Jy weet hoe verkeer soms mens se hartklop laat versnel en jou geduld tot die uiterste beproef? Ek het altyd erg vasgeskop teen die stadslewe en die rotresies wat daarmee gepaard gaan. Vandag ontken ek nie die slegte invloed wat dit wel op mens se gesondheid kan hê nie en tog, daar is ook die positiewe.
Ek sit gister in my (ma se) ou Bantampie agter 'n ander motor by 'n rooi verkeerslig. Dis ek en Juanita se CD en die lewe is rustig. Toe merk ek op dat die motor voor my skud, so asof dit slegte medisyne ingeneem het, maar sukkel om dit afgesluk te kry. Op hierdie stadium het die petalje voor my my aandag opgeslurp en hoor ek net vaagweg nog vir Juanita...
Die bestuurder het die mees fantastiese lang krullerige hare - perfek vir "headbang". En dis wat hy sit en doen! Sy hande klap op die stuurwiel in regte drommer-styl en sy hele lyf is een met die musiek in sy motor. Dit lyk vir my asof dit baie meer lewendig is as Juanita se "beat" en die man geniet homself. Ek glimlag en gee nie om of hy my sien of nie - hy het my dag gemaak. En toe die lig groen slaan laat vat die "headbanger" met sy motor asof hy in Fast and the Furios 8 deelneem aan 'n straatresies. My maat, jy weet jy gaan die volgende verkeerslig ook rooi kry, né? Ten minste gaan die volgende motor wat agter hom tot stilstand kom ook sy vrye gees geniet. :)
No comments:
Post a Comment