Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Thursday, 29 November 2012

Mikpunt bereik. Tiek! :-)

Ek het die vorige aand gewonder of Riaan Cruywagen se laaste nuusboeletin regtig nuuswaardig genoeg is om 'n halfuur studietyd daaraan af te staan.  My gevolgtrekking was dat daar in die lewe min genoeg sulke oomblikke is en dat ek maar die opoffering kon maak.  Toe ek boonop hoor dat daar nog 'n ekstra program net na die nuus is, was ek selfs bereid om die verdere opoffering te maak en ook dit te kyk. 

Die studietyd waarvan ek praat was noodsaaklik vir my laaste toelatingseksamen-mondeling wat ek ook per genade gekry het.  Boedels en Testamente.  Heel ironies was dit juis erfreg wat my in die eerste plek na die regswese gelok het(dis 'n storie vir 'n ander keer).  In ons verpligte LEAD klasse was een van my gunsteling dosente ook die een wat Boedels en Testamente aangebied het.  So, ek moes eintlik hierdie vraestel 'n ding of twee gewys het.  Dalk was ek te optimisties toe ek besluit het om drie toelatingseksamens met een slag te skryf of dalk was dit maar net my paadjie wat ek moes loop om weereens bietjie nader aan God te kom.  Toe kry ek die genade-mondeling.

Voordat ek geweet het van die uitslae het ek in my stiltetyd gewonder of ek maar vir God moet vra of hy nie bietjie "magic" vir my sal stuur nie(want kyk, dit het NIE goed gegaan met die eksamens nie).  Hy is immers by magte om selfs vir my antwoorde in te vul of die eksaminator blind te maak vir my foute of watookal.  (Jy weet jy het ook al vir so iets gebid.)  Iewers in die stiltetyd reis het ek begin wonder wat die goed daarvan sal wees as ek my "magic" kry.  Sal my kliënte enigsins baat daarby dat ek nie die kennis het nie?  Sou dit vir myself enige waarde toevoeg? My gebed het verander na 'n gebed van "help my om watookal gebeur te hanteer".  En dit was so...

Dear Ms Kennedy, Your results for the Adm. exam...  Toe daai sms kom het ek omtrent hartkloppings gekry en amper besluit om nie te gaan draf nie.  Ek het nie Etiek gepluk soos ek gedink het nie, maar dit mooi deurgekom.  Ek het Howe, soos te wagte, ook deurgekom en dan was daar die genade-her vir Boedels en Testamente.  Ek het wel gaan draf...met dankbaarheid in my hart.

Die plan van aksie was om maar net weer alles te leer, meer te onthou, beter te verstaan en dan daai mondeling te PRAAT.  Iewers in my lewe het ek mos met Moses begin identifiseer en geglo dat ek nie 'n goeie prater is nie.  Hierdie leuen het ook nie juis gehelp nie.  Wat wel gehelp het, is om op my knieë in afhanklikheid te bly.

My mondeling was geskeduleer vir 09h30.  Ek is ingeroep om 09h20 en om 09h31 het ek vir my prinsipaal haar boodskap van die eksaminatore gegee.  "Sê vir jou prinsipaal jy het 'n goeie mondeling gehad.  Jy kan nou toegelaat word."  In 'n mate wil ek die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 'n bietjie krediet gee, want die noem daarvan het die twee eksaminatore baie beindruk, maar kom ons wees nou maar eerlik - al die eer kom die Here toe.  Mag daar ook groot eer wees in my prokureurswese in die toekoms.  Soos my Boedels dosent gesê het:  "Integrity is a non-negotiable commodity."  Waarheid is waarheid en hierdie waarheid wil ek in my beroep sien.

EK IS 'N KANDIDAAT PROKUREUR WAT OOR 'N PAAR MAANDE TOEGELAAT KAN WORD AS 'N REGTE PROKUREUR!  MIKPUNT BEREIK.  TIEK!  PRYS DIE HERE!  :-)

Sunday, 14 October 2012

Gun my die nostalgie

My tannie het eendag vir my gesê dat die rouproses werk soos 'n ovaalvormige baan.  Rou is in die middel van die ovaal en die persoon wat deur die rouproses gaan is op die ovaalbaan en beweeg al in die ronde.  Op die verste punte is die persoon wat deur rou gaan ooglopend besig om mooi deur die ding te werk en gaan dit baie goed.  Op die nader dele is die rou weer tasbaar en seer en voel dit amper vir die persoon of die rou nooit weggaan nie...

Ek dink nie die seer gaan ooit weg nie.  Ek dink dis nooit weer so ROU soos aan die begin nie, maar dit bly tog daar.  Nie dat dit die persoon definieer nie, maar dit wag vir 'n sneller-moment.  Die  venus-vlieëvanger het ook 'n sneller-moment wat gebeur wanneer iets aan sy haartjies raak.  Dan skiet taai twee blare toe en dit wat binne-in is word stadigaan verteer.

