Ek vermoed, en ek het dit ook al iewers gelees, dat elke vrou se hartswens is om mooi te wees vir ‘n man. So mooi dat dit sy binneste sal roer en hy amper enige iets sal doen om daardie mooiheid vir homself te kry en van enige iets beskerm.
Skoonheid is relatief.
Ek verneem dat mans so gewaarsku word: “’n Mooi meisie is almal se meisie.” Pasop vir haar skoonheid! Ek wonder hoeveel meisies was al regtig spyt oor hul skoonheid. Doctor Victor sing ook: “If you wanna be happy for the rest of your life never make a pretty women your wife, but from my personal point of view get an ugly girl to marry you.” Ek stem darem nie saam dat skoonheid noodwendig sleg is nie en het al mooi meisies ontmoet wat NIE almal se meisies is nie.
Menige meisie word konstant herinner dat “ware skoonheid lê in jou binneste”. Hulle sê vir ons dat die “regte man” na jou buitenste sal kyk tot hy ook jou mooi (of nie) binneste sal raakkyk. Hiermee stem ek saam en die feminis in my wil dit uitskree dat dit ook nie saakmaak wat die man dan nou dink nie, maar dat jy moet sorg dat jou binneste mooi is…man of te nie! ‘n Vrou kan net soveel doen aan haar buitenste, maar aan haar binneste kan sy skaaf en skuur en buig en breek.
Ek het eendag baie wyse raad gekry oor grimering en dis iets wat ek nogsteeds probeer navolg. Ek het geleer dat goeie grimering net beklemtoon wat jy reeds het en nie enige iets vir jou bylas wat jy nie by jou ma en pa se genepoel gekry het nie.
Ek wonder oor die genepoel van die binneste en waarom meisies nie dieselfde hoeveelheid presisie en moeite insit in die versorging van hul binneste nie. Miskien is jou binneste nie so ‘n refleksie van jou biologiese genepoel nie, maar van iets ‘n bietjie dieper. Miskien vra dit integriteit en vrede met jouself...en harde werk.
Ek daag jou uit, meisie…
1. Grimeer jou binneste minimaal sodat jy nie voorgee om iets anders te wees as wat jy wel is nie.
2. Beklemtoon jou binneste se bates en tree vorentoe as ‘n vrou wat stukkies van haarself aan haar medemens gee.
3. Pluk jou binneste se oortollige haartjies sodat jy al hoe minder seermaak, seersê en seerdink.
4. Sit ‘n onderlaag aan jou binneste sodat jy nie jou hart vir almal gee wat dit nie veilig sal hou nie.
5. Sit oogomlyner en mascara aan jou binneste se oë sodat dit mense nooi om staat te maak op jou.
6. Oefen jou binneste sodat dit uithouvermoë sal hê in geduld, sagtheid, vergewensgesindheid en respek.
7. Trek jou binneste met sorg aan met die beste waardes en maak seker hulle pas bymekaar.
8. En vertel vir ander watse produkte jy gebruik.
En nog net een ding: ELKE meisie IS mooi!