Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Friday, 29 April 2011

Prediker

Hier sit ek nou, plat op die grond, in die sand op my broer se plaas. Hier reg voor my is 'n piepklein geel suringblommetjie wat groei so op sy eie. Ek sê dis 'n introvert blommetjie. Ek deel die blommetjie se behoefte aan alleentyd.

Ek kan nie so heeltyd tussen mense wees nie. Dié dat ek toe 'n uur terug besluit ek vat nou hierdie gaping en gaan soek stilte. Volgens my is dit net die bevestiging van iets wat ek al lankal sê en waarteen baie mense stry - ek is 'n introvert. So, ek sal maar hier sit met my plaashoed op die kop en my waterska op die rug. Jy weet jy wil nou ek wees - dis net 'n ligte briesie en voëls in die verte wat geluide maak. Ek dink ek het so 'n r
rukkie terug ook 'n bobbejaan gehoor...

Nou sit en dink ek aan die "virtue of selfishness" en waar die lyn dan nou lê. Hoe gelukkig moet mens in jouself wees voor jy vir ander goed kan wees? Dis mos waaroor dit gaan - belê tyd in jouself, dan sal jy beter vir ander iets kan beteken.

So was ek darem vanoggend nie lus om voor almal op te staan om muffins te bak nie, maar ek het. Ek het nie gesê nie, maar my sus se kêrel kuier hier, so daar is koninklike behandeling. Ons eet ons trommeldik en drink koffie en tee en ystee en allerande goed waaraan jy kan dink. En ons eet varsgebakte muffins in die oggend. Om in die bed te bly lê het sou natuurlik selfsugtig gewees het, maar nie alles is so maklik nie. So waar is daai lyn?

Oom Prediker sê daar is 'n tyd vir alles en so, glo ek, moet mens maar alles en almal in ag neem en bietjie dink waarvoor die tyd nou reg is. En onthou, alles kom tot niks, so laat ons eet en drink en vrolik wees en die goeie van die lewe geniet.

Tuesday, 26 April 2011

Kort, vinnige treetjies

Wat ek van juffrou Piet onthou, is daai vinnige treetjies reguit oor die pad tussen die skool en die koshuis en ook altyd presies oor die zebra-streep voetoorgang. Dan was daar ook haar rokkies, almal dieselfde patroon, met 'n beltjie om die middel, maar verskillende lappe. Sy het rooi haartjies (wat sedert lank gelede gekleur word) en sy het Afrikaans gegee. Sy het ook die skool se jaarboek behartig en die CSV. En sy was 'n koshuisjuffrou. Sy was jou dood as dit kom by Saterdagoggend inspeksies voor jy kon dorp toe gaan tot middagete. Sy het presies geweet waar daar swartkolle is en stof opgaar en sy het dit vir jou uitgewys.

Vanoggend staan en wag ek in Shoprite vir my ma en probeer tyd omkry met my selfoon. Toe ek so opkyk sien ek een van daai rokkies wat ek nooit sal vergeet nie en die kort vinnige treetjies. Ek sit haar agterna en vang haar eers 'n hele paar gange later...juffrou Piet. Van lekkerkry om mekaar weer te sien, kry ek sommer twee drukkies, vriendelike glimlag en 'n stywe kopknik op elke ding wat gesê word. As jy my vra het sy nie een plooi bygekry nie en ook nie 'n dag ouer geword nie. Sy lyk nog NET soos altyd! So, ek moet vra - wat is die skoonheidsgeheim vir die ewige jeug (ek kies ook my woorde in mooi suiwer Afrikaans)? Baie water en baie stap! Laasgenoemde maak wraggies sin. Juffrou Piet het 'n vietse liggaam en ek kan my indink dat dit is as gevolg van daai vinnige kort treetjies.

Wednesday, 20 April 2011

'n Lekker dag

O jinne, gister se dag het woes begin.  Ek het darem verskoning gemaak by die werk dat ek sal laat wees omdat ek vir ons huiswerker moes wag en woonstel oopsluit.  Van die halfuur se later wegkom, het die verkeer toe nou ook soos klokslag dol geraak.  Dis nek motors links en motors regs en met 'n lekker vet kans het ek myself daar ingewurm.  So is dit 'n gekruie-kruie oor sirkels en dale heen.  Hier op 'n stadium kom ek by 'n verkeersirkel en 'n taxi staan hande viervoet oor die middelste sirkel - twee wiele in die pad en twee wiele op die sirkel, soos 'n man wat 'n steil bult wil uitklim en nie wil omval nie.  Vervies ek my so en ry verby.  Nou staan ek in die pad!  Die taxi-bestuurder gooi handseine en druk sy neus amper in my sy.  Ek het nie besef nie, maar hy het so gaan staan sodat die baan wat reguit aanhou na die sirkel kan verby kom, terwyl ons wat wil regs draai agter hom mot opdam.  Oeps!  Nou wonder ek of die man my blog sal lees, Afrikaans sal verstaan (en nie net gebaretaal nie) en my verskoning sal aanvaar...

