En in die nuus vanoggend...
Dit blyk dat dit 'n heerlike koel oggend gaan wees en dat daar tog die moontlikheid bestaan dat die son later sy verskyning sal maak en die temperatuur die hoogte in mag laat skiet. Donderbuie is, soos altyd, 'n moontlikheid, maar die meisie van die Noord-Kaap sal liewer nie maak asof sy 'n kenner is nie.
Wat ek wel weet, is dat die petrolprys alweer gestyg het en dat selfs ek nie meer hierdie gewoonte van ru-olie kan ignoreer nie. My ou Bantampie weet nie WAT hom getref het nie, want hy is tjok en blok vol vir die tweede keer in net meer as 'n week. Hy moet nou net nie gulsig raak met die groen (bruin?) vloeistoffies nie, want daar lê nog 'n lang ent pad huis toe voor later hierdie maand.
Ons het pas 'n berig ingekry dat die skrywer van Boklammetjie wel beter voel oor haar werksverrigting die afgelope dag en dat die negatiwiteit slegs van verbygaande aard was. Sy baklei verwoed teen enige luiheid, traagheid en moegheid deur gebruik te maak van multivitamines, gebalanseerde etes en pogings tot goeie en rustige slaap. Die laasgenoemde behels min beheer en het die afgelope paar dae onder slegte drome gebuk gegaan. Ons vermoed dat daar 'n lineêre verwantskap tussen die drome en spanning by die werk is en dat daar dus vanaand hopelik beter drome in haar onderbewuste sal lê.
Op die horison wag daar vir Boklammetjie 'n kerk-kuier voor vanaand, waar sy moontlik net een mens sal ken. Boklammetjie oefen nou haar mooiste smile en ekstreemste ekstrovertisme op niksvermoedende vreemdelinge in die straat en kollegas op kantoor. Ons wens haar sterkte toe met die groot stap en hoop dat sy 'n geseënde aand sal hê.
Dit word verder verneem van betroubare bronne dat Boklammetjie 'n nuwe gewoonte aangeleer het die afgelope ruk en dat dit vroeg werk toe gaan behels. Ons hoop dat hierdie gewoonte gou tweede natuur sal word en sal lei tot nog baie werksbevrediging.
Boklammetjie sou dalk nie wou hê julle moet weet nie, maar sy het weereens gister 'n vreemde man se onwelkome attensies gekry en kon nog nie heeltemal herstel na die skok nie. Die man het haar eers baie mooi vertel van die Bybel en toe die versie van "Vra en vir jou sal gegee word" aangehaal, met die bedoeling dat hy vir geld sal vra en dan sal kry. Meneer die Zambiese sendeling (wat ek beslis nie in die gesig wil vat oor sy sendingwerk nie) het egter nie gekry wat hy gevra het nie en dit sluit Boklammetjie se selfoonnommer in. Boklammetjie wonder waar hierdie tipe opdringerigheid vandaan kom. Sy stel voor meneer die Zambiese sendeling lees meer as net daardie een versie wat hy so graag aanhaal.
Boklammetjie mis al haar vriende en hoop dat dit goed gaan met hulle in hul onderskeie situasies, kontinente en state van moegheid. Mag julle 'n geseënde dag hê.
No comments:
Post a Comment