyk - kokerboom, taaibos, bobbejaan kers, bosse en graniet-koppies. Dit was allergie-pille vir die stadsinus. En wraggies, daar was ontvangs daarbo, so sussie het haar kêrel gebel.

Halfpad teen die berg af, begin ons die honde te roep. Dié troepe is na 'n rukkie toe ons die wêreld bewonder het op 'n dassie jag. Ons roep en fluit en gil, maar dis net die kranse wat antwoord gee en die honde wat blaf vir iets. Dit het my moeë paar bene gekos om terug te klim en letterlik twee van die honde weg te sleep van 'n skeer met 'n dassie in! Ek was omtrent 'n kwaaitjie met daai ongehoorsame honde.

Tog was een van die oulikste oomblikke ook te danke aan 'n hond. Ons moes die honde oor die draad tel - ek gee aan vir my sus. Natuurlik moes ons die springende jonger honde eerste oortel. Terwyl ek die laaste jong hond aangee, skuifel-skuifel ons oudste (en slimste) hond nader tot hy in die perfekte optelposisie staan! Te kostelik. So asof hy sy beurt afgewag het en nou gereed is om opgetel te word. :)

En dis hoe die eerste dag op die plaas begin het - met 'n uitputtende berg en 'n half klim en 'n rowwe hoeveelheid krapmerke op my bene!

Monday, 9 May 2011

En toe herken ek iemand op straat!

'n Ruk gelede het ek in Menlyn mall rondgeloop en staar na die massas mense. Ek het my verwonder oor die feit dat ek nie één van die menigte geken het nie en by myself gewonder hoe lank dit sal vat om hier te woon en werk voor ek eindelik mense sal raakloop wat ek ken. Dit klink seker na 'n depressiewe gedagte, maar dit is hoe alleen ek soms gevoel het.

In die afgelope week, nadat daardie gedagte al lank terug in my geheue was, loop ek toe wraggies by 4 verskillende geleenthede kennisse raak! Ek wonder of hierdie mense nou dink ek is oordadig vriendelik, want ek het omtrent oorgeloop van blydskap! Dis die klein dingetjies waarvoor ek baie dankbaar is en wat my laat besef dat daar deur genade in die afgelope paar maande vordering gemaak is in meer as my bestuursvernuf en kennis van die stad. Ek het darem ook so bietjie genetwerk en gawe, gawe mense ontmoet.

Mettertyd sal ek seker ook 'n klein gemeenskappie hê binne die grote stad. Die stad kan nie vir altyd onbekend en groot bly nie. Die stad sal niks vir my plattelandse maniere en hart kan doen nie en hopelik ook nie die plat pratery nie, maar ek is vas oortuig dat hier nog hordes ware vriende en goeie besigheidskennisse rondloop - ek ken hulle net nog nie (almal) nie.

Vanaand sal ek met dankbaarheid in my hart my kamerlig afsit en weet dat elke dag hier my liewer vir die Transvaal maak en ek het vrede daaroor. Op die ou end is dit nie waar jy is nie, maar die feit dat jou Beste Vriend saam met jou daar is en jou seën met 'n ondersteuningsnetwerk.

Saturday, 7 May 2011

Waagmoed

Dit is ys-yskoud! Nou nou het dit so 'n bietjie gereën en 'n ligte windjie het gewaai om die temperatuur net nog 'n bietjie laer te help. En ek? Ek lê tog te lekker knoesig in my bedjie. Alles het begin toe my baas my gister inroep na haar kantoor en my vra om die deur toe te maak...

Dis nie ongewoon of snaaks wanneer daar geslote deure in 'n prokureursfirma is nie. Dinge en verhoudings en besluite van kliënte is konfidensieel! Dis toe sy sê ek is in groot moeilikheid dat ek begin wonder het wat aangaan. Dis toe 'n gratis "loft" in 'n ontspanningsoord met plek vir ses mense vir 3 aande! Ja, ek kon dit self nie glo nie. Natuurlik sal ek gaan! Dit was wel 'n effense probleem om mense te kry, maar kort voor lank was die Corsa gelaai en met sy neusie oppad weg van Pretoria af. Kan almal asseblief saam glimlag? :)

Ek het besluit om die dogtertjie in my haar sin te gee en ten spyte van baie oop beddens, die boonste van die stapelbeddjies te annekseer. My niggie lê doer ver onder en die getroude paartjie wat saam gekom het, het natuurlik die private slaapkamer.