Teen middel-oggend is die taxi-petalje al uit my kop en raak my dag beter met 'n geskenkie van my baas - een massiewe paaseier MET 'n kit-kat crunch.  Ek lus al hoeka van Maandag af 'n sjokolade, maar systap hom elke keer met 'n gesondheidstafie.  Dis net nie dieselfde nie!

Die res van die dag het min of meer afgeloop soos 'n plaat wat op te vinnig gestel is.  Gym vir 'n kort, intensiewe sessie, ry huis toe.  Hier is ek weer vermaak deur 'n propvol gelaaide Nissan bakkie(tjie) waarvan die kappie se agterruit uit is, so dit lyk soos 'n fotoraam vol mense!  :)  Ai, en ongelukkig het ek nie my kamera gehad nie en dis dalk 'n goeie ding, want my vroulike kwaliteit van meer as een ding op 'n slag doen, geld nie wanneer ek bestuur nie.  Vinnig geëet, aksie krieket gaan spel (baie opwindend!), pakkie gaan haal by huisvriende se ma en toe tot laat aand gesels met my niggie-flatmate.

'n Vol, geseënde dag.  Wens net ek kon jammer sê vir die taxidrywer.

Tuesday, 19 April 2011

Ligpuntjie

In my hart het ek al die besluit geneem om uitstappies stad toe te geniet. Dit is dan ook in pas met my beginsel dat mens nie tyd moet omwens nie, want elke oomblik is kosbaar. In praktyk is dit egter 'n ander storie...

So sit ek my "roadtrip" musiek aan en vat die pad stad toe. Hier wil ek net myself onderbreek en noem dat ek, op hierdie oomblik in tyd, dink ek het nou so min of meer die verkeer onder beheer. 'n Taxi-toeter het my lanklaas ontstel (mag ook wees omdat ek nie regtig meer in Proesstraat ("taxi-haven") rondry nie) en ek het ook geleer om in die middelste bane te ry om skielike stoppe deur taxi's of afleweringsvoertuie te vermy.

Terug by vandag. Die musiek het mooi gehelp tot waar ek parkeer het. Ek en my pienk serp, want dis deesdae mos koud, begin stap met die laaang pad aktekantoor toe, Meester se kantoor toe, teenkant se prokureurs toe, hof toe en weer teenkant se prokureurs toe. As dit maar so vinnig was.

Ag, ek neem myself kwalik oor ek nie weer my boek saamgevat het nie, want vandag was weer 'n dag vir uiters lang rye. Ek bestudeer dan maar die mense - groepie klerke kort voor my praat oor die regskool en eksamens en dat hulle nog nooit in só 'n lang ry by argiewe gestaan het nie. Dan kom 'n advokaat met sy skip-die-ry swart toga en word voor 'n paar leep-oog klerke gehelp. Jy sien sommer hoe hulle gemotiveer word om eendag advokate te word. Na 'n lang tyd word ek gehelp. Ons kantoor het 'n kontak by argiewe en ek sien haar kopdoek doer agter haar lessenaar met hope bruin koeverte op uitsteek. Sy loer onderdeur haar bril, glimlag en waai. Ek waai en glimlag en word daar na haar toe genooi.

En is sy nie 'n engel nie! Die dierbare vrou wil net geselsies maak en haal sommer die telefone van hul mikke af! Die geselsies is lekker, maar eintlik moet ek die lêer vat en dinge daarmee doen voor toemaaktyd, maar die ligpuntjie in my dag bly gesels en gee my nog sommer haar nommer ook! Sy steel my hart en maak my dankbaar. Self wil ek ook graag soveel vreugde in my werk aan ander toon.

Ek moet julle net van nog 'n ligpuntjie vertel. Ons ontvangsdame. Ek kom na nog 'n paar stoppe en rye by die kantoor aan met 'n hoofpyn so groot ek dink mense kon dit sien! En ons ontvangsdame sê so nonchalant vir my sy dink nie dis 'n goeie idee dat ek vandag gaan gym nie. "Tea and rest!" sê sy. Wie is ek nou om te stry? Daardie bietjie omgee het my hart vermurwe en weereens dankbaar gemaak vir die ligpuntjies in die lewe. :)

Sunday, 17 April 2011

Jou pad

Dis een van die lekkerste dinge vir my om in die veld op ons plaas rond te draf (gegewe die feit dat ek dan ook lekker fiks is).  Ons het seker die mooiste plaas in die hele wêreld en so kronkel die paadjies tussen hierdie mooie veld en met voëls wat rondvlieg, hier en daar 'n hasie wat braaf oor die pad hardloop of miskien 'n bobbejaan in die berge. 

My broere ry daagliks die paaie om water en slagysters na te gaan of sy plaas te bekyk.  Jare gelede het my pa met sy perd, Rex, dieselfde paaie gery en gaan ploeg of saai of oes.  Voor hom het my oupa dit  (nou nie met dieselfde perd nie) gedoen in die dae toe inkomtyd met sononder was en droë perskes, beskuit, 'n fles koffie en 'n droë brood sy padkos was.  Ek sien in my geestesoog my fier en regop oupa (wat ek nooit geken het nie, maar wie se beeld dié van vergeelde swart en wit foto's van hom aanneem) met sy langsteel pyp op 'n perdekar wat 'n ploeg trek.

