Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Monday, 21 February 2011

Jy raak glo nie kwaad vir mense wat jy NIE ken nie...

As hierdie nou 'n universiteitsvraestel was, was die vraag soos volg:  "Evalueer die bogenoemde stelling krities in die lig van die huidige situasie in Suid-Afrika."  Of dalk:  "Verskaf jou opinie oor die bogenoemde stelling."  Ek het nog altyd gedink laasgenoemde is 'n swak manier om 'n vraag te stel, want 'n opinie is subjektief en kan nie objektief gemerk word nie en ek was al die jare in 'n fakulteit waar objektiwiteit van onskatbare waarde was.  Ons het dit reeds in eerste jaar by dr Ranshod geleer as een van die tien eienskappe van 'n regsgeleerde.  Dis egter nie nou ter sake dat ek in my universiteitsloopbaan waarskynlik 5% meer vir elke regsvak moes kry omdat ek my opinie gegee het waar dit as verkeerd beskou is deur van ons land se topgekwalifiseerde regsgeleerdes nie.  Wat wel ter sake is, is die feit dat bogemelde stelling, in my opinie, nie as 'n rigiede reël kan geld nie.  So, kom ons los die hoogdrawende sinne en kom tot die punt.

Na twee weke van wag vir my bewys dat ek gegradueerd is, bel ek vandag toe die poskantoor op die dorp waarvandaan my broer, wat toe die track-nommer verloor het, dit vir my per geregistreerde pos gestuur het.  Ek het gou besef dat ek nie vandag die enigste een is wat probleme het om met die takbestuurder te bespreek nie.  Die besettoon word net elke vierde probeerslag vir 'n luitoon verruil.  Ek herinner myself daaraan dat dit beter is as daardie lang, uitgerekte, herhalende, weemoedige deuntjies wat hulle vir 'n mens speel wanneer jy wag om deurgeskakel te word, terwyl 'n emosielose stem vir jou vertel dat jou oproep vir iemand belangrik is. 
Dit was toe duidelik die mees vermoeiende deel van Takbestuurder se dag om vir my na te gaan of daar 'n posstuk na my adres gestuur is op so en so datum en daar maak ek die fout om hom te weer te vra of hy op so en so datum se rekords gekyk het.  Sal hy nou wraggies vir my vertel my broer spin vir my stories.  Ja, sy direkte woorde.  Ag aarde, maar ek word mos stil-kwaad in plaas van verbaal-kwaad.  Na die tyd was ek vir myself kwaad omdat ek nie een van die min geleenthede wat ek kry om vir my broer op te staan gebruik het nie.  Ja, ek weet ek moenie myself so opwerk nie, maar ek kon myself in daardie oomblik nie keer nie.

Arme broer stuur toe die lewensbelangrike dokument weer vir my, die keer per spoedpos.  Ek dink nog so by myself dat dit hopelik nou op rekord sal wees en hier sal haal, toe bel my baas en sê daar is 'n posstuk vir my...  Takbestuurder, jy skuld my broer 'n verskoning!

No comments:

Post a Comment