Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Wednesday, 30 March 2011

Ook maar mens

Hoewel ek dankbaar is vir die verjaardagpartytjie en meegaande lekkertes wat gelei het tot die hoop skottelgoed in ons kombuis, moet ek erken dat dit hier teen Woensdag regtig 'n irritasie begin raak het.  Die skoonmaak-sarsies wat ek elke dag ingesit het, het nie 'n wesenlike verskil gemaak nie en die irritasie het gelei tot die skedulering van een groot sottelgoedwas sessie.  Ek het uiteindelik die skottelgoed-oorlog gewen (en, moet ek bysê, my woonstelmaat-niggie het amper gedink ons bediende het kom skoonmaak!).

'n Groot deel van die res van Woensdag was egter nie heeltemal so suksesvol nie en my eie menslikheid (ten spyte daarvan dat ek so hard probeer perfek wees, maar definitief oorweeg om liewer net normaal te handhaaf) het sterk deurgekom.

Op 'n manier wat ek self nie verstaan nie, laat val ek vroegoggend al my speserye en die "Chicken spice" en breek en val in 'n rooibruin hoop op my mat wat maar pas herstel het van die geyser se bars-lekkery.  Ek was bang ek raak laat vir werk, so het dit net so gelos en laat vat om betyds te wees.  Ek hét gewonder of ek gaan voel asof ek in 'n Indiese winkel instap wanneer ek terugkom, maar my verantwoordelikheidsin teenoor die 08h00 kliënte het die oorhand geneem.  Ek was 15 minute vroeg!

By die werk het ek my misnoë uitgespreek oor 'n e-pos met prentjies van die allergrillerigste infeksies in ledemate van mense wat ek nie ken nie.  Ek maak altyd daardie fout, want dan dink mense hulle moet my verder pla!  So, toe kry ek 'n e-mail met twee attachments en die subjectline:  "Stel gou vir my hierdie twee kontrakte op."  Dit was 'n hoax!  Na lunch kom ek terug by my rekenaar en ja, jy het dit geraai, my desktop bestaan uit 'n grillerige prentjie.  AAAAH!  Nog 'n kollega stuur bietjie later 'n e-pos wat sê "Om jou op te cheer."   En ek val wraggies daarvoor.  Ek is nou GOED oor hierdie prentjies.  1 April is oppad, hulle moet net weet!

Die grillerige prentjies is seker nou nie 'n verskoning vir my stadige vordering op die werksgebied nie, maar tog, dit was ontstellend.  Werksbevrediging bly egter 'n luuksheid vir mense met jare se ondervinding en skelm kortpaaie.  Die begroting van werk aan 10 lêers het 'n werklike werk aan 4 lêers en 'n werklike verlies van 6 lêers meegebring.

Toe laat val ek nog 'n groot deel van die suiker ook op die kombuisvloer en bo-op my voete.  Dis genoeg om een mens regtig negatief te maak.  Die pot is darem gered en uiteindelik is die suiker ook opgevee.  Al wat ek toe nog nodig gehad het, was 'n verloor op die action cricket baan.  Dié het ons sommer maklik gekry.  Ons sê mense kan ons nie 'chokers' noem nie, want ons verloor ALTYD! 

My suster se dag was nog erger as myne en dit het my laat beter voel.  Sy sê die "upside" van so 'n dag is dat die volgende dag waaragtig nie nog slegter kan wees nie.  Wel, ek moet sê, ek het vandag nog niks laat val nie, beide kollegas wat die e-posse gestuur het, is nog nie by die werk nie en daar is nie 'n krieket wedstryd geskeduleer vir vandag nie.  Dit lyk asof my kanse goed is!

Tuesday, 29 March 2011

Net 'n bietjie liefde!

Elke dag sien ek sy gebroke lyfie met die dún bene en arms en sy ongemaklike stappie. Hy dra nooit skoene nie en sy klere is vaal en bruin, verwaarloos. Vandag kom hy na my toe aangestap met 'n ongelukkige uitdrukking op sy gesig en die toegevoude handjie word gelig na sy mond soos hy vra vir geld om iets te koop vir kos. Ek kan nie help om hom jammer te kry nie. Soek hy nie maar eintlik net liefde nie?

Die man aan die ander kant van die telefoon klink van meets af aan asof die lewe hom iets skuld. Hy soek my baas of haar selfoonnommer. Ek doen eers 'n kredietwaardigheidstoets en gee haar nommer met 'n waarskuwing dat hy haar nie buite werkstye moet bel nie. Dit ìs die nommer wat hy nou net gebel het! Hy vervies hom en dreig om 'n ander prokureur te kry, want hy soek haar nou al lank. Soek hy nie dalk net liefde nie?

'n R5 of 'n R1? Dis nie Finrek 3 nie, dis oorlewingstrategie...spaar geld! Sjoe, maar die karwag by CIPRO is nie gelukkig met die R1 nie. "Mevrou was lánk weg!" (Ek weet, ek het in die ry gestaan en bladsye van Frank E. Peretti se Piercing the Darkness gelees.) Ek kan nie. Hy gee sy R1 so 'n laaste kwaai kyk en stap weg sonder om my te help om uit die parkering uit te kom. Wie gee vir hom liefde?

Die wit kat hardloop vertroueloos-vinnig verby my om agter ons trappe vir my weg te kruip. Deur die takke sien ek hom agterdogtig na my en kyk met sy groot geel oë. Soos ek die trappe begin klim, hardloop hy 'n ander koers en verdwyn om die hoek. Ook hy soek eintlik maar net liefde.

Dit laat my my dade bietjie anders bekyk. Hoeveel geleentheid het ek nie om liefde uit te deel nie? Soveel mense waarmee ek in aanraking kom en ek ignoreer die hartseer gesig wat bedel vir kos of geld. Hoe maklik is dit nie om liefde te gee nie?

Die man agter CIPRO se helpdesk noem my "Angel" en sonder om daaroor te dink voel ek sommer meer spesiaal. Behalwe dit, help hy my ook so baie en los my met dié wyse raad: "Don't ever come here and try to fraudulently register a company." Is dit nie naasteliefde nie?

Vir die soveelste maal word ek vasgevang in Schoemanstraat by die geel bordjies van padwerke. Sit die flikkerlig aan, peuter met die radio tot so 'n mate dat ek amper nie eens sien die man in die motor skuins agter my probeer vir my spasie gee nie. Ek ref hoog en kry darem in my haas 'n dankie-sê hand gewaai. Liefde?

Die sekuriteitswag by ons kantoorpak glimlag sy wit smile van oor tot oor wanneer ek my venster afdraai, groet en die klanke van my Afrikaanse CD vir 'n rukkie na hom toe aanrol. Wanneer ek my kaart vergeet, kom hy met daai selfde glimlag en maak vir my oop. Dis liefde!

