Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Tuesday, 31 May 2011

Hoe gaan dit met Boklammetjie?

Ek het dalk lanklaas ietsie persoonliks geblog. Dis my introvertisme. Wel, die wind het gaan lê en afstand is geskep. Dis nou die tyd om my groot gebeurtenis van die week te onthul. Ek het amper die werk se motor omgegooi! Ja, jy het reg gehoor en dit was beslis nie snaaks nie. Ek moet dit ook net duidelik maak - dit was nie my skuld nie. Dit het so gebeur...

Vrydagoggend, in die ysige koue, ry ek en die Corsa'tjie werk toe. Jakaranda FM speel lekker en bars heeltemal my bubble toe hulle met Survivor South Africa Maldeves se wenner praat. (Toemaar, ek sal jou dit spaar as jy ook, soos ek, droom oor die hele reeks kyk wanneer dit op Dvd beskikbaar is). Toegegee, ek weet nie regtig hoe ek verwag het om dit nie iewers te hore te kom nie...Ignorance dalk?

So, met die dag se hofsaak wat my kop besig hou, ry ek reguit oor 'n sirkel met die nodige draai-bewegings wat daarmee gepaard gaan. Toe ek die stuurwiel weer links draai vir die finale beweging, verloor ek heeltemal beheer en daai karretjie swaai 180grade om sodat ek en die vrou agter my se motors neus-aan-neus staan. Dit was asof die stuurwiel net nie gewerk het nie. Na 'n diens en parte-vervanging is die finale oordeel nog nie duidelik nie. Daar was niks fout met die stuurwiel nie en ook nie die bande nie. So, dalk was daar 'n oliekol op die pad. Ek weet nie.

Ek weet net dat ek aan die bewe gegaan het van adrenalien en dat ek toe nog moes werk toe ry (net soos 100m verder). Ek het parkeer met oë wat begin swem het in die warm voggies. Ek dink my arme kollegas dink teen hierdie tyd dat ek die mees emosionele meisie is wat bestaan! Dis net dat ek wraggies nie 'n nuwe motor vir die werk kan bekostig nie en dat ek dit so baie waardeer dat ek die motortjie kan leen! Dis ondenkbaar om die vertroue te breek deur 'n ongeluk te maak.

Maar motor en bestuurder het beide nou aangesterk en voel heelwat beter teenoor mekaar. Dankbaarheid lê in my hart, want die motor en ek is nie een beskadig nie.

O, en verder as dit gaan ek nie vertel nie. Hierdie is, after all, 'n publieke spasie.

(500) Days of Summer - review

"Moenie hierdie lees as jy onlangs aangeraai is om die fliek self te kyk nie."

Hulle vertel jou reguit, aan die begin al, dat die storie gaan oor 'n ou wat 'n meisie ontmoet, maar dat dit nie 'n liefdesverhaal is nie. Ek het hard probeer om die agtergrond reg te skets. En tog, as ek my weer kom kry, dan wil ek hê dit moet 'n roman wees met 'n gelukkige einde. Dis mos waarvoor flieks daar is - om ons om die bos te lei oor hoe maklik die liefde gebeur of te laat glo dat dinge mooi moet eindig vir die storie om 'n goeie een te wees.

So die storie flits vorentoe en terug in 500 dae van die jong man se te-doen-hê-met 'n pragtige dame met die naam, Summer. Sy is anders en glo beslis nie in die liefde nie. Hy weer, glo van kleins af in toeval en die liefde, ewige romantikus. Hulle beleef 'n wonderlike tyd saam en dan verdwyn sy uit sy lewe en hy beleef die dip van sy lewe. Sy werk as "greeting card" (is daar 'n goeie Afrikaanse woord daarvoor?) raak vir hom sinneloos en hy bedank na 'n groot uitbarsting/opstand teen die idee van kaartjies skryf vir mense wat nie weet wat om te sê nie. Hierna word hy gekonfronteer met die realiteit dat Summer 'n ring aan haar vinger het en begin glo het in die liefde. Dis vir hom so moeilik om te verstaan hoe haar opinie so drasties kon verander en dit nadat HY haar begin liefkry het. Tog gaan hy aan en begin sy hartsdroom van argitekwees na te jaag, geskend in sy geloof in die liefde. Onderhoud na onderhoud, totdat hy in die wagkamer 'n vriendelike meisie ontmoet met die naam, Autumn...

Dis minder goedvoel as jou deursnee romantiese komedie en baie meer realisties. Ons ontmoet mense, stap 'n pad met hulle, leer iets by hulle (soms ten koste van iets anders) en pas dit toe in 'n volgende stadium van ons lewens. Party mense het net 'n paar minute nodig om iets in jou hart te los, maar bly self nie in jou lewe nie. Ander wil weer langer saam met jou wees en beïnvloed jou langer.

