Sugar and spice and all things nice - that's what little girls dream of. Ek slaap vanaand in 'n huis waarin drie klein dogtertjies rondhardloop voor bed-toe-gaan-tyd. Te oulik kom hulle een-een in hul pienk pajamas en uitgekamde blonde haartjies om nag te sê. Groot-oog, onskuldig, spontaan en gelukkig.
Lag is maklik en huil ook, maar lag troef huil en onophoudelike giggel maak hul hartjies gelukkig. Wanneer ek die sjokolade 'n skip gee, vat een van hulle sonder om te dink, nonchalant 'n blokkie en sit dit woeps in haar mond. Hul grootste uitdaging is om hul oom te wen met snap of om sy kaart-toorkuns te toets. Die een wil my neus met die slaaitang knyp, die ander een vertel my breedvoerig van haar tand wat gewissel het en die tandmuis wat 'n gaatjie in sy sakkie gehad het en haar tand op haar ma se spieëlkas laat uitval het. Die ander dogtertjie gaan wys my waar my kamer is, maar vertel my nog voordat ons daar is dat daar 'n sjokolade op my bed wag!
Ai, dis so lekker wanneer die lewe bestaan uit pienk en wit waas, lag en gesels en prinses-stories. Die dae van bed toe gedra word en duisende drukkies. En dan verstaan mens dat 'n ma nie wil hê haar dogtertjies moet grootword nie. <3.
No comments:
Post a Comment