Ek kom vanoggend by my bakkie en soos ek die sleutel draai, so gee die bakkie net geen geluid of samewerking nie. Ek het waaragtig die ligte aan vergeet en die battery is verby pap. Weer 'n keer, soos reeds 'n paar keer die afgelope week, wil ek myself net 'n skop op die jis gee of sommer met 'n pan oor die kop slaan. Ongelukkig is daar nie pille vir vergeetagtigheid nie.
Met baie skuldgevoelens en gewetensbesware moes ek toe my tannie gaan wakker maak om my soos 'n skoolkind weg te neem vir werk. Sy is regtig een van my rolmodelle. Sy en my suster sal mekaar in 'n selfopofferingskompetisie stywe opdraand gee! Hulle is daardie tipe mense oor wie jy eers mooi moet dink voor jy 'n guns vra, want jy weet hulle gaan uit hul pad uit gaan om watookal jy vra vir jou gedoen te kry. So wil my tannie byvoorbeeld niks daarvan weet dat ek kos vir die huis koop nie, want dis haar bydrae tot hierdie arm (begrotingsbedreigings-) tydperk van my lewe. Sy is regtig, regtig 'n ongelooflike vrou.
Nou moet julle hierdie storie hoor. Ons wil toe vanaand die bakkie uitsorteer. So, ek bel my vriend in nood(wat ook my vriend in goeie tye is) en hy vertel my hoe mens hierdie jump-start storie benader. Ek en my engel-tannie skakel rooi op rooi en swart op swart en begin die sterk motor te rev. Niks, net 'n baie siek klik-klik-klik geluid! Nou word die buurman se hulp ingeroep...
Soos die buurman van langsaan met sy wysheid nader stap, kom die oorkantste buurman ook om die interessantheid te bekyk (en natuurlik sy hulp aan te bied). Dis toe 'n groot bespreking en ontleding van al die moontlikhede wat kan fout wees. Die tegniese verduidelikings het net so liggies deur my brein gewaai en iewers anders gaan vassit. Man, en toe wil die een oom so graag soos die ander oom die bakkie "running start", a.k.a. aan die brand STOOT. Julle, dit sou nou 'n gemors afgegee het. 'n Oom van 81 en 'n ander van so 70 wat die bakkie met mening stoot, ten aanskoue van die hele straat se bejaarde inwoners! Nee, toe sit ek my jong voet ferm neer. More-oormore is iets gerek of geskeer en dan? Hulle was maar bra bek-af oor hierdie pretbederwery, maar hulle het tog ingegee. Plan B (waartoe alle partye betrokke ingestem het) was die laai van die battery met langsaan-buurman se laaier. Ek hoop en bid so dat die bakkie moreoggend weer aan die gang sal kom, want anders kom hier nog uitgawes en my begroting het nie plek vir hierdie tipe ding nie!
Nou ja, soms het mens maar 'n man nodig...al is hulle dan ook afgetree. 'n Man bly maar 'n man.
No comments:
Post a Comment