Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Monday, 17 July 2017

Mielies!

Een van die mees hartverskeurende dinge wat ek al ooit gesien het, was ‘n brandmaer skaap wat se lyf te swak was om sy kop regop te hou.  Die moeite om sy kop te probeer regop hou het hom uitgeput en laat bewe.   Die oggend was hy nog daar en die middag was hy weg, een met die droë grond waar daar geen kos vir hom was nie.

Tans is dit weer baie droog in Namakwaland.  Dié semi-woestyn deel van ons land is afhanklik van sy wintterreën.  Hoewel die winter nou al verby halfpad is, het die reën nog nie gekom nie.  Boere en diere kry baie swaar.  Nie net is daar ‘n tekort aan kos vir die diere nie, maar die blommeprag wat einde Julie, begin Augustus, veronderstel is om uit te breek, word ook nie verwag nie.  Die Namakwalandse blommeseisoen is ‘n groot ekonomiese inspuiting vir sy mense.  Toergroepe kom spesiaal om te sien hoe die wêreld transformeer in ‘n kleurvolle gousblom, gansogie en vygie-paradys. 

My pa het een keer gesê dat boerdery in Namakwaland eintlik maar ‘n dobbelspel is.  Jy vat ‘n kans en hoop dat dit gaan reën.  Dit is waar woorde.  Van tyd tot tyd gaan die mooie Namakwaland gebuk onder droogte.  Nie elke jaar is ‘n goeie jaar nie.  Ons, wat daar woon of gewoon het, weet dit.  Wat my pa ook gesê het, is dat hy nie kan insien hoe enige iemand ‘n boer kan wees en nié geloof in God het nie.  Sonder geloof kan jy nie boer nie. 

Ons bid vir reën op die plaas.  Ons wag dat God Sy hand sal oopmaak en dorheid in kleurvolle hoop sal verander.  Dit is wat ons ken.  Ons bid en wag.  Vir reën.  Ons sien nie die oplossing in iets anders nie.  Ons fokus binnetoe.  Boer bel buurman en soek vertroosting oor die druppels wat wegbly en die diere wat kwyn.

Tot God ons ‘n week terug verras het met ‘n nuwe perspektief, ‘n ander hoek – boere uit Reitz in die Vrystaat lewer ‘n vrag mielies af op ons voorstoep en vra slegs ‘n minimale prys vir aflewering.  Hier waar ek, suster van ‘n boer wat moedeloos raak, sit en die video’tjie bekyk, raak ek emosioneel. 
In a world where you can be anything, be kind.

‘n Vriend van my pa (en ‘n skoolvriendin se pa) bedank die weldoeners op die video:  “Die môre sal draai.  Dan gaan dit weer met ons goed. en dan sal ons kyk wat ons vir julle kan doen.”  In ‘n paar eenvoudige sinne sê Oom Boetie baie dankie en vat hy ‘n stukkie Bybelse dissipline saam vir ons.  Ek sê dankie vir Oom se mooi voorbeeld.  Die kinders van Namakwaland kyk en sien raak.
“Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” – Jesus in Johannes 13:35. 

Ek sien die liefde in hierdie aflewering en ek wil hê die wêreld moet dit nie mis nie.  Hierdie is ‘n daad van dissipelskap.  Dit is om weg te fokus van jouself en jou eie probleme , iemand anders se nood raak te sien en jou vermoë om in ‘n klein mate te kan help, aan te bied. 


Boere van Reitz, baie dankie dat julle na my broer en ander boere omsien op ‘n manier wat ons as familie nie kan nie.  Ek het ook eintlik nie woorde nie, maar  julle maak my bewus van my verantwoordelikheid teenoor my medemens.  Dankie, Jesus, vir hierdie duidelike boodskap van liefde en dankie vir mense wat dit regkry.

Tuesday, 23 August 2016

Plek vir meer


‘n Kamer.  Dit kan soveel dinge beteken.  ‘n Vloer, dalk bedek met ‘n mat, vier mure, ‘n deur of twee, ‘n venster, ‘n dak, ‘n lig, ‘n foto teen die muur.  Jou plekkie van privaatheid, waar alleen-trane weggehou word van mense wat vrae vra. 

Die mure word jou vertrouelinge wat nie ‘n woord verklap of ‘n oordeelskyk gee nie.  Hulle vra nie uitvis vrae nie en bied nie leë woorde aan nie.  Dis jy en jou naakte eerlikheid en jou gebede wat verby die dak moet kom tot by jou enigste Troos. 

In die fliek, Room, leer ‘n ma vir haar seuntjie dat die kamer waarin hulle woon die hele wêreld is.  Daar is niks ander nie en wat op die TV is, is alles net prentjies.  Kos kom deur “magic” by hulle.  So hy leef in hierdie kamer en dit is sy wêreld.  Hy ken nie ruimte nie, maar ken woorde soos boom en muis en reën.  Vir hom is dit net idees.

Vir sy ma is dit ‘n manier om haar werklikheid van aanhouding deur ‘n wrede man, aan haar seun te kommunikeer as ‘n gelukkige werklikheid.  Uit haar tronk skep sy vir hom ‘n hawe en doen sy eintlik baie goed om hom te beskerm..

Maar dan begin die droomwêreld nie meer heeltemal sin maak in die seun se vyfjarige brein nie.  Wanneer sy ma vir hom van die regte werklikheid vertel, van die anderkant van die kamer, wil hy dit aanvanklik nie glo nie en sê hy dat hy nie van die storie hou nie, maar omdat dit die waarheid is, begin dit sin maak en aanvaar hy dit.

Hulle werk ‘n plan van ontsnapping uit.  Hy word as ‘n lyk in in ‘n mat opgerol, agterop ‘n trok gesit en moet dan uitrol, weghardloop en hulp kry.  Hy is bang.  Hy ken nie mense nie, ken nie ruimte nie, weet nie hoe om te verduidelik waar sy ma is nie, maar skielik is die wêreld aan sy voete en breek ‘n nuwe lewe oop.  ‘n Angswekkende een, maar met soveel meer fasette en wonderlikhede as waaraan hy gewoond is.

Hy leer trappe klim, maak ‘n vriend, kry ‘n hond, speel met Lego’s, skop ‘n bal.  Dis baie om in te neem en moeilik om vyf jaar se onkunde in te haal, maar hy doen goed.  Sy ouma, oupa en mamma help hom om te verstaan en probeer om nie te veel druk op hom te sit om sy nuwe wêreld te verstaan en waardeer nie.

Dan wil hy teruggaan na die kamer en sien hy vir die eerste keer hoe klein dit eintlik was.  Dis moeilik vir sy ma, want dis ‘n herinnering aan haar grootste seer, maar vir hom was dit tot onlangs sy werklikheid wat hy verstaan het.  Dan groet die seuntjie elke item in die huis en loop weg…die toekoms in…vry, soos ‘n skoenlapper uit ‘n kokon.

Die kamer se deur is wawyd oop en nie meer alles nie.  Dit was ‘n toevlug, ‘n ontwikkelingstadium, goed vir ‘n rukkie.  Maar nuwe avonture met nuwe vlerke lê voor.  Blomme om op te sit, plekke om te sien, omgewings om te versier met die kleure van jou skoenlaper-vlerke…

“Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.  Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk indwing nie.” – Gal 5:1

Dis okay om in ‘n kokon te wees vir ‘n rukkie…maar die nie jou uiteindelike roeping nie.  Spin jouself toe in daai tyd vir genesing, maar wees opgewonde oor jou ooievaarsvlug na die wêreld van moontlikhede.

Sunday, 20 December 2015

Daar diep binne

Sê nou maar hoe dit met jou gaan het afgehang van die waarheid en bemoediging wat jy van God SELF af kry (deur tyd in gebed, in die Woord, in die natuur, in lofprysing en aanbidding, in luister na Sy stem),wat sal jy antwoord as iemand jou weer vra:  "Hoe gaan dit met jou?".


As iemand my vra hoe gaan dit met my, weeg ek eers die persoon.  As dit 'n kassier is of iemand wat ek glad nie ken nie, dan gaan dit altyd goed en met hulle?  As dit iemand is wat ek ken, maar ek ervaar nuuskierigheid in plaas van ware belangstelling, hardloop ek na die naaste lekker gebeurtenis en vertel dit gaan goed, want ek het onlangs sus-en-so gedoen.  Ek probeer eerlik en geloofwaardig wees.  As dit iemand is wat naby toegelaat word, sal ek eerliker wees en sê hoe, ten spyte van sus-en-so wat ek regtig geniet het, dit eintlik nie so goed gaan nie.  Op die ou end, as ek alleen is in my binnekamer, is die waarheid egter daar om my vierkantig in die oë te kyk.  Koud.  Eerlik.  Skokkend.


Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.  Dis mooi en ware woorde wat ek in 'n liedjie vir my driejarige kiddies leer.  Dis integraal tot ons welstand.  Dis nie al nie.  Wat help dit jy lees jou Bybel en bid, sonder die hart van werklike aanbidding en "awe"? Wat as daar ook ander maniere is, soos om tyd te neem om stil te word, of jou radio af te skakel en doelgerig te dink oor waarheen jy oppad is en wat jy daar gaan doen?  Kan dit eintlik altyd goed gaan?  Kan God my Sy uitsig op al my "issues" gee?


Soms kyk ek na my slaapkamer, my binnekamer, en sien dis deurmekaar.  Ek het die nare gewoonte om, as ek moeg is, alles te doen om so gou moontlik in my bed te lê.  Horisontaal.  Dan doen ek net die nodige, borsel tande, was gesig, trek slaapklere aan, gooi klere op die grond, los papiere onordelik op my lessenaar, vou nie wasgoed op nie en more oggend spring ek hekkies tot by my badkamer.  En eintlik is ek 'n netjiese mens wat hou van orde!


Ek skep my eie wanorde (waarvan ek nie hou nie) en ongemak en dan wonder ek wat sê dit van my gees in so 'n besige tyd.  As ek eerlik is, sien ek dan ook onklaargemaakte denke, gedagtes wat nie gesuiwer is nie, leuens wat nie in die asblik is nie en onrustigheid wat nie by God gelos is nie.


Hoekom sal ek dit toelaat?! 


Ek is nie 'n kenner op die gebied van God se stem hoor nie.  Inteendeel, ek het soms my bedenkinge oor of ek die vermoë het.  Wat ek wel weet, is dat Hy met my WIL gesels oor al die onordelikheid in my hart.  My hart, my gees, is waarin Hy belangstel.  Hy wil hoor wat ek droom en besluit.  Hy wil saam met my opgewonde wees, huil, lag, troos.  Hy wil hoor van onsekerheid en al my vrae onder Sy opdrag en wil plaas.  Party dinge wil Hy namens my dra omdat ek te swak is.  Hy wil Homself aan my openbaar (soos Hy wel soms doen wanneer ek mooi luister en Hom kans gee).


Hy wil ook DIREK met my praat, nie met iemand wat ek dink goed genoeg is om Sy stem namens my te hoor nie.  Ek het Hom gevra om in die vakansie, elke dag, vir my een waarheid te gee.  Dis 'n volle maand van waarhede uit God se mond.  Dit het soveel potensiaal...as ek luister en bid en intensioneel is daaroor om nie die maklike pad te vat en te ignoreer wat my pla nie.  As ek net rou eerlik voor my Skepper staan en opreg vra vir Sy waarheid.


Ek ken van moedeloos wees en vrae sonder antwoorde.  Ek ken van seer wat nie wil weggaan nie.  Ek ken die herhaardelike pad wat mens moet loop om te vergewe.  Ek weet hoe moeilik dit is om soms aan te gaan as jy nie jou eie pad gekies het nie, maar nou daar moet loop.  Dit is nie maklik nie.  Maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat my beste kans is om saam met God al hierdie dinge te doen.  He can turn mourning into joy.  He can heal.  He can give piece, love, more tolerance...  Strength will rise as you wait upon the Lord.


Dit glo ek.

Sunday, 13 September 2015

Melia

Melia,


Jy moes pragtig gewees het, want God maak net mooi.  Alle dogtertjies is mooi en het spesiaal binne hulle ingebed. 


Ek het so 3 maande terug van jou gehoor.  Dit was 'n groot geheim.  Jou oom het my van jou vertel.  Jou ma-hulle het uitgevind hulle is swanger met jou, maar wou nog eers wag met die nuus tot jy bietjie groter was. 


Ek het begin dink oor jou - of jy 'n seuntjie of dogtertjie was en hoe jy sou lyk. Hoe sou jy almal se lewens verander...veral jou mamma en pappa s'n.  Jy was van die begin af 'n goeie gedagte.


Toe het ons geskrik, want jou mamma het begin bloei.  Ons het gebid en jy was veilig om verder te groei.  Hulle het erg opgewonde begin raak en op Facebook gedeel dat jy verwag word...jou mamma het 'n foto geplaas van jou hondeboeties wat 'n swangerskapsboek "lees". 


Toe vind hulle uit jy is pienk...ooo, die opgewondenheid.  Jou 4D scan.  Perfek tot die laaste selletjie toe.  En jy het 'n naam gekry. 


'n Week terug het jou mamma kontraksies begin kry.  Jou oupa het gebel om die nuus oor te dra.  Ons het weer hard gebid.  Ons wou jou so graag binne hou.  Dinge het gestabiliseer en ons was verlig.  'n Dag later het ons weer groot geskrik, want jou mamma het weer kontraksies begin kry.  Jy het glo jou beentjies opgetrek en 'n groot wonder het gebeur.  Jy het binne gebly.


Ek het geen idee nie, maar ek dink jou mamma en pappa was baie bekommerd en baie emosioneel.  Jou mamma moes bedrus doen vir die res van haar swangerskap.  Jy, op 22 weke, moes nog baie groei.  Dit was 'n rowwe week, maar dinge het okay gelyk.


Jy sal nie glo hoeveel mense wat nie jou mamma of pappa ken nie, het vir jou en vir hulle gebid.  Dis hoe jy 'n horde mense bymekaar gebring en herinner het aan die krag van gebed.  Jy weet dit nie eens nie, maar dis hoe amazing jy is.


Gister is jy gebore en die lewe buite jou mamma was te moeilik en te uitdagend vir jou.  Jy is weg.  Miskien soos 'n asempie, maar vir ons wat bietjie nader was en vir die wat gebid het, is jy vir altyd 'n groot getuienis en 'n herinnering.


Die krag van gebed lê nie in die uitkoms nie.  Dink daaroor.  Net omdat jy nie leef op aarde nie, maak nie dat daardie gebede verniet gebid is nie.  Ek weet dat 'n klomp mense nou nader aan  God is en dit, my skat, was ook jou toedoen.  Die krag van gebed lê daarin om naby God te wees met al jou begeertes, probleme, hoop, teleurstellinge, met al jou emosies.  Ons ander bid nog net so baie vir jou mamma en pappa.


Ek sou bitter-bitter graag met my hele hart wou hê dat jy hier by ons moes lewe, maar dit was nie so beskik nie.  Elke herinnering aan jou sal altyd vir my mooi wees omdat jy 'n reine ou kindjie was vir wie God so bitterlik lief is.  Hy jubel en juig oor jou en ek wonder of Hy nie op hierdie oomblik dalk met jou gesels nie, want jy LEWE.


Ek bid vir jou mensies.  Hulle is baie seer en gebroke.  Ons hoop en vertrou dat God wat vir jou so baie lief is vir hulle 'n ander kindjie sal stuur om saam met hulle op aarde te lewe.  Nie om jou te vervang nie, maar om ook vir jou ouers die kans te gee om 'n kindjie op aarde groot te maak vir Hom, 'n kindjie wat vir hulle goed kan wees.


Mag jou gees rustig by God rus.


Baie liefde,
'n Tannie wat uitgaan met jou oom (wat vir jou 'n Tigger gekoop het)

Tuesday, 31 December 2013

Een, twee, drie, Blog myself...2013 sê koebaai

2013 lê op sy rug en krap sy maag met 'n tikkie nostalgie.  Hy loer na die 12 maande soos vir trekwolke deur 'n verkyker. 

Januarie het begin met 'n braai saam met geliefde vriende en minder geliefde (meer onbekende) vriende wat hul huis se deure vir ons oopgemaak het.  Met 'n gedagte aan die feit dat die gasheer en gasvrou kort getroud is, het ek aan die vroutjie gevra wat dit is wat sy geleer het deur die huwelik wat sy nie voorheen geweet het nie.  Haar antwoord het my keel klein bietjie benoud gemaak:  jou man sal vir jou al jou "issues" uitwys soos julle huwelik aanstap.  In my stilligheid het ek gehoop dat ek alle issues sal kan uitsorteer voordat daar 'n huweliksmaat in my lewe arriveer.  Tog het daardie woorde my bygebly en dink ek nou dat dit darem 'n groot voorreg is om deur so 'n tipe heiligmakingsproses te gaan.  Die idee van die heiligmakingsproses is bevestig deur 'n preek van ds Cassie Carstens later die jaar.  Wat as ons trou sodat ons meer heilig kan word...?