Van rustigheid in die mooiste fluite van 'n klompie verskillende voëls tot die avontuurlustigheid wat ek al vergeet het hier binne-in my hart. Vanmiddag het ons 'n entjie gaan stap tot by 'n waterval met 'n rotswand waarvanaf mens kan spring tot in 'n poel wat bodemloos verklaar is. Ons kies toe 'n redelik beskaafde hoogte, wat volgens my so 7 meter hoog is. Niggie wil nie eerste spring nie en ook nie saam met my nie. My beurt was dus die eerste beurt. In die oomblikke waarin dinge soos jou testament, die opkomende moedersdag en die metode vir mond-tot-mond asemhaling deur my kop gegaan het, het bietjie van my rasionaliteit my verlaat. Ek het eers 'n woeste hardklop ervaar en toe benoude pre-spring gilletjies gegee en rondgetrippel soos 'n graad een balletmeisietjie voor haar eerste eksamen. Uiteindelik het ek besluit om maar net nie meer daaroor te dink nie, my oë toegemaak en daai geloofsprong gemaak. Aaaaaaahhhhh! Splash! "Ek moet boontoe! Ek moet boontoe!". Hyg! Jay! Yskoue water. Wat 'n gevoel van prestasie en vreesoorkoming!

Daar moes ek toe 'n ewigheid ronddobber en wag vir my niggie om deur dieselfde gedagtegang te gaan. Uiteindelik het ook sy die ding gedoen en die twee van ons het druipnat, maar nie druipstert nie terug geklouter teen die rotse uit.

A day lived well!

Thursday, 5 May 2011

Tel jou seëninge een vir een

Gister was nou weer 'n moeilike dag in die frustrasie-departement, so ek moes kliphard dink oor alles waarvoor ek dankbaar is en my seëninge tel.  En toe ek dit eers gedoen het, kon ek met nuwe perspektief sien dat die onbeantwoorde telefoonoproepe en dinge eintlik gering was.

Sien, want ek het gister 'n selgroep gevind na maande se hunkering na 'n geloofsfamilie hier in Pretoria.  My selleier bel my (van 'n onbekende nommer, natuurlik) toe om vas te maak oor volgende week se tye en so aan.  Ek was eers baie verward met die vriendelike mens wat met my praat asof ek haar moet ken, maar toe kom die dankbaarheid en vreugde.  Volgende Woensdag gaan hierdie meisie vir haar eerste selgroepontmoeting en sy is opgewonde!

Dan is daar die wit Corsa Lite met my naam op.  Hy kort nog net 'n bietjie poetswerk en dan is hy myne!  Die Bantampie was goed en reg en mooi, maar dis nou eers verby.  Die era van die wit Corsa Lite het so saam met Catherine die Hertogin van Cambridge aangebreek.  Mag dit 'n goue era wees!

Die ander groot dankbaarheid is teenoor die ketel in die kantoor.  Met die nuwe vroeg-opstaan gewoontes het die behoefte na koffie drasties toegeneem.  Ek weet nie regtig of dit help nie, maar nietemin is dit IETS wat ek kan probeer om die vallende ooglede in toom te hou.  Ons het die jongeling in die kantoor geboelie om vir ons koffie te maak!  Arme ding het ook nie 'n katse kans nie, want hy is die enigste man op kantoor!  Sal maar moet toesien dat hy weer eendag bietjie bederf word met 'n koekie of iets.

Sjoe, en Facebook en Watsenaam wat dit ontdek het, is beslis een van my gunstelinge!  Ek weet nie hoe my lewe sou wees as ek nie gedurig boodskappies kon skryf of ontvang en foto's van vergange dae kon bekyk nie.  Oe, en ewe skielik onthou ek nou daai breakfast wrap waaraan ek so voor my rekenaar geknibbel het!  Mmm!  Dankbaarheid strek ook na my knus blyplekkie, die nuwe drafroete verby bietjie natuur, my geduldige base, my fantastiese kerk, die feit dat ek kon huis toe gaan vir 9 dae, my vriendin se troue, goeie gesondheid en die beste vriende.  ENSOVOORTS...ek laat sak my kop in skaamte oor my ongeduld en frustrasie, want beide is 'n keuse.

Tuesday, 3 May 2011

Good morning, South Africa!

Jinne, span, toe is ek darem vanoggend dou voor dag uit die vere om te Carpe Diem!  Eintlik het ek hierdie leefstyl verandering in gedagte en vanoggend was die oggend om dit te beproef.  Dit behels 'n oggend gym-sessie sodat ek meer kans kan kry om die ou drafgewoonte weer skop te gee.  Hier in die Noorde raak dit so vroeg in die "aande" donker dat die tyd net na werk eintlik maar die enigste tyd is wat ek sal kan draf.  Ek sien 'n 10km wedloop in die vooruitsig.

