Beautiful Boklammetjie

Beautiful Boklammetjie

Monday, 17 July 2017

Mielies!

Een van die mees hartverskeurende dinge wat ek al ooit gesien het, was ‘n brandmaer skaap wat se lyf te swak was om sy kop regop te hou.  Die moeite om sy kop te probeer regop hou het hom uitgeput en laat bewe.   Die oggend was hy nog daar en die middag was hy weg, een met die droë grond waar daar geen kos vir hom was nie.

Tans is dit weer baie droog in Namakwaland.  Dié semi-woestyn deel van ons land is afhanklik van sy wintterreën.  Hoewel die winter nou al verby halfpad is, het die reën nog nie gekom nie.  Boere en diere kry baie swaar.  Nie net is daar ‘n tekort aan kos vir die diere nie, maar die blommeprag wat einde Julie, begin Augustus, veronderstel is om uit te breek, word ook nie verwag nie.  Die Namakwalandse blommeseisoen is ‘n groot ekonomiese inspuiting vir sy mense.  Toergroepe kom spesiaal om te sien hoe die wêreld transformeer in ‘n kleurvolle gousblom, gansogie en vygie-paradys. 

My pa het een keer gesê dat boerdery in Namakwaland eintlik maar ‘n dobbelspel is.  Jy vat ‘n kans en hoop dat dit gaan reën.  Dit is waar woorde.  Van tyd tot tyd gaan die mooie Namakwaland gebuk onder droogte.  Nie elke jaar is ‘n goeie jaar nie.  Ons, wat daar woon of gewoon het, weet dit.  Wat my pa ook gesê het, is dat hy nie kan insien hoe enige iemand ‘n boer kan wees en nié geloof in God het nie.  Sonder geloof kan jy nie boer nie. 

Ons bid vir reën op die plaas.  Ons wag dat God Sy hand sal oopmaak en dorheid in kleurvolle hoop sal verander.  Dit is wat ons ken.  Ons bid en wag.  Vir reën.  Ons sien nie die oplossing in iets anders nie.  Ons fokus binnetoe.  Boer bel buurman en soek vertroosting oor die druppels wat wegbly en die diere wat kwyn.

Tot God ons ‘n week terug verras het met ‘n nuwe perspektief, ‘n ander hoek – boere uit Reitz in die Vrystaat lewer ‘n vrag mielies af op ons voorstoep en vra slegs ‘n minimale prys vir aflewering.  Hier waar ek, suster van ‘n boer wat moedeloos raak, sit en die video’tjie bekyk, raak ek emosioneel. 
In a world where you can be anything, be kind.

‘n Vriend van my pa (en ‘n skoolvriendin se pa) bedank die weldoeners op die video:  “Die môre sal draai.  Dan gaan dit weer met ons goed. en dan sal ons kyk wat ons vir julle kan doen.”  In ‘n paar eenvoudige sinne sê Oom Boetie baie dankie en vat hy ‘n stukkie Bybelse dissipline saam vir ons.  Ek sê dankie vir Oom se mooi voorbeeld.  Die kinders van Namakwaland kyk en sien raak.
“Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” – Jesus in Johannes 13:35. 

Ek sien die liefde in hierdie aflewering en ek wil hê die wêreld moet dit nie mis nie.  Hierdie is ‘n daad van dissipelskap.  Dit is om weg te fokus van jouself en jou eie probleme , iemand anders se nood raak te sien en jou vermoë om in ‘n klein mate te kan help, aan te bied. 


Boere van Reitz, baie dankie dat julle na my broer en ander boere omsien op ‘n manier wat ons as familie nie kan nie.  Ek het ook eintlik nie woorde nie, maar  julle maak my bewus van my verantwoordelikheid teenoor my medemens.  Dankie, Jesus, vir hierdie duidelike boodskap van liefde en dankie vir mense wat dit regkry.

Tuesday, 23 August 2016

Plek vir meer


‘n Kamer.  Dit kan soveel dinge beteken.  ‘n Vloer, dalk bedek met ‘n mat, vier mure, ‘n deur of twee, ‘n venster, ‘n dak, ‘n lig, ‘n foto teen die muur.  Jou plekkie van privaatheid, waar alleen-trane weggehou word van mense wat vrae vra. 

Die mure word jou vertrouelinge wat nie ‘n woord verklap of ‘n oordeelskyk gee nie.  Hulle vra nie uitvis vrae nie en bied nie leë woorde aan nie.  Dis jy en jou naakte eerlikheid en jou gebede wat verby die dak moet kom tot by jou enigste Troos. 