Terug by die plaas se paaie.  So draf ek maar in die paadjies en hou by die bekende in plaas daarvan dat ek "off-road" gaan en dalk my voet in 'n muisgat swik (dit het toevallig ook met die einste Rex gebeur).  En so is dit ook maar in die lewe.  Ons luister na stories van die verre of onlangse verlede en volg dan die rate van vergange dae.  Ons volg in die spore van voorsate en doen maar wat almal doen.

Net gister stap ek na my tannie toe (ja, ons woon so naby aan mekaar) en op pad loop ek in 'n voetpad.  Ek het sommer daar en dan dwars besluit ek loop nie die voetpad nie, want die gras loop lekkerder.  Dalk is my beeld vaag, maar dit het my laat dink dat ons almal hier is vir ons eie lewensdoel.  Miskien moet ons ons eie pad trap en nie net voete neersit waar ander reeds pad gemaak het nie.  Dan kruis ons spore dalk dié van mense in die verlede, maar dit verken ook die nuwe dele en dra by tot ons uniekheid.  Kom nou, wie wil NIE uniek wees nie?  Almal is spesiaal en het sy eie pad.  Lekker stap!  :)

"You should greet"

Ek kan myself soms in my kop verloor, soos enige mens maar. Dan dink hierdie blonde kop van my in die hoogste rat aan alles wat gedoen moet word, die tye waarteen dit gedoen moet word, die kortste pad, die volgorde van gebeure...

Gister weer het ek een honderd en tien dinge om in die stad te doen. Ons normale parkeergebou is alweer onder konstruksie en ek kry parkeerplek soos 'n kilometer van daar af. So is dit toe ook heelwat later toe ek die landdroshof bereik. Die fraaiste klein dogtertjie loop grootoog en staar omkyk-omkyk vir my (dat ek wonder of dit is omdat ek vir haar geglimlag het en of daar nie dalk iets met my voorkoms fout is nie) terwyl ek instap. Vir een of ander rede gaan daardie metaalverklikker af en ek moet horlosie en sonbril afhaal. Glimlag en waai, glimlag en waai. Ek weet nou nog nie hoekom dit afgegaan het nie...

Oppad na waar ek die dagvaarding in my besit moet gaan "stamp", besef ek die pakkies is nie gestaple nie. So, toe ek by die "stap"-plek kom, sien ek van die dames wat hofdatums uitreik en ek sê: "Excuse me. Do you have a stapler." Sjoe, ek kan nou redekawel oor die houding waarmee sy toe praat, maar ek het lankal besef sy was eintlik reg. "Don't you greet? You should greet first and then talk to us." So, word ek toe onkant gevang, want ek het nog altyd gedink ek het goeie maniere. Tog, lyk my daar is ruimte om te verbeter. Kan jy glo, ek het my misgis met die staples! Al die tyd was die pakkies WEL gekram en ek het nie eens 'n krammasjien nodig gehad nie, maar dalk wel die preek...

Daar is soveel mense wat my daagliks help en wat werke doen wat sekerlik DIE mees ondankbare werke is. 'n Vriendelike groet en 'n glimlag sal dalk aan die begin 'n daadwerklike besluit wees, maar later sal dit uitdraai om 'n goeie gewoonte te raak.

Thursday, 14 April 2011

My klein vriendinnetjie

Sy lees nie my blog nie en sy comment min op my Facebook updates. Sy het self nie baie updates nie en haal dan ook net mense van haar tissueboks af aan wanneer sy wel besluit om haar status te verander. Maar sy ken my deur en deur. Sy laat my buite beheer lag vir haar slim grappies. Sy het al tissues aangebied wanneer ons hartsake praat en die trane my oorval. Sy is my beste vriendin.

Ons eerste dag in die koshuis in eerstejaar... Ek was bewerig bang en opgewonde gelyk. Pas klaar ge-eerstejaarskamp het ek en my ma en haar suster op en af by die trappe geklim met arms vol bagasie. 'n Meisie het my in die gang gegroet met 'n vriendelike glimlag. Sy sou later vertel dat sy op daardie stadium haarself gemotiveer het om vriende te maak. Later dieselfde dag het die hele eerstejaarsgroep buite op die gras gebondel vir 'n ken-mekaar sessie. Ek en dié vriendelike meisie het saam opgeëindig en moes rug-aan-rug sit en dan mekaar opdruk tot 'n staande posisie. Simbolies genoeg het ons nie hiermee gesukkel nie en dit is nou nog die "trend".

Ek kan nie in woorde hierdie beste vriendin beskryf en geregtigheid teenoor haar laat geskied nie. 'n Genade-geskenk reg uit die hemel, dis wat sy is. 'n Verstaan-my-hart geskenk, 'n beur-my-op geskenk, 'n laat-my-uit-my-maag-uit-lag geskenk, 'n sussie van 'n ander ma!