So, ja, ek het 05h00 wakker geword van die wekker en myself uit die bed gesleep.  Alles het eintlik goed gegaan, behalwe dat ek alweer die petrolprysstyging gemis het en my tenk was leeg!  Die eerste vulstasie se kaartmasjiene het nie gewerk nie en so moes ek toe maar bietjie tyd mors en gevolglik 'n paar minute korter as beplan gym.

Die gym was verbasend besig.  Dis nou nuwe gesigte, nuwe spiere, maar dieselfde atmosfeer.  En wraggies, my hottie by die gym was ook daar in sy volle glorie.  Haha, toemaar, julle hoef nie oor my bekommerd te wees nie.  Ek het maar net nou die dag die ruiker by die troue van die jaar gevang!  :)

In elk geval, hier sit ek nou, betyds vir werk en opgedress vir die hof-storie later.  Hoop jou dag het skop!  Ek is seker ek gaan iewers vandag 'n energie tekort ontdek, maar ek moes probeer.

Monday, 2 May 2011

Hier kom die bruid!

Ek is terug in Pretoria en die lewe gaan aan. Dis môre daardie dag waarna almal so opsien, maar ons nasie moet darem maar weer aan die gang kom.

So op Werkersdag moet ek gaan inkopies doen. Daar is juis vanoggend droë pap geëet omdat ek nie melk gehad het nie. Dis juis voor die melkrak wat ek toe aan Saterdag se troue van 'n dierbare skoolvriendin dink, want haar man is 'n melkboer van die Vrystaat.

Ek hoop regtig dat ek nooit na so baie troues sal gaan dat dit nie meer vir my spesiaal sal wees nie. Saterdag se troue was wel, en dit het my hartsnare geroer op 'n mooi manier. Kyk, ek en nog 'n skoolvriendin sit toe langs mekaar in die kerk en dit was nie lank nie of ons haal maar die tissues uit en vee subtiel oor die ooghoeke.

Deur dit alles het die bruid en bruidegom my opgeval as twee pragtige kinders van God, mooi van binne en van buite. Beginselvas en sterk geanker in hul geloofshawe.

Die tweetjies het mekaar se oë kort-kort gevang en dan is daar geglimlag. Mens kon ook sien dat die dominee hulle goed ken en dat hy geen besware het om hulle te trou nie. En daar bring die bruid se susterskind-seuntjie die ringe en hardloop halfpad by die preekstoel op voor sy ma hom vang. Die twee doen hul I do's, kry mekaar se ringe, teken die register en word bestrooi met confetti.

Dalk is dit vir iemand van buite net nog 'n troue, met die gewone dinge wat gebeur. Vir my was dit onbeskryflik kosbaar om daar te wees en die liefde te sien wat God gemaak het en wat Hy nog lank sal seën. Hy het die huwelik ingestel as 'n heilige eenheid en dis wat ek Saterdag gesien het. Dit was maar net die begin van 'n kosbare huwelik waarvan die beste nog voorlê. Dis my gebed dat hulle hierdie huwelik met God sal geniet en vir altyd sal eer.

O, en ek is amper wind-uit gegooi met die ruiker! Ek het nie 'n keuse gehad of ek dit wil vang of nie!

Friday, 29 April 2011

Prediker

Hier sit ek nou, plat op die grond, in die sand op my broer se plaas. Hier reg voor my is 'n piepklein geel suringblommetjie wat groei so op sy eie. Ek sê dis 'n introvert blommetjie. Ek deel die blommetjie se behoefte aan alleentyd.

Ek kan nie so heeltyd tussen mense wees nie. Dié dat ek toe 'n uur terug besluit ek vat nou hierdie gaping en gaan soek stilte. Volgens my is dit net die bevestiging van iets wat ek al lankal sê en waarteen baie mense stry - ek is 'n introvert. So, ek sal maar hier sit met my plaashoed op die kop en my waterska op die rug. Jy weet jy wil nou ek wees - dis net 'n ligte briesie en voëls in die verte wat geluide maak. Ek dink ek het so 'n r
rukkie terug ook 'n bobbejaan gehoor...

Nou sit en dink ek aan die "virtue of selfishness" en waar die lyn dan nou lê. Hoe gelukkig moet mens in jouself wees voor jy vir ander goed kan wees? Dis mos waaroor dit gaan - belê tyd in jouself, dan sal jy beter vir ander iets kan beteken.

So was ek darem vanoggend nie lus om voor almal op te staan om muffins te bak nie, maar ek het. Ek het nie gesê nie, maar my sus se kêrel kuier hier, so daar is koninklike behandeling. Ons eet ons trommeldik en drink koffie en tee en ystee en allerande goed waaraan jy kan dink. En ons eet varsgebakte muffins in die oggend. Om in die bed te bly lê het sou natuurlik selfsugtig gewees het, maar nie alles is so maklik nie. So waar is daai lyn?

