Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Sunday, 29 April 2012

Gebed van 'n meisie op retreat

Here, hoe nader die tyd aan my retreat gekom het, hoe banger het ek geraak.  Ek dink dis omdat ek nie meer gewoond is aan stilte nie.  Selfs ‘n sonsondergang word nie meer ingedrink nie, maar net vinnig met ‘n “Wow!” opgemerk.  Ek het tevrede geword met kits-oomblikke, kits-gebede en geskeduleerde Bybelstudies.

Ek hou nie van beplanning nie, maar sê vir myself as ek vertrou dat ek nou en dan sal dink aan iets belangriks, dan is ek sommer tevrede dat ek by alles sal uitkom.  En Facebook sal my herinner aan wie verjaar, wie ‘n baba gekry het en wanneer iemand verloof raak.

Ek spandeer baie tyd aan BBM en Whatsapp en sê altyd ja vir koffies.  Dan praat ons lekker oor alles en nog wat en iewers tussenin probeer ek bid, maar raak aan die slaap of probeer ek opstaan om Bybel te lees, maar kom nie op nie.  Tog, wanneer die wekker die tweede keer afgaan, spring ek op en kom vroeg by die werk om gou te kyk (op Facebook) wie verjaar en wens hulle geluk.

Ek lewer kommentaar op ‘n foto op Facebook en kry kort-kort kennisgewings van nog vriende (ware vriende?) wat ook iets te sê het.  Dan voel ek naby aan vriende, ver van werk en ek wonder waar U plek in my lewe is…

Ek sê vir myself dat kommentaar op Facebook deur U gelees moet kan word en dat dit goed is om vir iemand ‘n boodskap te stuur as ek aan hom of haar dink.  Voor ek my kom kry is ek besig om lang gesprekke te hê en te praat oor goed waaroor ek nie seker is dat ek u insae gevra het nie.

Dié belangrikste verhouding in my lewe ly skipbreuk en duisende ander floreer!  Ek laat sak my kop in skaamte.  My binnekamer is vuil en deurmekaar!

Ek lees seker vier boeke op ‘n slag van soeke na waarheid.  Dan besef ek dat ek oorgestimuleer is.  Wanneer waarheid kom krap aan my binneste skram ek weg na ‘n boek, ‘n koffie, ‘n gesprek, ‘n draffie of selfs ‘n slapie.  Ek lééf nie die oomblik nie.  Ek skep ‘n lewe, maar dis ‘n virtuele fiksie, Here.

“God is more real to me than you sitting over there”…oom Angus Buchan praat van ‘n God wat met hom praat, met Wie hy praat, wat hom geskep het en hom roep vir ‘n Geesvervulde lewe in Hom (saam met Hom, vir Sy koninkryk…in verhouding met Hom).

Nou sit ek op retreat in my woonstel, sonder mense, met ‘n af foon en soék na U wat kláár by my is.  Jesus was Godverlate aan die kruis sodat ek vandag nié Godverlate hoef te wees nie en in my soeke U kan vind.

Kom praat met my, Heilige Gees.

Amen

Blogger se kommentaar:  die bostaande is 'n baie persoonlike gebed, maar dalk raak dit jou en dalk kan jy daarmee identifiseer.  Ek is oop vir gesprekke hieroor.  :)  Wat ek net wil sê is dat die res van die retreat baie lekker was.  Ek het weer genoeg stilte gehad vir 'n rukkie (alhoewel dit weer 'n aanpassing was om tussen mense te kom).  'n Paar goed sal nou moet verander - dis maar hoe dit werk, ne.  Anders sal hierdie gebed die een wees wat elke oggend op my lippe is.  Ek kan jou belowe dat die laaste gebed van my retreat een met groot dankbaarheid en verwondering was.  Ek dien 'n baie genadige God.

Thursday, 19 April 2012

Daar seil 'n skippie veilig weg

14 April 2012

Ek onthou ‘n blonde-kop dogtertjie van ‘n paar jaar gelede.  Ek het eendag my oë uitgevee en sy was net daar.  Waar ek grootgeword het, op die Boesmanlandse vlaktes op ‘n plaas, was maatjies maar min, so omdat hierdie dogtertjie my ouderdom was, was dit vanselfsprekend en ongekompliseerd natuurlik dat ons twee sou maatjies raak.  Die tekort aan maatjies daar tussen die buurplase het geensins die kwaliteit, integriteit, nederigheid of karakter van my oudste (in vriendskapsjare gemeet) vriendin beїnvloed nie. 