Vanaand bel sy my weer en druk na twee ure per ongeluk die foon dood. Twee ure? Ek kon dit nie glo nie. Met hoeveel mense kan jy praat vir daardie tyd en voel asof daar nog soooo baie is om te sè? En dan bel sy nog terug en praat nog twintig minute en groet dan maar omdat die vaak oorhand kry!

Nee, kyk, ek hoop jy het jou vriend/vriendin met wie jy gereeld kan gesels oor net mooi alles in die lewe, sonder om te voel enige iets was onnodig. Soos dat Cindy Nel nou swanger is en Rudi 'n nuwe medesanger het. En natuurlik, daai vriend of vriendin wat eerste hartsake praat en nie bang is om na die seer te luister nie. Want elke mens is dit werd om so iemand te hê en jy is 'n mens! Maak moeite met jou vriende, want hulle is geskenke aan jou. En luister vir daai stemmetjie wat jou herinner aan 'n vriend of vriendin. Dis moontlik dat hy of sy net nodig het om te voel daar word aan hom of haar gedink.

Tuesday, 12 April 2011

My binnekamer

Ek verneem van betroubare bronne dat hierdie spasie dopgehou word vir terugvoer oor die netheid van my kamer. Ek rapporteer trots terug dat ek toe wel Sondagaand niks ander gedoen het as kamer uitsorteer, wasgoed uitsorteer, gedagtes uitsorteer en so aan en so aan. Dit was beslis 'n goeie ding en soos my wyse suster sê: "Dis die fondasie vir 'n klomp ander dinge."

Dis dag 2 en die kamer is nog foutloos. Ek het iewers gehoor dat navorsing bewys het dat dit 28 keer se herhaling neem vir iets om 'n gewoonte te vorm. Dit beteken die 8ste Mei vir my! Dit behoort 'n groot en interessante uitdaging te wees, aangesien prioriteit dit soms noodsaak dat sekere dinge eerder gedoen word as kamer-netheid in stand hou.

Nog wysheid kom ook in die vorm van: "Ken jou grootste struikelblokke, identifiseer hulle en dink hoe jy dit kan minimaliseer." Dis natuurlik dinge soos moegheid, luiheid, min tyd, seer spiere, selfbejammering, ensovoorts. Die planne sal ek maar vanaand voor ek slaap beraam. Dis in elk geval 'n vrou se voorreg om nie al haar geheime uit te lap nie. Julle weet reeds dat netheid nie so 'n natuurlike ding vir my is nie.

Mense, die feit bly staan dat netheid goed is vir jou binneste ook. Dis een van daardie roetine-dinge wat mens liewer in jou lewe wil inbou. Dis soos links en regs kyk voor jy oor die straat stap, om asseblief en dankie te sê en vir ouer mense jou stoel aan te bied. Later is dit so deel van jou jy dink nie meer daaroor nie, maar dit bly goed vir jou!

En daar is nog 'n HELE paar goeie gewoontes wat ek nog in hierdie lewe wil inbou... Een ding op 'n slag!

Monday, 11 April 2011

Verkeersoomblik

Jy weet hoe verkeer soms mens se hartklop laat versnel en jou geduld tot die uiterste beproef?  Ek het altyd erg vasgeskop teen die stadslewe en die rotresies wat daarmee gepaard gaan.  Vandag ontken ek nie die slegte invloed wat dit wel op mens se gesondheid kan hê nie en tog, daar is ook die positiewe.

Ek sit gister in my (ma se) ou Bantampie agter 'n ander motor by 'n rooi verkeerslig.  Dis ek en Juanita se CD en die lewe is rustig.  Toe merk ek op dat die motor voor my skud, so asof dit slegte medisyne ingeneem het, maar sukkel om dit afgesluk te kry.  Op hierdie stadium het die petalje voor my my aandag opgeslurp en hoor ek net vaagweg nog vir Juanita...

Die bestuurder het die mees fantastiese lang krullerige hare - perfek vir "headbang".  En dis wat hy sit en doen!  Sy hande klap op die stuurwiel in regte drommer-styl en sy hele lyf is een met die musiek in sy motor.  Dit lyk vir my asof dit baie meer lewendig is as Juanita se "beat" en die man geniet homself.  Ek glimlag en gee nie om of hy my sien of nie - hy het my dag gemaak.  En toe die lig groen slaan laat vat die "headbanger" met sy motor asof hy in Fast and the Furios 8 deelneem aan 'n straatresies.  My maat, jy weet jy gaan die volgende verkeerslig ook rooi kry, né?  Ten minste gaan die volgende motor wat agter hom tot stilstand kom ook sy vrye gees geniet.  :)

Sunday, 10 April 2011

Daai goedjies wat jou pla

Die ou tannies van die dorp het in hulle wysheid altyd gesê dat 'n deurmekaar kamer 'n deurmekaar binneste weerspieël...


