Sjoe, julle, ek dink ek is tog maar bang vir donderweer. Hierdie Gautengse donderweer slaan jou binne-in jou hart en eggo in jou maag en dan vibreer dit nog in jou brein ook. Sjoe, dis erg. Ek weet nie wanneer en of ek dit sal gewoond raak nie. Om alle ervaringe van die weer verder te vererg, ruil ek en my niggie motors (want ek het mos hierdie wonderlike Bantam bakkie wat perfek is vir groot goed vervoer en sy wil 'n stoof koop...). Het so 'n effense aanpassingsprobleempie gehad met die dat die motor so massief voel en dat Juanita plek moes maak vir niggie se klassieke musiek stasie. Kon dit natuurlik verander het as ek wou, maar in my erge konsentrasie was daar nie nog plek vir stasies verander ook nie. Tog was die klassieke musiek dalk net die regte ding vir die pad Hatfield toe.
Nou sit ek hier in so 'n sibbie-reën soos die Namakwalanders sal së of dan nou eerder 'n motreëntjie. Ek wag vir die Potch-mense om te kom vir onse mandjiesdans. Dis nou Pretoria se weergawe van 'n dansplek soos Opskop. Van wag het ek nou al weer so paar keer om so paar blokke gery en nêrens 'n parkeerplek gekry by 'n ou KFC'tjie of McDonald's nie. Ai jitte, kry tog die kind jammer. Sy's honger, maar kan nie 'n kossie vind nie en hier moet nog geDANS word vanaand.
Dink ek nou sommer terug aan die Neelsie-sokkies op Woensdagaande wat ek en my vriendinne van die koshuis so gereeld bygewoon het. Nou daar was jy nooit verkeerd aangetrek nie - rugby- en kommin-tema huisdanse het gesorg dat dit nie snaaks was as iemand snaaks aangetrek het nie. Maar in ons jare daar op die Bos het daar soms 'n paar snaakse karakters kom sokkie.
Intussen het ek die Potch mense gekry en die mandjiedans is ook agter die blad. Jitte, dit was heeeeerlik! Ek kan nou maar net nie hierdie dans-entoesiasme van my blus nie. Daardie seergedansde voete, hare wat nie meer is wat dit aan die begin van die aand was nie en die kosbare danse en geselsies tussendeur.
Dit kon netsowel 'n Neelsie sokkie met tafels gewees het - daar was so baie Stellenboschers! En my potensiêle flatmate! En een van die meisies wat ek by die jongwerkende groep ontmoet het. En die wêreld is weereens as klein bevestig toe ek 'n ou ontmoet wat my suster ken, en sy is 5 jaar ouer as ek. Wat is die kans?
Die manne het hulle deel gedoen. Hier kan die Neelsie-manne maar kom lesse vat. Steek net jou hand uit of vra...en vir jou sal 'n hand gegee word. En dames, julle së nooit nee nie, tensy 'n ernstige besering jou buite aksie plaas of daar 'n dringende gesprek in die badkamer gevoer moet word. (A girl's gotta do what a girl's gotta do.)
Ja-nee, dit was 'n fantastiese aand en nou ken ek ook meer mense in die Jakarandastad.
Het jy toe glad nie geëet voor die dans nie? Ek het skoon vergeet om te vra -ek was so bly om jou te sien. Jammer, jy kon regtig van die pizza kry.
ReplyDeleteEk is baie bly dat jy ook die dans geniet het (honger ten spyt). Bly ek kon dit met jou deel.
Vriendin, dit was een van die lekkerste aande in 'n lang tyd! Kos was beslis (later) die laaste ding waaraan ek kon dink - was net 'n massiewe voorreg om jou en al die ander te kon sien! Ek sien dit as 'n groot seën.
ReplyDeleteAlhoewel ek nie geëet het nie, het ek beslis nie honger gely nie. Jy is dierbaar dat jy nou daaraan dink. <3