Sê nou maar hoe dit met jou gaan het afgehang van die waarheid en bemoediging wat jy van God SELF af kry (deur tyd in gebed, in die Woord, in die natuur, in lofprysing en aanbidding, in luister na Sy stem),wat sal jy antwoord as iemand jou weer vra: "Hoe gaan dit met jou?".
As iemand my vra hoe gaan dit met my, weeg ek eers die persoon. As dit 'n kassier is of iemand wat ek glad nie ken nie, dan gaan dit altyd goed en met hulle? As dit iemand is wat ek ken, maar ek ervaar nuuskierigheid in plaas van ware belangstelling, hardloop ek na die naaste lekker gebeurtenis en vertel dit gaan goed, want ek het onlangs sus-en-so gedoen. Ek probeer eerlik en geloofwaardig wees. As dit iemand is wat naby toegelaat word, sal ek eerliker wees en sê hoe, ten spyte van sus-en-so wat ek regtig geniet het, dit eintlik nie so goed gaan nie. Op die ou end, as ek alleen is in my binnekamer, is die waarheid egter daar om my vierkantig in die oë te kyk. Koud. Eerlik. Skokkend.
Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag. Dis mooi en ware woorde wat ek in 'n liedjie vir my driejarige kiddies leer. Dis integraal tot ons welstand. Dis nie al nie. Wat help dit jy lees jou Bybel en bid, sonder die hart van werklike aanbidding en "awe"? Wat as daar ook ander maniere is, soos om tyd te neem om stil te word, of jou radio af te skakel en doelgerig te dink oor waarheen jy oppad is en wat jy daar gaan doen? Kan dit eintlik altyd goed gaan? Kan God my Sy uitsig op al my "issues" gee?
Soms kyk ek na my slaapkamer, my binnekamer, en sien dis deurmekaar. Ek het die nare gewoonte om, as ek moeg is, alles te doen om so gou moontlik in my bed te lê. Horisontaal. Dan doen ek net die nodige, borsel tande, was gesig, trek slaapklere aan, gooi klere op die grond, los papiere onordelik op my lessenaar, vou nie wasgoed op nie en more oggend spring ek hekkies tot by my badkamer. En eintlik is ek 'n netjiese mens wat hou van orde!
Ek skep my eie wanorde (waarvan ek nie hou nie) en ongemak en dan wonder ek wat sê dit van my gees in so 'n besige tyd. As ek eerlik is, sien ek dan ook onklaargemaakte denke, gedagtes wat nie gesuiwer is nie, leuens wat nie in die asblik is nie en onrustigheid wat nie by God gelos is nie.
Hoekom sal ek dit toelaat?!
Ek is nie 'n kenner op die gebied van God se stem hoor nie. Inteendeel, ek het soms my bedenkinge oor of ek die vermoë het. Wat ek wel weet, is dat Hy met my WIL gesels oor al die onordelikheid in my hart. My hart, my gees, is waarin Hy belangstel. Hy wil hoor wat ek droom en besluit. Hy wil saam met my opgewonde wees, huil, lag, troos. Hy wil hoor van onsekerheid en al my vrae onder Sy opdrag en wil plaas. Party dinge wil Hy namens my dra omdat ek te swak is. Hy wil Homself aan my openbaar (soos Hy wel soms doen wanneer ek mooi luister en Hom kans gee).
Hy wil ook DIREK met my praat, nie met iemand wat ek dink goed genoeg is om Sy stem namens my te hoor nie. Ek het Hom gevra om in die vakansie, elke dag, vir my een waarheid te gee. Dis 'n volle maand van waarhede uit God se mond. Dit het soveel potensiaal...as ek luister en bid en intensioneel is daaroor om nie die maklike pad te vat en te ignoreer wat my pla nie. As ek net rou eerlik voor my Skepper staan en opreg vra vir Sy waarheid.
Ek ken van moedeloos wees en vrae sonder antwoorde. Ek ken van seer wat nie wil weggaan nie. Ek ken die herhaardelike pad wat mens moet loop om te vergewe. Ek weet hoe moeilik dit is om soms aan te gaan as jy nie jou eie pad gekies het nie, maar nou daar moet loop. Dit is nie maklik nie. Maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat my beste kans is om saam met God al hierdie dinge te doen. He can turn mourning into joy. He can heal. He can give piece, love, more tolerance... Strength will rise as you wait upon the Lord.
Dit glo ek.