Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Sunday, 13 March 2011

John Hunter Kennedy

Ek dink nie mens kry baie hits as jy hierdie naam Google nie, in elk geval nie direkte hits nie. Dis baie jammer, want daar behoort eintlik 'n hele paar daarvan te wees. John Hunter Kennedy is vandag presies 66 jaar gelede gebore en as geskenk vir hierdie wêreld gegee. 'n Te kort tyd het hy hierdie aarde bewoon en bewerk, maar tog met soveel impak.

Daar is vir hom 'n sussie gebore vir wie hy baie lief was en saam het hulle twee op 'n plaas groot geword. Hy het haar bang gemaak met afkop hoenders (wat mos nog vir 'n ruk lank hardloop, al is hulle dood), soveel so dat sy nou nog nie 'n voël voor haar oë kan verduur nie. Hy het deur sy liefde vir perde(en vele skoupryse met sy liefling perd, Rex) en bees- en skaapboerdery besluit waar sy prioriteite lê en nie sy skoolloopbaan voltooi nie. Soos elke jong man van daardie dae het hy diens gaan doen in die weermag en 'n sterk sin vir netheid en dissipline is in hom geaksentueer. Vandaar ook die fier en regop stap met sy hande agter sy rug.

In sy vroeë dertigs, terwyl hy saam met sy pa boer, begin hy vlerk sleep by 'n nuwe juffroutjie op die dorp. Waar sy in die dogterskoshuis loseer, word daar gegons oor die jong liefde. Nie lank daarna nie, trou die twee en begin 'n nederige lewe saam, waar hulle in groot afhanklikheid van God leef, soveel te meer omdat hulle besef dat reën en 'n plaas se sukses net genade van Bo is. Hiervan maak hy 'n groot sukses en behou hy geloof deur groot droogtes. Hy lei nie net sy gesin (wat geseën is met vier kinders) nie, maar ook die boerevereniging en selfs die boere-unie in sy distrik. Hy dien op die kerkraad en bied menigmaal ondersteuning aan sy vriende oor die telefoon en in persoon waar hy kan.

Hy gaan in sy lewe deur baie swaar en moeilike tye, maar geniet daarom ook die goeie van die lewe. So waardeer hy 'n jag saam met sy swaer en seuns en leef met die grootste respek vir die natuur. Hy stop op sy plaaspaadjie om vir 'n wilde eend met sy kleintjies kans te gee om oor die pad te stap en die eendjies waggel rustig verby, asof hulle wéét hy wag vir hulle en sal nie skade maak nie. Telkemale verwonder hy hom oor dinge in die natuur.

Hy gaan heen laat in die nag op 'n wintersaand en soveel mense is verslae. Hierdie nederige man sou waarskynlik nie wou hê ek moes so oor hom skryf nie, maar hoe kan ek anders? Hy was dan die een wat my bed toe gedra het toe ek klein was en kwaai aangekyk het toe ek rebels was. Hy is die een wat my met soveel wysheid bedien het en met 'n ewige gemis agtergelaat het. Hy het my van my God geleer en gesorg dat ek ook 'n persoonlike verhouding met Hom gebou het. Nou HET ek steeds 'n Pa wat so goed vir my sorg.

John Hunter Kennedy, 'n pa soos min, my pa. 13 Maart sal my altyd aan hom laat dink, met 'n glimlag. Ek hoop jy dink ook nou aan jou pa en is dankbaar vir elke minuut wat hy vir jou gegun is! Jy hoef nie skuldig te voel as jou pa steeds leef nie. Dis nie regverdig of onregverdig nie. Ons Vader sorg vir ons almal en gee ons die krag om al die beproewinge oor ons pad te hanteer. Mag ons almal vir Ewig 'n Pa hê.

No comments:

Post a Comment