Vandag praat ek en my ma en tannie so oor my doop as babatjie en dis daai sneller-moment.  Ek sien weer die foto.  Nogal 'n skewe foto.  Skeef geneem om dit seker maar ouliker te maak.  My pa en ek in my dooprokkie en hy hou sy arm so dat dit my rug en nek mooi ondersteun.  Ek moes koes om die trane te keer en het verseker nie die stem gehad om hulle te vertel waaraan ek dink nie.  Vir my het daardie foto nog altyd my pa se beskerming en liefde uitgebeeld.

Ek het nog 'n sneller-moment gehad toe die dominee gesels het oor ons almal wat hierdie tyd van die jaar so moeg is.  Ons is besig en word nie stil nie.  Ons het sonde wat ons ver van God laat voel.  Dit het my laat dink aan die plek waar ek nog altyd die veiligste gevoel het.  Ons mooiste plaas in die binneste van Namakwaland en gegiet tussen granietkoppies.  Gun my die nostalgie...

Daar het ons as volledige gesin van ses gereeld op die stoep gesit en gesels.  Elkeen iewers op 'n sement stukkie en dalk 'n skaaphond of twee wat bedel vir aandag.  My pa sou daar sit op die trappies met sy arm om my ma en dan die een of ander diep gesprek aan die gang sit.  Soos die gesprek vorder sou ons na voëls luister, die son sien ondergaan en sterre een vir een hul verskyning sien maak.  Dit was nie nodig om die ligte aan te sit nie, want wat ons daar gehad het was heeltemal genoeg.  'n Gesin van ses, waar die ouers lief was vir mekaar en elke kind sy of haar eie, uniekheid gegun was.

Ja, dit het nie vir ewig gehou nie.  My pa is hemel toe. Te vroeg na my sin, en sekerlik te vroeg vir almal in my gesin.  Ons het ons anker verloor.

Ek het wel nie my herinneringe verloor nie en in daardie tyd God se nabyheid en sorg en voorsiening die naaste beleef.  Ek het, soos baie ander, gegroei uit my pyn.  Maar in dae soos vandag, gun my die nostalgiie, verlang ek na daardie man. 

Hy en my ma het my geleer van God soos hulle beloof het daardie dag met my doop.  Ons het in die aande saam as gesin Bybelstudie gedoen en met my nagsoen het hy altyd met sy dag-oud baard in my nek geskuur en klavier gespeel op my ribbebene.  Hy het vir my vertel dat ek mooi is en my leer wals.  Deur sy stories van vroeër en deur sy leefwyse het hy vir my 'n goeie, goeie voorbeeld gestel.  Hy het ons vasgevat as dit nodig was (en glo my, dit was nodig!).

Ek wil hom nog hier hê.  Ek dink aan hom met troues as my vriendinne se pa's saam met hulle die kerk inkom.  Ek verlang na hom langs my ma.  Gun my die nostalgie.

Ek dank die Here dat Hy my ewige Pa is en dat my aardse pa my gehelp het om Hom beter te verstaan.  Ek leer nou by Hom dat ek mooi is en hoe om saam met Hom te dans.  Ek probeer om my lewensbesluite deur Hom te laat inspireer.  Die Here het gegee en die Here het geneem en die Here sorg nogsteeds.  Prys die Naam van die Allerhoogste God!

Friday, 28 September 2012

Dit was die tweede dag...

Ek glo nie ek sal elke dag oor my drafdinge skryf nie, maar dis darem nou vir my so lekker om weer terug te dink aan my studentedae se draffies.  Ek het so met die laat middag wat room word gaan draf en dan die sonstrale deur die akkerbome waardeer en die ander drawwers en stappers wat mens later ook ken en elke keer op dieselfde straathoek of by dieselfde sirkel gekry het.

Ek onthou die een man wat my regtig opgeval het.  Ek het hom opgemerk toe hy begin het om te stap - ai, ietwat oorgewig en sukkelend en met so 'n hangkoppie.  Stadig maar seker het hy begin glimlag en maande later was hy nie meer 'n stapper-sukkelaar nie, maar 'n doring-drawwer. 

Toe ek vandag dieselfde roete draf as gister en die wind my opdraend gee teen die afdraend het ek weer aan hierdie suksesverhaal gedink.  Dit gaan mos nie oor hoe vinnig mens draf nie - dit gaan oor DAT jy draf.  :)  My tyd vir dieselfde roete was toe 10 sekondes swakker.  O jitte, kom ons gee maar die wind die skuld.  Wie weet, dalk waai die wind wanneer ek my 56km van glorie draf volgende jaar...en dan het ek darem al vandag besluit ek sal nie skrik nie.

