Gister was nou weer 'n moeilike dag in die frustrasie-departement, so ek moes kliphard dink oor alles waarvoor ek dankbaar is en my seëninge tel. En toe ek dit eers gedoen het, kon ek met nuwe perspektief sien dat die onbeantwoorde telefoonoproepe en dinge eintlik gering was.
Sien, want ek het gister 'n selgroep gevind na maande se hunkering na 'n geloofsfamilie hier in Pretoria. My selleier bel my (van 'n onbekende nommer, natuurlik) toe om vas te maak oor volgende week se tye en so aan. Ek was eers baie verward met die vriendelike mens wat met my praat asof ek haar moet ken, maar toe kom die dankbaarheid en vreugde. Volgende Woensdag gaan hierdie meisie vir haar eerste selgroepontmoeting en sy is opgewonde!
Dan is daar die wit Corsa Lite met my naam op. Hy kort nog net 'n bietjie poetswerk en dan is hy myne! Die Bantampie was goed en reg en mooi, maar dis nou eers verby. Die era van die wit Corsa Lite het so saam met Catherine die Hertogin van Cambridge aangebreek. Mag dit 'n goue era wees!
Die ander groot dankbaarheid is teenoor die ketel in die kantoor. Met die nuwe vroeg-opstaan gewoontes het die behoefte na koffie drasties toegeneem. Ek weet nie regtig of dit help nie, maar nietemin is dit IETS wat ek kan probeer om die vallende ooglede in toom te hou. Ons het die jongeling in die kantoor geboelie om vir ons koffie te maak! Arme ding het ook nie 'n katse kans nie, want hy is die enigste man op kantoor! Sal maar moet toesien dat hy weer eendag bietjie bederf word met 'n koekie of iets.
Sjoe, en Facebook en Watsenaam wat dit ontdek het, is beslis een van my gunstelinge! Ek weet nie hoe my lewe sou wees as ek nie gedurig boodskappies kon skryf of ontvang en foto's van vergange dae kon bekyk nie. Oe, en ewe skielik onthou ek nou daai breakfast wrap waaraan ek so voor my rekenaar geknibbel het! Mmm! Dankbaarheid strek ook na my knus blyplekkie, die nuwe drafroete verby bietjie natuur, my geduldige base, my fantastiese kerk, die feit dat ek kon huis toe gaan vir 9 dae, my vriendin se troue, goeie gesondheid en die beste vriende. ENSOVOORTS...ek laat sak my kop in skaamte oor my ongeduld en frustrasie, want beide is 'n keuse.
No comments:
Post a Comment