Die liefde doen die naaste inderdaad geen kwaad nie. Kan dit dan maar netsowel probeer uitdeel! Ons is nie gemaak om daarsonder te wees nie.

Net 'n bietjie liefde!

Sunday, 27 March 2011

Alleen? Wat wou!

Ek kry myself soms jammer omdat arme ek so baie vriende in Stellenbosch gehad het wat eintlik baie beskikbaar was vir koffie of rondstap of iets gaan eet of sokkie, en nou is daardie vriende ver, terwyl ek kastig alleen in die groot stad is. Ek sê "kastig", want dis toe nou nie waar nie. Iemand wat alleen is sal nie 'n verjaardag-sosatie-braai kan hou met nege mense wat nie omgee dat die reëlings vir die braai effens sleg gedoen is nie!

So staan 'n vriendin en skil gekookte aartappels vir aartappelslaai, 'n vriend maak versiersuiker vir die koek aan en 'n niggie gaan koop Blitz en kole omdat ek sleg beplan het. Twee bosse blomme, sjokolade en ander geskenke kom saam met die dierbaarste glimlaggende gesigte en mooiste persoonlikhede by my deur ingewals. Ouens skud blad tussendeur hande vol kampstoele en 'n ware heer begin spontaan die braaier aan die gang sit en bietjie later die sosaties en broodjies braai.

Groepies gesels oor interessante onderwerpe en die dinamika is sommer net plein lekker. Hier volg 'n paar momente uit my naweek waaroor ek so dankbaar is:

Die geefster van die mooiste rose soek in die kaste rond vir 'n blompot en begin die rose se onderste blare knip sodat dit nie sleg raak in die water nie, sy sit hulle almal in die pot en sit die pot neer waar dit ons woonstel so mooi opkikker. Terwyl sy dit doen, gesels sy vrolik met van die ander vriende wat sy pas ontmoet het.

My gas uit Parys(Vrystaat) gesels tot in die vroeë oggendure diep hartsake met my terwyl sy 05h00 uit Parys uit vertrek het. Sy luister met 'n sagte oor en gee haar opinie met sensitiwiteit en eerlikheid. Sy hoor elke liewe detail. Sy vra behulpsame vrae. En ek besef sy ken my hart.

Nege mense op kampstoele op die gras, heerlike sonnige weer, sosaties op die rooster en lekker gesels met koeldrank in die hand. Die Here wys my hoe geseënd ek is en dat ek nie alleen is nie. Die skille val van my oë af - Hy voorsien deur elke mens in my lewe. Hy bly die Een wat voorsien en vertroos.

Kerk toe gaan saam met 'n vriendin. Twee-twee saam onder een sambreel, stortreên en 'n gesoek na die motorsleutel, papnat koue voete in die kerk en 'n besielende preek oor ons tydige en ontydige verkondiging van die Woord.

Vriende uit verskillende oorde leer mekaar ken en waardeer mekaar.

Koue sosatie, oorskiet-slaai, verjaardag-soetigheid en lekker herinneringe op hierdie Sondagaand laat my voel soos 'n bedorwe Koningskind. Die moegheid is verseker oor en oor die moeite werd.

Friday, 25 March 2011

Nataniël se biltong

Dit was 'n moeilike dag.  Ons parkering in die stad was onder opknappingswerk en gevolglik nie oop vir parkering nie.  Ek moes omtrent twee kilometer stap om te kom waar ek in die hof moes gaan soek na 'n sertifikaatjie in 'n afgeskeepte papierboks-deksel.  CIPRO se stelsel was af, so die kort rye daar was net 'n illusie van korte duur en opwinding.  Daar was nie eens 'n posstuk vir ons by ons Docex adres (prokureurs posadres) nie, so al wat ek vir die oggend in die stad gehad het om te wys, was die armsalige sertifikaatjie en 'n dowwe, dog besliste, hoofpyn. 

So, toe my baas by die drie "bottom-of-the-foodchain-cubicle" werknemers kom vra of iemand lus het om Nataniël se uitvoering te gaan kyk omdat sy kaartjies het, het ek sommer 'n dowe oor gegooi, want dit pas nie in die moeilike dag nie.  Nee, dit was toe wel waar en na 'n tweede keer wat sy vra, besluit ek om hierdie geleentheid met albei hande aan te gryp.  Ek is juis so erg oor Nataniël se Kaalkop-rubriek in Sarie.  Ek het egter op die een of ander manier die twyfelagtige voorreg gekry om vir Nataniël dankie-sê biltong te koop - ek wat sukkel om die maand uit te kom en wat soos 'n wafferse affie-plaas-af meisie oral verdwaal! 

Ek besluit ek skrik nie vir verantwoordelikheid nie en dat dit in elk geval nie moeiliker kan wees as die graad wat ek pas behaal het nie.  Dis eenvoudig - ry na die naaste winkelsentrum, trek geld, koop die biltong, ry woonstel toe.  Ek het kwylend na die perfekte bewolkte weer gekyk en gedroom van 'n draffie.  Tot die bank by die winkelsentrum nie werk nie en die verkeer oppad na die volgende een my so sit-sit laat gemaak het.  Nou loop die gedagtes...
Ek het nie geld nie en ek weet nie hoe hierdie my probleem geraak het nie. Nataniël moet biltong kry. Hy weet nie eens wie ek is nie.  Hy gaan daai biltong bekyk en my sy uitstaande smaak besluit dis net goed genoeg vir 'n hondjie of iets.  Dis nie Nataniel se skuld nie.  Hoekom laat hulle die meisie wat die plek die minste ken biltong koop?  Dis nie hulle skuld nie.  Kan die mense net vinniger en ordentliker ry?  Dis nie hulle skuld nie.  Wat de joos?  Dis jou eie skuld!  Die tyd vir aantrek raak ook minder, minder, MINDER!  Ek gaan soos 'n vaal muisie lyk en Nataniël gaan biltong hê wat hy nie eens gaan WIL hê nie.  Gaan hy ooit die goed kry? Wie IS Nataniel tog? Wie is JY? Haha!

Die knaap in die biltongwinkel se hare is nie reg nie.  Ek sweer 'n koei het hom gelek en een of ander biltong saag het net die een kant van sy hare beetgekry en 'n druppel peroxide het ook op sy hare geval.  Ek vra vir 'n groot stuk biltong.  Droog of medium droog?  Medium droog, sê ek so asof ek en Nataniël hieroor gepraat het.  Die een stuk weeg nie genoeg om die prys op te maak nie.  Gee nog 'n stuk.  Medium nat of droog?  Medium nat, Nataniël sal van een van die twee hou, en sit 'n lint om asseblief.  Watse kleur?  Uh, rooi, sê ek alweer asof ons ou vriende is.  [Kan ek nou net betaal en gaan?]