Februarie het die einde van my prokureursklerkskap aangekondig.  In daardie beroep het ek ook 'n paar heiligmakings beleef wat nou nie in die huwelik kan gebeur nie.  Ek het 'n paar stukkende huisgesinne, mans, vrouens en kinders gesien en 'n kykie in die wrede wêreld waarin ons leef.  Februarie het gekom en gegaan en ek was werkloos.

In Maart het ek my 27ste kersie op die koek gekry en ook 'n droë maand gehad waarin werk nie wou kom nie.  Ek het by die kerk se restaurant begin werk en ook as aflos juffrou by die kleuterskool uitgehelp.  Ek het 'n derde werk as aupair gekry by 'n lieflike gesin in Pretoria.  Daar was nie 'n oomblik wat ek nodig gehad het om by iemand anders as my Hemelse Voorsiener te vra vir enige finansiële hulp nie.  Ek het selfs 'n Kaapse draai gemaak en 50km van die Two Oceans deur gesukkel.

April was 'n maand vir selfondersoek.  Is ek geroep vir die prokureursberoep of was dit tyd vir 'n skuif?  Gebede en smekinge het my gelei tot die besef dat ek regtig weer enige iets kan doen.  Iets in my was gereed vir 'n nuwe avontuur...

Die avontuur het afgeskop in Mei toe ek by 'n kleuterskool begin werk het.  20 en 21 en later 22 driejariges het my verantwoordelikheid geword.  Ek het geen ondervinding gehad nie, net my Hemelse Leermeester om my met wysheid te lei en te leer van die lewe van 'n kind.  Wat 'n voorreg en wat 'n reis...een waarop ek NOOIT alleen was nie.

My eerste Mosambiek kuier saam met 'n lekker groep vriende het in Junie gebeur.  Soveel uitdagings en soveel nuwe dinge.  My hart was in die wolke.  Al die uitdagings (van skaaptjops wat vol petrol gemors is tot groot verdwaal in die Mosambiek kant van die Krugerwildtuin) het my net weer geleer watse verskil die mense maak saam met wie jy rondrits.  Later kon ons rondlê op sagte strande en grootoog agter kleurvolle visse aan swem.  Ook die eenvoudige leefstyl van die inwoners daar het my aangegryp.  Ek wil weer gaan!!

Die tweede helfte van die jaar in die vorm van die koue Julie het my herinner aan my pa se heengaan 10 jaar gelede.  Ek kon agteruit dink en verlang vir 'n rukkie...maar nooit sonder die hoop van 'n toekoms met my Vader in die hemel nie.  Die pad vorentoe lyk nog baie rooskleurig.  Ek ontmoet daagliks nuwe mense wat my lewe inkleur (wat nou nie spesifiek tot hierdie maand beperk is nie).

In die maand van die vrou, Augustus, het 'n dierbare vriendin ons uit die stad geneem na 'n dam naby Vrede in die Vrystaat, vir haar 30ste verjaardag.  Die uitgenooide dames het vir daardie naweek alles gedoen wat 'n man sou doen, behalwe om my motor ordentlik te pak.  Met 'n gesukkel om die kattebak toe te kry weens al die bagasie, het my motor se vlerkie in die slag gebly!

Septembermaand het my laaste energie getap.  Dit was tyd vir konsert hou by die kleuterskool.  Tussen klere koop, kostuums maak, dansies oefen en daaglikse lewe het ek amper myself vergeet.  Ek was tot in my siel in dankbaar toe my ousus my nooi om saam met haar te gaan jag in die Oos-Kaap vir die langnaweek.  Ek kon weer rustig word en onthou dat daar 'n lewe buite die gejaag is.

Toe kom Oktober.  Die kinders word geassesseer vir hul eindjaar rapporte, die laaste knapie word drie jaar oud.  Skielik vreet beplanning weer al my tyd op en moet ek in die aande nog gediggies uitdink en kreatiewe planne maak om die kinders mee besig te hou.

Woerts-warts en dis November.  Besig bly ons besig, want rapporte moet mooi lyk en die skool moet lyk soos Kersfees.  Ons moet speelgoed voorraadopname doen en die assistente (en juffrouens) raak moeg.  Einde ten laaste maak ons ook kerskaartjies en bak koekies vir die oueraande en werk een na die ander eindjaarfunksie in.

Uiteindelik breek Desember aan en die laaste dag van skool laat my weer asemhaal.  Dis vakansie!  'n Troue hier en 'n staptog daar.  'n Draai op die plaas en nou is ek in Stellenbosch...was 2013 die moeite werd?  Ja, ja, ja!

Hoe lekker is dit nie om aan die einde van die jaar te kan dink oor 'n vol jaar met baie dimensies nie?  Ek proe-proe so aan die lewe in oorvloed wat ons hier op aarde kan hê en ek geniet dit met 'n GROOT afwagting, want die hemel gaan soveel meer van dit hê!  Gee my nog een!  Gee my 2014!  :)

Saturday, 3 August 2013

"Is 10 jaar lank, Juffrou?"

Ek onthou toe ek 10 jaar oud geword het, het ek vir my Standerd 2 juffrou gevra of 10 jaar lank is.  Ek wou weet of 10 jaar genoeg jare is om 'n beduidende verskil te maak en of my lewe van 10 jaar dan al tel.  Sy het geantwoord dat 10 jaar wel lank was en vir 'n tyd was dié kort antwoord vir my bevredigend...my lewe het begin saak maak. 

Vandag weet ek presies hoe lank en hoe kort dieselfde 10 jaar kan wees...

10 Jaar is baie herinneringe lank - geloofsbelydenis, 'n pers matriekafskeidrok, die einde van 'n Hoërskool Namakwaland loopbaan, die begin van 'n Matieland ervaring, die einde van 'n eerste liefde, die bou van karakter, gradeplegtigheid, voltooiing van prokureursklerkskap, 'n 180 grade U-draai om kleuterskooljuffrou te word en ALLES tussenin.

10 Jaar is geen meer - ProVita met Marmite, Grunberger Sauvignon Blanc, 1-2-3 wals op 'n troue, nagsê soentjies en drukkies, deur-die-veld-ry trippies met die Isuzu bakkie, rusbank sit, koffie met melk en geen suiker, vaalhoender dieet, kuier om die braaivleisvuur, etes by oom Jopie se kafee, fluit dat die berge antwoord gee, sommetjies op die sakrekenaar om die werknemers se kruideniersuitgawes uit te werk, beesstert potjiekos, lank gesels na biduur, klop aan my kamerdeur met 'n "Nag, Pop!", kerkgeld in my hand, R10 sakgeld, spot-grappies, etenstyd stories uit die ou dae, gestalte van Pappa in die sitkamerstoel, tevrede glimlag oor die bankrekening of drukkie vir Mamma nie...

Nee, toe Pappa gesê het "Ek dink nie ek gaan jou erekleure plegtigheid maak nie", het Pappa onwetend baie waar gepraat.  Toe was dit die begin van 10 jaar, 20 jaar, 30 jaar...  Die einde van 17 jaar van dogter wees vir my pa, my bloed-pa, my waardes-pa, my aardse pa.

10 Jaar is lank en kort gelyk.  10 Jaar is so lank dat ek bang is herinneringe vervaag en so kort dat trane en snikke steeds 'n realiteit is.

Vandag het ek tevergeefs iets tasbaars van Pappa prober beleef.  Pretoria is nie Springbok nie en nog minder is dit Stofkraal.  My motor is nie 'n Isuzu bakkie nie.  Op my kop is nie 'n springbokvel, breërandhoed nie.  My voete loop nie spore in nommer 9 velskoene nie.  Hier is nie 'n skaap of 'n bees of 'n bok of 'n gousblom of 'n jukskei of 'n sakdoek of 'n knipmes in die broeksak nie. 

Al wat ek het en alles wat ek nodig het, is die God van Abraham, Isak, Jakob en John.  Hy wat vir altyd dieselfde bly oor geslagte heen.  Dankie, Pappa, vir 'n nalatenskap wat baie langer as 10 jaar gaan hou.  Dankie, Jesus.

Thursday, 29 November 2012

Mikpunt bereik. Tiek! :-)

Ek het die vorige aand gewonder of Riaan Cruywagen se laaste nuusboeletin regtig nuuswaardig genoeg is om 'n halfuur studietyd daaraan af te staan.  My gevolgtrekking was dat daar in die lewe min genoeg sulke oomblikke is en dat ek maar die opoffering kon maak.  Toe ek boonop hoor dat daar nog 'n ekstra program net na die nuus is, was ek selfs bereid om die verdere opoffering te maak en ook dit te kyk. 