Jy mag met my verskil, maar ek dink niks is toeval nie. Ons loop beslis die gevaar om iets mis te kyk, maar die iets gebeur nie sonder meer nie. Ons wil hê alles moet voordiehandliggend (vergewe my as dit nie reg gespel is nie) wees. Dit moet net gebeur. Dit moet "kits" wees, sonder moeite. Nee, jong, daardie tipe lewe bou nie karakter nie. As jy vir iets moet wag, waardeer jy dit meer wanneer dit kom! As jy iets self moes uitpluis, verstaan jy dit beter. Sal 'n huwelik hou wanneer daar gewag word vir toeval om in te gryp? Nee, wat!

Gelukkig is ek nie 'n gerekende liefdeskenner nie en frankly het ware liefde my nog nie te beurt geval nie, so neem my opinie vir wat dit is - 'n menslike opinie. 'n Goeie dosis geduld met 'n redelike hoeveelheid logiese denke en waagmoed, tesame met jou hart se roepstem? Klink vir my goed! Ek moet egter nog reg of verkeerd bewys word. God het sy perfekte tydsberekening!

Monday, 30 May 2011

Slaap

As ek so moeg-moeg en met half-toe oë in my bedjie klim en myself verdrink in die duvet, dan onthou ek met 'n glimlag my kamermaat van universiteitsdae se woorde: "Aaaah, dit voel nou net so reg! Nou is ek gelukkig!". Gewoonlik was dit ook na 'n lang swot-sessie of 'n dag se harde akademiese werk. Ek onthou hoe my ligpers beddegoed met die silwer sirkeltjies op vir my 'n simbool van "accomplishment" geword het. Ek kon nie daarin klim as ek nie die dag se swottings afgehandel het nie.

Dis okay as jy soms baie uitsien na daai slapie. Dis selfs okay dat jy soms bietjie vroeër as die "normale" (wie het in elk geval besluit wat is normaal?) mens van jou ouderdom, geslag, ambag of kultuur gaan slaap. Slaap is goed vir jou!

Dis nou gegewe die feit dat jy dan nou nie onrustige drome droom nie. Ag aarde, ek was alweer gisteraand swanger (uit simpatie met die artikel in die Finesse wat ek gelees het oor ongehude 15-jarige meisies)! Jy kan selfs daardie tipe drome droom, solank jy net verfris uit jou bed kan opstaan!

Ek is vreeslik jaloers op my suster wat in haar polisiedae met die moeilike ure, 'n skakelaar gekry het waarmee sy slaap kan aan- en afsit! Dis iets om te beleef! Maar, outjies, vanaand gaan ek nie sukkel met 'n geslapery nie. Die feit dat ek nog hier tik, is eintlik klaar verbasend. Dis nou net eers 'n lekker gebed en dan sal my moegheid my kom haal. Lekker slaap!

Slaap

As ek so moeg-moeg en met half-toe oë in my bedjie klim en myself verdrink in die duvet, dan onthou ek met 'n glimlag my kamermaat van universiteitsdae se woorde: "Aaaah, dit voel nou net so reg! Nou is ek gelukkig!". Gewoonlik was dit ook na 'n lang swot-sessie of 'n dag se harde akademiese werk. Ek onthou hoe my ligpers beddegoed met die silwer sirkeltjies op vir my 'n simbool van "accomplishment" geword het. Ek kon nie daarin klim as ek nie die dag se swottings afgehandel het nie.

Dis okay as jy soms baie uitsien na daai slapie. Dis selfs okay dat jy soms bietjie vroeër as die "normale" (wie het in elk geval besluit wat is normaal?) mens van jou ouderdom, geslag, ambag of kultuur gaan slaap. Slaap is goed vir jou!

Dis nou gegewe die feit dat jy dan nou nie onrustige drome droom nie. Ag aarde, ek was alweer gisteraand swanger (uit simpatie met die artikel in die Finesse wat ek gelees het oor ongehude 15-jarige meisies)! Jy kan selfs daardie tipe drome droom, solank jy net verfris uit jou bed kan opstaan!

Ek is vreeslik jaloers op my suster wat in haar polisiedae met die moeilike ure, 'n skakelaar gekry het waarmee sy slaap kan aan- en afsit! Dis iets om te beleef! Maar, outjies, vanaand gaan ek nie sukkel met 'n geslapery nie. Die feit dat ek nog hier tik, is eintlik klaar verbasend. Dis nou net eers 'n lekker gebed en dan sal my moegheid my kom haal. Lekker slaap!

Sunday, 29 May 2011

another one bites the dust!

Dit was vandag so 'n heerlike Sondag. Rustig en goed. Uiteindelik kon ek verlore slaap inhaal en kort voor 09:00 opstaan om RSG-kerk uit Witbank te luister. Dit was so kosbaar toe die eerste liedjie een van my gunstelinge, In die Hemel is die Heer, was. Veral gesien in die lig daarvan dat ek nie kon kerk toe gaan nie omdat my (eintlik die werk se) motor siek by die dokter is. Kerk was toe baie lekker. Die res van die dag ook, maar die lekkerste was my lekker laaaaang Bybelstudie-sessie.