Ek ry om 'n draai en die biltong kom so met "G-force" na my toe aangeskuif.  [Vrede, kan Nataniël se biltong net asseblief vandag veilig in sy hande kom?!]

Na jare in die verkeer is ek terug by die huis en kry verbasend genoeg kans vir bad en om soortvan ordentlik aan te trek.  Ek onthou selfs die biltong en my niggie en haar sushi, want sy moet nog eet.  Ons verdwaal asof ons almal van die plaas is, maar uiteindelik is ons daar en die Kaalkop Man maak sy verskyning.  Die biltong sit op my skoot.  Die geraas van die bruinpapier laat my wonder of almal om my nou dink daar is iets fout met Nataniël se mikrofoon.  Ek lag my PAP vir sy (ek is seker) uitgedinkte stories en WENS ek kan so goed soos hy met woorde wees.  Die kostuums oortref my plattelandse beskrywingsvermoë, soos mens maar kon verwag van hierdie stylvolle man.  Dis oor en oor die raas-kop-gedagtes in my bakkie werd.  Nataniël se vertoning is fantasties.  Hy noem dit Combat, en noudat ek terugdink daaraan was daar nogal baie spatsels militarisme in.  En die man se beskrywings!  Ek sou betaal het ook, maar ek weet nie van NOG biltong nie. 

Ons gee die biltong vir die meisie wat vir ons die kaartjies gekry het en wat vir Nataniël werk en is effens teleurgesteld dat ons nie die man self te siene kan kry nie.  Oppad terug huis toe kry ons 'n sms - Nataniël sê dankie en "dis sweet".  As hy maar net geweet het van die drama in die bakkie!  Ek hoop hy geniet die biltong!

Tuesday, 22 March 2011

Veroudering

Toe ek vandag my ouderdom by die gym se masjiene moes intik, het daar 'n nuwe getalletjie in my kop opgeduik, naamlik die kwarteeu getalletjie. Kleinighede as mens dink aan die wonderlike dag wat ek gehad het te midde van werk-inhalery en telefoonoproepe na mense wat nie hul fone antwoord nie. Ek verbaas my elke keer oor hoe lekker ek verjaar, want elke keer sê ek vir myself dit gaan maar 'n stil verjaardag wees en ek beplan nie iets nie en dan seën die Here my net so baie!

Een van die onverwagse seëninge was toe my niggie-woonstelmaat 05h45 vir my kom wakker sing het met die mooiste pas-wakker-stem wat ek nog gehoor het. Haar props was 'n Tex sjokolade met 'n verblindende skitter-vlam ding, of wat mens dit ookal noem. O, 'n MASSIEWE Tex, net om te beklemtoon!

Groot was my verbasing en blydskap toe my lank-terug-bestelde Kalahari.net bestelling juis vandag afgelewer word, terwyl ek dit glad nie verwag het nie. Ek sê vir julle, ons God is Een wat lief is vir Sy detail. En mens moet pasop of jy mis daardie fynskrif.

By die werk is ek (en die res van die kantoor) ook groot bederf met klein peppermentcrisp tertjies en koek en klein pizza'tjies en wat nog. 'n Pragtige kaartjie met een fantastiese skoonheidsorg-gadget ding het ook daar vir my sit en loer. Ek moet dalk nou so 'n op-die-kant-salon oopmaak vir 'n ekstra geldjie.

Tussendeur het ek lekker spesiaal gevoel oor al die sms'e en Facebook boodskappies - skoolmaats, tannies, ooms, broers, suster, ma, universiteitsvriende en nuwe vriende. Kyk, geseënd inderdaad!

Vanaand het ek en my gym-/kantoormaatjie saam gaan fliek en ek adverteer sonder om twee maal te dink die fliek, Just go with it. Ons het so lekker gelag, partymaal onbeheersd! Dit was perfek - net wat ek nodig gehad het en boonop het my vriendin betaal. Hoe gelukkig kan mens wees?!

Wel, so kan my dag mos nie sonder 'n spoedwippie gebeur nie. Ek gooi my handsak uit, deursoek my denimsakke, gatsakke, loop uiteindelik terug bakkie toe en kan net nie my parkeerkaartjie opspoor nie. Nadat ek die wagte by die hek die waarheid vertel het(deur 'n hele paar lagbuie), vertel hulle my op hul beurt dat dit my 'n volle R25 boete gaan kos, waarvan ek net R2 in my beursie het. Gym-/kantoormaatjie het darem R13, maar die ou wat dit by haar in haar motor gaan haal, kom terug en sê: "Since it is your birthday we'll let you go." Getroue landsburger wat ek is, haal ek toe maar net vir duidelikheid my ID uit en hulle is tevrede. Ek het maar my R2 ook gegee ter wille van my gewete.

Oe, en ek moet ook net vertel van die sms van my vriend wat op die oomblik in Nederland studeer - ek moes 'n ongemaklike traan wegvee net na die fliek! Dit was net so kosbaar en oulik!

So, dankie aan my Skepper vir al die klein en groot seëninge in my verjaardag!

Sunday, 20 March 2011

Die "re" van retoer

Dis regtig darem maar pragtig in die Kaap. Die blou berge wat meer van 'n waas raak in die verte, ook omdat dit vandag 'n deinserige dag is. Ek dink die hitte van die afgelope week het nou 'n klammigheid veroorsaak wat die uitsig uit die Spur op die Kaapse lughawe effens belemmer. Dis in sterk kontras met die "uitsig" op die afgelope paar dae se fantastiese rondkuier in die Kaap. Sjoe, ek wens ek kon 'n paar mensies saamvlieg Pretoria toe.

Van die graadvanggeleentheid tot nou, hier met my chocolate brownie in die Spur, is so veel as moontlik vriende opgesoek en het ons ingehaal op mekaar se lewens op die oomblik. Van so baie koffies en gesels het bankrotskap met mening aan my deur kom klop en het ek nou nie 'n stem om te sê hy moet weggaan nie. Betaaldag moet asseblief nou gou kom! Tog was dit alles die moeite werd. Ek sien dit as my vroeë verjaardaggeskenk, so ek beplan liewer net niks vir die okkasie nie. Hier was beslis genoeg bederf (tot 'n dag in die Aqua spa op Caledon!) om my tot by die volgende kwarteeu te bring.