Die studietyd waarvan ek praat was noodsaaklik vir my laaste toelatingseksamen-mondeling wat ek ook per genade gekry het.  Boedels en Testamente.  Heel ironies was dit juis erfreg wat my in die eerste plek na die regswese gelok het(dis 'n storie vir 'n ander keer).  In ons verpligte LEAD klasse was een van my gunsteling dosente ook die een wat Boedels en Testamente aangebied het.  So, ek moes eintlik hierdie vraestel 'n ding of twee gewys het.  Dalk was ek te optimisties toe ek besluit het om drie toelatingseksamens met een slag te skryf of dalk was dit maar net my paadjie wat ek moes loop om weereens bietjie nader aan God te kom.  Toe kry ek die genade-mondeling.

Voordat ek geweet het van die uitslae het ek in my stiltetyd gewonder of ek maar vir God moet vra of hy nie bietjie "magic" vir my sal stuur nie(want kyk, dit het NIE goed gegaan met die eksamens nie).  Hy is immers by magte om selfs vir my antwoorde in te vul of die eksaminator blind te maak vir my foute of watookal.  (Jy weet jy het ook al vir so iets gebid.)  Iewers in die stiltetyd reis het ek begin wonder wat die goed daarvan sal wees as ek my "magic" kry.  Sal my kliënte enigsins baat daarby dat ek nie die kennis het nie?  Sou dit vir myself enige waarde toevoeg? My gebed het verander na 'n gebed van "help my om watookal gebeur te hanteer".  En dit was so...

Dear Ms Kennedy, Your results for the Adm. exam...  Toe daai sms kom het ek omtrent hartkloppings gekry en amper besluit om nie te gaan draf nie.  Ek het nie Etiek gepluk soos ek gedink het nie, maar dit mooi deurgekom.  Ek het Howe, soos te wagte, ook deurgekom en dan was daar die genade-her vir Boedels en Testamente.  Ek het wel gaan draf...met dankbaarheid in my hart.

Die plan van aksie was om maar net weer alles te leer, meer te onthou, beter te verstaan en dan daai mondeling te PRAAT.  Iewers in my lewe het ek mos met Moses begin identifiseer en geglo dat ek nie 'n goeie prater is nie.  Hierdie leuen het ook nie juis gehelp nie.  Wat wel gehelp het, is om op my knieë in afhanklikheid te bly.

My mondeling was geskeduleer vir 09h30.  Ek is ingeroep om 09h20 en om 09h31 het ek vir my prinsipaal haar boodskap van die eksaminatore gegee.  "Sê vir jou prinsipaal jy het 'n goeie mondeling gehad.  Jy kan nou toegelaat word."  In 'n mate wil ek die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 'n bietjie krediet gee, want die noem daarvan het die twee eksaminatore baie beindruk, maar kom ons wees nou maar eerlik - al die eer kom die Here toe.  Mag daar ook groot eer wees in my prokureurswese in die toekoms.  Soos my Boedels dosent gesê het:  "Integrity is a non-negotiable commodity."  Waarheid is waarheid en hierdie waarheid wil ek in my beroep sien.

EK IS 'N KANDIDAAT PROKUREUR WAT OOR 'N PAAR MAANDE TOEGELAAT KAN WORD AS 'N REGTE PROKUREUR!  MIKPUNT BEREIK.  TIEK!  PRYS DIE HERE!  :-)

Sunday, 14 October 2012

Gun my die nostalgie

My tannie het eendag vir my gesê dat die rouproses werk soos 'n ovaalvormige baan.  Rou is in die middel van die ovaal en die persoon wat deur die rouproses gaan is op die ovaalbaan en beweeg al in die ronde.  Op die verste punte is die persoon wat deur rou gaan ooglopend besig om mooi deur die ding te werk en gaan dit baie goed.  Op die nader dele is die rou weer tasbaar en seer en voel dit amper vir die persoon of die rou nooit weggaan nie...

Ek dink nie die seer gaan ooit weg nie.  Ek dink dis nooit weer so ROU soos aan die begin nie, maar dit bly tog daar.  Nie dat dit die persoon definieer nie, maar dit wag vir 'n sneller-moment.  Die  venus-vlieëvanger het ook 'n sneller-moment wat gebeur wanneer iets aan sy haartjies raak.  Dan skiet taai twee blare toe en dit wat binne-in is word stadigaan verteer.

Vandag praat ek en my ma en tannie so oor my doop as babatjie en dis daai sneller-moment.  Ek sien weer die foto.  Nogal 'n skewe foto.  Skeef geneem om dit seker maar ouliker te maak.  My pa en ek in my dooprokkie en hy hou sy arm so dat dit my rug en nek mooi ondersteun.  Ek moes koes om die trane te keer en het verseker nie die stem gehad om hulle te vertel waaraan ek dink nie.  Vir my het daardie foto nog altyd my pa se beskerming en liefde uitgebeeld.

Ek het nog 'n sneller-moment gehad toe die dominee gesels het oor ons almal wat hierdie tyd van die jaar so moeg is.  Ons is besig en word nie stil nie.  Ons het sonde wat ons ver van God laat voel.  Dit het my laat dink aan die plek waar ek nog altyd die veiligste gevoel het.  Ons mooiste plaas in die binneste van Namakwaland en gegiet tussen granietkoppies.  Gun my die nostalgie...

Daar het ons as volledige gesin van ses gereeld op die stoep gesit en gesels.  Elkeen iewers op 'n sement stukkie en dalk 'n skaaphond of twee wat bedel vir aandag.  My pa sou daar sit op die trappies met sy arm om my ma en dan die een of ander diep gesprek aan die gang sit.  Soos die gesprek vorder sou ons na voëls luister, die son sien ondergaan en sterre een vir een hul verskyning sien maak.  Dit was nie nodig om die ligte aan te sit nie, want wat ons daar gehad het was heeltemal genoeg.  'n Gesin van ses, waar die ouers lief was vir mekaar en elke kind sy of haar eie, uniekheid gegun was.

Ja, dit het nie vir ewig gehou nie.  My pa is hemel toe. Te vroeg na my sin, en sekerlik te vroeg vir almal in my gesin.  Ons het ons anker verloor.

Ek het wel nie my herinneringe verloor nie en in daardie tyd God se nabyheid en sorg en voorsiening die naaste beleef.  Ek het, soos baie ander, gegroei uit my pyn.  Maar in dae soos vandag, gun my die nostalgiie, verlang ek na daardie man. 

Hy en my ma het my geleer van God soos hulle beloof het daardie dag met my doop.  Ons het in die aande saam as gesin Bybelstudie gedoen en met my nagsoen het hy altyd met sy dag-oud baard in my nek geskuur en klavier gespeel op my ribbebene.  Hy het vir my vertel dat ek mooi is en my leer wals.  Deur sy stories van vroeër en deur sy leefwyse het hy vir my 'n goeie, goeie voorbeeld gestel.  Hy het ons vasgevat as dit nodig was (en glo my, dit was nodig!).

Ek wil hom nog hier hê.  Ek dink aan hom met troues as my vriendinne se pa's saam met hulle die kerk inkom.  Ek verlang na hom langs my ma.  Gun my die nostalgie.

Ek dank die Here dat Hy my ewige Pa is en dat my aardse pa my gehelp het om Hom beter te verstaan.  Ek leer nou by Hom dat ek mooi is en hoe om saam met Hom te dans.  Ek probeer om my lewensbesluite deur Hom te laat inspireer.  Die Here het gegee en die Here het geneem en die Here sorg nogsteeds.  Prys die Naam van die Allerhoogste God!

Friday, 28 September 2012

Dit was die tweede dag...

Ek glo nie ek sal elke dag oor my drafdinge skryf nie, maar dis darem nou vir my so lekker om weer terug te dink aan my studentedae se draffies.  Ek het so met die laat middag wat room word gaan draf en dan die sonstrale deur die akkerbome waardeer en die ander drawwers en stappers wat mens later ook ken en elke keer op dieselfde straathoek of by dieselfde sirkel gekry het.

Ek onthou die een man wat my regtig opgeval het.  Ek het hom opgemerk toe hy begin het om te stap - ai, ietwat oorgewig en sukkelend en met so 'n hangkoppie.  Stadig maar seker het hy begin glimlag en maande later was hy nie meer 'n stapper-sukkelaar nie, maar 'n doring-drawwer. 

