Het jy al ooit gevoel dat jou dag op een of ander manier 'n tema het wat dwarsdeur die gebeurtenisse daarvan loop? Jy reflekteer op die dag en sien net hoe een ding 'n ander beklemtoon of verbind met iets anders.
Een van die wonderlike dinge daarvan om saam met my tannie in die aftree-oord te woon, is dat hier die mooiste grasperke en tuine is. Ouerige ooms en tannies kyk baie mooi na hul tuintjies en almal s'n is met mekaar verbind sodat dit eintlik lyk soos 'n pragtige park vol van die mooiste verskillende tipes blomme. Gevolglik is baie voëltjies gelukkig om hul nessies hier te bou en oorskiet-kos hier te soek. Ja, selfs 'n klompie hadida's loop hier rond en omdat hier nie baie beweging is nie en hulle vir niks skrik nie is hulle vir 'n verandering stil hier!
Dis toe dat ek ook vanoggend my Finesse tydskrif en ontbyt neem en op die stoep gaan sit om die rustigheid te waardeer. Daar het die son heerlik gebak deur die koel oggendlug, terwyl al die ander mense in die huis nog onbewus gelê en slaap het. Gee my net 'n paar sulke oomblikke in 'n week en ek behoort gelukkig te wees in al die ander fasette van my lewe ook. Ek het eintlik so bietjie skuldig gevoel, want ek wou aanvanklik kerk toe gaan. Ek het toe nie gegaan nie, want ek het nie skoon en mooi klere gehad om aan te trek nie...FLOU verskoning. Hoe dit ook al sy, ek het toe hierdie tydjie gehad om net bietjie te wees.
Deesdae is die natuur in my lewe 'n skaars kommoditeit en eintlik beperk tot parke en my tannie en haar bure se tuin. Ek mis die sonsondergang oor die plat Boesmanland grasvlaktes en die heling van die golwe van die see. Oe, en die Kaapse blou-blou berge wat net geklim wil word! Op die plaas het ons ook al die lekkerste buite-slaap aande beleef onder die helderste sterre in die hele wye wêreld en die stilste stiltes wat jy kan aan dink. Deesdae, vertel my ma my, kyk hulle sommer die sterre uit die badkamer uit, want die dak het mos afgewaai. :)
Dis vir my ook net 'n natuurlike reaksie om die RSG-diens te luister wanneer ek nie kerk toe gaan nie en vanoggend was geen uitsondering nie, so ek en my tannie was ingeskakel vir die diens uit George se wêreld. Die predikant preek toe ook tot ons albei se harte. Ons is mos so geneig om te sê ons kan nie help dat ons optree soos ons optree nie, want dit-en-dat het met ons gebeur of ons is so-en-so grootgemaak of dis in ons gene. Ons laat ons emosies toe om ons handelinge te rig en eintlik het ons baie meer beheer daaroor...deur genade. So lees Galasiërs 5:16: "Wat ek bedoel is dit: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie." Die prediker vertel toe dat hy elke dag van sy lewe vra dat die Here hom sal help om sy sondige natuur te beheer. Dit kom immers nie vanself nie.
Dink byvoorbeeld aan daardie taxi wat so windmakerig voor jou indruk of "deadlines" wat jou oorlaai met spanning. Partymaal vang ek my dat ek bewe wanneer ek bestuur en iemand druk sy toeter - ek dink mos altyd dis ek wat nou weer een of ander gevaarlike situasie laat ontstaan het. Ek is eintlik 'n senuwee-bol! Dan praat ek nou nie eens van geldelike probleme of ander druk-situasies nie. Dis definitief nie dan die maklikste ding onder die son om vergewensgesind te wees of enigsins te DINK daaraan om die ander wang te draai nie. Nee, dit kom maar net met genade en Geesbeheersing.
My niggie het vir haarself 'n spanningsverligtingsmiddel geprakseer en ek het dit ontdek toe ek met haar motor gery het nou die dag. Sy luister Classic FM en glo my as ek vir jou sê, dit werk. Ek glo natuurlik steeds in Juanita du Plessis se CD ook, maar klassieke musiek het verseker 'n demper op kwade gevoelens. Julle kan gerus nog 'n paar "stress-releavers" deel, want ons kan almal daarby baat. Ek wil nie die lewe te vroeg groet omdat ek nie my spanning kan beheer nie.
My oom se 60ste verjaardag vandag het my ook herinner aan hoe mens rustiger raak met die jare. "Age is earned" en ek sou sê dat dit ook selftevredenheid meebring. Maar hoekom wag tot jy "oud genoeg" (my oom is beslis nie OUD nie!) is voor jy vrede met jouself ervaar? Is dit nie dalk maar nog iets wat mens van die Here kan vra nie, terwyl ons nou so lysies maak! Kyk, hy like dit in elk geval as ons so met hom gesels en alles vir hom vertel. So, vertel Hom jy sukkel bietjie om vrede in die self te vind en of daar nie dalk vrede van Sy kant af te gee is nie. :) Hy stel nie teleur nie.
Ek sal nog weer 'n kampvuur-kuier beleef met 'n vriend of twee (of dalk ekself) wat kitaar speel en sing. Dalk sal ek selfs ook eendag 'n regte egte Wild West ervaring hê waar ek met 'n perd die verte in kan jaag. Maar net dalk is daar ook die moontlikheid dat mens die ware vrede nie net in die natuur kan kry (waar jou ervaring dit makliker maak) nie. En dalk moet ons net vra vir liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing en ons sal dit kry...
Dankie vir die geleentheid om vir julle te preek. Dit is immers Sondag. Gaan nou in vrede...
Amen (Gal 5:22)
ReplyDelete