Hoewel ek dankbaar is vir die verjaardagpartytjie en meegaande lekkertes wat gelei het tot die hoop skottelgoed in ons kombuis, moet ek erken dat dit hier teen Woensdag regtig 'n irritasie begin raak het. Die skoonmaak-sarsies wat ek elke dag ingesit het, het nie 'n wesenlike verskil gemaak nie en die irritasie het gelei tot die skedulering van een groot sottelgoedwas sessie. Ek het uiteindelik die skottelgoed-oorlog gewen (en, moet ek bysê, my woonstelmaat-niggie het amper gedink ons bediende het kom skoonmaak!).
'n Groot deel van die res van Woensdag was egter nie heeltemal so suksesvol nie en my eie menslikheid (ten spyte daarvan dat ek so hard probeer perfek wees, maar definitief oorweeg om liewer net normaal te handhaaf) het sterk deurgekom.
Op 'n manier wat ek self nie verstaan nie, laat val ek vroegoggend al my speserye en die "Chicken spice" en breek en val in 'n rooibruin hoop op my mat wat maar pas herstel het van die geyser se bars-lekkery. Ek was bang ek raak laat vir werk, so het dit net so gelos en laat vat om betyds te wees. Ek hét gewonder of ek gaan voel asof ek in 'n Indiese winkel instap wanneer ek terugkom, maar my verantwoordelikheidsin teenoor die 08h00 kliënte het die oorhand geneem. Ek was 15 minute vroeg!
By die werk het ek my misnoë uitgespreek oor 'n e-pos met prentjies van die allergrillerigste infeksies in ledemate van mense wat ek nie ken nie. Ek maak altyd daardie fout, want dan dink mense hulle moet my verder pla! So, toe kry ek 'n e-mail met twee attachments en die subjectline: "Stel gou vir my hierdie twee kontrakte op." Dit was 'n hoax! Na lunch kom ek terug by my rekenaar en ja, jy het dit geraai, my desktop bestaan uit 'n grillerige prentjie. AAAAH! Nog 'n kollega stuur bietjie later 'n e-pos wat sê "Om jou op te cheer." En ek val wraggies daarvoor. Ek is nou GOED oor hierdie prentjies. 1 April is oppad, hulle moet net weet!
Die grillerige prentjies is seker nou nie 'n verskoning vir my stadige vordering op die werksgebied nie, maar tog, dit was ontstellend. Werksbevrediging bly egter 'n luuksheid vir mense met jare se ondervinding en skelm kortpaaie. Die begroting van werk aan 10 lêers het 'n werklike werk aan 4 lêers en 'n werklike verlies van 6 lêers meegebring.
Toe laat val ek nog 'n groot deel van die suiker ook op die kombuisvloer en bo-op my voete. Dis genoeg om een mens regtig negatief te maak. Die pot is darem gered en uiteindelik is die suiker ook opgevee. Al wat ek toe nog nodig gehad het, was 'n verloor op die action cricket baan. Dié het ons sommer maklik gekry. Ons sê mense kan ons nie 'chokers' noem nie, want ons verloor ALTYD!
My suster se dag was nog erger as myne en dit het my laat beter voel. Sy sê die "upside" van so 'n dag is dat die volgende dag waaragtig nie nog slegter kan wees nie. Wel, ek moet sê, ek het vandag nog niks laat val nie, beide kollegas wat die e-posse gestuur het, is nog nie by die werk nie en daar is nie 'n krieket wedstryd geskeduleer vir vandag nie. Dit lyk asof my kanse goed is!
No comments:
Post a Comment