Ek het besluit om Hooglied te lees, in Afrikaans en Engels. Dit fassineer my dat twee mense sulke mooi dinge van mekaar kan skryf. Ek is maar so bietjie soos my pa. Ons het elke aand Bybel gelees, maar wanneer Spreuke afgesluit is met die hoofstuk oor die wonderlike Spreuke 31 vrou, het ons sommer gespring na Jesaja. Hy het gesê ons kan dit op ons eie gaan lees. So, ek gaan nou nie ongemaklike paragrawe aanhaal nie. "Jy kan dit op jou eie gaan lees.". Tog hoop ek dat my oë ook eendag vir iemand soos duiwe sal wees. Dit kan ne lekker wees. Tog is die een ding wat my bybly, en wat ek in my belydenisjaar aanmekaar onderstreep het, dat mens nie die liefde moet wakker maak wanneer die tyd daarvoor nog nie reg is nie.

Dis nogal ironies dat een van my dierbare vriendinne juis vandag 'n kêrel ryker geword het en dit nogal op haar verjaardag! Ek moes seker snuf in die neus gekry het toe sy vir my bel hier laterig in die aand. So het haar tyd vir die liefde aangebreek en dit klink asof die tyd daarvoor reg is. Sy is so 'n spesiale mensie. Ek dink Spreuke 31 beskryf haar grootliks. Alles wat mooi is vir hulle verhouding. Dis nou (dalk nog) nie trouklokkies nie, maar hierdie uitganery is tog ook baie belangrik. Jong liefde! There's nothing like it. Jip, ek dink nie so nie, want daar lë my vriendin op haar wolkie en bel almal om te vertel sy het vandag 'n kêrel vir haar verjaardag gekry!

Saturday, 28 May 2011

Bibber-winter!

Ek is nou weer innig danbaar dat Blogger, my blog-fasiliteerder, 'n slag van my foon af laai! Ek mis dit sommer om hier te skribbel, en dit in die heerlike warmte van my bed. Pretoria is besig om ysig koud te word en my weerstand teen die koop van duur kettingwinkel-jasse af te breek! Die koue kruip in by my nek en vang my neus! So, dis nou tyd vir serpe en lae en lae klere. Gisteroggend het ek amper my vingers verloor so teen die koue stuurwiel!

Toe dink ek weer aan die dae van skelm hand-vashou op skool. Ek en my eerste (en tot op hede enigste) kêrel het so sy-aan-sy gestaan en hande vasgehou in een van ons se baadjie(blazer)sak. Op ons kerk se uitreik, Trap der Jeug, het ons span soms ook sulke lekker warm bondeltjies mense gemaak. Jinne, dit was lekker om die een in die middel te wees! Laasnaweek het ek en drie vriende net so lekker gepantser teen die koue deur hand-om-die-lyf te "pose" vir 'n foto. Mmm, het Dawid dan nie vir hom 'n jong vrou op sy oudag gekry om hom warm te hou nie? Kontroversie!

Gisteraand kom kuier my suster vir my en slaap die aand oor. Oudergewoonte, en omdat ek nie 'n oog toemaak wanneer iemand saam met my in die bed slaap nie (ek bekommer my dat my rondrollery die ander persoon sal wakker hou), maak ek vir haar 'n matrassie in die sitkamer reg. Nee wat, sê sy, vanaand moet jy maar jou "issue" sluk, want ek slaap by jou! Dis kwansuis darem te koud! Haai, julle, en was ek darem nou dankbaar vir my suster se ruggie toe daai koue ons begin slaan! Jy sal nie glo nie - ek het so lekker geslaap! Watse lepellê - rug-aan-rug werk net so goed! :)

Vanaand sal ek nou my eie hitte moet vind, nugter weet waar! Ek oorweeg om myself in die massiewe dubbelbed-duvet te kokon-rol en natuurlik, dik sokkies vir daai verste liggaamshoekies wat soms nie gehaal word met die bloedsomloop nie.

Ek weet nie wat jou slaapgewoontes is nie, maar ek hoop jy het genoeg komberse en kouse em serpe en warm sjokolade om van hierdie winter 'n snoesige herinnering te maak. En wees tog maar spaarsamig met die elektriese toebehore. Warm persoonlikhede en hardloop op een plek! En lê stil, want jy wil nie omdraai en vind dat die nuwe oppervlak yskoud is nie - so gaan kosbare warmte verlore!

Wednesday, 25 May 2011

Jy is jy en niemand anders kan dit wees nie

Ek weet nie of jy al 'n moeilike legkaart gebou het en dan, waneer jy die laaste stukkie wil insit, pas hy nie daar in nie.  Jy kan hom maar draai en draai en draai, maar hy hoort nie daar nie.  Hy het 'n ander plekkie waar hy moet wees, maar hoe om daai plekkie te kry, dis die vraag!

