Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Sunday, 14 October 2012

Gun my die nostalgie

My tannie het eendag vir my gesê dat die rouproses werk soos 'n ovaalvormige baan.  Rou is in die middel van die ovaal en die persoon wat deur die rouproses gaan is op die ovaalbaan en beweeg al in die ronde.  Op die verste punte is die persoon wat deur rou gaan ooglopend besig om mooi deur die ding te werk en gaan dit baie goed.  Op die nader dele is die rou weer tasbaar en seer en voel dit amper vir die persoon of die rou nooit weggaan nie...

Ek dink nie die seer gaan ooit weg nie.  Ek dink dis nooit weer so ROU soos aan die begin nie, maar dit bly tog daar.  Nie dat dit die persoon definieer nie, maar dit wag vir 'n sneller-moment.  Die  venus-vlieëvanger het ook 'n sneller-moment wat gebeur wanneer iets aan sy haartjies raak.  Dan skiet taai twee blare toe en dit wat binne-in is word stadigaan verteer.

Vandag praat ek en my ma en tannie so oor my doop as babatjie en dis daai sneller-moment.  Ek sien weer die foto.  Nogal 'n skewe foto.  Skeef geneem om dit seker maar ouliker te maak.  My pa en ek in my dooprokkie en hy hou sy arm so dat dit my rug en nek mooi ondersteun.  Ek moes koes om die trane te keer en het verseker nie die stem gehad om hulle te vertel waaraan ek dink nie.  Vir my het daardie foto nog altyd my pa se beskerming en liefde uitgebeeld.

Ek het nog 'n sneller-moment gehad toe die dominee gesels het oor ons almal wat hierdie tyd van die jaar so moeg is.  Ons is besig en word nie stil nie.  Ons het sonde wat ons ver van God laat voel.  Dit het my laat dink aan die plek waar ek nog altyd die veiligste gevoel het.  Ons mooiste plaas in die binneste van Namakwaland en gegiet tussen granietkoppies.  Gun my die nostalgie...

Daar het ons as volledige gesin van ses gereeld op die stoep gesit en gesels.  Elkeen iewers op 'n sement stukkie en dalk 'n skaaphond of twee wat bedel vir aandag.  My pa sou daar sit op die trappies met sy arm om my ma en dan die een of ander diep gesprek aan die gang sit.  Soos die gesprek vorder sou ons na voëls luister, die son sien ondergaan en sterre een vir een hul verskyning sien maak.  Dit was nie nodig om die ligte aan te sit nie, want wat ons daar gehad het was heeltemal genoeg.  'n Gesin van ses, waar die ouers lief was vir mekaar en elke kind sy of haar eie, uniekheid gegun was.

Ja, dit het nie vir ewig gehou nie.  My pa is hemel toe. Te vroeg na my sin, en sekerlik te vroeg vir almal in my gesin.  Ons het ons anker verloor.

Ek het wel nie my herinneringe verloor nie en in daardie tyd God se nabyheid en sorg en voorsiening die naaste beleef.  Ek het, soos baie ander, gegroei uit my pyn.  Maar in dae soos vandag, gun my die nostalgiie, verlang ek na daardie man. 

Hy en my ma het my geleer van God soos hulle beloof het daardie dag met my doop.  Ons het in die aande saam as gesin Bybelstudie gedoen en met my nagsoen het hy altyd met sy dag-oud baard in my nek geskuur en klavier gespeel op my ribbebene.  Hy het vir my vertel dat ek mooi is en my leer wals.  Deur sy stories van vroeër en deur sy leefwyse het hy vir my 'n goeie, goeie voorbeeld gestel.  Hy het ons vasgevat as dit nodig was (en glo my, dit was nodig!).

Ek wil hom nog hier hê.  Ek dink aan hom met troues as my vriendinne se pa's saam met hulle die kerk inkom.  Ek verlang na hom langs my ma.  Gun my die nostalgie.

Ek dank die Here dat Hy my ewige Pa is en dat my aardse pa my gehelp het om Hom beter te verstaan.  Ek leer nou by Hom dat ek mooi is en hoe om saam met Hom te dans.  Ek probeer om my lewensbesluite deur Hom te laat inspireer.  Die Here het gegee en die Here het geneem en die Here sorg nogsteeds.  Prys die Naam van die Allerhoogste God!