Wat ek van juffrou Piet onthou, is daai vinnige treetjies reguit oor die pad tussen die skool en die koshuis en ook altyd presies oor die zebra-streep voetoorgang. Dan was daar ook haar rokkies, almal dieselfde patroon, met 'n beltjie om die middel, maar verskillende lappe. Sy het rooi haartjies (wat sedert lank gelede gekleur word) en sy het Afrikaans gegee. Sy het ook die skool se jaarboek behartig en die CSV. En sy was 'n koshuisjuffrou. Sy was jou dood as dit kom by Saterdagoggend inspeksies voor jy kon dorp toe gaan tot middagete. Sy het presies geweet waar daar swartkolle is en stof opgaar en sy het dit vir jou uitgewys.
Vanoggend staan en wag ek in Shoprite vir my ma en probeer tyd omkry met my selfoon. Toe ek so opkyk sien ek een van daai rokkies wat ek nooit sal vergeet nie en die kort vinnige treetjies. Ek sit haar agterna en vang haar eers 'n hele paar gange later...juffrou Piet. Van lekkerkry om mekaar weer te sien, kry ek sommer twee drukkies, vriendelike glimlag en 'n stywe kopknik op elke ding wat gesĂȘ word. As jy my vra het sy nie een plooi bygekry nie en ook nie 'n dag ouer geword nie. Sy lyk nog NET soos altyd! So, ek moet vra - wat is die skoonheidsgeheim vir die ewige jeug (ek kies ook my woorde in mooi suiwer Afrikaans)? Baie water en baie stap! Laasgenoemde maak wraggies sin. Juffrou Piet het 'n vietse liggaam en ek kan my indink dat dit is as gevolg van daai vinnige kort treetjies.
No comments:
Post a Comment