Thursday, 27 September 2012

Two Oceans Oefening vir dwase - Dag 1

Jy moet 'n dwaas wees as jy beoog om die Two Oceans Ultra Marathon te draf...

Nou vat ek darem my ouboet lelik in die gesig.  Hy was maar 18 toe hy, net nadat hy van 'n baie ernstige motorongeluk se beserings herstel het, weer begin oefen het om homself gereed te kry vir ons skool se kleure atletiek en dit nogal vir die 3000m (wat gewoonlik in die hitte van die dag gedraf is, moet ek sê en ons praat nou hier van Springbok-hitte in Januarie...dis NIE vir sissies nie).

Ek weet nie presies wanneer hy begin marathonne doen het nie, maar daai vasberade oefening het my bygebly en tot 'n mate bygedra tot my eie (dwase?) besluit om te begin oefen vir volgende jaar se Two Oceans Ultra Marathon(56km).  Dit was 'n vriendin van 'n vriend wat met die ongelooflike voorstel gekom het by ons weergawe van Nasionale Braaidag.  Sy sal die een wees wat ek verkwalik wanneer dit swaar gaan.  :)

Ek het al my deel gedoen vir Two Oceans Halfmarathonne - ook deur ouboet aangehits.  Ons het byvoorbeeld 'n meningsverskil oor die jaar toe die Two Oceans op my verjaardag was.  Ek het, volgens myself, toe vooraf onderneem om die ekstra 900m te draf sodat ek dan 22km draf op die 22ste Maart.  Ouboet, weer, hou voet by stuk ek het gesê ek sou die 56km doen omdat dit dan nou so 'n spesiale dag was.  Ons het besluit om ooreen te kom om te verskil...

Ouboet weet nou nog nie van my dwase besluit nie.  Hy het self nogal lanklaas die drafding voltyds gedoen omdat hy so 'n hardwerkende Namakwalandse boer is.  Dalk kan ons bietjie rolle ruil en ek HOM oortuig om saam te hardloop. 

In elk geval, bekkige boklammetjie is nie SO seker van haar saak nie.  Oceans voorbereiding is hard en vat uithouvermoë.  Ek het vandag begin en my eerste draffie gedoen.  5km in 29 minute en 29 sekondes.  Nie dat tyd belangrik is nie, maar ek het nie gestap nie en dit IS 5km.  So, dit wil vir my voorkom asof ek nogal opgewek gehardloop het en dis 'n goeie ding.  Ek kan nie hier, op dag 1, al sukkel met entoesiasme nie - ek het 'n doelwit om te bereik...ter ere van die God wat my in my moederskoot gevorm het en sommer ook vir die ouboet wat Hy my mee geseën het.  Kom ons gaan!

Tuesday, 7 August 2012

Little Miss Sunshine

This post had to be in English again because my (very real) main character finds herself to be a four-year-old English lady.  It is not about yesterday's snow in Pretoria, although I do want to say "Praise the Lord for that sudden beauty-bless!".

After the snow and a piece of cake from Isabella's and after I had done away with some work, I walked into the coldness.  The wind did not help, but Little Miss Sunshine did! 

As I stepped out of our office door I saw her chatting with the office-next-door's receptionist.  I thought that a short greeting, a smile and a nod would do the trick.  Little Miss Sunshine had one question for me, though.  "Do you know my mommy?"  Suddenly it hit me - her mother had to be the friendly lady working at the dental lab in our office block.  Same blonde hair, same blue eyes, same friendliness...  I replied "I think so.  What is your mommy's name?".  Sure thing - it was the dentist. 

Little Miss Sunshine went on to look at my car keys which has a boomerang key holder.  She asked me what it was and I thought that maybe I could teach her something.  "It is a boomerang.  Boomerangs are from Australia and when you throw it, it comes right back to you", I said.  She wanted to know if I was from Australia, but I just told her that a wonderful friend gave it to me as a gift when she came back from a trip to Australia.  "I have cousins in Australia!", she replied.

It took only that little conversation to put a big smile on my face.  What triggered me most was her little girl confidence that I would know who her mommy was.  I could not help to think - when I asked people if they knew my Daddy...would they know right away because I looked just like Him, walked just like Him, touched just like Him?

Sunday, 13 May 2012

'n Ding of twee oor skoonheid

Ek vermoed, en ek het dit ook al iewers gelees, dat elke vrou se hartswens is om mooi te wees vir ‘n man.  So mooi dat dit sy binneste sal  roer en hy amper enige iets sal doen om daardie mooiheid vir homself te kry en van enige iets beskerm.  

