Hallo geliewe blog-leser. Jy is voorwaar geliefd, hoor! Soms wonder ek of ek darem altyd iets te skryf sal hê en dan onthou ek weer 'n lekker oomblik of iets wonderliks gebeur en dan skryf ek maar weer.
Jy sal moontlik weet dat ek so paar weke terug huis toe, plaas toe, was en wat 'n voorreg. Ek moet sê dit was wel 'n lang rit en ek en my ousus was redelik lam en tam. Ons het 03h30 opgestaan en is vertraag deurdat 'n petroljoggie vir ons 'n papwiel gegee het. Ja, regtig, nadat ons vir hom gevra het om die bande na te gaan. Verder het ons ook padwerke gekry dat dit goed gaan. Ousus is een met 'n slaapskakelaar - sy sit hom af en dan slaap sy, of jy nou Bok van Blerk kliphard aangesit het of nie. Gewoonlik sit ek dan byvoorbaat die musiek kliphard aan, want wakker bly is die enigste opsie op ons land se paaie.
So op die land se paaie en terwyl ousus in 'n rare oomblik wakker is (o, wag sy het bestuur!), vertel ek haar ek wil die massiewe berg op die reservaatgronde wat grens aan ons plaas gaan klim. Nou, een ding moet jy van my suster weet - sy is die definisie van energie en vat nie nee vir 'n antwoord nie. So, toe daai idee haar idee word, toe is dit nie meer my idee nie. Dis toe ook sommer geskeduleer vir net die volgende oggend. Nie heeltemal my bedoeling nie, maar so 'n geleentheid kom nie elke dag nie.
Redelik vroeg die volgende oggend stap die twee susters, 'n trop van vier skaaphonde en ook 'n Jack Russel die massiewe berg tegemoet. Vir eens in my lewe was ek meer energiek, want my sus het olik gevoel. Helaas kom ons bo en begroet die mooiste-mooi uitsig oor Namakwalandse koppies ons. Dis net natuur waar jy kyk - kokerboom, taaibos, bobbejaan kers, bosse en graniet-koppies. Dit was allergie-pille vir die stadsinus. En wraggies, daar was ontvangs daarbo, so sussie het haar kêrel gebel.
Halfpad teen die berg af, begin ons die honde te roep. Dié troepe is na 'n rukkie toe ons die wêreld bewonder het op 'n dassie jag. Ons roep en fluit en gil, maar dis net die kranse wat antwoord gee en die honde wat blaf vir iets. Dit het my moeë paar bene gekos om terug te klim en letterlik twee van die honde weg te sleep van 'n skeer met 'n dassie in! Ek was omtrent 'n kwaaitjie met daai ongehoorsame honde.
Tog was een van die oulikste oomblikke ook te danke aan 'n hond. Ons moes die honde oor die draad tel - ek gee aan vir my sus. Natuurlik moes ons die springende jonger honde eerste oortel. Terwyl ek die laaste jong hond aangee, skuifel-skuifel ons oudste (en slimste) hond nader tot hy in die perfekte optelposisie staan! Te kostelik. So asof hy sy beurt afgewag het en nou gereed is om opgetel te word. :)
En dis hoe die eerste dag op die plaas begin het - met 'n uitputtende berg en 'n half klim en 'n rowwe hoeveelheid krapmerke op my bene!
No comments:
Post a Comment