Nou ja, ek wens ek kon bietjie met een van daardie tannies gesels vanaand, want hierdie binneste is skynbaar WOES deurmekaar. Die missie vir die aand is om daai ongelooflike boek wat ek lees te ignoreer soos 'n stopstraat (ek ignoreer nie stopstrate in die regte lewe nie - dis net spreekwoordelik) en hierdie kamer van my uit te sorteer. Prioriteite is egter deurmekaar, want hier sit ek nou eers en blog op een van die min oop spasies op my kamer se mat. Dis asof alles in hierdie kamer my irriteer! Aaaaahhhh!

Eerstens is daar hierdie massiewe dubbelbed wat die plek vol staan. Dit het (nie te erg lelike) bruin beddegoed op en my gunsteling kleure is almal baie mooier as dit - wit en iets soos groen of blou of pers sou al klaar die gevoel hierbinne beter gemaak het. Ek wil eintlik net 'n eenvoudige enkelbedjie hier hê - kan in elk geval nie eens met 'n teddiebeer slaap nie, so die spasie is oorbodig en maak net dat ek goed daarop uitstal.  Dus, die bed moet gaan.  Selfs dit het sy komplikasies. Dus, die bed bly en die bruin beddegoed ook, want om beddegoed te koop is nou nie 'n uitgawe wat ek kan of wil aangaan nie.

Dan is daar die twee bedkassies wat ook net baie plek vat en min kan stoor. Rakke, dis nou vir jou prakties! Helaas, hier is nie rakke nie en ek kry nêrens mooi kassies nie, so ek oorweeg om heel Nutsman te gaan en een te maak met hout en saag en veil en verf.

Daar is ook 'n gebrek aan 'n wasgoedmandjie, want dis nou weer iets wat net hopeloos te duur raak, soos dit begin mooi wees. Intussen gebruik ek nog my sub A wasgoedsak wat moeder vir my gemaak het. Daar is nou vir jou 'n kwaliteit wasgoedsak - 18 jaar later werk hy nogsteeds soos 'n bom.

Op daardie noot is ons besig om 'n wasgoeddraad te prakseer. Fase een is reeds afgehandel en dit behels die twee dwarsbalke, maar nog geen DRAAD nie. Wasgoedwas is nog 'n probleem en lei tot oorbenutting van handdoekreëlings en enige iets anders waaroor klere kan hang. My persoonlike gunsteling is die treadmill(wat 'n wit olifant is). Daar hang mens 'n paar hangers vol klere aan die handvatsel deel op.

Ek kan so aangaan en komies wees en maak asof dit die plek se skuld is, maar hierdie binnekamer is my eie verantwoordelikheid. Miskien moet ek myself bietjie krediet gee vir die feit dat ek aanpas in 'n nuwe omgewing, maar vanaand is die aand dat ek begin verskonings minimaliseer. Kyk hierdie spasie om uit te vind of die uitsorteer van die kamer my help om beter te voel oor my binneste...

Friday, 8 April 2011

Daai lastige verkoopsmense...

Laat ek net eers agtergrond skets vir die wat nie weet nie. Ek is konserwatief grootgemaak en het nogal redelik hierdie konserwatiwiteit behou, daarmee gewoeker en met 'n sterk waardestelsel uitgedraai. Dit behels dinge soos die christelike lewe, eerlikheid, integriteit, geen saamslapery voor huwelik, nie dronk word nie, nie rook nie en dalk miskien ook naïwiteit. Dis nie my veroordelingsparagraaf hierdie nie, asseblief, fokus.

Wel, hier in Pretoria word alle bogenoemde waardes baie gereeld uitgedaag. Een van die vrae wat ek kry en waarvoor enige iemand gerus vir my goeie antwoord-voorstelle kan gee, is die vraag oor WAAROM ek nie 'n ou/kêrel/knaap het nie. Uhm, ...?

So het ek toe vanaand in my haas oppad uit die winkelsentrum 'n redelik aantreklike knaap se oog gevang. Ek sien hy kyk ook vir my en ek kyk weer en dis toe wat hy my vang met daai verkoopstegniek. Hy praat Engels. "Please come sit here and try out our products". Makeup. Iets wat NIE in my begroting is nie. "I'm sorry, I really don't want to right now". Maar dis nie lank nie of ek sit in sy stoeltjie en hy begin eers my makeup afhaal en toe nuwes opsit.

Dis nou ook nie juis die gemaklikste ding vir my om te sit en laat iemand in my gesig rondpoeier in stilte nie. Gelukkig is die man praterig, so ek voel vry om te vra "Do you do this every day?". "What? The flirting or the makeup?". ??? Rooi lig, blou lig, gevaar lig... Kyk, ek het gedodge en onderwerp probeer verander, maar dis nie lank nie toe moet ek sê of ek saam met hom iets sal doen later vanaand. "No". Of môre? "No". Kan hy my nommer kry? "No". "Why not? What can I DO to make you do something with me?".