Oorkant my baklei 'n Indiër boetie en sussie oor 'n blou ballon-hondjie en by 'n ander tafel sit twee getroude paartjies en gesels land en sand. Almal op die lughawe is op pad iewers heen of kom van iewers terug huis toe. Die plat Kaapse aksent en warm-patat Gautengse manier van praat help my om te verstaan wie pas waar. BA! Bars die seuntjie agter my se ballon dat ek hop soos ek skrik en 'n mooierige blou-oog man lag vir my. Dis lekker! Die oomblik sou nie gebeur het sonder die ballon-barsery nie! So is dit met alles - elkeen het 'n storie en alles is die produk van iets anders.

Hier verlaat ek vandag die Kaap met 'n kokertjie en 'n stukkie papier ekstra wat die gevolg is van 6 jaar se harde studies en natuurlik 'n onsigbare sak bagasie vol ryk herinneringe aan goeie tye saam met nog beter vriende en vriendinne. Nostalgie? Natuurlik! Hierdie is die perfekte geleentheid daarvoor - hier waar elkeen met sy storie rondloop iewers heen oppad.

Friday, 18 March 2011

My oomblik van glorie

Dit was een hittige dag, maar die kleur van die dag was swart. Swart rokkie, swart skoene, swart toga... Maar daar was geen ander opsie as dat dit 'n wonderlike dag sou wees nie. Ses jaar se swottins, bloed sweet, bekommer, slapelose nagte, spanningsvolle punte-kyk op MyMaties, gebede, koffies, bibsessies, vroeë oggende, laat aande...hierdie was die finale afronding. Dit sou niks verander aan al die ander herinneringe nie, maar dit was bedoel om een op sy eie te wees! En dit was!

Die gevoel om my legendariese bib buddy weer te sien, was so, so lekker. Met wie anders moet mens so 'n dag deel? Die "uitskel"-sessies en mekaar verantwoordelik hou het vrugte afgewerp. Natuurlik het ons so baie gesels dat daardie oom met sy instruksies nie sy verdiende respek gekry het nie. Ons groupie ondersteuners het ook gesorg dat daar genoeg foto's geneem is en dié pryk nou op facebook!

In die saal, tydens die seremonie was dit ongelooflik warm, maar nog 'n dierbare vriendin het gesorg vir 'n oorlewingspakkie - water, melkbotteltjie lekkertjies en 'n pakkie Pringles. Een of ander slim gegradueerde steel nogal so ewe 'n pakkie melkbotteltjies wat ek vir my vriendin aanstuur! Agterbaks!

Die laaaaang gewag is die moeite werd en selfs die vreemde uitspraak van my naam kon nie my oomblik minder awesome maak nie. Ek het vir prof Russel Botman die grootste Sensodyne smile gegee toe hy my met die boekie tik en die lang man wat die bande omgegooi het, het self baie waardering van my kant af gekry. Ek neem aan hy het vir al duisend graduandi geluk gesê, maar dit was baie lekker om dit te hoor. Waar die foto's geneem is, het ek ook nie toe oor geworry nie. Ek was net so bly!

Duisend mense se graad-uitdeel-oomblikke vat diep lank en ek het 'n paar keer oorweeg om, soos die res van my ry se mense, uit te stap. Maar my oomblik is gerespekteer, so ek het bly sit tot die laaste eredoktorsgraad ontvang is en die akademiese prosessie die middag afgeëindig het.

Uiteet saam met die gesin en foto's daarna was die perfekte einde aan 'n goeie era. Na ses jaar het die Here vir my daardie graad gegee, maar in my hart het Hy ook vir my liefde vir 'n groot groep vriende gegee en my baie, baie laat groei. Mag die res van my lewe net so 'n groei proses wees, met grade in alle fassete in die lewe. Dankie, my Heer. Aan U al die Eer. Heilig is U Naam. :)

Wednesday, 16 March 2011

Ystervoël Kaap toe...

Die uitsig is: ekself in die spieël, met highlight-goed in my hare en die droogmaak-toebehore om my kop. Fantasties!

Vroeg vanoggend al het ek myself vir 'n koffie en croissant by OR Tambo lughawe gestick. Die opgewondenheid het homself vergestalt in my gedurige op-en-af-kyk na die hoërlosie. Alles is wel en die vliegtuig styg betyds. Die oomblik waarna ek so uitgesien het, want vandag is gradeplegtigheid en daarna volg 'n paar-daggie-kuier in die Kaap. Jippieeee!

Ek is absoluut MAL oor die venster-sitplekke in 'n vliegtuig, want die wêreld van daarbo gee my 'n beter idee, perspektief as jy wil, van die mooie skepping. Prys die Naam van ons Here wat dit alles so mooi gemaak het. Van die plat, geörganiseerde gewas-boerdery- deur die chaotiese dierboerdery- en weer by wingerdboerderydistrikte. Die mooiste wolke met die son wat daaroor streel en 'n hemelse gevoel daaraan gee, was 'n wenner! Ag, en die verskillende tipes berge: afskep-plat berge, rifrug berge, berge wat lyk asof 'n baie groot mol 'n pad vir homself vlak onder die grond opgestoot het en dan, natuurlik, regte berge soos die in die Kaap. Ek het my verkyk aan die riviere en probeer verstaan watter kant toe die water loop.

En hier sit ek nou by die haarkapper en dis net lekker! Na 'n paar uur gaan ek weer almal sien en my graad gaan vang!

Monday, 14 March 2011

Uitgerus

O, daardie vars gevoel van 'n nuwe dag vol verrassings en uitdagings... Koel oggendlug wat jou wange saggies pienk maak en jou sommer ekstra wakker maak. 'n Vriendelike gesig langs die pad werk toe. Hoop!

Ek het daardie gevoel so lanklaas beleef. Ek is darem nie sonder hoop nie, maar ek moet bieg dat ek negatief was vanoggend 04h00 toe ek wakker word van 'n drup, drup, drup op my kamer se mat. By nadere ondersoek, wat in die donker moes geskied omdat die krag ook af was, word dit duidelik dat my dak lek. So voel-voel soek ek daar in die kombuiskas vir bakke om water in op te vang. Dit vat nogal 'n paar maal se spat in die gesig voor mens enigsins die drupplekke kan identifiseer en dan volg 'n gehoor oefening - 'n plofgeluid beteken dit drup steeds op die mat, terwyl 'n helderder drup die een in die plastiekbak is, die een wat jy wil hoor.

Met hierdie helder plastiekbak-plof was dit weereens 'n onmoontlike taak om aan die slaap te raak. Ek het my maar liewer tot die sitkamerbank gewend vir my laaste uur of wat se ongemaklike rus.

