Ek weet ook nou wat dit beteken om ‘n skrywersblok te hê. Die boklammetjie het lanklaas geblêr. Tog kan ek met ‘n geruste hart sê dis nie weens sielkundige redes nie. Depressie het my nog nie kom vang nie en daar was ook nie ‘n liefdesteleurstelling nie. Daar is pleinweg net nie woorde nie, alhoewel daar baie idees is. Dis maar soos die Prediker sê: “Elke ding het sy vaste tyd… ‘n Tyd op stil te bly(nie te skryf nie?)…”
Intussen was ek baie bevoorreg om ‘n skootrekenaar (punte vir die mooi Afrikaans) by my dierbare suster te kry. Ek sê altyd – as sy kon, sou sy haar voortande ook vir iemand gegee het en gaan inval het by Gatiep, Meraai en die Cape Flats se “passion-gap” bende. Hier sit ek nou soos ek nog altyd gedroom het, met ‘n koppie boeretroos en ‘n rekenaar op my skoot.
Voordat dit regtig begin klink asof ek nie eintlik ‘n punt het nie en julle begin glo dat ek nogsteeds ly aan die “Blogger’s block”…hier is wat ek wil vertel van ‘n gebrek aan woorde.
‘n Gebrek aan woorde is oukei. Daar kom tye wat jou mond nie die ligte (of swaar) dinge binne jou hart kan verduidelik nie. Ek skat dit gaan so wanneer mens behoorlik verlief is – al wat jy dan kan doen is om maar net die ander helfte se hand te vat en te vryf. Dit help nie jy probeer verduidelik hoe jy voel nie, want dit skiet te kort. Ek glo daar is gevoelens waarvoor daar nie woorde is nie.
Oe, ons moet oppas om nie gevoelens goedkoop te maak deur dit te probeer verduidelik nie. Dit kan plat uitkom en net heeltemal die verkeerde boodskap bring. Dis waarvoor daar drukkies is en glimlagte en kyke en hande-klap en fluit en bollemakiesie en wawiele en kanonskote (gits, ek moes julle eintlik vertel het van die ongelooflike harde kanonskoot wat ons nou die dag afgesit het by ‘n padwedloop – my hart het amper die hele dag se slae in een minuut geslaan!) en vuurwerke en sommer net ‘n vredevolle oë-toemaak.
Ja, ek weet, woorde is nogal fantasties, veral (as jy my vra) in ons Afrikaanse woordeskat. Dink byvoorbeeld aan name vir plante – leeubekkie, bokhoringtjie, kruidjie-roer-my-nie… So kan mens aangaan tot dit voel asof jy rondhardloop in ‘n groot oop veld met gras. J Tog, dink ek, kan ons ook in stilte dinge “sê” en “hoor”. Of is dit nou weer die introvert in my wat hier skryf? Nee, julle, dis Bybels…God was in die briesie!
No comments:
Post a Comment