Lanklaas het ek so gevly gevoel, maar my gevoel bly net sê daar is nie 'n manier nie en hy hou AAN en ek lag net en sê "No!". Teen die tyd het hy my gediagnoseer as iemand wat mans nie vertrou nie en daar is glo 'n rede. Hy respekteer nogal die "reason" en sê ek hoef hom nie te vertel nie, maar ek is "difficult". Ag, nou vir my is daardie eintlik net 'n groot kompliment. Toe wil hy my Blackberry pin hê en na die soveelste "No" wil hy alweer weet hoekom. Dit pla hom nie dat ek nie 'n Jood is nie, want "That can change". Ek lag maar net en sê weer dit gaan nie gebeur nie en ek wil nie oor twee weke sit met iemand wat nie ophou om met my te wil chat nie.

En die punt is? Die meneertjie het my nou alweer aan die dink gesit oor wat mens moet antwoord op DAARDIE vraag. En ook hoe om onwelkome aandag te hanteer op 'n mooi manier. Vir my is ditglad nie 'n probleem dat hierdie ou vanaand gaan dink oor die moeilike meisie nie. Maar ek sal daarvan hou as hy kan onthou dat ek nie lelik was met hom oor sy geloof of werk of belangstellings nie. En hy moet asseblief onthou dat ek nie oor hom geoordeel het nie. Dalk, as iemand vra of jy enkellopend is, moet jy antwoord dat jy baie gelukkig is. As hulle vra hoekom jy alleen is, moet jy dalk maar cliché en sê jy het nog nie die regte persoon ontmoet nie. Of grap maak en sê jy wonder ook! Watookal, die feit bly staan dat om enkellopend te wees nie vir my 'n lastigheid is nie en dat ek nie ander gaan toelaat om dit een te maak vir my nie.

Vir al hierdie het ek darem 'n mooi gegrimeerde gesiggie gekry om vanaand mee boek te lees in die bed - ag, dit was 'n heel regverdige ruil. Nou wonder ek net waaroor ek en my grimeerkunstenaar vanaand sou BBM as ek vir hom my pin sou gee...

Thursday, 7 April 2011

Geskik en gepas?

So, ek gaan toe na hierdie "fancy" firma waar ek my "fit and proper" onderhoud het en is 5 minute vroeg, m.a.w heel binne karakter, betyds. My beoordelaar laat my 25 (dus 30 in totaal) minute wag waarin die wêreld in my kop oopgaan. Dalk gaan dit NIE die vriendelike oom van langsaan wees wat gaan val vir my plattelandse geaardheid nie. Dalk is dit 'n kwaai, nog-nie-grys-nie man of dalk 'n vet, oorsensitiewe siel. Ek lees liewer die artikel oor Michael J. Fox se Parkenson's in die Readers' Digest en leer by hom van positiwiteit. Net 'n paar dinge, sê hy, is buite ons beheer. Vir die res het ons keuses. Ek kies weer kalmte.

Dis toe die moderne oom, met min en kosbare tyd wat 'n Jeep horlosie dra. Hy scan deur my karakterverwysings soos ek deur die Wet op Prokureurs gescan het laat gisteraand. Hy vra niks oor die mooi dinge wat my vorige werkgewer van my geskryf het nie. Hy merk wel my plattelandse status op, maar vra nie uit nie en ek besluit daar is liewer niks te sê buiten wat hy vra nie. My mooi drome oor prokureur-wees word ook maar net met 'n knik erken, want hy wil liewer praat oor die Heilige Trustrekening en die Besigheidsrekening en ek vertel hom sommer ook oor die Spaarrekening. Ek is eerlik en sê ek weet nie wat met die rente gebeur nie. Gelukkig is hy informatief (haha, lekker anglisisme) en ek werk saam met hierdie inligting. Binne 5 minute is hy blykbaar tevrede met wat hy gehoor het en is die onderhoud verby. Ek voel nie of ek hom beindruk het nie, maar dit lyk ook nie asof hy vir die prokureursorde gaan vertel ek weet nie wat met die rente gebeur nie (ek weet in elk geval nou dat dit na die Fidelity Fund toe gaan). Ons wag in spanning om te hoor of ek "fit and proper" is. Intussen eet ek 'n Boerie Footlong by die Wimpy nadat ek my boete vir die werksmotor gaan haal het. Julle onthou seker die storie van die geen parkering...? Grrrr!

PS: hier sit 'n oom skuins oorkant my met wie die plattelandse storie in 'n onderhoud verseker sou gewerk het! Grys hare in 'n sypaadjie gekam, koppie koffie, koerant en blink horlosie. Ek wonder in watse beroep hy is?

Wednesday, 6 April 2011

Failing to plan (again)...

Ek het alweer nie goed genoeg beplan nie en dit nou ten koste van my slaap.  Ek het vanoggend 09h00 'n geskiktheidsonderhoud met 'n prokureur waarin hy gaan besluit of ek bevoeg en geskik is vir die prokureursberoep.  Hiervoor moes die uwe Die Wet op Prokureurs 53 van 1979 en ook die Reëls van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies deurlees, en dis toe nie min nie!  Daar lê en lees ek toe gisteraand tot ounag toe dinge oor prokureursetiek, trustrekeninge en reëls.  Vanoggend pof my onderste ooglede en koppel die brein nie lekker nie, maar hopelik skop hierdie koppie boeretroos nou-nou in!  Ek kort nou ook nog 'n opskop-sokkie liedjie om hierdie dag te "running start". 