Skoonheid is relatief.

Ek verneem dat mans so gewaarsku word:  “’n Mooi meisie is almal se meisie.”  Pasop vir haar skoonheid!  Ek wonder hoeveel meisies was al regtig spyt oor hul skoonheid.  Doctor Victor sing ook:  “If you wanna be happy for the rest of your life never make a pretty women your wife, but from my personal point of view get an ugly girl to marry you.”  Ek stem darem nie saam dat skoonheid noodwendig sleg is nie en het al mooi meisies ontmoet wat NIE almal se meisies is nie.

Menige meisie word konstant herinner dat “ware skoonheid lê in jou binneste”.  Hulle sê vir ons dat die “regte man” na jou buitenste sal kyk tot hy ook jou mooi (of nie) binneste sal raakkyk.  Hiermee stem ek saam en die feminis in my wil dit uitskree dat dit ook nie saakmaak wat die man dan nou dink nie, maar dat jy moet sorg dat jou binneste mooi is…man of te nie!  ‘n Vrou kan net soveel doen aan haar buitenste, maar aan haar binneste kan sy skaaf en skuur en buig en breek. 

Ek het eendag baie wyse raad gekry oor grimering en dis iets wat ek nogsteeds probeer navolg.  Ek het geleer dat goeie grimering net beklemtoon wat jy reeds het en nie enige iets vir jou bylas wat jy nie by jou ma en pa se genepoel gekry het nie.

Ek wonder oor die genepoel van die binneste en waarom meisies nie dieselfde hoeveelheid presisie en moeite insit in die versorging van hul binneste nie.  Miskien is jou binneste nie so ‘n refleksie van jou biologiese genepoel nie, maar van iets ‘n bietjie dieper.  Miskien vra dit integriteit en vrede met jouself...en harde werk. 

Ek daag jou uit, meisie…

1.                  Grimeer jou binneste minimaal sodat jy nie voorgee om iets anders te wees as wat jy wel is nie.
2.                  Beklemtoon jou binneste se bates en tree vorentoe as ‘n vrou wat stukkies van haarself aan haar medemens gee.
3.                  Pluk jou binneste se oortollige haartjies sodat jy al hoe minder seermaak, seersê en seerdink.
4.                  Sit ‘n onderlaag aan jou binneste sodat jy nie jou hart vir almal gee wat dit nie veilig sal hou nie.
5.                  Sit oogomlyner en mascara aan jou binneste se oë sodat dit mense nooi om staat te maak op jou.
6.                  Oefen jou binneste sodat dit uithouvermoë sal hê in geduld, sagtheid, vergewensgesindheid en respek.
7.                  Trek jou binneste met sorg aan met die beste waardes en maak seker hulle pas bymekaar.
8.                  En vertel vir ander watse produkte jy gebruik.

En nog net een ding:  ELKE meisie IS mooi!

Sunday, 29 April 2012

Gebed van 'n meisie op retreat

Here, hoe nader die tyd aan my retreat gekom het, hoe banger het ek geraak.  Ek dink dis omdat ek nie meer gewoond is aan stilte nie.  Selfs ‘n sonsondergang word nie meer ingedrink nie, maar net vinnig met ‘n “Wow!” opgemerk.  Ek het tevrede geword met kits-oomblikke, kits-gebede en geskeduleerde Bybelstudies.

Ek hou nie van beplanning nie, maar sê vir myself as ek vertrou dat ek nou en dan sal dink aan iets belangriks, dan is ek sommer tevrede dat ek by alles sal uitkom.  En Facebook sal my herinner aan wie verjaar, wie ‘n baba gekry het en wanneer iemand verloof raak.

Ek spandeer baie tyd aan BBM en Whatsapp en sê altyd ja vir koffies.  Dan praat ons lekker oor alles en nog wat en iewers tussenin probeer ek bid, maar raak aan die slaap of probeer ek opstaan om Bybel te lees, maar kom nie op nie.  Tog, wanneer die wekker die tweede keer afgaan, spring ek op en kom vroeg by die werk om gou te kyk (op Facebook) wie verjaar en wens hulle geluk.

Ek lewer kommentaar op ‘n foto op Facebook en kry kort-kort kennisgewings van nog vriende (ware vriende?) wat ook iets te sê het.  Dan voel ek naby aan vriende, ver van werk en ek wonder waar U plek in my lewe is…

Ek sê vir myself dat kommentaar op Facebook deur U gelees moet kan word en dat dit goed is om vir iemand ‘n boodskap te stuur as ek aan hom of haar dink.  Voor ek my kom kry is ek besig om lang gesprekke te hê en te praat oor goed waaroor ek nie seker is dat ek u insae gevra het nie.