In die fliek, Room, leer ‘n ma vir haar seuntjie dat die kamer waarin hulle woon die hele wêreld is.  Daar is niks ander nie en wat op die TV is, is alles net prentjies.  Kos kom deur “magic” by hulle.  So hy leef in hierdie kamer en dit is sy wêreld.  Hy ken nie ruimte nie, maar ken woorde soos boom en muis en reën.  Vir hom is dit net idees.

Vir sy ma is dit ‘n manier om haar werklikheid van aanhouding deur ‘n wrede man, aan haar seun te kommunikeer as ‘n gelukkige werklikheid.  Uit haar tronk skep sy vir hom ‘n hawe en doen sy eintlik baie goed om hom te beskerm..

Maar dan begin die droomwêreld nie meer heeltemal sin maak in die seun se vyfjarige brein nie.  Wanneer sy ma vir hom van die regte werklikheid vertel, van die anderkant van die kamer, wil hy dit aanvanklik nie glo nie en sê hy dat hy nie van die storie hou nie, maar omdat dit die waarheid is, begin dit sin maak en aanvaar hy dit.

Hulle werk ‘n plan van ontsnapping uit.  Hy word as ‘n lyk in in ‘n mat opgerol, agterop ‘n trok gesit en moet dan uitrol, weghardloop en hulp kry.  Hy is bang.  Hy ken nie mense nie, ken nie ruimte nie, weet nie hoe om te verduidelik waar sy ma is nie, maar skielik is die wêreld aan sy voete en breek ‘n nuwe lewe oop.  ‘n Angswekkende een, maar met soveel meer fasette en wonderlikhede as waaraan hy gewoond is.

Hy leer trappe klim, maak ‘n vriend, kry ‘n hond, speel met Lego’s, skop ‘n bal.  Dis baie om in te neem en moeilik om vyf jaar se onkunde in te haal, maar hy doen goed.  Sy ouma, oupa en mamma help hom om te verstaan en probeer om nie te veel druk op hom te sit om sy nuwe wêreld te verstaan en waardeer nie.

Dan wil hy teruggaan na die kamer en sien hy vir die eerste keer hoe klein dit eintlik was.  Dis moeilik vir sy ma, want dis ‘n herinnering aan haar grootste seer, maar vir hom was dit tot onlangs sy werklikheid wat hy verstaan het.  Dan groet die seuntjie elke item in die huis en loop weg…die toekoms in…vry, soos ‘n skoenlapper uit ‘n kokon.

Die kamer se deur is wawyd oop en nie meer alles nie.  Dit was ‘n toevlug, ‘n ontwikkelingstadium, goed vir ‘n rukkie.  Maar nuwe avonture met nuwe vlerke lê voor.  Blomme om op te sit, plekke om te sien, omgewings om te versier met die kleure van jou skoenlaper-vlerke…

“Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.  Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk indwing nie.” – Gal 5:1

Dis okay om in ‘n kokon te wees vir ‘n rukkie…maar die nie jou uiteindelike roeping nie.  Spin jouself toe in daai tyd vir genesing, maar wees opgewonde oor jou ooievaarsvlug na die wêreld van moontlikhede.

Sunday, 20 December 2015

Daar diep binne

Sê nou maar hoe dit met jou gaan het afgehang van die waarheid en bemoediging wat jy van God SELF af kry (deur tyd in gebed, in die Woord, in die natuur, in lofprysing en aanbidding, in luister na Sy stem),wat sal jy antwoord as iemand jou weer vra:  "Hoe gaan dit met jou?".


As iemand my vra hoe gaan dit met my, weeg ek eers die persoon.  As dit 'n kassier is of iemand wat ek glad nie ken nie, dan gaan dit altyd goed en met hulle?  As dit iemand is wat ek ken, maar ek ervaar nuuskierigheid in plaas van ware belangstelling, hardloop ek na die naaste lekker gebeurtenis en vertel dit gaan goed, want ek het onlangs sus-en-so gedoen.  Ek probeer eerlik en geloofwaardig wees.  As dit iemand is wat naby toegelaat word, sal ek eerliker wees en sê hoe, ten spyte van sus-en-so wat ek regtig geniet het, dit eintlik nie so goed gaan nie.  Op die ou end, as ek alleen is in my binnekamer, is die waarheid egter daar om my vierkantig in die oë te kyk.  Koud.  Eerlik.  Skokkend.


Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.  Dis mooi en ware woorde wat ek in 'n liedjie vir my driejarige kiddies leer.  Dis integraal tot ons welstand.  Dis nie al nie.  Wat help dit jy lees jou Bybel en bid, sonder die hart van werklike aanbidding en "awe"? Wat as daar ook ander maniere is, soos om tyd te neem om stil te word, of jou radio af te skakel en doelgerig te dink oor waarheen jy oppad is en wat jy daar gaan doen?  Kan dit eintlik altyd goed gaan?  Kan God my Sy uitsig op al my "issues" gee?


Soms kyk ek na my slaapkamer, my binnekamer, en sien dis deurmekaar.  Ek het die nare gewoonte om, as ek moeg is, alles te doen om so gou moontlik in my bed te lê.  Horisontaal.  Dan doen ek net die nodige, borsel tande, was gesig, trek slaapklere aan, gooi klere op die grond, los papiere onordelik op my lessenaar, vou nie wasgoed op nie en more oggend spring ek hekkies tot by my badkamer.  En eintlik is ek 'n netjiese mens wat hou van orde!


Ek skep my eie wanorde (waarvan ek nie hou nie) en ongemak en dan wonder ek wat sê dit van my gees in so 'n besige tyd.  As ek eerlik is, sien ek dan ook onklaargemaakte denke, gedagtes wat nie gesuiwer is nie, leuens wat nie in die asblik is nie en onrustigheid wat nie by God gelos is nie.


Hoekom sal ek dit toelaat?! 


Ek is nie 'n kenner op die gebied van God se stem hoor nie.  Inteendeel, ek het soms my bedenkinge oor of ek die vermoë het.  Wat ek wel weet, is dat Hy met my WIL gesels oor al die onordelikheid in my hart.  My hart, my gees, is waarin Hy belangstel.  Hy wil hoor wat ek droom en besluit.  Hy wil saam met my opgewonde wees, huil, lag, troos.  Hy wil hoor van onsekerheid en al my vrae onder Sy opdrag en wil plaas.  Party dinge wil Hy namens my dra omdat ek te swak is.  Hy wil Homself aan my openbaar (soos Hy wel soms doen wanneer ek mooi luister en Hom kans gee).


Hy wil ook DIREK met my praat, nie met iemand wat ek dink goed genoeg is om Sy stem namens my te hoor nie.  Ek het Hom gevra om in die vakansie, elke dag, vir my een waarheid te gee.  Dis 'n volle maand van waarhede uit God se mond.  Dit het soveel potensiaal...as ek luister en bid en intensioneel is daaroor om nie die maklike pad te vat en te ignoreer wat my pla nie.  As ek net rou eerlik voor my Skepper staan en opreg vra vir Sy waarheid.


Ek ken van moedeloos wees en vrae sonder antwoorde.  Ek ken van seer wat nie wil weggaan nie.  Ek ken die herhaardelike pad wat mens moet loop om te vergewe.  Ek weet hoe moeilik dit is om soms aan te gaan as jy nie jou eie pad gekies het nie, maar nou daar moet loop.  Dit is nie maklik nie.  Maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat my beste kans is om saam met God al hierdie dinge te doen.  He can turn mourning into joy.  He can heal.  He can give piece, love, more tolerance...  Strength will rise as you wait upon the Lord.


Dit glo ek.

Sunday, 13 September 2015

Melia

Melia,


Jy moes pragtig gewees het, want God maak net mooi.  Alle dogtertjies is mooi en het spesiaal binne hulle ingebed. 


Ek het so 3 maande terug van jou gehoor.  Dit was 'n groot geheim.  Jou oom het my van jou vertel.  Jou ma-hulle het uitgevind hulle is swanger met jou, maar wou nog eers wag met die nuus tot jy bietjie groter was. 


Ek het begin dink oor jou - of jy 'n seuntjie of dogtertjie was en hoe jy sou lyk. Hoe sou jy almal se lewens verander...veral jou mamma en pappa s'n.  Jy was van die begin af 'n goeie gedagte.


Toe het ons geskrik, want jou mamma het begin bloei.  Ons het gebid en jy was veilig om verder te groei.  Hulle het erg opgewonde begin raak en op Facebook gedeel dat jy verwag word...jou mamma het 'n foto geplaas van jou hondeboeties wat 'n swangerskapsboek "lees". 


Toe vind hulle uit jy is pienk...ooo, die opgewondenheid.  Jou 4D scan.  Perfek tot die laaste selletjie toe.  En jy het 'n naam gekry. 


'n Week terug het jou mamma kontraksies begin kry.  Jou oupa het gebel om die nuus oor te dra.  Ons het weer hard gebid.  Ons wou jou so graag binne hou.  Dinge het gestabiliseer en ons was verlig.  'n Dag later het ons weer groot geskrik, want jou mamma het weer kontraksies begin kry.  Jy het glo jou beentjies opgetrek en 'n groot wonder het gebeur.  Jy het binne gebly.


