‘n Vars bos blomme, die geur van koffie, die reuk van reën, ‘n lekker lang stywe drukkie, ‘n uit-die-maag-uit skaterlag, groet na ‘n lang tyd van iemand nie sien nie, McFlurry, meer as een keer om ‘n sirkel ry, tok-tokkie speel, die gevoel wat jy kry as jy jou duvet tot onder jou ken trek op ‘n koue wintersaand, pannekoek, pizza, die gekabbel van ‘n riviertjie se water, ‘n hondelyfie wat wriemel van opgewondenheid om jou te sien, die gesig van ‘n kat wat skuins onder die oor gevryf word, ‘n pragtige ou boklammetjie wat blêr om sy ma te vind, stilte, diep gesprekke met mense, 30Seconds-verwarring, kamp, bergklim, ysskaats, roadtrip-musiek, kitaar speel en saamsing...hierdie is maar net ‘n PAAR van my gunsteling dinge.
Julie Andrews is steeds beeldskoon na jare in die vermaaklikheidsbedryf en nog boonop suksesvol na al die jare. Dieselfde kan gesê word van ‘n oulike liedjie wat sy sing in The Sound of Music, “My Favourite Things”. Die liedjie is ‘n treffer in my hart en ek sing dit graag, want dis een van die min liedjies wat ek so ‘n titseltjie kan speel op die kitaar.
Net vir die lekker, want lekker is lekker en nie sleg nie, deel ek graag ‘n paar van my eie “bestes”, gunstelinge. Gedeelde hartseer word halveer, maar gedeelde geluk dupliseer. Ek dink nie ek hoef iemand aan te haal op daardie laaste sin nie, want dis een van my eie slagspreuke. As iemand beroemds dit egter wel gesê het, is ek jammer en hoop ek maar ons kan die geluk oor die waarheid daarvan verdubbel! J
‘n Groot gunsteling is my pa se nagsê-soene gevolg deur ‘n dag-oud baard wat hy in my nek skuur! Ja, met ‘n uitroepteken! Natuurlik ook om bed toe gedra te word nadat ek aan die slaap geraak het voor die televisie(toe ek nog klein was). My ma se tuis- en varsgebakte warm brood met regte-egte plaasbotter op. Dik genoeg gesmeer dat jou tande merke daarin maak(as dit nie wegsmelt in die warmte nie).
Laatmiddag waatlemoen eet en pitte uitspoeg, gevolg deur ‘n swemsessie in die plaasdam. Dit maak nie saak hoe dik die slik onder op die bodem lê of dat daar ‘n koggelmander op die oppervlak dryf nie.
Teetyd breuk saam met my beste vriendin in haar sagte blou pajamas, terwyl die radio speel en sy nog ‘n roompie aansmeer. Dis dan wanneer die eksamen-blues iets van die verlede geword het en die lewe weer REG gepraat is. Gebeure van die dag was goed soos die eksamenopsigter wat alweer deur AL die eksamenreëls gelees het in Engels EN Afrikaans en daai motoris wat nie respek het vir voetgangers nie (in Stellenbosch het voetgangers voorkeur, hulle stap immers nog swot-swot oor die voetoorgang!).
Langarm-sokkie saam met ‘n spul vriende. Draai en draai en draai tot jy voel jy wil omval, of WEL omval en jouself besimpeld lag. Sokkie was nog altyd lekker, selfs die keer toe ek ‘n vreemdeling moes vra om te dans sodat my vriendin met sy vriend kon dans! Sy naam was Alex en hy het ‘n chappy gekou dat die spoeg so spat. Sy lewe en die poging tot ‘n gesprek wat ons gehad het, het om homself gedraai en die liedjie het vir ewig aangehou…maar my vriendin het die dans van ‘n leeftyd gehad.
Herfstyd in die Eikestad se mooiste straat, Victoriastraat. Blare wat dartel in die wind en plek maak vir die lowerste groenes. Seisoene van klasloop, toets skryf, vergaderings bywoon en mense in die verbygang groet.
Ek trek vir jou ‘n goue draad van genade deur al my gunsteling dinge. Dis saam verweef en omraam die lewe sodat ons dit kan waardeer. Dis klein en fyn sodat ons moet soek om dit te vind. Dis baie beslis oral om ons heen…vandag het ek weer ‘n silwer randjie beleef. Ek was oppad van die werk af huis toe. Net soos ek uit ons werk se oprit ry, sien ek die ander prokureurs in die kantoorpark se ontvangsman. Ek waai en bestuur gelyk en woeps, daar blaas hy vir my ‘n soen! Dit het sommer my dag gemaak en ‘n groot glimlag op my gesig gesit. J Ek is dankbaar vir my “Favourite Things”…en “now I don’t feel so bad”!