Dié belangrikste verhouding in my lewe ly skipbreuk en duisende ander floreer!  Ek laat sak my kop in skaamte.  My binnekamer is vuil en deurmekaar!

Ek lees seker vier boeke op ‘n slag van soeke na waarheid.  Dan besef ek dat ek oorgestimuleer is.  Wanneer waarheid kom krap aan my binneste skram ek weg na ‘n boek, ‘n koffie, ‘n gesprek, ‘n draffie of selfs ‘n slapie.  Ek lééf nie die oomblik nie.  Ek skep ‘n lewe, maar dis ‘n virtuele fiksie, Here.

“God is more real to me than you sitting over there”…oom Angus Buchan praat van ‘n God wat met hom praat, met Wie hy praat, wat hom geskep het en hom roep vir ‘n Geesvervulde lewe in Hom (saam met Hom, vir Sy koninkryk…in verhouding met Hom).

Nou sit ek op retreat in my woonstel, sonder mense, met ‘n af foon en soék na U wat kláár by my is.  Jesus was Godverlate aan die kruis sodat ek vandag nié Godverlate hoef te wees nie en in my soeke U kan vind.

Kom praat met my, Heilige Gees.

Amen

Blogger se kommentaar:  die bostaande is 'n baie persoonlike gebed, maar dalk raak dit jou en dalk kan jy daarmee identifiseer.  Ek is oop vir gesprekke hieroor.  :)  Wat ek net wil sê is dat die res van die retreat baie lekker was.  Ek het weer genoeg stilte gehad vir 'n rukkie (alhoewel dit weer 'n aanpassing was om tussen mense te kom).  'n Paar goed sal nou moet verander - dis maar hoe dit werk, ne.  Anders sal hierdie gebed die een wees wat elke oggend op my lippe is.  Ek kan jou belowe dat die laaste gebed van my retreat een met groot dankbaarheid en verwondering was.  Ek dien 'n baie genadige God.

Thursday, 19 April 2012

Daar seil 'n skippie veilig weg

14 April 2012

Ek onthou ‘n blonde-kop dogtertjie van ‘n paar jaar gelede.  Ek het eendag my oë uitgevee en sy was net daar.  Waar ek grootgeword het, op die Boesmanlandse vlaktes op ‘n plaas, was maatjies maar min, so omdat hierdie dogtertjie my ouderdom was, was dit vanselfsprekend en ongekompliseerd natuurlik dat ons twee sou maatjies raak.  Die tekort aan maatjies daar tussen die buurplase het geensins die kwaliteit, integriteit, nederigheid of karakter van my oudste (in vriendskapsjare gemeet) vriendin beїnvloed nie. 

Haar naam was Antjie en sy het sleeptong gepraat.  As ons pa’s enigsins ‘n boerevereniging iets moes bywoon of ons ma’s vir Bybelstudie bymekaargekom het, dan was ek kinderlik opgewonde oor my en Antjie se saamspeel en saam eet.

Ons is in sub A reeds koshuis toe en was saam met twee ander dogtertjies in ‘n kamer.  Ek onthou hoe ons mekaar probeer troos het omdat ons huis toe, plaas toe verlang het.  Antjie se naam het skielik baie meer kompleks geraak.  Ek moes haar Anna-Lize begin noem en met ander maatjies deel.  So gesê, so gedaan.  Hier, in Sub A, in die laerskoolkoshuis op Springbok, het ons kamerdelery begin.

Nog in Sub A, het ons tweetjies een aand besluit om te deurnag in haar bed en onder haar mooi pienk beddegoed met die spelende grys katjies op.  Ek dink ons het haar bed gekies want ek het so ‘n lelike baksteen-oranje KJA deken gehad en die kontras was nogal skril.  Tussen die twee van ons was die begrip deurnag nog maar vaag en het ons nie besef hoe lank so ‘n aand kan raak nie.  Ek skat dit was ‘n uur na ligte-uit toe ek vir haar vra-fluister of sy nog wakker is en sy in antwoord my ore van my lyf af gil!  Dit was die einde van die deurnagtery vir daardie aand en elkeen het maar in haar eie bed gaan slaap.  Ek het ‘n waardevolle les geleer – Antjie hou van haar slapie en jy moet dit nie versteur nie.

Drie jaar later slaap ek nog so lekker en Antjie, alweer my kamermaat en nou maar ook weer Antjie, kom maak my wakker.  Nee, sy wil by my slaap, want iemand is in die koshuis.  Ek sê nog vir haar dis nonsens, maar sy hou so aan dat ek maar muur toe skuif en plek maak vir my bang maatjie.  Jou wrintiewaar, dit was toe ‘n onwelkome gas, wat oral in die koshuis radio’s en dinge gesteel het.  Ek het geleer dat Antjie ‘n ligte slaper is.

