Ek glo nie ek sal elke dag oor my drafdinge skryf nie, maar dis darem nou vir my so lekker om weer terug te dink aan my studentedae se draffies. Ek het so met die laat middag wat room word gaan draf en dan die sonstrale deur die akkerbome waardeer en die ander drawwers en stappers wat mens later ook ken en elke keer op dieselfde straathoek of by dieselfde sirkel gekry het.
Ek onthou die een man wat my regtig opgeval het. Ek het hom opgemerk toe hy begin het om te stap - ai, ietwat oorgewig en sukkelend en met so 'n hangkoppie. Stadig maar seker het hy begin glimlag en maande later was hy nie meer 'n stapper-sukkelaar nie, maar 'n doring-drawwer.
Toe ek vandag dieselfde roete draf as gister en die wind my opdraend gee teen die afdraend het ek weer aan hierdie suksesverhaal gedink. Dit gaan mos nie oor hoe vinnig mens draf nie - dit gaan oor DAT jy draf. :) My tyd vir dieselfde roete was toe 10 sekondes swakker. O jitte, kom ons gee maar die wind die skuld. Wie weet, dalk waai die wind wanneer ek my 56km van glorie draf volgende jaar...en dan het ek darem al vandag besluit ek sal nie skrik nie.
No comments:
Post a Comment