Haar naam was Antjie en sy het sleeptong gepraat.  As ons pa’s enigsins ‘n boerevereniging iets moes bywoon of ons ma’s vir Bybelstudie bymekaargekom het, dan was ek kinderlik opgewonde oor my en Antjie se saamspeel en saam eet.

Ons is in sub A reeds koshuis toe en was saam met twee ander dogtertjies in ‘n kamer.  Ek onthou hoe ons mekaar probeer troos het omdat ons huis toe, plaas toe verlang het.  Antjie se naam het skielik baie meer kompleks geraak.  Ek moes haar Anna-Lize begin noem en met ander maatjies deel.  So gesê, so gedaan.  Hier, in Sub A, in die laerskoolkoshuis op Springbok, het ons kamerdelery begin.

Nog in Sub A, het ons tweetjies een aand besluit om te deurnag in haar bed en onder haar mooi pienk beddegoed met die spelende grys katjies op.  Ek dink ons het haar bed gekies want ek het so ‘n lelike baksteen-oranje KJA deken gehad en die kontras was nogal skril.  Tussen die twee van ons was die begrip deurnag nog maar vaag en het ons nie besef hoe lank so ‘n aand kan raak nie.  Ek skat dit was ‘n uur na ligte-uit toe ek vir haar vra-fluister of sy nog wakker is en sy in antwoord my ore van my lyf af gil!  Dit was die einde van die deurnagtery vir daardie aand en elkeen het maar in haar eie bed gaan slaap.  Ek het ‘n waardevolle les geleer – Antjie hou van haar slapie en jy moet dit nie versteur nie.

Drie jaar later slaap ek nog so lekker en Antjie, alweer my kamermaat en nou maar ook weer Antjie, kom maak my wakker.  Nee, sy wil by my slaap, want iemand is in die koshuis.  Ek sê nog vir haar dis nonsens, maar sy hou so aan dat ek maar muur toe skuif en plek maak vir my bang maatjie.  Jou wrintiewaar, dit was toe ‘n onwelkome gas, wat oral in die koshuis radio’s en dinge gesteel het.  Ek het geleer dat Antjie ‘n ligte slaper is.

Nog drie jaar later, in St 5, deel ons weer kamer.  Omdat ons so voorbeeldig en soet was (of dan nou eerder…nie LELIK stout nie) was ons die enigste enigste kamer op die derde vloer van die koshuis.  Die onderwysers was traag om die ekstra stel trappe tot by ons te klim, so ons het soms die vryheid meer geniet as wat ons moes.  Ons het tot laat in die aande gelê en gesels, selfs as die ander kamermaats al geslaap het.  Dan het ons vir mekaar vertel van verliefdheid en crushes en vibes en is ons tog gereeld afgeluister deur die onnies…tot ons groot verleentheid soms.  “Hierdie ‘vibes’ van julle moet nou end kry!” hoor ek nog vir meneer Cooper na ‘n groot hartsgesprek.  Antjie was lief vir gesels.

Selfs op hoërskool, in St 6, was ons nog kamermaats en beste vriendinne en skryf ons in geheime skrif vir mekaar briewe.  Oor en weer het die brieweboek in die studiesaal rondgerits en het ons geheime gedeel.  Daar is ook gereeld naweke op die een of die ander se plaas gaan kuier.

Die skeiding na skool was nie so lekker nie, maar die brieweboek het plek gemaak vir e-mails tussen Tygerberg Kampus en Stellenbosch.  Sy MOES moes kies om fisioterapie te studeer en ek het nie wiele gehad nie, so e-mails moes dit maar wees. Vakansies, wanneer ons albei weer huis toe gaan, het ons weer by mekaar gaan kuier en dis in die nagte wanneer ons elkeen in ons bedjie lê dat die groot gesels weer gekom het – geloof en vriende en ouens en werk en drome en hoop…ons deel dit alles soos in die ou dae en dan voel die lewe weer reg.