Dalk voel jy ook soos daai stukkie.  Ander mense het jou probeer inpas en uitpluis, maar kry jou nie geplaas nie.  Dan praat ek nie eens van jouself wat nie kan snap waar jy hoort nie.  Meer spesifiek praat ek van jou plekkie in die gesin...

Ek het nou die dag groot, diep hartsake met my tannie gaan praat en sy sê my toe 'n waar ding.  Die Here plaas mens in 'n spesifieke gesin MET 'N DOEL.  As jy dan nou die "ander" een is, dan is jy ook nodig.  En glo my mooi, jy is nie die enigste een wat dink jy is die anderster een nie.  Ek het al baie keer, op grond van wat ander oor my sê, myself in hul boksie gaan sit.  Groot nuus is, jy het beheer oor jou boksie.  Om die waarheid te sê jy het nie die boksie nodig nie, want daar is oorgenoeg tyd en ruimte vir verandering en ontwikkeling.

Hoe klink hierdie:  jy is 'n INFJ in Myers Briggs en daarom sal jy so en so optree in so en so situasie.  Of - jou pa was ook so!  Of - Hy is te 'n goeie mens, hy sal dit nooit doen nie (en dan wou jy eintlik, of jy dink nie dis so 'n uitgemaakte saak nie).  Maar my grootste probleem is eintlik nie wat mense van my sê nie (hoewel dit ook 'n probleem is).  Dis eerder hoe ek myself as gevolg daarvan in my kop beperk.

So, kom ons leer nou almal saam dat net die eie ek kan bepaal wie en wat elkeen is.  God maak ons uniek met gawes en talente en ons bou elkeen ons eie foute.  Ander het jou nodig vir wie JY is en wat JY kan beteken.  Jou manier van praat oor 'n gevoelige onderwerp werk dalk beter as iemand anders s'n, selfs al weet jy mense ervaar jou as baie diep en ernstig.  Die teenoorgestelde kan ook waar wees.  Jy is dalk nodig om iemand se moraal te lig, al dink ander mense dalk jy kan nie ernstig wees nie.  Jy sal jou plekkie raaksien.  God gee jou vlerke!

En nog 'n ding:  hoekom kan ons na die mooiste sonsondergang kyk en vrede ervaar oor God se skepping, maar na onsself in die spieël kyk en nie daardie selfde tevredenheid ervaar nie?  Jy is die kroon van God se skepping!  Laat dit so wees:  every creature unique in the song that it sings!  Blommetjie, bytjie, JY'TJIE!  :)

Sunday, 22 May 2011

Dankbaar

Ek is dankbaar vir Mango lugdiens se vliegkaartjie specials en die vlieënier wat mooi kan vlieg.  Ek is dankbaar vir twee vriende wat geleenthede raaksien en dit met albei hande aangryp.  Ek is dankbaar vir Facebook en hoe dit my en my vriendin help om 'n naweek te beplan.  Ek is dankbaar vir opgewondenheid.

Ek is dankbaar vir die werk wat my 'n motor leen en dat ek geld verdien om petrol daarin te gooi.  Ek is dankbaar dat petrol in 'n motor se tenk jou na plekke kan neem.  Ek is dankbaar dat daar plekke is waarheen mens wil gaan.  Ek is dankbaar vir Engen se garage en buns met kaas, tamatie, komkommer, koue vleis en vrugte.  Ek is dankbaar vir kamera's.

Ek is dankbaar vir paaie, al het hulle slaggate in.  Ek is dankbaar vir veilige bewaring op paaie.

Ek is dankbaar vir Potchefstroom se kampus en dat 'n goeie vriendin daar kan swot (die wêreld sal ook nog dankbaar wees sodra sy daardie kennis begin terugploeg).  Ek is dankbaar vir Afrikaanse musiek en dansplekke en die "Wille olifant".  Ek is dankbaar vir studente-afslag.  Ek is dankbaar dat verskillende ouens verskillende style dans.  Ek is dankbaar vir be-there-jokes.

Ek is dankbaar vir die bordspeletjie, Settlers of Catan en vir sy uitbreiding, Cities and Knights.  Ek is dankbaar vir 'n vriendin se gawe gesin wat hul huis vir ons laat oopstaan.  Ek is dankbaar vir staproetes met rooibokkies, veld en 'n uitsig.  Ek is dankbaar vir diep gesprekke en 'n braaivleisvuur.  Ek is dankbaar vir kampplekke se swembaddens en bom en duik daarin.  Ek is dankbaar vir swak grondpaaie en geo-caches wat nie gevind word nie.  Ek is dankbaar vir die turksvy in die plek van geo-caches.  Ek is dankbaar vir die interessantheid van 'n spinnekopweb.