Toe ek vandag dieselfde roete draf as gister en die wind my opdraend gee teen die afdraend het ek weer aan hierdie suksesverhaal gedink.  Dit gaan mos nie oor hoe vinnig mens draf nie - dit gaan oor DAT jy draf.  :)  My tyd vir dieselfde roete was toe 10 sekondes swakker.  O jitte, kom ons gee maar die wind die skuld.  Wie weet, dalk waai die wind wanneer ek my 56km van glorie draf volgende jaar...en dan het ek darem al vandag besluit ek sal nie skrik nie.

Thursday, 27 September 2012

Two Oceans Oefening vir dwase - Dag 1

Jy moet 'n dwaas wees as jy beoog om die Two Oceans Ultra Marathon te draf...

Nou vat ek darem my ouboet lelik in die gesig.  Hy was maar 18 toe hy, net nadat hy van 'n baie ernstige motorongeluk se beserings herstel het, weer begin oefen het om homself gereed te kry vir ons skool se kleure atletiek en dit nogal vir die 3000m (wat gewoonlik in die hitte van die dag gedraf is, moet ek sê en ons praat nou hier van Springbok-hitte in Januarie...dis NIE vir sissies nie).

Ek weet nie presies wanneer hy begin marathonne doen het nie, maar daai vasberade oefening het my bygebly en tot 'n mate bygedra tot my eie (dwase?) besluit om te begin oefen vir volgende jaar se Two Oceans Ultra Marathon(56km).  Dit was 'n vriendin van 'n vriend wat met die ongelooflike voorstel gekom het by ons weergawe van Nasionale Braaidag.  Sy sal die een wees wat ek verkwalik wanneer dit swaar gaan.  :)

Ek het al my deel gedoen vir Two Oceans Halfmarathonne - ook deur ouboet aangehits.  Ons het byvoorbeeld 'n meningsverskil oor die jaar toe die Two Oceans op my verjaardag was.  Ek het, volgens myself, toe vooraf onderneem om die ekstra 900m te draf sodat ek dan 22km draf op die 22ste Maart.  Ouboet, weer, hou voet by stuk ek het gesê ek sou die 56km doen omdat dit dan nou so 'n spesiale dag was.  Ons het besluit om ooreen te kom om te verskil...

Ouboet weet nou nog nie van my dwase besluit nie.  Hy het self nogal lanklaas die drafding voltyds gedoen omdat hy so 'n hardwerkende Namakwalandse boer is.  Dalk kan ons bietjie rolle ruil en ek HOM oortuig om saam te hardloop. 

In elk geval, bekkige boklammetjie is nie SO seker van haar saak nie.  Oceans voorbereiding is hard en vat uithouvermoë.  Ek het vandag begin en my eerste draffie gedoen.  5km in 29 minute en 29 sekondes.  Nie dat tyd belangrik is nie, maar ek het nie gestap nie en dit IS 5km.  So, dit wil vir my voorkom asof ek nogal opgewek gehardloop het en dis 'n goeie ding.  Ek kan nie hier, op dag 1, al sukkel met entoesiasme nie - ek het 'n doelwit om te bereik...ter ere van die God wat my in my moederskoot gevorm het en sommer ook vir die ouboet wat Hy my mee geseën het.  Kom ons gaan!

Tuesday, 7 August 2012

Little Miss Sunshine

This post had to be in English again because my (very real) main character finds herself to be a four-year-old English lady.  It is not about yesterday's snow in Pretoria, although I do want to say "Praise the Lord for that sudden beauty-bless!".

After the snow and a piece of cake from Isabella's and after I had done away with some work, I walked into the coldness.  The wind did not help, but Little Miss Sunshine did! 

As I stepped out of our office door I saw her chatting with the office-next-door's receptionist.  I thought that a short greeting, a smile and a nod would do the trick.  Little Miss Sunshine had one question for me, though.  "Do you know my mommy?"  Suddenly it hit me - her mother had to be the friendly lady working at the dental lab in our office block.  Same blonde hair, same blue eyes, same friendliness...  I replied "I think so.  What is your mommy's name?".  Sure thing - it was the dentist. 

Little Miss Sunshine went on to look at my car keys which has a boomerang key holder.  She asked me what it was and I thought that maybe I could teach her something.  "It is a boomerang.  Boomerangs are from Australia and when you throw it, it comes right back to you", I said.  She wanted to know if I was from Australia, but I just told her that a wonderful friend gave it to me as a gift when she came back from a trip to Australia.  "I have cousins in Australia!", she replied.

It took only that little conversation to put a big smile on my face.  What triggered me most was her little girl confidence that I would know who her mommy was.  I could not help to think - when I asked people if they knew my Daddy...would they know right away because I looked just like Him, walked just like Him, touched just like Him?

Sunday, 13 May 2012

'n Ding of twee oor skoonheid

Ek vermoed, en ek het dit ook al iewers gelees, dat elke vrou se hartswens is om mooi te wees vir ‘n man.  So mooi dat dit sy binneste sal  roer en hy amper enige iets sal doen om daardie mooiheid vir homself te kry en van enige iets beskerm.  

Skoonheid is relatief.

Ek verneem dat mans so gewaarsku word:  “’n Mooi meisie is almal se meisie.”  Pasop vir haar skoonheid!  Ek wonder hoeveel meisies was al regtig spyt oor hul skoonheid.  Doctor Victor sing ook:  “If you wanna be happy for the rest of your life never make a pretty women your wife, but from my personal point of view get an ugly girl to marry you.”  Ek stem darem nie saam dat skoonheid noodwendig sleg is nie en het al mooi meisies ontmoet wat NIE almal se meisies is nie.

Menige meisie word konstant herinner dat “ware skoonheid lê in jou binneste”.  Hulle sê vir ons dat die “regte man” na jou buitenste sal kyk tot hy ook jou mooi (of nie) binneste sal raakkyk.  Hiermee stem ek saam en die feminis in my wil dit uitskree dat dit ook nie saakmaak wat die man dan nou dink nie, maar dat jy moet sorg dat jou binneste mooi is…man of te nie!  ‘n Vrou kan net soveel doen aan haar buitenste, maar aan haar binneste kan sy skaaf en skuur en buig en breek. 

Ek het eendag baie wyse raad gekry oor grimering en dis iets wat ek nogsteeds probeer navolg.  Ek het geleer dat goeie grimering net beklemtoon wat jy reeds het en nie enige iets vir jou bylas wat jy nie by jou ma en pa se genepoel gekry het nie.

Ek wonder oor die genepoel van die binneste en waarom meisies nie dieselfde hoeveelheid presisie en moeite insit in die versorging van hul binneste nie.  Miskien is jou binneste nie so ‘n refleksie van jou biologiese genepoel nie, maar van iets ‘n bietjie dieper.  Miskien vra dit integriteit en vrede met jouself...en harde werk. 

Ek daag jou uit, meisie…

1.                  Grimeer jou binneste minimaal sodat jy nie voorgee om iets anders te wees as wat jy wel is nie.
2.                  Beklemtoon jou binneste se bates en tree vorentoe as ‘n vrou wat stukkies van haarself aan haar medemens gee.
3.                  Pluk jou binneste se oortollige haartjies sodat jy al hoe minder seermaak, seersê en seerdink.
4.                  Sit ‘n onderlaag aan jou binneste sodat jy nie jou hart vir almal gee wat dit nie veilig sal hou nie.
5.                  Sit oogomlyner en mascara aan jou binneste se oë sodat dit mense nooi om staat te maak op jou.
6.                  Oefen jou binneste sodat dit uithouvermoë sal hê in geduld, sagtheid, vergewensgesindheid en respek.
7.                  Trek jou binneste met sorg aan met die beste waardes en maak seker hulle pas bymekaar.
8.                  En vertel vir ander watse produkte jy gebruik.

En nog net een ding:  ELKE meisie IS mooi!

Sunday, 29 April 2012

Gebed van 'n meisie op retreat

Here, hoe nader die tyd aan my retreat gekom het, hoe banger het ek geraak.  Ek dink dis omdat ek nie meer gewoond is aan stilte nie.  Selfs ‘n sonsondergang word nie meer ingedrink nie, maar net vinnig met ‘n “Wow!” opgemerk.  Ek het tevrede geword met kits-oomblikke, kits-gebede en geskeduleerde Bybelstudies.

Ek hou nie van beplanning nie, maar sê vir myself as ek vertrou dat ek nou en dan sal dink aan iets belangriks, dan is ek sommer tevrede dat ek by alles sal uitkom.  En Facebook sal my herinner aan wie verjaar, wie ‘n baba gekry het en wanneer iemand verloof raak.