Oom Prediker sê daar is 'n tyd vir alles en so, glo ek, moet mens maar alles en almal in ag neem en bietjie dink waarvoor die tyd nou reg is. En onthou, alles kom tot niks, so laat ons eet en drink en vrolik wees en die goeie van die lewe geniet.

Tuesday, 26 April 2011

Kort, vinnige treetjies

Wat ek van juffrou Piet onthou, is daai vinnige treetjies reguit oor die pad tussen die skool en die koshuis en ook altyd presies oor die zebra-streep voetoorgang. Dan was daar ook haar rokkies, almal dieselfde patroon, met 'n beltjie om die middel, maar verskillende lappe. Sy het rooi haartjies (wat sedert lank gelede gekleur word) en sy het Afrikaans gegee. Sy het ook die skool se jaarboek behartig en die CSV. En sy was 'n koshuisjuffrou. Sy was jou dood as dit kom by Saterdagoggend inspeksies voor jy kon dorp toe gaan tot middagete. Sy het presies geweet waar daar swartkolle is en stof opgaar en sy het dit vir jou uitgewys.

Vanoggend staan en wag ek in Shoprite vir my ma en probeer tyd omkry met my selfoon. Toe ek so opkyk sien ek een van daai rokkies wat ek nooit sal vergeet nie en die kort vinnige treetjies. Ek sit haar agterna en vang haar eers 'n hele paar gange later...juffrou Piet. Van lekkerkry om mekaar weer te sien, kry ek sommer twee drukkies, vriendelike glimlag en 'n stywe kopknik op elke ding wat gesê word. As jy my vra het sy nie een plooi bygekry nie en ook nie 'n dag ouer geword nie. Sy lyk nog NET soos altyd! So, ek moet vra - wat is die skoonheidsgeheim vir die ewige jeug (ek kies ook my woorde in mooi suiwer Afrikaans)? Baie water en baie stap! Laasgenoemde maak wraggies sin. Juffrou Piet het 'n vietse liggaam en ek kan my indink dat dit is as gevolg van daai vinnige kort treetjies.

Wednesday, 20 April 2011

'n Lekker dag

O jinne, gister se dag het woes begin.  Ek het darem verskoning gemaak by die werk dat ek sal laat wees omdat ek vir ons huiswerker moes wag en woonstel oopsluit.  Van die halfuur se later wegkom, het die verkeer toe nou ook soos klokslag dol geraak.  Dis nek motors links en motors regs en met 'n lekker vet kans het ek myself daar ingewurm.  So is dit 'n gekruie-kruie oor sirkels en dale heen.  Hier op 'n stadium kom ek by 'n verkeersirkel en 'n taxi staan hande viervoet oor die middelste sirkel - twee wiele in die pad en twee wiele op die sirkel, soos 'n man wat 'n steil bult wil uitklim en nie wil omval nie.  Vervies ek my so en ry verby.  Nou staan ek in die pad!  Die taxi-bestuurder gooi handseine en druk sy neus amper in my sy.  Ek het nie besef nie, maar hy het so gaan staan sodat die baan wat reguit aanhou na die sirkel kan verby kom, terwyl ons wat wil regs draai agter hom mot opdam.  Oeps!  Nou wonder ek of die man my blog sal lees, Afrikaans sal verstaan (en nie net gebaretaal nie) en my verskoning sal aanvaar...

Teen middel-oggend is die taxi-petalje al uit my kop en raak my dag beter met 'n geskenkie van my baas - een massiewe paaseier MET 'n kit-kat crunch.  Ek lus al hoeka van Maandag af 'n sjokolade, maar systap hom elke keer met 'n gesondheidstafie.  Dis net nie dieselfde nie!

Die res van die dag het min of meer afgeloop soos 'n plaat wat op te vinnig gestel is.  Gym vir 'n kort, intensiewe sessie, ry huis toe.  Hier is ek weer vermaak deur 'n propvol gelaaide Nissan bakkie(tjie) waarvan die kappie se agterruit uit is, so dit lyk soos 'n fotoraam vol mense!  :)  Ai, en ongelukkig het ek nie my kamera gehad nie en dis dalk 'n goeie ding, want my vroulike kwaliteit van meer as een ding op 'n slag doen, geld nie wanneer ek bestuur nie.  Vinnig geëet, aksie krieket gaan spel (baie opwindend!), pakkie gaan haal by huisvriende se ma en toe tot laat aand gesels met my niggie-flatmate.

'n Vol, geseënde dag.  Wens net ek kon jammer sê vir die taxidrywer.