Sy kyk na haar twee voetjies. Die modder stoot tussen haar toon-gleufies deur en die sensasie laat haar skaterlag en met vreugde weghardloop na die boomryke woud langs die rivier. Soos sy hardloop speel haar wit rokkie om haar enkeltjies. Haar groot drie jaar oue blou oë spring rond en sien elke detail raak.
Die blaartapyt op die woud se donkerbruin vloer. Sonstrale wat tussen die bome deur skyn en hul pad tot op haar neusie vind. ‘n Bokkie wat kou aan ‘n takkie en stil na haar kyk met sy groot bokkie-oë. Twee eekhorings wat vang-vang speel in die takke van die groot wilgerboom. ‘n Spierwit skoenlapper wat ruk-ruk dié kant toe en dan daai kant toe fladder…
Sy hardloop-agtervolg die dingetjie wat haar aandag nou ten volle opeis. Dis asof die skoenlappertjie weet en “Follow the Leader” met haar speel… Om die dik stam van ‘n groot seder, oor ‘n heuwel, verby spelerige jong kalwers, tot op ‘n riet in die rivier waar haar modder voetspore nog lê. Versigtig stap sy nader totdat die skoenlapper klap-vlerk gebalanseer tussen haar twee ogies sit. ‘n Kodak-oomblik vir enige ouer!
‘n Seuntjie in khaki-kleertjies kruip weg agter ‘n groterige klip en aanskou die oomblik, kry sy watergeweertjie uit sy broeksak en skiet haar sekuur op die linkervoet. Sy gil en verwilder die skoenlappertjie soos sy spring van die skielike koue. Klein meneertjie lag al te lekker! “Kom kyk wat het ek in die eendepoel gekry!”, nooi hy haar om te deel in sy avonture…
En God glimlag oor Sy kinders.
Lovely story, made me laugh
ReplyDelete