Nog drie jaar later, in St 5, deel ons weer kamer.  Omdat ons so voorbeeldig en soet was (of dan nou eerder…nie LELIK stout nie) was ons die enigste enigste kamer op die derde vloer van die koshuis.  Die onderwysers was traag om die ekstra stel trappe tot by ons te klim, so ons het soms die vryheid meer geniet as wat ons moes.  Ons het tot laat in die aande gelê en gesels, selfs as die ander kamermaats al geslaap het.  Dan het ons vir mekaar vertel van verliefdheid en crushes en vibes en is ons tog gereeld afgeluister deur die onnies…tot ons groot verleentheid soms.  “Hierdie ‘vibes’ van julle moet nou end kry!” hoor ek nog vir meneer Cooper na ‘n groot hartsgesprek.  Antjie was lief vir gesels.

Selfs op hoërskool, in St 6, was ons nog kamermaats en beste vriendinne en skryf ons in geheime skrif vir mekaar briewe.  Oor en weer het die brieweboek in die studiesaal rondgerits en het ons geheime gedeel.  Daar is ook gereeld naweke op die een of die ander se plaas gaan kuier.

Die skeiding na skool was nie so lekker nie, maar die brieweboek het plek gemaak vir e-mails tussen Tygerberg Kampus en Stellenbosch.  Sy MOES moes kies om fisioterapie te studeer en ek het nie wiele gehad nie, so e-mails moes dit maar wees. Vakansies, wanneer ons albei weer huis toe gaan, het ons weer by mekaar gaan kuier en dis in die nagte wanneer ons elkeen in ons bedjie lê dat die groot gesels weer gekom het – geloof en vriende en ouens en werk en drome en hoop…ons deel dit alles soos in die ou dae en dan voel die lewe weer reg.

Ouens kom en gaan ook maar – ons was meer verlief op hulle as wat ons kêrels gehad het en dit was soms ‘n probleem…tot Frikkie Antjie se hart kom steel het.  Ek het gesien my vriendin het iemand gekry wat haar aanvul in haar humor en haar plat-op-die-aarde leefstyl deel.  Hy het haar liefgekry vir wie sy is omdat sy dit nie wegsteed nie.  Toe, eendag, kry ek die foto van die klippie aan die ringvinger met ‘n BBM boodskap. 

En dit word die rede vir my laaste kamer-deel aand saam met my geliefde, liewe vriendin, Antjie.  Gisteraand lê ons in ‘n dubbelbed en gesels oor haar volgende kamermaat.  Die Here het vir my maatjie ‘n pasmaatjie gegee wat vanoggend vir haar ‘n sms stuur in die lyn van:  “Goeie more my trouvrou.  Ek kan nie wag om met jou te trou nie.  Daar is net een soos jy.  Ek is baie lief vir jou.”

Frikkie, jy kry vandag my beste maatjie vir ewig as jou vrou.  Sy is lief vir slaap en sy gaan jou wakker maak om haar te beskerm, maar ou Frikkels, sy gaan so lekker met jou gesels!  Ek weet en jy weet, dat jy ‘n juweel van ‘n mens gekry het om jou lewe mee te deel.  Mag julle vir ewig vandag sommer baie mooi begin!

19 April 2012

Die boonste stukkie het ek geskryf op ‘n paar uitgeskeerde dagboek bladsye van een van die fotograwe op Antjie en Frikkie se troue.  Dis al wat ons in die hande kon kry terwyl ek die tyd en die pen gehad het om nostalgies te raak…

Nou is my maatjie en haar bruidegom reeds getroud.  Ons het ‘n sakkie vol herinneringe gemaak later die dag met die twee wat so mooi opgepoets was.  Snaaks genoeg was dit die 100ste herdenking van die Titanic se ondergang, maar soos die dominee vertel het, is daar ‘n groot verskil tussen Antjie en Frikkie se storie en dié van die skip.  Die mense het van die Titanic gesê dat selfs nie God dit sal kan sink nie.  Antjie en Frikkie het op 14 April 2012 gesê hulle bootjie sal beslis sink, tensy God self die Stuurman is.

My hartswens is dat hulle op hierdie vaart die ysberge sal omseil omdat hulle reg gestuur word.  BON VOYAGE!

Monday, 9 April 2012

The Place

Dis darem regtig lekkerder om op 'n A4 lyntjies bladsy te skribbel met 'n pen as om so versigtig te mik vir die kleiner-as-vinger-grootte knoppie op my foon. Helaas, as 'n blogger se skryf-lus weer vlam vat, dan maak 'n blogger gebruik van watter ookal beskikbare middele.