Ek is dankbaar vir koffie en koek en kielie-speletjies.  Ek is dankbaar vir moeilike boublokkies en om te sien hoe ander dit geniet.  Ek is dankbaar vir verloor in 30 Seconds, maar nog meer vir lag oor verkeerde verduidelikings en antwoorde.  Ek is dankbaar vir 01h00 in die oggend gaan slaap en vir die volgende oggend se alarm.  Ek is dankbaar vir kos, maar nog meer vir energie.  Ek is dankbaar dat ek vriende het wat kitaar kan speel en daarmee praise and worship.  Ek is dankbaar vir die Vaalrivier se vertel van ons Vader se Skeppershand en Hadida's se raas. 

Ek is dankbaar vir Stiltetyd en God se stem.  Ek is dankbaar vir gebed en die geleentheid om met God te praat.  Ek is dankbaar vir lewe en dankbaar vir wees.  

Ek is dankbaar vir kosmaak en nog meer as dit wanneer dit lekker smaak.  Ek is dankbaar vir intellektuele gesprekke en vir nonsens praat.  Ek is dankbaar vir roomys en koffie en tee.  Ek is dankbaar vir sagte matte en kussings en komberse. 

Ek is dankbaar dat ek 'n wonderlike naweek met drie fantastiese vriende kon spandeeer.  Ek is dankbaar vir hoe ons mekaar bemoedig, lewe in mekaar se lewens spreek en ons wêrelde met mekaar kon deel.  Ek is dankbaar vir die sagte kyk in my liewe vriendin se oë wanneer sy kyk hoe my vriende kitaar speel en sing.  Ek is dankbaar vir my vriend se toe-mond glimlag.  Ek is dankbaar vir die ander een se oopmond-lag.  Ek is dankbaar vir elkeen se uniekheid.

Ek is dankbaar vir totsiens-drukkies (en drukkies oor die algemeen).  Ek is minder dankbaar vir die knop in my keel en die lastige traan in my oog op die lughawe as ek alleen terugstap motor toe.  Maar dan...dan word ek weer dankbaar dat God my beste Vriend is en dat ek met hom oor my knop en my traan kan praat en dat Hy altyd, altyd daar is.  Ek is dankbaar...

Monday, 16 May 2011

17 Mei 1951, 60 jaar later

In 'n boere-bazaar preek het ons dominee een keer gesê dat ons moet onthou dat ons geliefdes, dié mense wat die heel naaste aan ons is, nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Hulle is in die eerste plek Syne en in die tweede plek 'n geskenk van Hom aan ons. En ek moet sê dat ek dit so maklik vergeet. Hulle is tog baie veiliger in ons Hemelse Vader se hande as in myne!

Môre word my lewegewer, my ma, 'n ryp 60 jaar oud. Dit was nie die maklikste 60 jaar wat ek my kan indink nie en tog, weet ek, dat God daardie 60 jaar van haar lewe in Sy hand hou en elke glimlag en traan van haar koester. Daar sal nie 'n haar (wat al hoe meer grys word) van haar kop af laat val, sonder dat Hy daarvan weet nie. Daar sal nie 'n woord aan haar gesê word wat Hy nie hoor nie. En Hy sal weet wanneer iemand iets goeds vir haar doen.

My ma het een van die sagste harte waarvan ek weet - sy word van die kleinste dingetjie gelukkig en ook van die kleinste dingetjie ongelukkig. Sy is ook sterk! Sy lag so maklik met haar lagplooi-glimlag. Sy het haar eie manier van liefde gee - ek kan dit nie eens beskryf nie, maar moenie 'n fout maak (soos ek al baie in my lewe gefouteer het) oor die feit dat dit wel bestaan nie. My ma het nie iets slegs van enige iemand te sê nie en sal altyd ander bo harself stel. Wat 'n voorbeeld!

My wens vir haar lewe vorentoe is dat sy waardeer sal word, lank gespaar sal bly, God se liefde sal ervaar, vreugde uit die lewe, 'n selfbesef dat sy kosbaar is en genoeg selfvertroue om elke dag te pak. Mag die beste jare nog voorlê, Mamma!

Friday, 13 May 2011

Dogtertjies

Sugar and spice and all things nice - that's what little girls dream of. Ek slaap vanaand in 'n huis waarin drie klein dogtertjies rondhardloop voor bed-toe-gaan-tyd. Te oulik kom hulle een-een in hul pienk pajamas en uitgekamde blonde haartjies om nag te sê. Groot-oog, onskuldig, spontaan en gelukkig.

Lag is maklik en huil ook, maar lag troef huil en onophoudelike giggel maak hul hartjies gelukkig. Wanneer ek die sjokolade 'n skip gee, vat een van hulle sonder om te dink, nonchalant 'n blokkie en sit dit woeps in haar mond. Hul grootste uitdaging is om hul oom te wen met snap of om sy kaart-toorkuns te toets. Die een wil my neus met die slaaitang knyp, die ander een vertel my breedvoerig van haar tand wat gewissel het en die tandmuis wat 'n gaatjie in sy sakkie gehad het en haar tand op haar ma se spieëlkas laat uitval het. Die ander dogtertjie gaan wys my waar my kamer is, maar vertel my nog voordat ons daar is dat daar 'n sjokolade op my bed wag!