Ek spandeer baie tyd aan BBM en Whatsapp en sê altyd ja vir koffies.  Dan praat ons lekker oor alles en nog wat en iewers tussenin probeer ek bid, maar raak aan die slaap of probeer ek opstaan om Bybel te lees, maar kom nie op nie.  Tog, wanneer die wekker die tweede keer afgaan, spring ek op en kom vroeg by die werk om gou te kyk (op Facebook) wie verjaar en wens hulle geluk.

Ek lewer kommentaar op ‘n foto op Facebook en kry kort-kort kennisgewings van nog vriende (ware vriende?) wat ook iets te sê het.  Dan voel ek naby aan vriende, ver van werk en ek wonder waar U plek in my lewe is…

Ek sê vir myself dat kommentaar op Facebook deur U gelees moet kan word en dat dit goed is om vir iemand ‘n boodskap te stuur as ek aan hom of haar dink.  Voor ek my kom kry is ek besig om lang gesprekke te hê en te praat oor goed waaroor ek nie seker is dat ek u insae gevra het nie.

Dié belangrikste verhouding in my lewe ly skipbreuk en duisende ander floreer!  Ek laat sak my kop in skaamte.  My binnekamer is vuil en deurmekaar!

Ek lees seker vier boeke op ‘n slag van soeke na waarheid.  Dan besef ek dat ek oorgestimuleer is.  Wanneer waarheid kom krap aan my binneste skram ek weg na ‘n boek, ‘n koffie, ‘n gesprek, ‘n draffie of selfs ‘n slapie.  Ek lééf nie die oomblik nie.  Ek skep ‘n lewe, maar dis ‘n virtuele fiksie, Here.

“God is more real to me than you sitting over there”…oom Angus Buchan praat van ‘n God wat met hom praat, met Wie hy praat, wat hom geskep het en hom roep vir ‘n Geesvervulde lewe in Hom (saam met Hom, vir Sy koninkryk…in verhouding met Hom).

Nou sit ek op retreat in my woonstel, sonder mense, met ‘n af foon en soék na U wat kláár by my is.  Jesus was Godverlate aan die kruis sodat ek vandag nié Godverlate hoef te wees nie en in my soeke U kan vind.

Kom praat met my, Heilige Gees.

Amen

Blogger se kommentaar:  die bostaande is 'n baie persoonlike gebed, maar dalk raak dit jou en dalk kan jy daarmee identifiseer.  Ek is oop vir gesprekke hieroor.  :)  Wat ek net wil sê is dat die res van die retreat baie lekker was.  Ek het weer genoeg stilte gehad vir 'n rukkie (alhoewel dit weer 'n aanpassing was om tussen mense te kom).  'n Paar goed sal nou moet verander - dis maar hoe dit werk, ne.  Anders sal hierdie gebed die een wees wat elke oggend op my lippe is.  Ek kan jou belowe dat die laaste gebed van my retreat een met groot dankbaarheid en verwondering was.  Ek dien 'n baie genadige God.

Thursday, 19 April 2012

Daar seil 'n skippie veilig weg

14 April 2012

Ek onthou ‘n blonde-kop dogtertjie van ‘n paar jaar gelede.  Ek het eendag my oë uitgevee en sy was net daar.  Waar ek grootgeword het, op die Boesmanlandse vlaktes op ‘n plaas, was maatjies maar min, so omdat hierdie dogtertjie my ouderdom was, was dit vanselfsprekend en ongekompliseerd natuurlik dat ons twee sou maatjies raak.  Die tekort aan maatjies daar tussen die buurplase het geensins die kwaliteit, integriteit, nederigheid of karakter van my oudste (in vriendskapsjare gemeet) vriendin beїnvloed nie. 

Haar naam was Antjie en sy het sleeptong gepraat.  As ons pa’s enigsins ‘n boerevereniging iets moes bywoon of ons ma’s vir Bybelstudie bymekaargekom het, dan was ek kinderlik opgewonde oor my en Antjie se saamspeel en saam eet.

Ons is in sub A reeds koshuis toe en was saam met twee ander dogtertjies in ‘n kamer.  Ek onthou hoe ons mekaar probeer troos het omdat ons huis toe, plaas toe verlang het.  Antjie se naam het skielik baie meer kompleks geraak.  Ek moes haar Anna-Lize begin noem en met ander maatjies deel.  So gesê, so gedaan.  Hier, in Sub A, in die laerskoolkoshuis op Springbok, het ons kamerdelery begin.

Nog in Sub A, het ons tweetjies een aand besluit om te deurnag in haar bed en onder haar mooi pienk beddegoed met die spelende grys katjies op.  Ek dink ons het haar bed gekies want ek het so ‘n lelike baksteen-oranje KJA deken gehad en die kontras was nogal skril.  Tussen die twee van ons was die begrip deurnag nog maar vaag en het ons nie besef hoe lank so ‘n aand kan raak nie.  Ek skat dit was ‘n uur na ligte-uit toe ek vir haar vra-fluister of sy nog wakker is en sy in antwoord my ore van my lyf af gil!  Dit was die einde van die deurnagtery vir daardie aand en elkeen het maar in haar eie bed gaan slaap.  Ek het ‘n waardevolle les geleer – Antjie hou van haar slapie en jy moet dit nie versteur nie.

Drie jaar later slaap ek nog so lekker en Antjie, alweer my kamermaat en nou maar ook weer Antjie, kom maak my wakker.  Nee, sy wil by my slaap, want iemand is in die koshuis.  Ek sê nog vir haar dis nonsens, maar sy hou so aan dat ek maar muur toe skuif en plek maak vir my bang maatjie.  Jou wrintiewaar, dit was toe ‘n onwelkome gas, wat oral in die koshuis radio’s en dinge gesteel het.  Ek het geleer dat Antjie ‘n ligte slaper is.

Nog drie jaar later, in St 5, deel ons weer kamer.  Omdat ons so voorbeeldig en soet was (of dan nou eerder…nie LELIK stout nie) was ons die enigste enigste kamer op die derde vloer van die koshuis.  Die onderwysers was traag om die ekstra stel trappe tot by ons te klim, so ons het soms die vryheid meer geniet as wat ons moes.  Ons het tot laat in die aande gelê en gesels, selfs as die ander kamermaats al geslaap het.  Dan het ons vir mekaar vertel van verliefdheid en crushes en vibes en is ons tog gereeld afgeluister deur die onnies…tot ons groot verleentheid soms.  “Hierdie ‘vibes’ van julle moet nou end kry!” hoor ek nog vir meneer Cooper na ‘n groot hartsgesprek.  Antjie was lief vir gesels.

Selfs op hoërskool, in St 6, was ons nog kamermaats en beste vriendinne en skryf ons in geheime skrif vir mekaar briewe.  Oor en weer het die brieweboek in die studiesaal rondgerits en het ons geheime gedeel.  Daar is ook gereeld naweke op die een of die ander se plaas gaan kuier.

Die skeiding na skool was nie so lekker nie, maar die brieweboek het plek gemaak vir e-mails tussen Tygerberg Kampus en Stellenbosch.  Sy MOES moes kies om fisioterapie te studeer en ek het nie wiele gehad nie, so e-mails moes dit maar wees. Vakansies, wanneer ons albei weer huis toe gaan, het ons weer by mekaar gaan kuier en dis in die nagte wanneer ons elkeen in ons bedjie lê dat die groot gesels weer gekom het – geloof en vriende en ouens en werk en drome en hoop…ons deel dit alles soos in die ou dae en dan voel die lewe weer reg.

Ouens kom en gaan ook maar – ons was meer verlief op hulle as wat ons kêrels gehad het en dit was soms ‘n probleem…tot Frikkie Antjie se hart kom steel het.  Ek het gesien my vriendin het iemand gekry wat haar aanvul in haar humor en haar plat-op-die-aarde leefstyl deel.  Hy het haar liefgekry vir wie sy is omdat sy dit nie wegsteed nie.  Toe, eendag, kry ek die foto van die klippie aan die ringvinger met ‘n BBM boodskap. 

En dit word die rede vir my laaste kamer-deel aand saam met my geliefde, liewe vriendin, Antjie.  Gisteraand lê ons in ‘n dubbelbed en gesels oor haar volgende kamermaat.  Die Here het vir my maatjie ‘n pasmaatjie gegee wat vanoggend vir haar ‘n sms stuur in die lyn van:  “Goeie more my trouvrou.  Ek kan nie wag om met jou te trou nie.  Daar is net een soos jy.  Ek is baie lief vir jou.”

Frikkie, jy kry vandag my beste maatjie vir ewig as jou vrou.  Sy is lief vir slaap en sy gaan jou wakker maak om haar te beskerm, maar ou Frikkels, sy gaan so lekker met jou gesels!  Ek weet en jy weet, dat jy ‘n juweel van ‘n mens gekry het om jou lewe mee te deel.  Mag julle vir ewig vandag sommer baie mooi begin!

