2013 lê op sy rug en krap sy maag met 'n tikkie nostalgie. Hy loer na die 12 maande soos vir trekwolke deur 'n verkyker.
Januarie het begin met 'n braai saam met geliefde vriende en minder geliefde (meer onbekende) vriende wat hul huis se deure vir ons oopgemaak het. Met 'n gedagte aan die feit dat die gasheer en gasvrou kort getroud is, het ek aan die vroutjie gevra wat dit is wat sy geleer het deur die huwelik wat sy nie voorheen geweet het nie. Haar antwoord het my keel klein bietjie benoud gemaak: jou man sal vir jou al jou "issues" uitwys soos julle huwelik aanstap. In my stilligheid het ek gehoop dat ek alle issues sal kan uitsorteer voordat daar 'n huweliksmaat in my lewe arriveer. Tog het daardie woorde my bygebly en dink ek nou dat dit darem 'n groot voorreg is om deur so 'n tipe heiligmakingsproses te gaan. Die idee van die heiligmakingsproses is bevestig deur 'n preek van ds Cassie Carstens later die jaar. Wat as ons trou sodat ons meer heilig kan word...?
Februarie het die einde van my prokureursklerkskap aangekondig. In daardie beroep het ek ook 'n paar heiligmakings beleef wat nou nie in die huwelik kan gebeur nie. Ek het 'n paar stukkende huisgesinne, mans, vrouens en kinders gesien en 'n kykie in die wrede wêreld waarin ons leef. Februarie het gekom en gegaan en ek was werkloos.
In Maart het ek my 27ste kersie op die koek gekry en ook 'n droë maand gehad waarin werk nie wou kom nie. Ek het by die kerk se restaurant begin werk en ook as aflos juffrou by die kleuterskool uitgehelp. Ek het 'n derde werk as aupair gekry by 'n lieflike gesin in Pretoria. Daar was nie 'n oomblik wat ek nodig gehad het om by iemand anders as my Hemelse Voorsiener te vra vir enige finansiële hulp nie. Ek het selfs 'n Kaapse draai gemaak en 50km van die Two Oceans deur gesukkel.
April was 'n maand vir selfondersoek. Is ek geroep vir die prokureursberoep of was dit tyd vir 'n skuif? Gebede en smekinge het my gelei tot die besef dat ek regtig weer enige iets kan doen. Iets in my was gereed vir 'n nuwe avontuur...
Die avontuur het afgeskop in Mei toe ek by 'n kleuterskool begin werk het. 20 en 21 en later 22 driejariges het my verantwoordelikheid geword. Ek het geen ondervinding gehad nie, net my Hemelse Leermeester om my met wysheid te lei en te leer van die lewe van 'n kind. Wat 'n voorreg en wat 'n reis...een waarop ek NOOIT alleen was nie.
My eerste Mosambiek kuier saam met 'n lekker groep vriende het in Junie gebeur. Soveel uitdagings en soveel nuwe dinge. My hart was in die wolke. Al die uitdagings (van skaaptjops wat vol petrol gemors is tot groot verdwaal in die Mosambiek kant van die Krugerwildtuin) het my net weer geleer watse verskil die mense maak saam met wie jy rondrits. Later kon ons rondlê op sagte strande en grootoog agter kleurvolle visse aan swem. Ook die eenvoudige leefstyl van die inwoners daar het my aangegryp. Ek wil weer gaan!!
Die tweede helfte van die jaar in die vorm van die koue Julie het my herinner aan my pa se heengaan 10 jaar gelede. Ek kon agteruit dink en verlang vir 'n rukkie...maar nooit sonder die hoop van 'n toekoms met my Vader in die hemel nie. Die pad vorentoe lyk nog baie rooskleurig. Ek ontmoet daagliks nuwe mense wat my lewe inkleur (wat nou nie spesifiek tot hierdie maand beperk is nie).
In die maand van die vrou, Augustus, het 'n dierbare vriendin ons uit die stad geneem na 'n dam naby Vrede in die Vrystaat, vir haar 30ste verjaardag. Die uitgenooide dames het vir daardie naweek alles gedoen wat 'n man sou doen, behalwe om my motor ordentlik te pak. Met 'n gesukkel om die kattebak toe te kry weens al die bagasie, het my motor se vlerkie in die slag gebly!
Septembermaand het my laaste energie getap. Dit was tyd vir konsert hou by die kleuterskool. Tussen klere koop, kostuums maak, dansies oefen en daaglikse lewe het ek amper myself vergeet. Ek was tot in my siel in dankbaar toe my ousus my nooi om saam met haar te gaan jag in die Oos-Kaap vir die langnaweek. Ek kon weer rustig word en onthou dat daar 'n lewe buite die gejaag is.