Moenie dink ek het toe nie na daardie kerkbyeenkoms vir jongwerkendes toe gegaan nie.  Ek het myself aan die naaste alleen-sitter voorgestel, myself en my geselsies aan haar opgedring en toe gesien sy is in die kennis van my wat my saamgenooi het, se kleingroep!  Ons het 'n interessante praatjie gehad waarin ons verhouding met God vergelyk word met 'n selfoon.  Die ooreenkomste is legio - laai jouself gereëld, kom in goeie opvangs (jy weet waar dit is), onthou jou doel (om te connect met ander), ensovoorts.  Nog 'n deurlopende tema was dat jy nie kan upgrade na 'n nuwe model as jou basiese (verhouding met God) nie daar is nie.  So, ja, dit was goed.  Dit was reeds aand en dit het oggend geword en hier is ons nou by die werk...

Ek glo dit sal 09h00 goed gaan met die onderhoud.  My baas sê my plan van om die man "Oom" te noem en groot te smile gaan nie werk nie en dat ek eerder by "Meneer" moet bly.  Ag, tog, pleks dat die samelewing nog respek het vir ooms en tannies en dat "Meneer" net gebruik word vir manlike onderwysers.  Wat word van die wêreld? 

Nou ja, op so 'n dag waarop ek beoordeel gaan word volgens onbekende standaarde, verkies ek om liewer nie te bekommer nie, maar net te "Just go with it" soos Adam Sandler se nuwe fliek en sonder om te jok soos hy, want ek dink nie ek kan so goed improviseer nie.  Goed, hier gaan ek!  Mag ek geskik en bevoeg wees...

Tuesday, 5 April 2011

Nuusberig

En in die nuus vanoggend...

Dit blyk dat dit 'n heerlike koel oggend gaan wees en dat daar tog die moontlikheid bestaan dat die son later sy verskyning sal maak en die temperatuur die hoogte in mag laat skiet.  Donderbuie is, soos altyd, 'n moontlikheid, maar die meisie van die Noord-Kaap sal liewer nie maak asof sy 'n kenner is nie. 

Wat ek wel weet, is dat die petrolprys alweer gestyg het en dat selfs ek nie meer hierdie gewoonte van ru-olie kan ignoreer nie.  My ou Bantampie weet nie WAT hom getref het nie, want hy is tjok en blok vol vir die tweede keer in net meer as 'n week.  Hy moet nou net nie gulsig raak met die groen (bruin?) vloeistoffies nie, want daar lê nog 'n lang ent pad huis toe voor later hierdie maand.

Ons het pas 'n berig ingekry dat die skrywer van Boklammetjie wel beter voel oor haar werksverrigting die afgelope dag en dat die negatiwiteit slegs van verbygaande aard was.  Sy baklei verwoed teen enige luiheid, traagheid en moegheid deur gebruik te maak van multivitamines, gebalanseerde etes en pogings tot goeie en rustige slaap.  Die laasgenoemde behels min beheer en het die afgelope paar dae onder slegte drome gebuk gegaan.  Ons vermoed dat daar 'n lineêre verwantskap tussen die drome en spanning by die werk is en dat daar dus vanaand hopelik beter drome in haar onderbewuste sal lê.

Op die horison wag daar vir Boklammetjie 'n kerk-kuier voor vanaand, waar sy moontlik net een mens sal ken.  Boklammetjie oefen nou haar mooiste smile en ekstreemste ekstrovertisme op niksvermoedende vreemdelinge in die straat en kollegas op kantoor.  Ons wens haar sterkte toe met die groot stap en hoop dat sy 'n geseënde aand sal hê.

Dit word verder verneem van betroubare bronne dat Boklammetjie 'n nuwe gewoonte aangeleer het die afgelope ruk en dat dit vroeg werk toe gaan behels.  Ons hoop dat hierdie gewoonte gou tweede natuur sal word en sal lei tot nog baie werksbevrediging.

Boklammetjie sou dalk nie wou hê julle moet weet nie, maar sy het weereens gister 'n vreemde man se onwelkome attensies gekry en kon nog nie heeltemal herstel na die skok nie.  Die man het haar eers baie mooi vertel van die Bybel en toe die versie van "Vra en vir jou sal gegee word" aangehaal, met die bedoeling dat hy vir geld sal vra en dan sal kry.  Meneer die Zambiese sendeling (wat ek beslis nie in die gesig wil vat oor sy sendingwerk nie) het egter nie gekry wat hy gevra het nie en dit sluit Boklammetjie se selfoonnommer in.  Boklammetjie wonder waar hierdie tipe opdringerigheid vandaan kom.  Sy stel voor meneer die Zambiese sendeling lees meer as net daardie een versie wat hy so graag aanhaal.