So, hier sit ek nou by The Place, weliswaar op my eie, maar in 'n manier het ek dit so gekies. Tussen die uitsorteer van my hoofligte wat my gisteraand 00h00 in die steek gelaat het en my tennisafspraak met my ousus in Johannesburg later vanmiddag, het ek besluit dat die tydgleuf gevul sal word met middagete. "Tafel vir...?"  Een.  "Rook of Nie-Rook?"  Nie-rook.  Sjoe, maar hierdie is regtig 'n tafel vir net EEN. 'n Tweede persoon sal maar bietjie sukkel om hier in te pas.

Ek luister maar na die gesels-stemme rondom my. Vandag is dit, snaaks genoeg, omtrent net ou stemme. Dis mooi silwergrys hier om my as ek so na die ooms en tannies se koppe kyk.  ;) Na 'n ruk begin gesels ek en 'n vriend op Whatsapp.  Dis interessant hoe die generasies verskil...wonder of die silwer gryses dink ek wag vir iemand of wat.  Ek weet net hulle gesels tog te lekker in hul wyse stemme (in my kop word wysheid en grysheid so saam-saam meer in 'n mens se lewe).

My kos word gebring en ek eindig die Whatsapp gesprek af. En net na ek vir die Voorsiener dankie gesê het vir my kos, verskyn daar skielik 'n grys gesiggie langs my, liefde in die oë en vriendelikheid op die lippe... "I just want to tell you that God loves you and that you're not alone". 

Ek kan nie help om aan my tafel te dink nie... Hier is oorgenoeg plek vir 'n tweede Persoon by The Place se klein tafeltjie vir 'net' een. :)

Thursday, 15 March 2012

Kort

Daar bestaan 'n korterige verhaal.   Die storie kan nie 'n dik boek vol skryf nie, maar dit het die lengte van 'n bloginskrywing... 

Die meisie in die storie het kort bene, kort tone en kort vingers.  Sy kan byvoorbeeld nie so goed kitaar speel nie as gevolg van die tekort aan lengte in haar vingers.  Dit het haar egter nie teruggehou nie en vandag speel sy graag liedjies soos "Row your boat", "Edelweiss" en "Favourite Things" op haar eie manier.  Jy moet egter wakker slaap, want optredes van hierdie legende is maar van korte duur...knip jou oë en die repertoire is verby. 

Eendag kyk die meisie se ouer suster na haar tone en ken aan hulle die benaming Rice Crispy-tone toe.  Wat 'n frase!  Die episode het kortliks tot die volgende gelei - jarelange lag en gespot...en cutex in al die kleure van die reënboog, want kleur Rice Crispies is net soveel ouliker.  Hoe sê hulle?  "If you got it, flaunt it!"  Ons meisie het liewer geword vir haarself. 

'n Kort humeur sou jy nie by die Rice Crispy koningin bespeur nie, maar o wee!  Die geheue!  So vergeet sy eendag om haar faksmasjien af te sit en met 'n groot donderstorm veroorsaak 'n kortsluiting 'n groot verlies!   Sy moes al haar Cutex verkoop...

Vinnig het sy besef dat wêreldse dinge maar net kortstondige geluk tot gevolg het en sy het maar weer die kitaar in haar kort arms geneem.  Met 'n lied in die hart en die mond het ons meisie haar kortsigtigheid in die sak gesteek en saam met die voëltjies gesing. 

Met voëltjies en al het sy begin stap en die kortpad na 'n man se hart gevind.  So ewe 'n man met lengte!  Haar streng pa wou die lang man se planne kortwiek, maar nadat hy hom kortgevat het, het selfs hy besef dat daar niks tussen die twee teenoorgesteldes gaan kom nie.  Helaas, pappa moes maar geld uit die sak haal en sy khaki kortmouhemp verruil vir 'n das en pak...


Monday, 23 January 2012

Vat een vir die span!

Ek het onlangs weer 'n "embarassing moment" gehad wat ek maar gaan notuleer, want netnou vergeet ek eendag hoe dit was om klerk te wees.  Ek dink hierdie vernederende oomblikke wat mens soms beleef, is meestal maar net vernederend in jou eie kop...of jy is so salig onbewus daarvan dat dit in almal BEHALWE jou eie kop is.  Soos die keer toe ek 14h45 in my 14h00 klas ingestap het met die wêreld se selfvertroue en 'n kopknik en "Jammer, Meneer" na die dosent se kant toe.  In my kop was ek 5 minute laat.  In sy kop was "laat" 'n eufemisme.  In my kop was die Engelsman-klasvriend se frons en "What the...?" uitdrukking heeltemal ongegrond.  Vir hom was dit die snaaksste ding wat daardie dag in klas gebeur het.  Ek het my fout 3 minute later agtergekom toe ek NET my boeke uitgepak het en die dosent sê:  "En dis tot waar julle toets skryf."  Ek het om verskoning gaan vra by die dosent, maar tot vandag toe en waarskynlik vir altyd, sal my klasmaats nog so begin dink aan daai dag in die Administratiefreg klas...

