Dis darem regtig lekkerder om op 'n A4 lyntjies bladsy te skribbel met 'n pen as om so versigtig te mik vir die kleiner-as-vinger-grootte knoppie op my foon. Helaas, as 'n blogger se skryf-lus weer vlam vat, dan maak 'n blogger gebruik van watter ookal beskikbare middele.
So, hier sit ek nou by The Place, weliswaar op my eie, maar in 'n manier het ek dit so gekies. Tussen die uitsorteer van my hoofligte wat my gisteraand 00h00 in die steek gelaat het en my tennisafspraak met my ousus in Johannesburg later vanmiddag, het ek besluit dat die tydgleuf gevul sal word met middagete. "Tafel vir...?" Een. "Rook of Nie-Rook?" Nie-rook. Sjoe, maar hierdie is regtig 'n tafel vir net EEN. 'n Tweede persoon sal maar bietjie sukkel om hier in te pas.
Ek luister maar na die gesels-stemme rondom my. Vandag is dit, snaaks genoeg, omtrent net ou stemme. Dis mooi silwergrys hier om my as ek so na die ooms en tannies se koppe kyk. ;) Na 'n ruk begin gesels ek en 'n vriend op Whatsapp. Dis interessant hoe die generasies verskil...wonder of die silwer gryses dink ek wag vir iemand of wat. Ek weet net hulle gesels tog te lekker in hul wyse stemme (in my kop word wysheid en grysheid so saam-saam meer in 'n mens se lewe).
My kos word gebring en ek eindig die Whatsapp gesprek af. En net na ek vir die Voorsiener dankie gesê het vir my kos, verskyn daar skielik 'n grys gesiggie langs my, liefde in die oë en vriendelikheid op die lippe... "I just want to tell you that God loves you and that you're not alone".
Ek kan nie help om aan my tafel te dink nie... Hier is oorgenoeg plek vir 'n tweede Persoon by The Place se klein tafeltjie vir 'net' een. :)
No comments:
Post a Comment