Ek is terug in Pretoria en die lewe gaan aan. Dis môre daardie dag waarna almal so opsien, maar ons nasie moet darem maar weer aan die gang kom.
So op Werkersdag moet ek gaan inkopies doen. Daar is juis vanoggend droë pap geëet omdat ek nie melk gehad het nie. Dis juis voor die melkrak wat ek toe aan Saterdag se troue van 'n dierbare skoolvriendin dink, want haar man is 'n melkboer van die Vrystaat.
Ek hoop regtig dat ek nooit na so baie troues sal gaan dat dit nie meer vir my spesiaal sal wees nie. Saterdag se troue was wel, en dit het my hartsnare geroer op 'n mooi manier. Kyk, ek en nog 'n skoolvriendin sit toe langs mekaar in die kerk en dit was nie lank nie of ons haal maar die tissues uit en vee subtiel oor die ooghoeke.
Deur dit alles het die bruid en bruidegom my opgeval as twee pragtige kinders van God, mooi van binne en van buite. Beginselvas en sterk geanker in hul geloofshawe.
Die tweetjies het mekaar se oë kort-kort gevang en dan is daar geglimlag. Mens kon ook sien dat die dominee hulle goed ken en dat hy geen besware het om hulle te trou nie. En daar bring die bruid se susterskind-seuntjie die ringe en hardloop halfpad by die preekstoel op voor sy ma hom vang. Die twee doen hul I do's, kry mekaar se ringe, teken die register en word bestrooi met confetti.
Dalk is dit vir iemand van buite net nog 'n troue, met die gewone dinge wat gebeur. Vir my was dit onbeskryflik kosbaar om daar te wees en die liefde te sien wat God gemaak het en wat Hy nog lank sal seën. Hy het die huwelik ingestel as 'n heilige eenheid en dis wat ek Saterdag gesien het. Dit was maar net die begin van 'n kosbare huwelik waarvan die beste nog voorlê. Dis my gebed dat hulle hierdie huwelik met God sal geniet en vir altyd sal eer.
O, en ek is amper wind-uit gegooi met die ruiker! Ek het nie 'n keuse gehad of ek dit wil vang of nie!
No comments:
Post a Comment