Laat ek julle nou vertel.  As daar een ding is wat ek die afgelope jaar geleer het, is dit dat dit nie nodig is om druk te bou in die prokureursberoep nie.  Dit word VIR jou gedoen.  So, al wat jy nou eintlik kan doen, is om so veel as moontlik gedoen te kry om die kanse vir onvoorsiene tydopslurpers te minimaliseer.  Jy sal dit nooit heeltemal kan keer nie, maar jy kan probeer.

En so gaan die rooi ligte aan toe ons advokaat nog 'n rondetafel (partye probeer hul sakies uitstreik om 'n tafel, behalwe dat geen party betrokke is nie en elke prokureur/advokaat sy kliënt se belange op die hart dra) inpas op die dag wat ek die saak onder bespreking se lêer in die hof moet gaan indekseer en pagineer (bladsy nommers en name gee).  Hierdie deel van die hof maak 13h00 toe en ek sukkel 12h45 nog om parkering te kry in die besige middestad van Pretoria.  Soos ek die motor sluit en my dapper en stapper in vyfde rat sit, laat val ek al die reeks papiere in my lêer in die middel van die straat en my karwag lag.  Nie dat dit snaaks sou wees as 'n motor my toe getref het nie.

Maar ek het die papiere en ek het weer spoed en so hardloop die klerk weer in die stad rond.  Ek het nogal weer aan die keer wat ek so lekker geval het, gedink en myself belowe dat ek sal seker maak van elke tree...tot ek op 'n stadium afkyk en sien dat my hemp se knopies los gekom het.  Kyk, ek is min of meer die skaamste mens wat ek ken, so hierdie is rof.  Ek was nog nooit so dankbaar vir die baie lêers wat ek so in die stad moet ronddra nie.  Dit het my eer beskerm.  Ek verminder spoed en herstel die status quo (posisie soos aan die begin) met betrekking tot my hempie en wals 12h55 in by die hof, net om te moet gaan smeek vir die lêer by die hof se argiewe.

Ek dink nie kliënte het 'n halwe idee waardeur klerke soms vir hulle moet gaan nie.  Hierdie is ook net 'n oorvertelling van die kersie op die koek.  Na 'n lang gesukkel en gesmeek en trane wegsluk (net trots kan soms nog help om trane te keer), is die lêer in by die regtersklerk en kon ek tot verhaal kom en drie dae later het ons 'n suksesverhaal in die hof gehad.

Vat een vir die span!

PS:  jy kan hierdie post maar net lees - moenie met my daaroor praat nie.  :)

Sunday, 8 January 2012

Beeld

Sy kyk na haar twee voetjies.  Die modder stoot tussen haar toon-gleufies deur en die sensasie laat haar skaterlag en met vreugde weghardloop na die boomryke woud langs die rivier.  Soos sy hardloop speel haar wit rokkie om haar enkeltjies.  Haar groot drie jaar oue blou oë spring rond en sien elke detail raak. 

Die blaartapyt op die woud se donkerbruin vloer.  Sonstrale wat tussen die bome deur skyn en hul pad tot op haar neusie vind.  ‘n Bokkie wat kou aan ‘n takkie en stil na haar kyk met sy groot bokkie-oë.  Twee eekhorings wat vang-vang speel in die takke van die groot wilgerboom.  ‘n Spierwit skoenlapper wat ruk-ruk dié kant toe en dan daai kant toe fladder…

Sy hardloop-agtervolg die dingetjie wat haar aandag nou ten volle opeis.  Dis asof die skoenlappertjie weet en “Follow the Leader” met haar speel…  Om die dik stam van ‘n groot seder, oor ‘n heuwel, verby spelerige jong kalwers, tot op ‘n riet in die rivier waar haar modder voetspore nog lê.  Versigtig stap sy nader totdat die skoenlapper klap-vlerk gebalanseer tussen haar twee ogies sit.  ‘n Kodak-oomblik vir enige ouer!

‘n Seuntjie in khaki-kleertjies kruip weg agter ‘n groterige klip en aanskou die oomblik, kry sy watergeweertjie uit sy broeksak en skiet haar sekuur op die linkervoet.  Sy gil en verwilder die skoenlappertjie soos sy spring van die skielike koue.  Klein meneertjie lag al te lekker!  “Kom kyk wat het ek in die eendepoel gekry!”, nooi hy haar om te deel in sy avonture…

En God glimlag oor Sy kinders.