Ek kry myself soms jammer omdat arme ek so baie vriende in Stellenbosch gehad het wat eintlik baie beskikbaar was vir koffie of rondstap of iets gaan eet of sokkie, en nou is daardie vriende ver, terwyl ek kastig alleen in die groot stad is. Ek sê "kastig", want dis toe nou nie waar nie. Iemand wat alleen is sal nie 'n verjaardag-sosatie-braai kan hou met nege mense wat nie omgee dat die reëlings vir die braai effens sleg gedoen is nie!
So staan 'n vriendin en skil gekookte aartappels vir aartappelslaai, 'n vriend maak versiersuiker vir die koek aan en 'n niggie gaan koop Blitz en kole omdat ek sleg beplan het. Twee bosse blomme, sjokolade en ander geskenke kom saam met die dierbaarste glimlaggende gesigte en mooiste persoonlikhede by my deur ingewals. Ouens skud blad tussendeur hande vol kampstoele en 'n ware heer begin spontaan die braaier aan die gang sit en bietjie later die sosaties en broodjies braai.
Groepies gesels oor interessante onderwerpe en die dinamika is sommer net plein lekker. Hier volg 'n paar momente uit my naweek waaroor ek so dankbaar is:
Die geefster van die mooiste rose soek in die kaste rond vir 'n blompot en begin die rose se onderste blare knip sodat dit nie sleg raak in die water nie, sy sit hulle almal in die pot en sit die pot neer waar dit ons woonstel so mooi opkikker. Terwyl sy dit doen, gesels sy vrolik met van die ander vriende wat sy pas ontmoet het.
My gas uit Parys(Vrystaat) gesels tot in die vroeë oggendure diep hartsake met my terwyl sy 05h00 uit Parys uit vertrek het. Sy luister met 'n sagte oor en gee haar opinie met sensitiwiteit en eerlikheid. Sy hoor elke liewe detail. Sy vra behulpsame vrae. En ek besef sy ken my hart.
Nege mense op kampstoele op die gras, heerlike sonnige weer, sosaties op die rooster en lekker gesels met koeldrank in die hand. Die Here wys my hoe geseënd ek is en dat ek nie alleen is nie. Die skille val van my oë af - Hy voorsien deur elke mens in my lewe. Hy bly die Een wat voorsien en vertroos.
Kerk toe gaan saam met 'n vriendin. Twee-twee saam onder een sambreel, stortreên en 'n gesoek na die motorsleutel, papnat koue voete in die kerk en 'n besielende preek oor ons tydige en ontydige verkondiging van die Woord.
Vriende uit verskillende oorde leer mekaar ken en waardeer mekaar.
Koue sosatie, oorskiet-slaai, verjaardag-soetigheid en lekker herinneringe op hierdie Sondagaand laat my voel soos 'n bedorwe Koningskind. Die moegheid is verseker oor en oor die moeite werd.
No comments:
Post a Comment