Toe kom Oktober. Die kinders word geassesseer vir hul eindjaar rapporte, die laaste knapie word drie jaar oud. Skielik vreet beplanning weer al my tyd op en moet ek in die aande nog gediggies uitdink en kreatiewe planne maak om die kinders mee besig te hou.
Woerts-warts en dis November. Besig bly ons besig, want rapporte moet mooi lyk en die skool moet lyk soos Kersfees. Ons moet speelgoed voorraadopname doen en die assistente (en juffrouens) raak moeg. Einde ten laaste maak ons ook kerskaartjies en bak koekies vir die oueraande en werk een na die ander eindjaarfunksie in.
Uiteindelik breek Desember aan en die laaste dag van skool laat my weer asemhaal. Dis vakansie! 'n Troue hier en 'n staptog daar. 'n Draai op die plaas en nou is ek in Stellenbosch...was 2013 die moeite werd? Ja, ja, ja!
Hoe lekker is dit nie om aan die einde van die jaar te kan dink oor 'n vol jaar met baie dimensies nie? Ek proe-proe so aan die lewe in oorvloed wat ons hier op aarde kan hê en ek geniet dit met 'n GROOT afwagting, want die hemel gaan soveel meer van dit hê! Gee my nog een! Gee my 2014! :)
Beautiful Boklammetjie
Tuesday, 31 December 2013
Saturday, 3 August 2013
"Is 10 jaar lank, Juffrou?"
Ek onthou toe ek 10 jaar oud geword het, het ek vir my Standerd 2 juffrou gevra of 10 jaar lank is. Ek wou weet of 10 jaar genoeg jare is om 'n beduidende verskil te maak en of my lewe van 10 jaar dan al tel. Sy het geantwoord dat 10 jaar wel lank was en vir 'n tyd was dié kort antwoord vir my bevredigend...my lewe het begin saak maak.
Vandag weet ek presies hoe lank en hoe kort dieselfde 10 jaar kan wees...
10 Jaar is baie herinneringe lank - geloofsbelydenis, 'n pers matriekafskeidrok, die einde van 'n Hoërskool Namakwaland loopbaan, die begin van 'n Matieland ervaring, die einde van 'n eerste liefde, die bou van karakter, gradeplegtigheid, voltooiing van prokureursklerkskap, 'n 180 grade U-draai om kleuterskooljuffrou te word en ALLES tussenin.
10 Jaar is geen meer - ProVita met Marmite, Grunberger Sauvignon Blanc, 1-2-3 wals op 'n troue, nagsê soentjies en drukkies, deur-die-veld-ry trippies met die Isuzu bakkie, rusbank sit, koffie met melk en geen suiker, vaalhoender dieet, kuier om die braaivleisvuur, etes by oom Jopie se kafee, fluit dat die berge antwoord gee, sommetjies op die sakrekenaar om die werknemers se kruideniersuitgawes uit te werk, beesstert potjiekos, lank gesels na biduur, klop aan my kamerdeur met 'n "Nag, Pop!", kerkgeld in my hand, R10 sakgeld, spot-grappies, etenstyd stories uit die ou dae, gestalte van Pappa in die sitkamerstoel, tevrede glimlag oor die bankrekening of drukkie vir Mamma nie...
Nee, toe Pappa gesê het "Ek dink nie ek gaan jou erekleure plegtigheid maak nie", het Pappa onwetend baie waar gepraat. Toe was dit die begin van 10 jaar, 20 jaar, 30 jaar... Die einde van 17 jaar van dogter wees vir my pa, my bloed-pa, my waardes-pa, my aardse pa.
10 Jaar is lank en kort gelyk. 10 Jaar is so lank dat ek bang is herinneringe vervaag en so kort dat trane en snikke steeds 'n realiteit is.
Vandag het ek tevergeefs iets tasbaars van Pappa prober beleef. Pretoria is nie Springbok nie en nog minder is dit Stofkraal. My motor is nie 'n Isuzu bakkie nie. Op my kop is nie 'n springbokvel, breërandhoed nie. My voete loop nie spore in nommer 9 velskoene nie. Hier is nie 'n skaap of 'n bees of 'n bok of 'n gousblom of 'n jukskei of 'n sakdoek of 'n knipmes in die broeksak nie.
Al wat ek het en alles wat ek nodig het, is die God van Abraham, Isak, Jakob en John. Hy wat vir altyd dieselfde bly oor geslagte heen. Dankie, Pappa, vir 'n nalatenskap wat baie langer as 10 jaar gaan hou. Dankie, Jesus.

Subscribe to:
Posts (Atom)