Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Wednesday, 2 November 2011

Mallemeule van gebeure

Soms gebeur slegte dinge met goeie mense deur hul eie toedoen.  (In hierdie scenario sien ek nou myself ewe hooghartig as die goeie mens).  Soms gebeur 'n REEKS slegte dinge met 'n goeie mens oor 'n tydperk...  In my geval is motors die afgelope tyd 'n refrein in my lewe.  Kom ek brei uit...

Ene Konstabel Iemand van Bloemfontein skakel my nou die dag:  "Onthou jy my nog?"  Die gebeure van so 'n jaar en 'n half terug toe ek 'n motorbotsing sien gebeur het en ek en my twee broers eerste op die toneel was om die polisie en ambulans te bel, speel weer voor my oë af.  Ja, ek onthou.  "Ja, uhm, jy moet kom getuig."  In Bloemfontein?  "Ja".  Die staat gaan my dagvaar om te getuig in die saak wat nou 'n saak van strafbare manslag is.  Dis in Bloemfontein.  Jammer, hoor, maar dit beteken jy sal verlof moet insit.  Skokgolf.

Laasweek was ek een oggend so bietjie omgekrap en toe ook nie so aandagtig toe ek by ons werk se ondergrondse parkering uit "reverse" het nie.  Toe ek nog so ingedagte kyk, sien ek 'n sagte beweging by my baas se motor.  Ek het hom geskraap!  Skokgolf.

Ter agtergrond:  die motor waarmee ek bestuur het, is wit.  My baas se motor is swart.  Die gevolg is 'n wit strepie op 'n swart motor en 'n baie verleë werknemer wat URE vat om die nuus te breek.  Ek doen dit toe wel en my baas is, soos te wagte, ontsteld (maar darem nie so ontsteld dat sy onredelik is nie).  Die ooreenkoms is dat ek paneelkloppers toe moet gaan en kwotasies kry...

Vandag kom my baas in my kantoor in met 'n smaal op die gesig en 'n spoedkaartjie in die hand.  PRAGTIGE foto van die werksmotor wat ek tot onlangs toe nog geleen het se agterkant.  R375, die "discount" bedrag.  Skokgolf.

En so is ek verantwoordelik vir my eie informele sekwestrasie. Wat de os, Boklammetjie?  :)  Waar is die dae toe ek nog my pa veroordeel het oor 'n spoedkaartjie naby Keimoes?  En waar is die dae toe ek net eenvoudig nie 'n MOONTLIKHEID van 'n motor-krap-geval gehad het nie?  In die verlede, dis waar!

As iemand weet van 'n naweek-joppie, laat weet maar.  As enige van my vriende my nie meer sien in die volgende maand nie - ek vra byvoorbaat verskoning.

Einde van dag 2 November 2011:  Boklammetjie minus een dag verlof minus R375 en minus die wit krap op die swart motor.  Jy kan nie sê ek stagneer nie, ne!  :) 

If life gives you lemons, make lemonade! 

1 comment:

  1. Ai toggie, Bea.
    Hoop hierdie is nou darem al lank genoek terug om oor te smile :)
    Soms tref dit mens maar so als op een slag. Ek moet nou die dag R1300 vir die staat stuur oor ek so super onnosel was om in 'n tonnel verby te steek (daar was versagtende omstandighede, maar ek bly maar die swaap in die verhaal). Ek was egter bly om die R250 boete af te kry omdat ons te lank in die natuur reservaat gebly het.
    'n Rukkie later kyk ek terug en dink "jissie! R1300 in die water gegooi! Idiot! ...
    ...
    ...
    Maar wag... hier sit ek, met genoeg om te eet, en eintlik word daar voorsien in al my behoeftes. Waaroor kla ek?"

    ReplyDelete