Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Thursday, 17 November 2011

Eden...'n parys

Eden, die tuin van God…so perfek soos wat my menslikheid iets kan voorstel…stroompies water wat kristalhelder oor groot, ronde klippe kabbel. Groen plante met majestieuse bome en die son wat strepe deur die blare laat syfer.  ‘n Wasigheid oor die waters in die vroeë oggendlug.  'n Pragtige bokkie wat rustig kou aan 'n grassie.  Dit moes beeldskoon gewees het en so suiwer! 

HEILIG

Dat God vir Adam vra om die diere wat hy pas met Sy Skepperhand gemaak het name te gee, getuig van verhouding.  Amper soos ‘n pa wat vir sy seuntjie ‘n hondjie gee en sê hy kan self besluit wat sy naam gaan wees.  God het dit alles goed gemaak en besluit om die vreugde daarvan met Adam te deel.

My klein mensebrein dink dat God groot planne gehad het vir Adam en sy Eva.  ‘n Nader as naby verhouding met Sy skepsels, Sy kinders wat Hy na Sy beeld gemaak het.  En kyk, God lyk nie soos ‘n mens nie, dink ek.  Die beeld waarna Adam-hulle (en dan natuurlik ook ons wat vandag lewe) gemaak is, is die geestelike beeld in die mens, die karakter van God, Sy heiligheid.  Liefde.  Vreugde.  Vrede.  Geduld.  Vriendelikheid.  Goedhartigheid.  Getrouheid.  Nederigheid.  Selfbeheersing... 

Wat my die meeste tref van Eden is die intieme, persoonlike, direkte verhouding tussen God en Adam en Eva.  Kan jy jouself indink?  Saligheid op sy beste.  Rustigheid.  Sekerheid.  Dit, glo ek, was die plan – ‘n liefdesverhouding tussen God en die kroon van Sy skepping.  Tog het Hy dit nie afgedwing op Adam en Eva nie.  Hy wou hê dat hulle dit moes KIES.  Hy wou hê dat Eva moes NEE sê vir die slang en nie inkoop in sy slinkse planne nie.  Hy het haar ‘n vrye wil gegee, want anders sou dit gedwonge liefde (of dan ‘n element daarvan, naamlik gehoorsaamheid) wees. 

En toe begin ek wonder – hoeveel van Eden kan ek vandag, hier, in Pretoria, hê?  Kies ek nie soms om God se teenwoordigheid mis te kyk nie?  Ontgaan die volmaan of die sonsondergang my nie as gevolg van my eie nalatigheid nie?  Kies ek nie ook maar die appel wanneer dit vir my aangebied word en ek dink God sien dit nie?  En dit is nie wat God wil hê nie. 

Ek wil kies om in Eden te lewe en al die wonderlikheid daarvan te ervaar.  God is hier by my en jou in ons omstandighede en wil hê ons moet Hom raaksien.  Ons moet kies om met Hom te gesels en vir Hom te vertel van elke opwindende nuwe ding wat ons leer of elke hartseer wat onverwags tref of oorwinning wat kom.  Koningskinders moenie sonder hul Koning in hierdie wêreld lewe waar dinge so effens hand-uit geruk het nie.  Koningskinders moet koningsverhoudings met hul Koning hê.  Jip, dis bonatuurlik, dis ongewoon, maar kom oor dit.  Kan jy regtig verwag dat God natuurlik/normaal moet wees?  Komaan!  Hoe het jy gedink werk die Ewige Lewe?  Dis NOU reeds hier!  Eden is hier!  Kies dit.

Wees heilig, want God is heilig.

Wednesday, 2 November 2011

Mallemeule van gebeure

Soms gebeur slegte dinge met goeie mense deur hul eie toedoen.  (In hierdie scenario sien ek nou myself ewe hooghartig as die goeie mens).  Soms gebeur 'n REEKS slegte dinge met 'n goeie mens oor 'n tydperk...  In my geval is motors die afgelope tyd 'n refrein in my lewe.  Kom ek brei uit...

Ene Konstabel Iemand van Bloemfontein skakel my nou die dag:  "Onthou jy my nog?"  Die gebeure van so 'n jaar en 'n half terug toe ek 'n motorbotsing sien gebeur het en ek en my twee broers eerste op die toneel was om die polisie en ambulans te bel, speel weer voor my oë af.  Ja, ek onthou.  "Ja, uhm, jy moet kom getuig."  In Bloemfontein?  "Ja".  Die staat gaan my dagvaar om te getuig in die saak wat nou 'n saak van strafbare manslag is.  Dis in Bloemfontein.  Jammer, hoor, maar dit beteken jy sal verlof moet insit.  Skokgolf.

Laasweek was ek een oggend so bietjie omgekrap en toe ook nie so aandagtig toe ek by ons werk se ondergrondse parkering uit "reverse" het nie.  Toe ek nog so ingedagte kyk, sien ek 'n sagte beweging by my baas se motor.  Ek het hom geskraap!  Skokgolf.

Ter agtergrond:  die motor waarmee ek bestuur het, is wit.  My baas se motor is swart.  Die gevolg is 'n wit strepie op 'n swart motor en 'n baie verleë werknemer wat URE vat om die nuus te breek.  Ek doen dit toe wel en my baas is, soos te wagte, ontsteld (maar darem nie so ontsteld dat sy onredelik is nie).  Die ooreenkoms is dat ek paneelkloppers toe moet gaan en kwotasies kry...

Vandag kom my baas in my kantoor in met 'n smaal op die gesig en 'n spoedkaartjie in die hand.  PRAGTIGE foto van die werksmotor wat ek tot onlangs toe nog geleen het se agterkant.  R375, die "discount" bedrag.  Skokgolf.

En so is ek verantwoordelik vir my eie informele sekwestrasie. Wat de os, Boklammetjie?  :)  Waar is die dae toe ek nog my pa veroordeel het oor 'n spoedkaartjie naby Keimoes?  En waar is die dae toe ek net eenvoudig nie 'n MOONTLIKHEID van 'n motor-krap-geval gehad het nie?  In die verlede, dis waar!

As iemand weet van 'n naweek-joppie, laat weet maar.  As enige van my vriende my nie meer sien in die volgende maand nie - ek vra byvoorbaat verskoning.

Einde van dag 2 November 2011:  Boklammetjie minus een dag verlof minus R375 en minus die wit krap op die swart motor.  Jy kan nie sê ek stagneer nie, ne!  :) 

If life gives you lemons, make lemonade!