Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Sunday, 20 February 2011

Is jy dalk alleen? Vat die tissueboks...

Een groot drukkie vir almal wat een nodig het!  Ek sou self nou kon doen met 'n lekker stywe drukkie.  Nie omdat dit sleg gaan nie, maar sommer net omdat drukkies so lekker is.  'n Drukkie vir sommer.  Ongelukkig is ek vanaand alleen in my tannie se huis hier tussen die afgetredenes en bly my drukkies virtueel.  Selfs die budgie is nie meer hier nie, want 'n aaklige kat het hom gevang!  In my alleenwees sit en wonder ek wat die naaste alternatief vir 'n drukkie is vir 'n persoon wat op sy of haar eie is?  Dalk 'n lekker warm bad met kerslig of 'n koppie milo met 'n tydskrif in die bed.  Ek dink ons kan almal daarby baat om mooier na onsself te kyk wanneer ons alleen is.  Ek het so 'n geneigdheid om sommer alles af te skeep...skottelgoed, wasgoed, strykgoed, makeup(dit irriteer ook nog my oë, so dis regtig nie gewild op die oomblik nie), hare was... (Party van my vriende mag dalk dink ek deel te veel, maar dis my blog!) Moet.  Liewer.  Vir.  Myself.  Wees.

Dis eintlik ook verstommend om te sien wat mens gedoen kan kry in 'n baie kort tydjie.  Ek het byvoorbeeld die sitkamer en kombuis opgeruim terwyl die rekenaar gehang het oppad na die Boklammetjie bladsy.  Ek het myself eers lelik vervies en toe onthou ek kan 'n paar dinge doen terwyl ek so sit en myself opwerk.  Ek het ook my ma se woorde van baie lank gelede en wat vasgesit het sedert daardie dag, onthou.  "Moenie vir 'n dooie ding kwaad word nie."  As ek maar daardie wyse raad gevolg het, sou ek dalk vandag 'n bietjie ligter gelewe het!

Ek het wel 'n baie lekker dag gehad.  Ek het aanvanklik sommer vroeg wakker geword van die vroeë Gautengse son wat heldergeel in my kamer ingestroom het.  Die week se moeg het egter gou hierdie wakker-wees verander in 'n lekker laatlêery.  Amper was ek laat vir kerk, want ek het my wekker gestel, maar vergeet dat hy net in weeksdae afgaan.  Gelukkig het die interne klok my 5 minute na my opstaantyd wakker gemaak en was ek betyds klaar.  Kerk was wonderlik lekker.  Ek voel so lekker tuis daar, al gaan ek alleen!  Dis seker omdat my Pa daar was.  My hemelse Pa, natuurlik.  :)  Ons is juis daaraan herinner dat God so lief vir ons is en dat Hy daarom nie ver is nie, maar hier naby sodat Hy 'n persoonlike verhouding met ons kan bou - een waarin hy ons persoonlikheid en eie-behoeftes en nukke en grille erken en daarmee voortbou.

Later vandag is ek toe saam met 'n skoolvriend na die Pretoriase Botaniese tuin vir 'n buitelug opvoering deur 'n paar "bands".  'n Vriend en vriendin van hom het ons daar ontmoet en 'n rustige tydjie is saam spandeer.  Verversings, mense-bekyk, die rustige (en lewendige) musiek, lekker geselskap en 'n CD van Zinkplaat later, het ons afgesit Menlyn toe vir 'n koppie koffie saam met nog ander vriende van die vriende van my vriend.  Jy moet slim wees om by te bly met hierdie vriendeketting.  Ons het regtig lekker gelag en gepraat oor Pretoria versus Johannesburg, die tolpad tussenin en die verkeer.  Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat almal issues het en dat geeneen van ons eintlik die berader vir die ander kan wees nie.  Dalk is 'n groepsessie net die ding wat ons nodig het.  'n Groepsessie met 'n boks tissues wat rondgestuur word.  Die ou of vrou met die tissues is die een wat mag praat en die res moet luister.  Haha! 

Nou ja, op die oomblik is die tissues by my en my tissue-issue is my deurmekaar kamer.  Dink julle dit reflekteer 'n deurmekaar harts-binnekamer?  Wel, volgens my het ek nou eers genoeg tyd gehad om jammer te wees vir myself omdat ek moes stad toe trek.  Dis glad nie so sleg hier nie - hier is oorgenoeg Kapenaars!  Dis sommer net 'n grappie, want Gautengers is ook oulik en liefhê-baar.  Dis maar net die aksent - die spelling is dieselfde, kan jy glo?!  Goed, so wie wil nou die tissueboks hê?

No comments:

Post a Comment