Die oggendroetine is ook in swak lig en skaduwee voltooi. Maar waar ek myself liederlik vervies het (vir myself en my omstandighede) was toe ek my middagete perske in een van die bakke laat val het en al die water daaruit gespat het! As ek enigsins 'n metal fan was, het ek vanoggend sommer heavy metal geluister oppad werk toe, maar by gebrek daaraan luister ek toe Jacaranda FM en wat speel hulle? Lady Gaga! Die naaste aan heavy metal wat ek kon kom. Het maar liewer later weer oorgeslaan na my Juanita du Plessis en "Sien jy my wit vlaggie". Dit het my beslis laat beter voel. Nou net 'n middagslapie hier op kantoor inwerk, wat waarskynlik nie gaan gebeur nie...

Geduld

Op 'n manier moet ek geduld aanleer wanneer dit kom by inkopies doen. Dis altyd een van twee uitkomste vir my; 1) ek besluit dadelik ek het 'n wenner-produk beet en koop dit, net om 'n dag of wat later uit te vind ek kon dit iewers anders koop vir goedkoper of 2) ek gee moed op en koop liewer niks, want dit neem my spaar-ure in beslag. Daar is nou nie juis baie spaar-ure vir in winkels rondloop nie, maar tog moet dit soms gebeur, né.

Ek wonder of Noag nie ook begin wonder het WAAR daardie opslag-wolkie dan is nie. Abraham het ook halfpad deur sy lewe moed opgegee op sy beloofde nageslag. So leer mens op 'n mooi manier dat geduld kosbaar is - of dit nou gaan oor daardie winskopie of oor die bestuurder voor jou wat in die middel van die kruising gestol het. Geduld doen, soos die liefde, die naaste geen kwaad aan nie.

En hoe sê hulle altyd: "Goeie dinge vat tyd." Daar is daarom 'n paar goeie dinge in my lewe -

'n Hele paar vriendskappe het baie tyd en anhoudende genooiery geneem voor dit uiteindelik kon blom in my mooie vriendskapstuin. Ongeduld sou lei daartoe dat ek gedink het ek is beter af sonder NOG 'n vriendskap. Daar is selfs onskatbaar kosbare vriendskappe waarvoor ek moes wag vir die regte geleentheid om iemand weer raak te loop.

My werk het self naelbyter-dae veroorsaak, terwyl dit broekskeur gegaan het. En hoe moes ek nie CV's uitstuur voordat ek beland het waar ek vandag is nie! Ek moet myself meer hieraan herinner, want ek doen baie keer net die werk, sonder om te besef hoe groot die geleentheid is en hoeveel potensiaal dit het.

My graad is die resultaat van baie harde werk en ses jaar se swot. Ek het eers in my finale jaar besef dat die ekstra jaar nie beteken het ek is dom nie, maar dat ek kan vasbyt en nog vasbyt en kon leer van nederigheid. Ek kan nie anders as om oormôre die ystervoël te klim en Kaap toe te vlieg om daai stukkie papier te gaan haal nie.

Ja, party dinge raak met tyd beter, soos persoonlikheid en rooiwyn en fiksheid. Cheers!

Sunday, 13 March 2011

John Hunter Kennedy

Ek dink nie mens kry baie hits as jy hierdie naam Google nie, in elk geval nie direkte hits nie. Dis baie jammer, want daar behoort eintlik 'n hele paar daarvan te wees. John Hunter Kennedy is vandag presies 66 jaar gelede gebore en as geskenk vir hierdie wêreld gegee. 'n Te kort tyd het hy hierdie aarde bewoon en bewerk, maar tog met soveel impak.

Daar is vir hom 'n sussie gebore vir wie hy baie lief was en saam het hulle twee op 'n plaas groot geword. Hy het haar bang gemaak met afkop hoenders (wat mos nog vir 'n ruk lank hardloop, al is hulle dood), soveel so dat sy nou nog nie 'n voël voor haar oë kan verduur nie. Hy het deur sy liefde vir perde(en vele skoupryse met sy liefling perd, Rex) en bees- en skaapboerdery besluit waar sy prioriteite lê en nie sy skoolloopbaan voltooi nie. Soos elke jong man van daardie dae het hy diens gaan doen in die weermag en 'n sterk sin vir netheid en dissipline is in hom geaksentueer. Vandaar ook die fier en regop stap met sy hande agter sy rug.

In sy vroeë dertigs, terwyl hy saam met sy pa boer, begin hy vlerk sleep by 'n nuwe juffroutjie op die dorp. Waar sy in die dogterskoshuis loseer, word daar gegons oor die jong liefde. Nie lank daarna nie, trou die twee en begin 'n nederige lewe saam, waar hulle in groot afhanklikheid van God leef, soveel te meer omdat hulle besef dat reën en 'n plaas se sukses net genade van Bo is. Hiervan maak hy 'n groot sukses en behou hy geloof deur groot droogtes. Hy lei nie net sy gesin (wat geseën is met vier kinders) nie, maar ook die boerevereniging en selfs die boere-unie in sy distrik. Hy dien op die kerkraad en bied menigmaal ondersteuning aan sy vriende oor die telefoon en in persoon waar hy kan.

Hy gaan in sy lewe deur baie swaar en moeilike tye, maar geniet daarom ook die goeie van die lewe. So waardeer hy 'n jag saam met sy swaer en seuns en leef met die grootste respek vir die natuur. Hy stop op sy plaaspaadjie om vir 'n wilde eend met sy kleintjies kans te gee om oor die pad te stap en die eendjies waggel rustig verby, asof hulle wéét hy wag vir hulle en sal nie skade maak nie. Telkemale verwonder hy hom oor dinge in die natuur.

Hy gaan heen laat in die nag op 'n wintersaand en soveel mense is verslae. Hierdie nederige man sou waarskynlik nie wou hê ek moes so oor hom skryf nie, maar hoe kan ek anders? Hy was dan die een wat my bed toe gedra het toe ek klein was en kwaai aangekyk het toe ek rebels was. Hy is die een wat my met soveel wysheid bedien het en met 'n ewige gemis agtergelaat het. Hy het my van my God geleer en gesorg dat ek ook 'n persoonlike verhouding met Hom gebou het. Nou HET ek steeds 'n Pa wat so goed vir my sorg.

John Hunter Kennedy, 'n pa soos min, my pa. 13 Maart sal my altyd aan hom laat dink, met 'n glimlag. Ek hoop jy dink ook nou aan jou pa en is dankbaar vir elke minuut wat hy vir jou gegun is! Jy hoef nie skuldig te voel as jou pa steeds leef nie. Dis nie regverdig of onregverdig nie. Ons Vader sorg vir ons almal en gee ons die krag om al die beproewinge oor ons pad te hanteer. Mag ons almal vir Ewig 'n Pa hê.

