‘n Kamer. Dit kan
soveel dinge beteken. ‘n Vloer, dalk
bedek met ‘n mat, vier mure, ‘n deur of twee, ‘n venster, ‘n dak, ‘n lig, ‘n
foto teen die muur. Jou plekkie van
privaatheid, waar alleen-trane weggehou word van mense wat vrae vra.
Die mure word jou vertrouelinge wat nie ‘n woord verklap of
‘n oordeelskyk gee nie. Hulle vra nie
uitvis vrae nie en bied nie leë woorde aan nie.
Dis jy en jou naakte eerlikheid en jou gebede wat verby die dak moet kom
tot by jou enigste Troos.
In die fliek, Room, leer ‘n ma vir haar seuntjie dat die
kamer waarin hulle woon die hele wêreld is.
Daar is niks ander nie en wat op die TV is, is alles net prentjies. Kos kom deur “magic” by hulle. So hy leef in hierdie kamer en dit is sy
wêreld. Hy ken nie ruimte nie, maar ken
woorde soos boom en muis en reën. Vir
hom is dit net idees.
Vir sy ma is dit ‘n manier om haar werklikheid van
aanhouding deur ‘n wrede man, aan haar seun te kommunikeer as ‘n gelukkige
werklikheid. Uit haar tronk skep sy vir
hom ‘n hawe en doen sy eintlik baie goed om hom te beskerm..
Maar dan begin die droomwêreld nie meer heeltemal sin maak
in die seun se vyfjarige brein nie.
Wanneer sy ma vir hom van die regte werklikheid vertel, van die
anderkant van die kamer, wil hy dit aanvanklik nie glo nie en sê hy dat hy nie
van die storie hou nie, maar omdat dit die waarheid is, begin dit sin maak en
aanvaar hy dit.
Hulle werk ‘n plan van ontsnapping uit. Hy word as ‘n lyk in in ‘n mat opgerol,
agterop ‘n trok gesit en moet dan uitrol, weghardloop en hulp kry. Hy is bang.
Hy ken nie mense nie, ken nie ruimte nie, weet nie hoe om te verduidelik
waar sy ma is nie, maar skielik is die wêreld aan sy voete en breek ‘n nuwe
lewe oop. ‘n Angswekkende een, maar met
soveel meer fasette en wonderlikhede as waaraan hy gewoond is.
Hy leer trappe klim, maak ‘n vriend, kry ‘n hond, speel met
Lego’s, skop ‘n bal. Dis baie om in te
neem en moeilik om vyf jaar se onkunde in te haal, maar hy doen goed. Sy ouma, oupa en mamma help hom om te
verstaan en probeer om nie te veel druk op hom te sit om sy nuwe wêreld te
verstaan en waardeer nie.
Dan wil hy teruggaan na die kamer en sien hy vir die eerste
keer hoe klein dit eintlik was. Dis
moeilik vir sy ma, want dis ‘n herinnering aan haar grootste seer, maar vir hom
was dit tot onlangs sy werklikheid wat hy verstaan het. Dan groet die seuntjie elke item in die huis
en loop weg…die toekoms in…vry, soos ‘n skoenlapper uit ‘n kokon.
Die kamer se deur is wawyd oop en nie meer alles nie. Dit was ‘n toevlug, ‘n ontwikkelingstadium,
goed vir ‘n rukkie. Maar nuwe avonture
met nuwe vlerke lê voor. Blomme om op te
sit, plekke om te sien, omgewings om te versier met die kleure van jou
skoenlaper-vlerke…
“Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet
julle nie weer onder ‘n slawejuk indwing nie.” – Gal 5:1
Dis okay om in ‘n kokon te wees vir ‘n rukkie…maar die nie
jou uiteindelike roeping nie. Spin
jouself toe in daai tyd vir genesing, maar wees opgewonde oor jou ooievaarsvlug
na die wêreld van moontlikhede.