Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Wednesday, 6 April 2011

Failing to plan (again)...

Ek het alweer nie goed genoeg beplan nie en dit nou ten koste van my slaap.  Ek het vanoggend 09h00 'n geskiktheidsonderhoud met 'n prokureur waarin hy gaan besluit of ek bevoeg en geskik is vir die prokureursberoep.  Hiervoor moes die uwe Die Wet op Prokureurs 53 van 1979 en ook die Reëls van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies deurlees, en dis toe nie min nie!  Daar lê en lees ek toe gisteraand tot ounag toe dinge oor prokureursetiek, trustrekeninge en reëls.  Vanoggend pof my onderste ooglede en koppel die brein nie lekker nie, maar hopelik skop hierdie koppie boeretroos nou-nou in!  Ek kort nou ook nog 'n opskop-sokkie liedjie om hierdie dag te "running start". 

Moenie dink ek het toe nie na daardie kerkbyeenkoms vir jongwerkendes toe gegaan nie.  Ek het myself aan die naaste alleen-sitter voorgestel, myself en my geselsies aan haar opgedring en toe gesien sy is in die kennis van my wat my saamgenooi het, se kleingroep!  Ons het 'n interessante praatjie gehad waarin ons verhouding met God vergelyk word met 'n selfoon.  Die ooreenkomste is legio - laai jouself gereëld, kom in goeie opvangs (jy weet waar dit is), onthou jou doel (om te connect met ander), ensovoorts.  Nog 'n deurlopende tema was dat jy nie kan upgrade na 'n nuwe model as jou basiese (verhouding met God) nie daar is nie.  So, ja, dit was goed.  Dit was reeds aand en dit het oggend geword en hier is ons nou by die werk...

Ek glo dit sal 09h00 goed gaan met die onderhoud.  My baas sê my plan van om die man "Oom" te noem en groot te smile gaan nie werk nie en dat ek eerder by "Meneer" moet bly.  Ag, tog, pleks dat die samelewing nog respek het vir ooms en tannies en dat "Meneer" net gebruik word vir manlike onderwysers.  Wat word van die wêreld? 

Nou ja, op so 'n dag waarop ek beoordeel gaan word volgens onbekende standaarde, verkies ek om liewer nie te bekommer nie, maar net te "Just go with it" soos Adam Sandler se nuwe fliek en sonder om te jok soos hy, want ek dink nie ek kan so goed improviseer nie.  Goed, hier gaan ek!  Mag ek geskik en bevoeg wees...

1 comment:

  1. Ek en C het ook een dag gefaal om te beplan. Het ek jou al die Kalkbaai-trein-storie vertel? Ons besluit om die trein Kalkbaai toe te vat, terwyl ons NIKS weet van treinry nie. Uiteindelik het ons seker 5ure lank op stasies sit en wag en trein gery en so uur en 'n half in Kalkbaai spandeer. En 'n vriendin wat gelukkig in die Kaap was het ons terug Bos toe gevat, want ons het die laaste trein gemis.

    Alles van die beste.

    ReplyDelete