De Korte Naweek

Jy wag die heel week daarvoor, al vertel jy jouself jy moenie jou lewe omwens nie. Dan, ewe skielik, is die naweek op jou en moet jy spring om al jou rus en agterstallige besigheidstransaksies in te kry. Jou te-doenlys vra meer ure as wat jou week jou bied, nog minder jou naweek. En dis waarom jy opeindig met 'n blou Maandag: jy is moeg!

So, baie bly was ek toe ons Vrydag selfs 'n uur vroeër afkry as gewoonlik en dit beteken ek kan 'n uitrusting vir my gradeplegtigheid gaan soek (een wat genoegsaam mooi onder die swart gewaad van 'n toga sal uitsteek, of dan ten minste gepas sal wees vir die uiteet saam met die familie wat in my vreugde gaan deel). En Woollies HET mos 'n uitverkoping, so dis my nommer een stop...

Soos ek daar instap, word ek in myself herinner dat "shop till you drop" nie eintlik vir my is nie, aangesien ek eintlik net die laaste deel wil doen. Ek sien 'n paar teleurgestelde vriendinne. Ag, kom nou, julle het geweet! In elk geval, tussen al die lywe en arms wat hangers wegstoot en jag vir daardie wins met 'n winskoop aangekoop, deur vind ek darem vir myself in die stiller hoekie 'n paar of wat sokkies wat by my nuwe tekkies pas. Hiehie! Dit behoort onder die toga uit te steek! :)

'n Paar rokkies se aanpas later het ek 'n wenner beet! Swart is die nuwe swart. Dit gaan saam met die toga, sowel as die ligblou en maroon band (ja, ek kry TWEE!!). Die man by die til wil nog hê ek moet 'n rekening oopmaak, maar ek skarrel weg met my vangs en gaan kyk 'n welverdiende fliek.

Saterdag het vroeg begin en die stil verkeer was 'n fees. Ek en my skoolvriend het besluit ons gaan Pretoria se natuurlewe gaan waardeer en 'n roete in die Faerie Glen Natuurpark(waar jy moet uitkyk vir skelms en hulle ook aanmeld aan bestuur) gaan stap. Ai, dit was nou vir jou lekker om so saam met die vriend die voëltjies en die bosse en die bome en die riviertjie en 'n massiewe slak(!) te ervaar. En van die "berg" (lees: koppie) af kon ons nogal 'n redelike groot deel van Pretoria sien en uitpluis waar wat is. Die plek is astronomies groot! Die uitstappie is afgesluit met 'n bakkie hemelse sjokolade roomys! Mmmm...

Wat gevolg het was 'n woonstelskoonmakery van formaat en die gevolglike daknatmakertjie saam met my sus en haar liefde. Die twee is ook so verlief! Ek dink nie die Settlers of Katan bordspeletjie wat ons gespeel het, is enigsins regverdig gedoen nie. Ek het so sleg gevaar! As dit nie vir die malvapoeding en kaaskoek was nie mag ek dalk net gevoel het ons moes nog een speel. Die daknatmaker het my ontneem van die geleentheid om die Proteas na hul fantastiese oorwinning te volg. Hier wil ek dan nou net gebruik maak van die geleentheid om te sê ek is so trots op die manne! Welgedaan, julle het karakter!

Vandag was sommer net lekker kerk toe, motorfair toe, middagete saam met my tannie en gevolglike drentel in die huisware winkels (en kwyl oor al die mooi kassies en beddegoed en wasgoedmandjies wat ons nie kan bekostig nie) en gaan stap in die mooiste tyd van die dag - 'n uur voor sononder. Daardie uur verbeel ek myself almal is rustig in hul huisies besig om koerant te lees, TV te kyk of met die honde te stap. Ek het selfs 'n wolk met 'n silwer rantjie gesien...

Saturday, 12 March 2011

'n Droom en werklikheid

Ek het eergisteraand hierdie droom gehad wat my so bietjie omgekrap het. Dit het gegaan oor 'n meisie wat ek verlede jaar met die eindeksamen ontmoet het en wat in Pretoria bly. In die droom loop ek haar toe raak in 'n kroeg(dis al klaar ongeloofwaardie, ek weet) en sy lyk so anders dat ek vir haar met 'n frons vra of dit sy is. Sy was so afsydig in die droom en wou net wegkom, amper asof sy skaam was. Ek dink die rede waarom dit so slegte droom vir my was, is dat ons regtig lekker saam geswot het in die bib en die SS verlede jaar en ek wou net nie aanvaar dat sy nou niks met my te doen wou hè nie. Ons het immers mekaar en ons ander kommerades gemotiveer en versterk en saam koffie gedrink en so aan.

So ek besluit toe om haar te kontak en ek besluit die droom is maar net 'n teken daarvan dat ek die kontak te lank uitgestel het. Ons moet koffie drink! So gesê, so gedaan en sy antwoord toe heel spoedig, glad nie enigsins 'n ooreenkoms met die droom nie! En kan jy glo - ons bly 'n blok van mekaar af en werk in dieselfde kantoorblok! As ek nie reeds gelê het nie, het ek beslis op my rug geval.

Ek is so dankbaar, want ek het die afgelope tyd nogal negatief begin raak oor vriende maak hier. En toe kom daar hierdie lekker verrassing - alles oor 'n droom! Haha! Wie sê drome kan nie iets beteken nie? Hierdie beteken vir my nogal baie! Ons gaan een van die dae ons koffie-afspraak nakom en ek dink ons gaan sukkel om mekaar NIE raak te loop nie!

Thursday, 10 March 2011

Blou, blou, blou

Snaaks hoe mens soms die kat net heeltemal aan die stert kan beet hê.  Vanoggend ry ek stad toe en verbaas my oor hoe baie groen verkeersligte ek kry.  Ek dink nog so by myself dat ek mos nou regtig nie aan geluk of ongeluk glo nie en dat groen ligte nie 'n aanduiding is van hoe die res van my dag gaan verloop nie.  So ewe!

Ek moes, soos meeste ander dae, dokumente vir 'n "comrad" van ons gaan afgee by die aktekantoor.  Gewoonlik is sy vinnig beskikbaar, maar vandag sê sy vir my dat ek 'n rukkie vir haar sal moet wag en ek besluit om parkering te soek en rustig na haar te stap.  So ry ek om dié blok en daai blok en sonder dat ek besef, begin die tyd aanstap en gee "comrad" my 4 "missed calls".  Sy moet by 'n ander afspraak kom - waar is ek?  Weereens kry swak besluitneming my in die moeilikheid.  Ek sê vir myself ek het nou mooi geleer met die onwettige parkering, so ek sal eerder VER en wettig parkeer, maar hardloop...

