Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Thursday, 19 April 2012

Daar seil 'n skippie veilig weg

14 April 2012

Ek onthou ‘n blonde-kop dogtertjie van ‘n paar jaar gelede.  Ek het eendag my oë uitgevee en sy was net daar.  Waar ek grootgeword het, op die Boesmanlandse vlaktes op ‘n plaas, was maatjies maar min, so omdat hierdie dogtertjie my ouderdom was, was dit vanselfsprekend en ongekompliseerd natuurlik dat ons twee sou maatjies raak.  Die tekort aan maatjies daar tussen die buurplase het geensins die kwaliteit, integriteit, nederigheid of karakter van my oudste (in vriendskapsjare gemeet) vriendin beїnvloed nie. 

Haar naam was Antjie en sy het sleeptong gepraat.  As ons pa’s enigsins ‘n boerevereniging iets moes bywoon of ons ma’s vir Bybelstudie bymekaargekom het, dan was ek kinderlik opgewonde oor my en Antjie se saamspeel en saam eet.

Ons is in sub A reeds koshuis toe en was saam met twee ander dogtertjies in ‘n kamer.  Ek onthou hoe ons mekaar probeer troos het omdat ons huis toe, plaas toe verlang het.  Antjie se naam het skielik baie meer kompleks geraak.  Ek moes haar Anna-Lize begin noem en met ander maatjies deel.  So gesê, so gedaan.  Hier, in Sub A, in die laerskoolkoshuis op Springbok, het ons kamerdelery begin.

Nog in Sub A, het ons tweetjies een aand besluit om te deurnag in haar bed en onder haar mooi pienk beddegoed met die spelende grys katjies op.  Ek dink ons het haar bed gekies want ek het so ‘n lelike baksteen-oranje KJA deken gehad en die kontras was nogal skril.  Tussen die twee van ons was die begrip deurnag nog maar vaag en het ons nie besef hoe lank so ‘n aand kan raak nie.  Ek skat dit was ‘n uur na ligte-uit toe ek vir haar vra-fluister of sy nog wakker is en sy in antwoord my ore van my lyf af gil!  Dit was die einde van die deurnagtery vir daardie aand en elkeen het maar in haar eie bed gaan slaap.  Ek het ‘n waardevolle les geleer – Antjie hou van haar slapie en jy moet dit nie versteur nie.

Drie jaar later slaap ek nog so lekker en Antjie, alweer my kamermaat en nou maar ook weer Antjie, kom maak my wakker.  Nee, sy wil by my slaap, want iemand is in die koshuis.  Ek sê nog vir haar dis nonsens, maar sy hou so aan dat ek maar muur toe skuif en plek maak vir my bang maatjie.  Jou wrintiewaar, dit was toe ‘n onwelkome gas, wat oral in die koshuis radio’s en dinge gesteel het.  Ek het geleer dat Antjie ‘n ligte slaper is.

Nog drie jaar later, in St 5, deel ons weer kamer.  Omdat ons so voorbeeldig en soet was (of dan nou eerder…nie LELIK stout nie) was ons die enigste enigste kamer op die derde vloer van die koshuis.  Die onderwysers was traag om die ekstra stel trappe tot by ons te klim, so ons het soms die vryheid meer geniet as wat ons moes.  Ons het tot laat in die aande gelê en gesels, selfs as die ander kamermaats al geslaap het.  Dan het ons vir mekaar vertel van verliefdheid en crushes en vibes en is ons tog gereeld afgeluister deur die onnies…tot ons groot verleentheid soms.  “Hierdie ‘vibes’ van julle moet nou end kry!” hoor ek nog vir meneer Cooper na ‘n groot hartsgesprek.  Antjie was lief vir gesels.

Selfs op hoërskool, in St 6, was ons nog kamermaats en beste vriendinne en skryf ons in geheime skrif vir mekaar briewe.  Oor en weer het die brieweboek in die studiesaal rondgerits en het ons geheime gedeel.  Daar is ook gereeld naweke op die een of die ander se plaas gaan kuier.

Die skeiding na skool was nie so lekker nie, maar die brieweboek het plek gemaak vir e-mails tussen Tygerberg Kampus en Stellenbosch.  Sy MOES moes kies om fisioterapie te studeer en ek het nie wiele gehad nie, so e-mails moes dit maar wees. Vakansies, wanneer ons albei weer huis toe gaan, het ons weer by mekaar gaan kuier en dis in die nagte wanneer ons elkeen in ons bedjie lê dat die groot gesels weer gekom het – geloof en vriende en ouens en werk en drome en hoop…ons deel dit alles soos in die ou dae en dan voel die lewe weer reg.

Ouens kom en gaan ook maar – ons was meer verlief op hulle as wat ons kêrels gehad het en dit was soms ‘n probleem…tot Frikkie Antjie se hart kom steel het.  Ek het gesien my vriendin het iemand gekry wat haar aanvul in haar humor en haar plat-op-die-aarde leefstyl deel.  Hy het haar liefgekry vir wie sy is omdat sy dit nie wegsteed nie.  Toe, eendag, kry ek die foto van die klippie aan die ringvinger met ‘n BBM boodskap. 

En dit word die rede vir my laaste kamer-deel aand saam met my geliefde, liewe vriendin, Antjie.  Gisteraand lê ons in ‘n dubbelbed en gesels oor haar volgende kamermaat.  Die Here het vir my maatjie ‘n pasmaatjie gegee wat vanoggend vir haar ‘n sms stuur in die lyn van:  “Goeie more my trouvrou.  Ek kan nie wag om met jou te trou nie.  Daar is net een soos jy.  Ek is baie lief vir jou.”

Frikkie, jy kry vandag my beste maatjie vir ewig as jou vrou.  Sy is lief vir slaap en sy gaan jou wakker maak om haar te beskerm, maar ou Frikkels, sy gaan so lekker met jou gesels!  Ek weet en jy weet, dat jy ‘n juweel van ‘n mens gekry het om jou lewe mee te deel.  Mag julle vir ewig vandag sommer baie mooi begin!

19 April 2012

Die boonste stukkie het ek geskryf op ‘n paar uitgeskeerde dagboek bladsye van een van die fotograwe op Antjie en Frikkie se troue.  Dis al wat ons in die hande kon kry terwyl ek die tyd en die pen gehad het om nostalgies te raak…

Nou is my maatjie en haar bruidegom reeds getroud.  Ons het ‘n sakkie vol herinneringe gemaak later die dag met die twee wat so mooi opgepoets was.  Snaaks genoeg was dit die 100ste herdenking van die Titanic se ondergang, maar soos die dominee vertel het, is daar ‘n groot verskil tussen Antjie en Frikkie se storie en dié van die skip.  Die mense het van die Titanic gesê dat selfs nie God dit sal kan sink nie.  Antjie en Frikkie het op 14 April 2012 gesê hulle bootjie sal beslis sink, tensy God self die Stuurman is.

My hartswens is dat hulle op hierdie vaart die ysberge sal omseil omdat hulle reg gestuur word.  BON VOYAGE!

1 comment:

  1. Dis regtig pragtig! Jy skryf so mooi en lewend!
    Ek's mal oor jou gebed retreat ook, kan sovel daarmee identifiseer!
    ***

    ReplyDelete