19 April 2012

Die boonste stukkie het ek geskryf op ‘n paar uitgeskeerde dagboek bladsye van een van die fotograwe op Antjie en Frikkie se troue.  Dis al wat ons in die hande kon kry terwyl ek die tyd en die pen gehad het om nostalgies te raak…

Nou is my maatjie en haar bruidegom reeds getroud.  Ons het ‘n sakkie vol herinneringe gemaak later die dag met die twee wat so mooi opgepoets was.  Snaaks genoeg was dit die 100ste herdenking van die Titanic se ondergang, maar soos die dominee vertel het, is daar ‘n groot verskil tussen Antjie en Frikkie se storie en dié van die skip.  Die mense het van die Titanic gesê dat selfs nie God dit sal kan sink nie.  Antjie en Frikkie het op 14 April 2012 gesê hulle bootjie sal beslis sink, tensy God self die Stuurman is.

My hartswens is dat hulle op hierdie vaart die ysberge sal omseil omdat hulle reg gestuur word.  BON VOYAGE!

Monday, 9 April 2012

The Place

Dis darem regtig lekkerder om op 'n A4 lyntjies bladsy te skribbel met 'n pen as om so versigtig te mik vir die kleiner-as-vinger-grootte knoppie op my foon. Helaas, as 'n blogger se skryf-lus weer vlam vat, dan maak 'n blogger gebruik van watter ookal beskikbare middele.

So, hier sit ek nou by The Place, weliswaar op my eie, maar in 'n manier het ek dit so gekies. Tussen die uitsorteer van my hoofligte wat my gisteraand 00h00 in die steek gelaat het en my tennisafspraak met my ousus in Johannesburg later vanmiddag, het ek besluit dat die tydgleuf gevul sal word met middagete. "Tafel vir...?"  Een.  "Rook of Nie-Rook?"  Nie-rook.  Sjoe, maar hierdie is regtig 'n tafel vir net EEN. 'n Tweede persoon sal maar bietjie sukkel om hier in te pas.

Ek luister maar na die gesels-stemme rondom my. Vandag is dit, snaaks genoeg, omtrent net ou stemme. Dis mooi silwergrys hier om my as ek so na die ooms en tannies se koppe kyk.  ;) Na 'n ruk begin gesels ek en 'n vriend op Whatsapp.  Dis interessant hoe die generasies verskil...wonder of die silwer gryses dink ek wag vir iemand of wat.  Ek weet net hulle gesels tog te lekker in hul wyse stemme (in my kop word wysheid en grysheid so saam-saam meer in 'n mens se lewe).

My kos word gebring en ek eindig die Whatsapp gesprek af. En net na ek vir die Voorsiener dankie gesê het vir my kos, verskyn daar skielik 'n grys gesiggie langs my, liefde in die oë en vriendelikheid op die lippe... "I just want to tell you that God loves you and that you're not alone". 

Ek kan nie help om aan my tafel te dink nie... Hier is oorgenoeg plek vir 'n tweede Persoon by The Place se klein tafeltjie vir 'net' een. :)

Thursday, 15 March 2012

Kort

Daar bestaan 'n korterige verhaal.   Die storie kan nie 'n dik boek vol skryf nie, maar dit het die lengte van 'n bloginskrywing... 

Die meisie in die storie het kort bene, kort tone en kort vingers.  Sy kan byvoorbeeld nie so goed kitaar speel nie as gevolg van die tekort aan lengte in haar vingers.  Dit het haar egter nie teruggehou nie en vandag speel sy graag liedjies soos "Row your boat", "Edelweiss" en "Favourite Things" op haar eie manier.  Jy moet egter wakker slaap, want optredes van hierdie legende is maar van korte duur...knip jou oë en die repertoire is verby. 

Eendag kyk die meisie se ouer suster na haar tone en ken aan hulle die benaming Rice Crispy-tone toe.  Wat 'n frase!  Die episode het kortliks tot die volgende gelei - jarelange lag en gespot...en cutex in al die kleure van die reënboog, want kleur Rice Crispies is net soveel ouliker.  Hoe sê hulle?  "If you got it, flaunt it!"  Ons meisie het liewer geword vir haarself. 

'n Kort humeur sou jy nie by die Rice Crispy koningin bespeur nie, maar o wee!  Die geheue!  So vergeet sy eendag om haar faksmasjien af te sit en met 'n groot donderstorm veroorsaak 'n kortsluiting 'n groot verlies!   Sy moes al haar Cutex verkoop...

Vinnig het sy besef dat wêreldse dinge maar net kortstondige geluk tot gevolg het en sy het maar weer die kitaar in haar kort arms geneem.  Met 'n lied in die hart en die mond het ons meisie haar kortsigtigheid in die sak gesteek en saam met die voëltjies gesing. 

Met voëltjies en al het sy begin stap en die kortpad na 'n man se hart gevind.  So ewe 'n man met lengte!  Haar streng pa wou die lang man se planne kortwiek, maar nadat hy hom kortgevat het, het selfs hy besef dat daar niks tussen die twee teenoorgesteldes gaan kom nie.  Helaas, pappa moes maar geld uit die sak haal en sy khaki kortmouhemp verruil vir 'n das en pak...


Monday, 23 January 2012

Vat een vir die span!

Ek het onlangs weer 'n "embarassing moment" gehad wat ek maar gaan notuleer, want netnou vergeet ek eendag hoe dit was om klerk te wees.  Ek dink hierdie vernederende oomblikke wat mens soms beleef, is meestal maar net vernederend in jou eie kop...of jy is so salig onbewus daarvan dat dit in almal BEHALWE jou eie kop is.  Soos die keer toe ek 14h45 in my 14h00 klas ingestap het met die wêreld se selfvertroue en 'n kopknik en "Jammer, Meneer" na die dosent se kant toe.  In my kop was ek 5 minute laat.  In sy kop was "laat" 'n eufemisme.  In my kop was die Engelsman-klasvriend se frons en "What the...?" uitdrukking heeltemal ongegrond.  Vir hom was dit die snaaksste ding wat daardie dag in klas gebeur het.  Ek het my fout 3 minute later agtergekom toe ek NET my boeke uitgepak het en die dosent sê:  "En dis tot waar julle toets skryf."  Ek het om verskoning gaan vra by die dosent, maar tot vandag toe en waarskynlik vir altyd, sal my klasmaats nog so begin dink aan daai dag in die Administratiefreg klas...

Laat ek julle nou vertel.  As daar een ding is wat ek die afgelope jaar geleer het, is dit dat dit nie nodig is om druk te bou in die prokureursberoep nie.  Dit word VIR jou gedoen.  So, al wat jy nou eintlik kan doen, is om so veel as moontlik gedoen te kry om die kanse vir onvoorsiene tydopslurpers te minimaliseer.  Jy sal dit nooit heeltemal kan keer nie, maar jy kan probeer.

En so gaan die rooi ligte aan toe ons advokaat nog 'n rondetafel (partye probeer hul sakies uitstreik om 'n tafel, behalwe dat geen party betrokke is nie en elke prokureur/advokaat sy kliënt se belange op die hart dra) inpas op die dag wat ek die saak onder bespreking se lêer in die hof moet gaan indekseer en pagineer (bladsy nommers en name gee).  Hierdie deel van die hof maak 13h00 toe en ek sukkel 12h45 nog om parkering te kry in die besige middestad van Pretoria.  Soos ek die motor sluit en my dapper en stapper in vyfde rat sit, laat val ek al die reeks papiere in my lêer in die middel van die straat en my karwag lag.  Nie dat dit snaaks sou wees as 'n motor my toe getref het nie.

Maar ek het die papiere en ek het weer spoed en so hardloop die klerk weer in die stad rond.  Ek het nogal weer aan die keer wat ek so lekker geval het, gedink en myself belowe dat ek sal seker maak van elke tree...tot ek op 'n stadium afkyk en sien dat my hemp se knopies los gekom het.  Kyk, ek is min of meer die skaamste mens wat ek ken, so hierdie is rof.  Ek was nog nooit so dankbaar vir die baie lêers wat ek so in die stad moet ronddra nie.  Dit het my eer beskerm.  Ek verminder spoed en herstel die status quo (posisie soos aan die begin) met betrekking tot my hempie en wals 12h55 in by die hof, net om te moet gaan smeek vir die lêer by die hof se argiewe.