Terwyl ek hardloop kry ek nogal 'n aangename gevoel dat ek jou werklikwaar 'n slag draf (nou wel nie met die regte klere en skoene nie, maar ten minste met doelgerigtheid).  'n Honderd dinge gebeur gelyk.  'n Man kom uit 'n gebou uit in my "baan", ek besluit om te rem (met my plat skoene), ek verloor my balans en val dat my hemp optrek en my sonbril in een rigting en die dokumente in 'n ander rigting trek.  Die verleentheid in my trek eerste my hemp reg en gryp vir die dokumente, maar die sonbril is buite bereik.  'n Galante lewensredder bring dit vir my en vra of ek okay is.  Dis toe wat ek die pyn begin ervaar wat diep in my knie in steek, maar prioriteite is prioriteite en aandiensbesering of te nie, my "comrad" wag vir die dokumente.  So, ek sê maar net ek is laat en sit weer in vyfde.

Amper nog in 'n motor ook vas soos ek oor die straat hardloop, hoor ek 'n stem van skuins agter my:  "Kyk hoe hardloop sy nou amper voor daai kar ook in."  Ek sukkel om my waardigheid bymekaar te kry, maar ek het dit toe ek die dokumente aan "comrad" oorhandig.  Sy weet te vertel ek moenie parkering soek nie en liewer net "double-park".  Natuurlik.  Die ding is dat dit net nog glad nie vir my so natuurlik kom nie.  Iewers moet iemand hom/haar asseblief oor my ontferm en my net leer hoe om die stad-ding te doen, want die vet weet, ek sukkel!  Ek het groeipyne en verlang na die dae van een-verkeerslig-dorpe, waar jy op een plek parkeer en ALLES is naby.

Terug by die motor het iemand wraggies vir MY ge-"double-park" en die voertuig gelos met net 'n vrou aan die passasierskant.  Ek besluit ek gaan standpunt inneem en knor die werk se Corsa Lite aan die brand.  Ook maar lekker dom, want wat gaan dit nou help?  Kom sê die karwag met sy mooi persoonlikheid vir my dat ek asseblief moet wag, want die bestuurder sal nou terug wees.  Toe sit ek maar die skakelaar weer af, ondersoek die massiewe eier van 'n bloukol op my knie en begin lees wat my vriende op Facebook skryf.  Na 'n rukkie is ek darem verlos van my vasgekeerdheid en kon ek afsit na CIPRO(Company and Intellectual Property Registration Office, lees ek ook eers vanoggend raak).  Niks noemenswaardig gebeur by CIPRO nie, behalwe dat die karwag daar my verkeerd beduie het met die parallel-parkering.  Ek het soos 'n zig-zag naaldwerksteek daar ge-in en ge-uit!  Binne die gebou is ek begroet met sulke lang-lang rye onbekende gesigte.  Na die lang gewag kon ek nie eens die maatskappy wat ons geregistreer het se dokumente optel nie omdat dit tussen neus en ore verdwyn het. 

So swaai 'n mens se dag sommer gou-gou om en vergeet jy van die groen verkeersligte van vroeër.  Dalk, wie weet, het ek iemand wat my sien val het se dag gemaak.  Ek hoop maar daar was meer van 'n doel agter die val.  En ek hoop regtig dat ek die verkeer in die stad van nou af beter sal kan hanteer.  Of dalk moet ek ook begin tekkies werk toe dra soos die Standard Bank mense op "payday" en dan sal ek nie meer val nie.  Dis onwaarskynlik dat môre 'n slegter dag sal wees as vandag.  Ek sien sommer uit!

Tuesday, 8 March 2011

Die natuur in my

Een van my groot besware teen die stad is die gebrek aan natuur. Die verlange kom daar van kindsbeen se dae toe boklammetjie op die plaas grootgeword het. Kyk daardie plek kan dor en warm word dat die hittegolfies oor die horison jou duiselig maak, maar dit bly net mooi. Ek kan liries raak en soos Dawid daaroor begin dig, maar nie almal kan die mooi van my plek waardeer nie, so ek los dit vir 'n ander spasie of 'n ander keer.

Aangenaam was ek verras deur die mooiste-mooi sonsondergange gister en vandag. Sjoe, ek wou dit net skilder! As ek maar kon skilder...en dan sou ek dit steeds nie tot sy reg laat kom het nie. Soos ek toe die son en goudgeel wolke bewonder, sien ek ook die ywerige drawwers en my hart raak sommer seer van begeerte. Nie dat ek enige iemand anders as myself kan kwalik neem dat ek die afgelope week en 'n half net een keer gaan draf het nie. Daar sal 'n plan gemaak moet word, want hierdie tipe sonsondergange vra vir draf-waardering. Daar bestaan ook die moontlikheid dat ek selfs mense kan ontmoet so. Dalk moet ek myself as met-jou-hond-gaan-stapper adverteer ook. Dink net daardie tipe vreugde - stertswaaiende vriende wat jou dwaing om 'n draffie in die geselskap te sit.

Die moegheid daal alweer oor my neer en dis nie net die mascara wat my oë wil laat toeval nie, dis die uitputting homself. Dis wragtie asof die groentesop nie vitamines aan my verskaf soos wat dit behoort nie. Gelukkig is dit lekker, anders was gister se gekappery van wortels, aartappes, tamaties en uie nie die moeite werd nie. Ja, dis een van daai dinge wat ek kon saambring van die Kaap af - my liefde vir kosmaak. Een van die dae hou ons hopelik 'n daknatmakertjie en dan kan ek kook vir mense of ten minste onthaal. Oe, dit gaan 'n groot makietie wees met al my baie Pretoriaanse vriende. Hiehie! Dalk verbaas ek nog myself met die tempo van vriende maak in die volgende paar weke.

O, laat ek net eers vertel van die uitstappie lughawe toe om my vriend vir koffie te ontmoet. Behalwe dat ek my keel seer gepraat het en kort-kort myself moes herinner om nie so hard te praat nie, het ek ook die lughawe sonder moeite opgespoor. Daardie Gauteng kaartboek het my nou al 'n paar maal groot verleentheid en moeite gespaar. Almal wat OR Tambo toe vlieg, kan nou gerus reël dat ek hulle kom haal. Al ding wat so effens skeefgeloop het, is dat ek aanvanklik by die langtermyn parkering gaan stilhou het. Gelukkig het die te rustige gevoel my gepla en het ek die karwag gevra wat gaan aan. Blykbaar het sy my R70 gespaar en sy het gevra dat ek vir haar 'n koeldrank bring...(Ek het nie. Ek voel sleg. Ai.)

Saturday, 5 March 2011

Vat jou goed en trek, Boklammetjie!