Ai, dis so lekker wanneer die lewe bestaan uit pienk en wit waas, lag en gesels en prinses-stories. Die dae van bed toe gedra word en duisende drukkies. En dan verstaan mens dat 'n ma nie wil hê haar dogtertjies moet grootword nie. <3.

Tuesday, 10 May 2011

Bergklim

Hallo geliewe blog-leser. Jy is voorwaar geliefd, hoor! Soms wonder ek of ek darem altyd iets te skryf sal hê en dan onthou ek weer 'n lekker oomblik of iets wonderliks gebeur en dan skryf ek maar weer.

Jy sal moontlik weet dat ek so paar weke terug huis toe, plaas toe, was en wat 'n voorreg. Ek moet sê dit was wel 'n lang rit en ek en my ousus was redelik lam en tam. Ons het 03h30 opgestaan en is vertraag deurdat 'n petroljoggie vir ons 'n papwiel gegee het. Ja, regtig, nadat ons vir hom gevra het om die bande na te gaan. Verder het ons ook padwerke gekry dat dit goed gaan. Ousus is een met 'n slaapskakelaar - sy sit hom af en dan slaap sy, of jy nou Bok van Blerk kliphard aangesit het of nie. Gewoonlik sit ek dan byvoorbaat die musiek kliphard aan, want wakker bly is die enigste opsie op ons land se paaie.

So op die land se paaie en terwyl ousus in 'n rare oomblik wakker is (o, wag sy het bestuur!), vertel ek haar ek wil die massiewe berg op die reservaatgronde wat grens aan ons plaas gaan klim. Nou, een ding moet jy van my suster weet - sy is die definisie van energie en vat nie nee vir 'n antwoord nie. So, toe daai idee haar idee word, toe is dit nie meer my idee nie. Dis toe ook sommer geskeduleer vir net die volgende oggend. Nie heeltemal my bedoeling nie, maar so 'n geleentheid kom nie elke dag nie.

Redelik vroeg die volgende oggend stap die twee susters, 'n trop van vier skaaphonde en ook 'n Jack Russel die massiewe berg tegemoet. Vir eens in my lewe was ek meer energiek, want my sus het olik gevoel. Helaas kom ons bo en begroet die mooiste-mooi uitsig oor Namakwalandse koppies ons. Dis net natuur waar jy kyk - kokerboom, taaibos, bobbejaan kers, bosse en graniet-koppies. Dit was allergie-pille vir die stadsinus. En wraggies, daar was ontvangs daarbo, so sussie het haar kêrel gebel.

Halfpad teen die berg af, begin ons die honde te roep. Dié troepe is na 'n rukkie toe ons die wêreld bewonder het op 'n dassie jag. Ons roep en fluit en gil, maar dis net die kranse wat antwoord gee en die honde wat blaf vir iets. Dit het my moeë paar bene gekos om terug te klim en letterlik twee van die honde weg te sleep van 'n skeer met 'n dassie in! Ek was omtrent 'n kwaaitjie met daai ongehoorsame honde.

Tog was een van die oulikste oomblikke ook te danke aan 'n hond. Ons moes die honde oor die draad tel - ek gee aan vir my sus. Natuurlik moes ons die springende jonger honde eerste oortel. Terwyl ek die laaste jong hond aangee, skuifel-skuifel ons oudste (en slimste) hond nader tot hy in die perfekte optelposisie staan! Te kostelik. So asof hy sy beurt afgewag het en nou gereed is om opgetel te word. :)

En dis hoe die eerste dag op die plaas begin het - met 'n uitputtende berg en 'n half klim en 'n rowwe hoeveelheid krapmerke op my bene!

Monday, 9 May 2011

En toe herken ek iemand op straat!

'n Ruk gelede het ek in Menlyn mall rondgeloop en staar na die massas mense. Ek het my verwonder oor die feit dat ek nie één van die menigte geken het nie en by myself gewonder hoe lank dit sal vat om hier te woon en werk voor ek eindelik mense sal raakloop wat ek ken. Dit klink seker na 'n depressiewe gedagte, maar dit is hoe alleen ek soms gevoel het.

In die afgelope week, nadat daardie gedagte al lank terug in my geheue was, loop ek toe wraggies by 4 verskillende geleenthede kennisse raak! Ek wonder of hierdie mense nou dink ek is oordadig vriendelik, want ek het omtrent oorgeloop van blydskap! Dis die klein dingetjies waarvoor ek baie dankbaar is en wat my laat besef dat daar deur genade in die afgelope paar maande vordering gemaak is in meer as my bestuursvernuf en kennis van die stad. Ek het darem ook so bietjie genetwerk en gawe, gawe mense ontmoet.