Ek dink nie kliënte het 'n halwe idee waardeur klerke soms vir hulle moet gaan nie.  Hierdie is ook net 'n oorvertelling van die kersie op die koek.  Na 'n lang gesukkel en gesmeek en trane wegsluk (net trots kan soms nog help om trane te keer), is die lêer in by die regtersklerk en kon ek tot verhaal kom en drie dae later het ons 'n suksesverhaal in die hof gehad.

Vat een vir die span!

PS:  jy kan hierdie post maar net lees - moenie met my daaroor praat nie.  :)

Sunday, 8 January 2012

Beeld

Sy kyk na haar twee voetjies.  Die modder stoot tussen haar toon-gleufies deur en die sensasie laat haar skaterlag en met vreugde weghardloop na die boomryke woud langs die rivier.  Soos sy hardloop speel haar wit rokkie om haar enkeltjies.  Haar groot drie jaar oue blou oë spring rond en sien elke detail raak. 

Die blaartapyt op die woud se donkerbruin vloer.  Sonstrale wat tussen die bome deur skyn en hul pad tot op haar neusie vind.  ‘n Bokkie wat kou aan ‘n takkie en stil na haar kyk met sy groot bokkie-oë.  Twee eekhorings wat vang-vang speel in die takke van die groot wilgerboom.  ‘n Spierwit skoenlapper wat ruk-ruk dié kant toe en dan daai kant toe fladder…

Sy hardloop-agtervolg die dingetjie wat haar aandag nou ten volle opeis.  Dis asof die skoenlappertjie weet en “Follow the Leader” met haar speel…  Om die dik stam van ‘n groot seder, oor ‘n heuwel, verby spelerige jong kalwers, tot op ‘n riet in die rivier waar haar modder voetspore nog lê.  Versigtig stap sy nader totdat die skoenlapper klap-vlerk gebalanseer tussen haar twee ogies sit.  ‘n Kodak-oomblik vir enige ouer!

‘n Seuntjie in khaki-kleertjies kruip weg agter ‘n groterige klip en aanskou die oomblik, kry sy watergeweertjie uit sy broeksak en skiet haar sekuur op die linkervoet.  Sy gil en verwilder die skoenlappertjie soos sy spring van die skielike koue.  Klein meneertjie lag al te lekker!  “Kom kyk wat het ek in die eendepoel gekry!”, nooi hy haar om te deel in sy avonture…

En God glimlag oor Sy kinders.

Thursday, 17 November 2011

Eden...'n parys

Eden, die tuin van God…so perfek soos wat my menslikheid iets kan voorstel…stroompies water wat kristalhelder oor groot, ronde klippe kabbel. Groen plante met majestieuse bome en die son wat strepe deur die blare laat syfer.  ‘n Wasigheid oor die waters in die vroeë oggendlug.  'n Pragtige bokkie wat rustig kou aan 'n grassie.  Dit moes beeldskoon gewees het en so suiwer! 

HEILIG

Dat God vir Adam vra om die diere wat hy pas met Sy Skepperhand gemaak het name te gee, getuig van verhouding.  Amper soos ‘n pa wat vir sy seuntjie ‘n hondjie gee en sê hy kan self besluit wat sy naam gaan wees.  God het dit alles goed gemaak en besluit om die vreugde daarvan met Adam te deel.

My klein mensebrein dink dat God groot planne gehad het vir Adam en sy Eva.  ‘n Nader as naby verhouding met Sy skepsels, Sy kinders wat Hy na Sy beeld gemaak het.  En kyk, God lyk nie soos ‘n mens nie, dink ek.  Die beeld waarna Adam-hulle (en dan natuurlik ook ons wat vandag lewe) gemaak is, is die geestelike beeld in die mens, die karakter van God, Sy heiligheid.  Liefde.  Vreugde.  Vrede.  Geduld.  Vriendelikheid.  Goedhartigheid.  Getrouheid.  Nederigheid.  Selfbeheersing... 

Wat my die meeste tref van Eden is die intieme, persoonlike, direkte verhouding tussen God en Adam en Eva.  Kan jy jouself indink?  Saligheid op sy beste.  Rustigheid.  Sekerheid.  Dit, glo ek, was die plan – ‘n liefdesverhouding tussen God en die kroon van Sy skepping.  Tog het Hy dit nie afgedwing op Adam en Eva nie.  Hy wou hê dat hulle dit moes KIES.  Hy wou hê dat Eva moes NEE sê vir die slang en nie inkoop in sy slinkse planne nie.  Hy het haar ‘n vrye wil gegee, want anders sou dit gedwonge liefde (of dan ‘n element daarvan, naamlik gehoorsaamheid) wees. 

En toe begin ek wonder – hoeveel van Eden kan ek vandag, hier, in Pretoria, hê?  Kies ek nie soms om God se teenwoordigheid mis te kyk nie?  Ontgaan die volmaan of die sonsondergang my nie as gevolg van my eie nalatigheid nie?  Kies ek nie ook maar die appel wanneer dit vir my aangebied word en ek dink God sien dit nie?  En dit is nie wat God wil hê nie. 

Ek wil kies om in Eden te lewe en al die wonderlikheid daarvan te ervaar.  God is hier by my en jou in ons omstandighede en wil hê ons moet Hom raaksien.  Ons moet kies om met Hom te gesels en vir Hom te vertel van elke opwindende nuwe ding wat ons leer of elke hartseer wat onverwags tref of oorwinning wat kom.  Koningskinders moenie sonder hul Koning in hierdie wêreld lewe waar dinge so effens hand-uit geruk het nie.  Koningskinders moet koningsverhoudings met hul Koning hê.  Jip, dis bonatuurlik, dis ongewoon, maar kom oor dit.  Kan jy regtig verwag dat God natuurlik/normaal moet wees?  Komaan!  Hoe het jy gedink werk die Ewige Lewe?  Dis NOU reeds hier!  Eden is hier!  Kies dit.

Wees heilig, want God is heilig.

Wednesday, 2 November 2011

Mallemeule van gebeure

Soms gebeur slegte dinge met goeie mense deur hul eie toedoen.  (In hierdie scenario sien ek nou myself ewe hooghartig as die goeie mens).  Soms gebeur 'n REEKS slegte dinge met 'n goeie mens oor 'n tydperk...  In my geval is motors die afgelope tyd 'n refrein in my lewe.  Kom ek brei uit...

Ene Konstabel Iemand van Bloemfontein skakel my nou die dag:  "Onthou jy my nog?"  Die gebeure van so 'n jaar en 'n half terug toe ek 'n motorbotsing sien gebeur het en ek en my twee broers eerste op die toneel was om die polisie en ambulans te bel, speel weer voor my oë af.  Ja, ek onthou.  "Ja, uhm, jy moet kom getuig."  In Bloemfontein?  "Ja".  Die staat gaan my dagvaar om te getuig in die saak wat nou 'n saak van strafbare manslag is.  Dis in Bloemfontein.  Jammer, hoor, maar dit beteken jy sal verlof moet insit.  Skokgolf.

Laasweek was ek een oggend so bietjie omgekrap en toe ook nie so aandagtig toe ek by ons werk se ondergrondse parkering uit "reverse" het nie.  Toe ek nog so ingedagte kyk, sien ek 'n sagte beweging by my baas se motor.  Ek het hom geskraap!  Skokgolf.

Ter agtergrond:  die motor waarmee ek bestuur het, is wit.  My baas se motor is swart.  Die gevolg is 'n wit strepie op 'n swart motor en 'n baie verleë werknemer wat URE vat om die nuus te breek.  Ek doen dit toe wel en my baas is, soos te wagte, ontsteld (maar darem nie so ontsteld dat sy onredelik is nie).  Die ooreenkoms is dat ek paneelkloppers toe moet gaan en kwotasies kry...

Vandag kom my baas in my kantoor in met 'n smaal op die gesig en 'n spoedkaartjie in die hand.  PRAGTIGE foto van die werksmotor wat ek tot onlangs toe nog geleen het se agterkant.  R375, die "discount" bedrag.  Skokgolf.

En so is ek verantwoordelik vir my eie informele sekwestrasie. Wat de os, Boklammetjie?  :)  Waar is die dae toe ek nog my pa veroordeel het oor 'n spoedkaartjie naby Keimoes?  En waar is die dae toe ek net eenvoudig nie 'n MOONTLIKHEID van 'n motor-krap-geval gehad het nie?  In die verlede, dis waar!

As iemand weet van 'n naweek-joppie, laat weet maar.  As enige van my vriende my nie meer sien in die volgende maand nie - ek vra byvoorbaat verskoning.

Einde van dag 2 November 2011:  Boklammetjie minus een dag verlof minus R375 en minus die wit krap op die swart motor.  Jy kan nie sê ek stagneer nie, ne!  :) 

If life gives you lemons, make lemonade!