Ek het myself nie regtig 'n rowwe dag met die pakkery en trekkery voorgestel nie en dit was ook seker nie so erg nie.  Meeste van my besittings was in elk geval reeds in bokse omdat dit nooit uitgepak is nie, so dis minus een ding.  Die res is net klere en toiletries en die klere was meestal vuil en moes toe gewas word.  Nou ja, die son laat hom nie aanjaag nie en hy skyn waar hy wil, so die klere storie het toe langer geneem as waarvoor begroot was.  Jaaiks, deur die week voel dit ek het nie genoeg klere nie en ek weet nie meer wat om aan te trek nie en dan, wanneer ek moet wasgoed was, voel dit weer ewe skielik asof ek maar met 'n paar goed hospies toe moet gaan...

Ja, so Boklammetjie het vandag, vir die laaste keer in 'n lang ruk, haar goedjies opgepak en na meer permanente tuiste getrek.  G'n man daar het eens 'n handjie probeer bysit nie.  Bygesê, ek het gister baie braaf vir my kantoormaatjie gesê ek het nie 'n man nodig nie...  Wel, ek het toe nie een nodig gehad of gebruik nie.  Alles is min of meer daar.  Ek vat nou nou die laaste klere en vrieskas-kos.  Wat my herinner daaraan dat ek nog iets vir myself moet aanmekaar slaan vir aandete.  Ek het juis so 'n duiseligheid oor my.

Ek het wel vir myself middagplanne gemaak sodat ek meer gemotiveerd kan wees vir die groot trek.  'n Goeie vriendin wat ek jare laas gesien het, is ook in Pretoria en toe ons dit uitvind, moes ons net so gou moontlik 'n koffietjie reël.  Vriendin bly egter 'n hele entjie hiervandaan en in 'n area wat ek nog nie met my baie rondryery raakverdwaal het nie.  Soos dit nou maar met Boklammetjie gaan hier in die vreemde, ry ek toe ook doelbewus verby my afdraai!  Ek het met die N1 gery (rigting Noord) en moes die Zambesi afrit vat, maar niemand het vir my gesê dis 'n tolpad nie, so ek besluit toe dis benede my en ry verby.  Slim vang sy baas...amper het ek vir ons kliënt in Rustenburg gaan kuier!  Ek kon sommer 'n paar betekenings gaan doen het.  Hahaha.

Nou ja, gelukkig het ek vroeër belê in 'n Gauteng kaartboek en lei Dr Swanepoel ('n straat) my terug na Zambesi.  Ek en vriendin kon toe wel 'n (uitgestelde) koffie geniet en so lekker kuier!  Absoluut die verdwaal en tolgeld werd!  Mnr die Waiter het nou wel vir my 'n groot koffie milkshake in plaas van 'n kleintjie gebring, maar wat is dit nou tussen vreemdelinge?  In elk geval was die geselskap die grootte van die koffie en milkshake oor - hy kon eintlik maar nog dubbel-dik ook gebring het.

So leer ek vandag weer hoe kosbaar goeie vriendinne is en om tyd saam met hulle te spandeer.  Ry maar die petrol uit, dis aardse goed.  Vriendinne is Godgegewe geskenke!  Vriende ook, dis waarom ek more Johannesburg toe ry.  Volg hierdie spasie vir verdere notulering van my verdwaaltogte in Gauteng.

O, en ek is nou ook die trotse nuwe eienaar van 'n blackberry motorlaaier en die nuutste toevoeging tot die swartmark straatverkope by verkeersligte.  Ek het wel die prys afgestry soos 'n wafferse besigheidsvrou, maar die charger was nodig, want myne lê nog by die werk en ek gaan beslis nie hierdie naweek daar uitkom nie...

Tuesday, 1 March 2011

Siek motor

Ek kom vanoggend by my bakkie en soos ek die sleutel draai, so gee die bakkie net geen geluid of samewerking nie. Ek het waaragtig die ligte aan vergeet en die battery is verby pap. Weer 'n keer, soos reeds 'n paar keer die afgelope week, wil ek myself net 'n skop op die jis gee of sommer met 'n pan oor die kop slaan. Ongelukkig is daar nie pille vir vergeetagtigheid nie.

Met baie skuldgevoelens en gewetensbesware moes ek toe my tannie gaan wakker maak om my soos 'n skoolkind weg te neem vir werk. Sy is regtig een van my rolmodelle. Sy en my suster sal mekaar in 'n selfopofferingskompetisie stywe opdraand gee! Hulle is daardie tipe mense oor wie jy eers mooi moet dink voor jy 'n guns vra, want jy weet hulle gaan uit hul pad uit gaan om watookal jy vra vir jou gedoen te kry. So wil my tannie byvoorbeeld niks daarvan weet dat ek kos vir die huis koop nie, want dis haar bydrae tot hierdie arm (begrotingsbedreigings-) tydperk van my lewe. Sy is regtig, regtig 'n ongelooflike vrou.

Nou moet julle hierdie storie hoor. Ons wil toe vanaand die bakkie uitsorteer. So, ek bel my vriend in nood(wat ook my vriend in goeie tye is) en hy vertel my hoe mens hierdie jump-start storie benader. Ek en my engel-tannie skakel rooi op rooi en swart op swart en begin die sterk motor te rev. Niks, net 'n baie siek klik-klik-klik geluid! Nou word die buurman se hulp ingeroep...

Soos die buurman van langsaan met sy wysheid nader stap, kom die oorkantste buurman ook om die interessantheid te bekyk (en natuurlik sy hulp aan te bied). Dis toe 'n groot bespreking en ontleding van al die moontlikhede wat kan fout wees. Die tegniese verduidelikings het net so liggies deur my brein gewaai en iewers anders gaan vassit. Man, en toe wil die een oom so graag soos die ander oom die bakkie "running start", a.k.a. aan die brand STOOT. Julle, dit sou nou 'n gemors afgegee het. 'n Oom van 81 en 'n ander van so 70 wat die bakkie met mening stoot, ten aanskoue van die hele straat se bejaarde inwoners! Nee, toe sit ek my jong voet ferm neer.  More-oormore is iets gerek of geskeer en dan?  Hulle was maar bra bek-af oor hierdie pretbederwery, maar hulle het tog ingegee.  Plan B (waartoe alle partye betrokke ingestem het) was die laai van die battery met langsaan-buurman se laaier. Ek hoop en bid so dat die bakkie moreoggend weer aan die gang sal kom, want anders kom hier nog uitgawes en my begroting het nie plek vir hierdie tipe ding nie!

Nou ja, soms het mens maar 'n man nodig...al is hulle dan ook afgetree. 'n Man bly maar 'n man.