Boklammetjie mis al haar vriende en hoop dat dit goed gaan met hulle in hul onderskeie situasies, kontinente en state van moegheid.  Mag julle 'n geseënde dag hê.

Monday, 4 April 2011

Pienkes se blou dag

Van kleins af was ek gekant teen pienk. In die geheim was ek mal daaroor en wou ek amper elke prentjie pienk inkleur met daardie mooi pienk vetkruit, maar dan het ek by myself gedink my boetie gaan dink ek is 'n sissie en dit kon net nie. So, om van blou te hou, was aanvanklik 'n keuse. Nou is pienk REGTIG nie vir my mooi nie en wraggies, dis die kleur van my gelaat op hierdie oomblik! Dis nou na 'n middag in die Pretoriase direkte son by 'n buitelug optrede van 'n paar Afrikaanse bands, heel gepas by die Voortrekkermonument. Ek IS daardie meisie met die séér gebrande skouers, maar strategies sal ek nou beslis eers moutjies en onderlaag dra, tot die ergste brand uitgewoed het.

Almal praat altyd van 'n blou Maandag en ek hou niks van steriotipes nie, maar vandag sal ek as 'n uitsondering beskou. Dit was blou. Ek wil nie eens in te veel detail gaan nie, want ek dink die grootste struikelblok is net hierbo in my eie kop. Ek het myself bejammer toe 'n Mercedez amper in my vas bane verwissel het op die N4 na die stad. So het ek voortgegaag toe ek op my e-pos sien daar is NOG ekstra werk vir my (en eintlik moet ek dankbaar wees, want op dié manier kan ek dalk my target maak). En toe 'n man oor die telefoon onnodig lelik is met my, het die damwalle ook net-net staande gebly. As my baas nie vir my gelag het nie (dit was snaaks, want my bedoeling was nie om hom te bel nie, maar iewers anders uit te vind wat sy adres is), sou ek seker op 'n hopie gaan sit het.

En al hierdie dinge gebeur en maak my tyd minder! Soveel so dat ek vir die eerste keer werk huis toe gebring het.

Tog was dit eers tyd vir 'n bietjie pret. Ons het 'n handyman-vriend gekry om ons wasgoeddraad uit goedhartigheid te kom opsit. Ons het immers 'n praktiese probleempie met ons wasgoed. Dit het gelei tot 'n geboordery deur hom en kosmakery deur my. Die tydjie wat ek nie nodig gehad het om met iemand te praat nie, was so terapeuties. Volg net die resep en maak 'n suksesvolle hoendergereg. Wat gevolg het, was 'n spontane Settlers of Katan bordspeletjie, koffie en sommer net 'n lekker tyd saam met niggie en vriend.

Wat sou ons nie doen sonder ander mense in ons lewens nie? Daar kry my wolk 'n silwer rantjie en ek kry moed vir die res van die week. Moed hou, ouens en vrouens. Die lewe is vol uitdagings en fasette om ons te brei! Mag jy jou uitdagings 'n bloedneus gee!

Friday, 1 April 2011

Die Stadsmuis en die Plaasmuis

Dis een van daardie gunsteling-stories wat jou herinner aan hoe lekker stokkielekkers en draairoomys en vroteier was. Ek sien nog die prentjie van die stadsmuis se "huis" met die lekkerste kaas, druiwe en nog baie ander soetighede. Sit die tweetjies daar op 'n rusbank en smul aan die kossies. Natuurlik in teenstelling met die vaal bossies se wortels wat die plaasmuis vir die stadsmuis aangebied het toe dié op die plaas kom kuier het. Vir my was die crux van die storie dat die plaasmuis nie die risiko's van die stad in sy lewe wou hê nie...

Nee, ek tref nou nie 'n vergelyking met myself en die plaasmuis en dat ek nou oppad is terug plaas toe nie. Dis 'n ander storie.

Ek dink ek het vandag die plaasmuis oppad na die stadsmuis toe gekry! Soos ek inval in my plek by die rooi verkeerslig, sien ek 'n vet bruin muis onder die motor voor my inhardloop. Ek het besef die knapie soek skuiling (dis 'n baie besige pad, veral so op die Vrydagmiddag!), maar toe die motor begin bewees, moes die outjie weer laat vat. Siestog, hy was so verbouereerd en gespanne dat hy homself teen die volgende motor se wiel vasgehardloop het. Arme dingetjie! Ek het natuurlik amper gedink dis die einde van die muis, so dit is lekker om verslag te doen dat hy wel die sypaadjie gehaal het.

Ek het eintlik gehoop ek kon die bestuurder langs my se oog vang, want hy het ook sy nek bo-oor sy motor se stuurwiel gerek om dié petalje te aanskou. Hy het gekies om by homself te glimlag, maar dit was nogsteeds 'n groot hoogtepunt in my dag.

Hopelik sit die bruin plaasmuisie vanaand met 'n glasie suikerwater en 'n groot stuk kaas by sy stadsmuis-vriendjie. En hopelik gaan die twee môre bietjie plaasmark toe. ;)