Ouens kom en gaan ook maar – ons was meer verlief op hulle as wat ons kêrels gehad het en dit was soms ‘n probleem…tot Frikkie Antjie se hart kom steel het.  Ek het gesien my vriendin het iemand gekry wat haar aanvul in haar humor en haar plat-op-die-aarde leefstyl deel.  Hy het haar liefgekry vir wie sy is omdat sy dit nie wegsteed nie.  Toe, eendag, kry ek die foto van die klippie aan die ringvinger met ‘n BBM boodskap. 

En dit word die rede vir my laaste kamer-deel aand saam met my geliefde, liewe vriendin, Antjie.  Gisteraand lê ons in ‘n dubbelbed en gesels oor haar volgende kamermaat.  Die Here het vir my maatjie ‘n pasmaatjie gegee wat vanoggend vir haar ‘n sms stuur in die lyn van:  “Goeie more my trouvrou.  Ek kan nie wag om met jou te trou nie.  Daar is net een soos jy.  Ek is baie lief vir jou.”

Frikkie, jy kry vandag my beste maatjie vir ewig as jou vrou.  Sy is lief vir slaap en sy gaan jou wakker maak om haar te beskerm, maar ou Frikkels, sy gaan so lekker met jou gesels!  Ek weet en jy weet, dat jy ‘n juweel van ‘n mens gekry het om jou lewe mee te deel.  Mag julle vir ewig vandag sommer baie mooi begin!

19 April 2012

Die boonste stukkie het ek geskryf op ‘n paar uitgeskeerde dagboek bladsye van een van die fotograwe op Antjie en Frikkie se troue.  Dis al wat ons in die hande kon kry terwyl ek die tyd en die pen gehad het om nostalgies te raak…

Nou is my maatjie en haar bruidegom reeds getroud.  Ons het ‘n sakkie vol herinneringe gemaak later die dag met die twee wat so mooi opgepoets was.  Snaaks genoeg was dit die 100ste herdenking van die Titanic se ondergang, maar soos die dominee vertel het, is daar ‘n groot verskil tussen Antjie en Frikkie se storie en dié van die skip.  Die mense het van die Titanic gesê dat selfs nie God dit sal kan sink nie.  Antjie en Frikkie het op 14 April 2012 gesê hulle bootjie sal beslis sink, tensy God self die Stuurman is.

My hartswens is dat hulle op hierdie vaart die ysberge sal omseil omdat hulle reg gestuur word.  BON VOYAGE!

Monday, 9 April 2012

The Place

Dis darem regtig lekkerder om op 'n A4 lyntjies bladsy te skribbel met 'n pen as om so versigtig te mik vir die kleiner-as-vinger-grootte knoppie op my foon. Helaas, as 'n blogger se skryf-lus weer vlam vat, dan maak 'n blogger gebruik van watter ookal beskikbare middele.

So, hier sit ek nou by The Place, weliswaar op my eie, maar in 'n manier het ek dit so gekies. Tussen die uitsorteer van my hoofligte wat my gisteraand 00h00 in die steek gelaat het en my tennisafspraak met my ousus in Johannesburg later vanmiddag, het ek besluit dat die tydgleuf gevul sal word met middagete. "Tafel vir...?"  Een.  "Rook of Nie-Rook?"  Nie-rook.  Sjoe, maar hierdie is regtig 'n tafel vir net EEN. 'n Tweede persoon sal maar bietjie sukkel om hier in te pas.

Ek luister maar na die gesels-stemme rondom my. Vandag is dit, snaaks genoeg, omtrent net ou stemme. Dis mooi silwergrys hier om my as ek so na die ooms en tannies se koppe kyk.  ;) Na 'n ruk begin gesels ek en 'n vriend op Whatsapp.  Dis interessant hoe die generasies verskil...wonder of die silwer gryses dink ek wag vir iemand of wat.  Ek weet net hulle gesels tog te lekker in hul wyse stemme (in my kop word wysheid en grysheid so saam-saam meer in 'n mens se lewe).

My kos word gebring en ek eindig die Whatsapp gesprek af. En net na ek vir die Voorsiener dankie gesê het vir my kos, verskyn daar skielik 'n grys gesiggie langs my, liefde in die oë en vriendelikheid op die lippe... "I just want to tell you that God loves you and that you're not alone". 

Ek kan nie help om aan my tafel te dink nie... Hier is oorgenoeg plek vir 'n tweede Persoon by The Place se klein tafeltjie vir 'net' een. :)