Mettertyd sal ek seker ook 'n klein gemeenskappie hê binne die grote stad. Die stad kan nie vir altyd onbekend en groot bly nie. Die stad sal niks vir my plattelandse maniere en hart kan doen nie en hopelik ook nie die plat pratery nie, maar ek is vas oortuig dat hier nog hordes ware vriende en goeie besigheidskennisse rondloop - ek ken hulle net nog nie (almal) nie.

Vanaand sal ek met dankbaarheid in my hart my kamerlig afsit en weet dat elke dag hier my liewer vir die Transvaal maak en ek het vrede daaroor. Op die ou end is dit nie waar jy is nie, maar die feit dat jou Beste Vriend saam met jou daar is en jou seën met 'n ondersteuningsnetwerk.

Saturday, 7 May 2011

Waagmoed

Dit is ys-yskoud! Nou nou het dit so 'n bietjie gereën en 'n ligte windjie het gewaai om die temperatuur net nog 'n bietjie laer te help. En ek? Ek lê tog te lekker knoesig in my bedjie. Alles het begin toe my baas my gister inroep na haar kantoor en my vra om die deur toe te maak...

Dis nie ongewoon of snaaks wanneer daar geslote deure in 'n prokureursfirma is nie. Dinge en verhoudings en besluite van kliënte is konfidensieel! Dis toe sy sê ek is in groot moeilikheid dat ek begin wonder het wat aangaan. Dis toe 'n gratis "loft" in 'n ontspanningsoord met plek vir ses mense vir 3 aande! Ja, ek kon dit self nie glo nie. Natuurlik sal ek gaan! Dit was wel 'n effense probleem om mense te kry, maar kort voor lank was die Corsa gelaai en met sy neusie oppad weg van Pretoria af. Kan almal asseblief saam glimlag? :)

Ek het besluit om die dogtertjie in my haar sin te gee en ten spyte van baie oop beddens, die boonste van die stapelbeddjies te annekseer. My niggie lê doer ver onder en die getroude paartjie wat saam gekom het, het natuurlik die private slaapkamer.

Van rustigheid in die mooiste fluite van 'n klompie verskillende voëls tot die avontuurlustigheid wat ek al vergeet het hier binne-in my hart. Vanmiddag het ons 'n entjie gaan stap tot by 'n waterval met 'n rotswand waarvanaf mens kan spring tot in 'n poel wat bodemloos verklaar is. Ons kies toe 'n redelik beskaafde hoogte, wat volgens my so 7 meter hoog is. Niggie wil nie eerste spring nie en ook nie saam met my nie. My beurt was dus die eerste beurt. In die oomblikke waarin dinge soos jou testament, die opkomende moedersdag en die metode vir mond-tot-mond asemhaling deur my kop gegaan het, het bietjie van my rasionaliteit my verlaat. Ek het eers 'n woeste hardklop ervaar en toe benoude pre-spring gilletjies gegee en rondgetrippel soos 'n graad een balletmeisietjie voor haar eerste eksamen. Uiteindelik het ek besluit om maar net nie meer daaroor te dink nie, my oë toegemaak en daai geloofsprong gemaak. Aaaaaaahhhhh! Splash! "Ek moet boontoe! Ek moet boontoe!". Hyg! Jay! Yskoue water. Wat 'n gevoel van prestasie en vreesoorkoming!

Daar moes ek toe 'n ewigheid ronddobber en wag vir my niggie om deur dieselfde gedagtegang te gaan. Uiteindelik het ook sy die ding gedoen en die twee van ons het druipnat, maar nie druipstert nie terug geklouter teen die rotse uit.

A day lived well!

Thursday, 5 May 2011

Tel jou seëninge een vir een

Gister was nou weer 'n moeilike dag in die frustrasie-departement, so ek moes kliphard dink oor alles waarvoor ek dankbaar is en my seëninge tel.  En toe ek dit eers gedoen het, kon ek met nuwe perspektief sien dat die onbeantwoorde telefoonoproepe en dinge eintlik gering was.

Sien, want ek het gister 'n selgroep gevind na maande se hunkering na 'n geloofsfamilie hier in Pretoria.  My selleier bel my (van 'n onbekende nommer, natuurlik) toe om vas te maak oor volgende week se tye en so aan.  Ek was eers baie verward met die vriendelike mens wat met my praat asof ek haar moet ken, maar toe kom die dankbaarheid en vreugde.  Volgende Woensdag gaan hierdie meisie vir haar eerste selgroepontmoeting en sy is opgewonde!

Dan is daar die wit Corsa Lite met my naam op.  Hy kort nog net 'n bietjie poetswerk en dan is hy myne!  Die Bantampie was goed en reg en mooi, maar dis nou eers verby.  Die era van die wit Corsa Lite het so saam met Catherine die Hertogin van Cambridge aangebreek.  Mag dit 'n goue era wees!

