In 'n boere-bazaar preek het ons dominee een keer gesê dat ons moet onthou dat ons geliefdes, dié mense wat die heel naaste aan ons is, nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Hulle is in die eerste plek Syne en in die tweede plek 'n geskenk van Hom aan ons. En ek moet sê dat ek dit so maklik vergeet. Hulle is tog baie veiliger in ons Hemelse Vader se hande as in myne!
Môre word my lewegewer, my ma, 'n ryp 60 jaar oud. Dit was nie die maklikste 60 jaar wat ek my kan indink nie en tog, weet ek, dat God daardie 60 jaar van haar lewe in Sy hand hou en elke glimlag en traan van haar koester. Daar sal nie 'n haar (wat al hoe meer grys word) van haar kop af laat val, sonder dat Hy daarvan weet nie. Daar sal nie 'n woord aan haar gesê word wat Hy nie hoor nie. En Hy sal weet wanneer iemand iets goeds vir haar doen.
My ma het een van die sagste harte waarvan ek weet - sy word van die kleinste dingetjie gelukkig en ook van die kleinste dingetjie ongelukkig. Sy is ook sterk! Sy lag so maklik met haar lagplooi-glimlag. Sy het haar eie manier van liefde gee - ek kan dit nie eens beskryf nie, maar moenie 'n fout maak (soos ek al baie in my lewe gefouteer het) oor die feit dat dit wel bestaan nie. My ma het nie iets slegs van enige iemand te sê nie en sal altyd ander bo harself stel. Wat 'n voorbeeld!
My wens vir haar lewe vorentoe is dat sy waardeer sal word, lank gespaar sal bly, God se liefde sal ervaar, vreugde uit die lewe, 'n selfbesef dat sy kosbaar is en genoeg selfvertroue om elke dag te pak. Mag die beste jare nog voorlê, Mamma!
No comments:
Post a Comment