Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Sunday, 13 May 2012

'n Ding of twee oor skoonheid

Ek vermoed, en ek het dit ook al iewers gelees, dat elke vrou se hartswens is om mooi te wees vir ‘n man.  So mooi dat dit sy binneste sal  roer en hy amper enige iets sal doen om daardie mooiheid vir homself te kry en van enige iets beskerm.  

Skoonheid is relatief.

Ek verneem dat mans so gewaarsku word:  “’n Mooi meisie is almal se meisie.”  Pasop vir haar skoonheid!  Ek wonder hoeveel meisies was al regtig spyt oor hul skoonheid.  Doctor Victor sing ook:  “If you wanna be happy for the rest of your life never make a pretty women your wife, but from my personal point of view get an ugly girl to marry you.”  Ek stem darem nie saam dat skoonheid noodwendig sleg is nie en het al mooi meisies ontmoet wat NIE almal se meisies is nie.

Menige meisie word konstant herinner dat “ware skoonheid lê in jou binneste”.  Hulle sê vir ons dat die “regte man” na jou buitenste sal kyk tot hy ook jou mooi (of nie) binneste sal raakkyk.  Hiermee stem ek saam en die feminis in my wil dit uitskree dat dit ook nie saakmaak wat die man dan nou dink nie, maar dat jy moet sorg dat jou binneste mooi is…man of te nie!  ‘n Vrou kan net soveel doen aan haar buitenste, maar aan haar binneste kan sy skaaf en skuur en buig en breek. 

Ek het eendag baie wyse raad gekry oor grimering en dis iets wat ek nogsteeds probeer navolg.  Ek het geleer dat goeie grimering net beklemtoon wat jy reeds het en nie enige iets vir jou bylas wat jy nie by jou ma en pa se genepoel gekry het nie.

Ek wonder oor die genepoel van die binneste en waarom meisies nie dieselfde hoeveelheid presisie en moeite insit in die versorging van hul binneste nie.  Miskien is jou binneste nie so ‘n refleksie van jou biologiese genepoel nie, maar van iets ‘n bietjie dieper.  Miskien vra dit integriteit en vrede met jouself...en harde werk. 

Ek daag jou uit, meisie…

1.                  Grimeer jou binneste minimaal sodat jy nie voorgee om iets anders te wees as wat jy wel is nie.
2.                  Beklemtoon jou binneste se bates en tree vorentoe as ‘n vrou wat stukkies van haarself aan haar medemens gee.
3.                  Pluk jou binneste se oortollige haartjies sodat jy al hoe minder seermaak, seersê en seerdink.
4.                  Sit ‘n onderlaag aan jou binneste sodat jy nie jou hart vir almal gee wat dit nie veilig sal hou nie.
5.                  Sit oogomlyner en mascara aan jou binneste se oë sodat dit mense nooi om staat te maak op jou.
6.                  Oefen jou binneste sodat dit uithouvermoë sal hê in geduld, sagtheid, vergewensgesindheid en respek.
7.                  Trek jou binneste met sorg aan met die beste waardes en maak seker hulle pas bymekaar.
8.                  En vertel vir ander watse produkte jy gebruik.

En nog net een ding:  ELKE meisie IS mooi!

2 comments:

  1. :) Cool post.

    As ou wil ek sommer net bylas: Selfs meisies wat nou nie met 'n Disney prinses se hare, gesiggie en lyfie geskep is nie, kan kies om fraai, of sommer net verwaarloos te lyk. Dis vir my baie erg as ek meisies sien wat aan die minder mooi kant van die spektrum val wat hulle-self nie versorg nie. Werk met wat jy het!
    Niemand hoef oorgewig te wees nie - eet gesond (moenie jouself verhonger nie) EN kry oefening. Oefening kan 'n heerlike sosiale aktiwiteit wees!
    Was en condition jou hare en geniet jou hare! Ek het nog nie 'n meisie gesien (wie se hare versorg is) wat se hare nie 'aantreklik' is nie.
    Make-up... ja - dis cool. Veral as mens amper nie agterkom jy het dit aan nie. Te veel laat lyk jou sommer sleg.
    Trek mooi aan! Meisies in rokkies, jassies en serpies is vir my regtig pragtig. Ek word deesdae sommer afgesit deur meisies in mini's en spegetti toppies (darem nie onder alle omstandighede nie). Trek vroulik aan. Trek aan soos 'n prinses, nie soos die Cheerleaders nie, selfs al het jy 'n cheer leading lyf.
    Enige meisie - dit maak nie saak hoe jy geskape is nie - kan vir my aantreklik wees as sy in goeie shape is, haar liggaam mooi versorg en mooi aantrek.
    En wat Bea sê oor innerlike aantreklikheid is spot-on.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Thanx, Piek! Dis erg lekker om te sien hoe jy (as verteenwoordiger van die manlike spesie op my blog) oor uiterlike skoonheid dink. Dit inspireer my sommer tot rokkies en serpies. :) Soos altyd, ek waardeer jou en heg waarde aan jou opinie. Jy is vir my 'n awesome voorbeeld van 'n waardige man.

      Delete