Snaaks hoe mens soms die kat net heeltemal aan die stert kan beet hê. Vanoggend ry ek stad toe en verbaas my oor hoe baie groen verkeersligte ek kry. Ek dink nog so by myself dat ek mos nou regtig nie aan geluk of ongeluk glo nie en dat groen ligte nie 'n aanduiding is van hoe die res van my dag gaan verloop nie. So ewe!
Ek moes, soos meeste ander dae, dokumente vir 'n "comrad" van ons gaan afgee by die aktekantoor. Gewoonlik is sy vinnig beskikbaar, maar vandag sê sy vir my dat ek 'n rukkie vir haar sal moet wag en ek besluit om parkering te soek en rustig na haar te stap. So ry ek om dié blok en daai blok en sonder dat ek besef, begin die tyd aanstap en gee "comrad" my 4 "missed calls". Sy moet by 'n ander afspraak kom - waar is ek? Weereens kry swak besluitneming my in die moeilikheid. Ek sê vir myself ek het nou mooi geleer met die onwettige parkering, so ek sal eerder VER en wettig parkeer, maar hardloop...
Terwyl ek hardloop kry ek nogal 'n aangename gevoel dat ek jou werklikwaar 'n slag draf (nou wel nie met die regte klere en skoene nie, maar ten minste met doelgerigtheid). 'n Honderd dinge gebeur gelyk. 'n Man kom uit 'n gebou uit in my "baan", ek besluit om te rem (met my plat skoene), ek verloor my balans en val dat my hemp optrek en my sonbril in een rigting en die dokumente in 'n ander rigting trek. Die verleentheid in my trek eerste my hemp reg en gryp vir die dokumente, maar die sonbril is buite bereik. 'n Galante lewensredder bring dit vir my en vra of ek okay is. Dis toe wat ek die pyn begin ervaar wat diep in my knie in steek, maar prioriteite is prioriteite en aandiensbesering of te nie, my "comrad" wag vir die dokumente. So, ek sê maar net ek is laat en sit weer in vyfde.
Amper nog in 'n motor ook vas soos ek oor die straat hardloop, hoor ek 'n stem van skuins agter my: "Kyk hoe hardloop sy nou amper voor daai kar ook in." Ek sukkel om my waardigheid bymekaar te kry, maar ek het dit toe ek die dokumente aan "comrad" oorhandig. Sy weet te vertel ek moenie parkering soek nie en liewer net "double-park". Natuurlik. Die ding is dat dit net nog glad nie vir my so natuurlik kom nie. Iewers moet iemand hom/haar asseblief oor my ontferm en my net leer hoe om die stad-ding te doen, want die vet weet, ek sukkel! Ek het groeipyne en verlang na die dae van een-verkeerslig-dorpe, waar jy op een plek parkeer en ALLES is naby.
Terug by die motor het iemand wraggies vir MY ge-"double-park" en die voertuig gelos met net 'n vrou aan die passasierskant. Ek besluit ek gaan standpunt inneem en knor die werk se Corsa Lite aan die brand. Ook maar lekker dom, want wat gaan dit nou help? Kom sê die karwag met sy mooi persoonlikheid vir my dat ek asseblief moet wag, want die bestuurder sal nou terug wees. Toe sit ek maar die skakelaar weer af, ondersoek die massiewe eier van 'n bloukol op my knie en begin lees wat my vriende op Facebook skryf. Na 'n rukkie is ek darem verlos van my vasgekeerdheid en kon ek afsit na CIPRO(Company and Intellectual Property Registration Office, lees ek ook eers vanoggend raak). Niks noemenswaardig gebeur by CIPRO nie, behalwe dat die karwag daar my verkeerd beduie het met die parallel-parkering. Ek het soos 'n zig-zag naaldwerksteek daar ge-in en ge-uit! Binne die gebou is ek begroet met sulke lang-lang rye onbekende gesigte. Na die lang gewag kon ek nie eens die maatskappy wat ons geregistreer het se dokumente optel nie omdat dit tussen neus en ore verdwyn het.
So swaai 'n mens se dag sommer gou-gou om en vergeet jy van die groen verkeersligte van vroeër. Dalk, wie weet, het ek iemand wat my sien val het se dag gemaak. Ek hoop maar daar was meer van 'n doel agter die val. En ek hoop regtig dat ek die verkeer in die stad van nou af beter sal kan hanteer. Of dalk moet ek ook begin tekkies werk toe dra soos die Standard Bank mense op "payday" en dan sal ek nie meer val nie. Dis onwaarskynlik dat môre 'n slegter dag sal wees as vandag. Ek sien sommer uit!
In die stad is 2 wiele beter as 4 ;)
ReplyDelete