Die ander groot dankbaarheid is teenoor die ketel in die kantoor.  Met die nuwe vroeg-opstaan gewoontes het die behoefte na koffie drasties toegeneem.  Ek weet nie regtig of dit help nie, maar nietemin is dit IETS wat ek kan probeer om die vallende ooglede in toom te hou.  Ons het die jongeling in die kantoor geboelie om vir ons koffie te maak!  Arme ding het ook nie 'n katse kans nie, want hy is die enigste man op kantoor!  Sal maar moet toesien dat hy weer eendag bietjie bederf word met 'n koekie of iets.

Sjoe, en Facebook en Watsenaam wat dit ontdek het, is beslis een van my gunstelinge!  Ek weet nie hoe my lewe sou wees as ek nie gedurig boodskappies kon skryf of ontvang en foto's van vergange dae kon bekyk nie.  Oe, en ewe skielik onthou ek nou daai breakfast wrap waaraan ek so voor my rekenaar geknibbel het!  Mmm!  Dankbaarheid strek ook na my knus blyplekkie, die nuwe drafroete verby bietjie natuur, my geduldige base, my fantastiese kerk, die feit dat ek kon huis toe gaan vir 9 dae, my vriendin se troue, goeie gesondheid en die beste vriende.  ENSOVOORTS...ek laat sak my kop in skaamte oor my ongeduld en frustrasie, want beide is 'n keuse.

Tuesday, 3 May 2011

Good morning, South Africa!

Jinne, span, toe is ek darem vanoggend dou voor dag uit die vere om te Carpe Diem!  Eintlik het ek hierdie leefstyl verandering in gedagte en vanoggend was die oggend om dit te beproef.  Dit behels 'n oggend gym-sessie sodat ek meer kans kan kry om die ou drafgewoonte weer skop te gee.  Hier in die Noorde raak dit so vroeg in die "aande" donker dat die tyd net na werk eintlik maar die enigste tyd is wat ek sal kan draf.  Ek sien 'n 10km wedloop in die vooruitsig.

So, ja, ek het 05h00 wakker geword van die wekker en myself uit die bed gesleep.  Alles het eintlik goed gegaan, behalwe dat ek alweer die petrolprysstyging gemis het en my tenk was leeg!  Die eerste vulstasie se kaartmasjiene het nie gewerk nie en so moes ek toe maar bietjie tyd mors en gevolglik 'n paar minute korter as beplan gym.

Die gym was verbasend besig.  Dis nou nuwe gesigte, nuwe spiere, maar dieselfde atmosfeer.  En wraggies, my hottie by die gym was ook daar in sy volle glorie.  Haha, toemaar, julle hoef nie oor my bekommerd te wees nie.  Ek het maar net nou die dag die ruiker by die troue van die jaar gevang!  :)

In elk geval, hier sit ek nou, betyds vir werk en opgedress vir die hof-storie later.  Hoop jou dag het skop!  Ek is seker ek gaan iewers vandag 'n energie tekort ontdek, maar ek moes probeer.

Monday, 2 May 2011

Hier kom die bruid!

Ek is terug in Pretoria en die lewe gaan aan. Dis môre daardie dag waarna almal so opsien, maar ons nasie moet darem maar weer aan die gang kom.

So op Werkersdag moet ek gaan inkopies doen. Daar is juis vanoggend droë pap geëet omdat ek nie melk gehad het nie. Dis juis voor die melkrak wat ek toe aan Saterdag se troue van 'n dierbare skoolvriendin dink, want haar man is 'n melkboer van die Vrystaat.

Ek hoop regtig dat ek nooit na so baie troues sal gaan dat dit nie meer vir my spesiaal sal wees nie. Saterdag se troue was wel, en dit het my hartsnare geroer op 'n mooi manier. Kyk, ek en nog 'n skoolvriendin sit toe langs mekaar in die kerk en dit was nie lank nie of ons haal maar die tissues uit en vee subtiel oor die ooghoeke.

Deur dit alles het die bruid en bruidegom my opgeval as twee pragtige kinders van God, mooi van binne en van buite. Beginselvas en sterk geanker in hul geloofshawe.

Die tweetjies het mekaar se oë kort-kort gevang en dan is daar geglimlag. Mens kon ook sien dat die dominee hulle goed ken en dat hy geen besware het om hulle te trou nie. En daar bring die bruid se susterskind-seuntjie die ringe en hardloop halfpad by die preekstoel op voor sy ma hom vang. Die twee doen hul I do's, kry mekaar se ringe, teken die register en word bestrooi met confetti.

Dalk is dit vir iemand van buite net nog 'n troue, met die gewone dinge wat gebeur. Vir my was dit onbeskryflik kosbaar om daar te wees en die liefde te sien wat God gemaak het en wat Hy nog lank sal seën. Hy het die huwelik ingestel as 'n heilige eenheid en dis wat ek Saterdag gesien het. Dit was maar net die begin van 'n kosbare huwelik waarvan die beste nog voorlê. Dis my gebed dat hulle hierdie huwelik met God sal geniet en vir altyd sal eer.

O, en ek is amper wind-uit gegooi met die ruiker! Ek het nie 'n keuse gehad of ek dit wil vang of nie!