Ek het geen idee nie, maar ek dink jou mamma en pappa was baie bekommerd en baie emosioneel.  Jou mamma moes bedrus doen vir die res van haar swangerskap.  Jy, op 22 weke, moes nog baie groei.  Dit was 'n rowwe week, maar dinge het okay gelyk.


Jy sal nie glo hoeveel mense wat nie jou mamma of pappa ken nie, het vir jou en vir hulle gebid.  Dis hoe jy 'n horde mense bymekaar gebring en herinner het aan die krag van gebed.  Jy weet dit nie eens nie, maar dis hoe amazing jy is.


Gister is jy gebore en die lewe buite jou mamma was te moeilik en te uitdagend vir jou.  Jy is weg.  Miskien soos 'n asempie, maar vir ons wat bietjie nader was en vir die wat gebid het, is jy vir altyd 'n groot getuienis en 'n herinnering.


Die krag van gebed lê nie in die uitkoms nie.  Dink daaroor.  Net omdat jy nie leef op aarde nie, maak nie dat daardie gebede verniet gebid is nie.  Ek weet dat 'n klomp mense nou nader aan  God is en dit, my skat, was ook jou toedoen.  Die krag van gebed lê daarin om naby God te wees met al jou begeertes, probleme, hoop, teleurstellinge, met al jou emosies.  Ons ander bid nog net so baie vir jou mamma en pappa.


Ek sou bitter-bitter graag met my hele hart wou hê dat jy hier by ons moes lewe, maar dit was nie so beskik nie.  Elke herinnering aan jou sal altyd vir my mooi wees omdat jy 'n reine ou kindjie was vir wie God so bitterlik lief is.  Hy jubel en juig oor jou en ek wonder of Hy nie op hierdie oomblik dalk met jou gesels nie, want jy LEWE.


Ek bid vir jou mensies.  Hulle is baie seer en gebroke.  Ons hoop en vertrou dat God wat vir jou so baie lief is vir hulle 'n ander kindjie sal stuur om saam met hulle op aarde te lewe.  Nie om jou te vervang nie, maar om ook vir jou ouers die kans te gee om 'n kindjie op aarde groot te maak vir Hom, 'n kindjie wat vir hulle goed kan wees.


Mag jou gees rustig by God rus.


Baie liefde,
'n Tannie wat uitgaan met jou oom (wat vir jou 'n Tigger gekoop het)

Tuesday, 31 December 2013

Een, twee, drie, Blog myself...2013 sê koebaai

2013 lê op sy rug en krap sy maag met 'n tikkie nostalgie.  Hy loer na die 12 maande soos vir trekwolke deur 'n verkyker. 

Januarie het begin met 'n braai saam met geliefde vriende en minder geliefde (meer onbekende) vriende wat hul huis se deure vir ons oopgemaak het.  Met 'n gedagte aan die feit dat die gasheer en gasvrou kort getroud is, het ek aan die vroutjie gevra wat dit is wat sy geleer het deur die huwelik wat sy nie voorheen geweet het nie.  Haar antwoord het my keel klein bietjie benoud gemaak:  jou man sal vir jou al jou "issues" uitwys soos julle huwelik aanstap.  In my stilligheid het ek gehoop dat ek alle issues sal kan uitsorteer voordat daar 'n huweliksmaat in my lewe arriveer.  Tog het daardie woorde my bygebly en dink ek nou dat dit darem 'n groot voorreg is om deur so 'n tipe heiligmakingsproses te gaan.  Die idee van die heiligmakingsproses is bevestig deur 'n preek van ds Cassie Carstens later die jaar.  Wat as ons trou sodat ons meer heilig kan word...?

Februarie het die einde van my prokureursklerkskap aangekondig.  In daardie beroep het ek ook 'n paar heiligmakings beleef wat nou nie in die huwelik kan gebeur nie.  Ek het 'n paar stukkende huisgesinne, mans, vrouens en kinders gesien en 'n kykie in die wrede wêreld waarin ons leef.  Februarie het gekom en gegaan en ek was werkloos.

In Maart het ek my 27ste kersie op die koek gekry en ook 'n droë maand gehad waarin werk nie wou kom nie.  Ek het by die kerk se restaurant begin werk en ook as aflos juffrou by die kleuterskool uitgehelp.  Ek het 'n derde werk as aupair gekry by 'n lieflike gesin in Pretoria.  Daar was nie 'n oomblik wat ek nodig gehad het om by iemand anders as my Hemelse Voorsiener te vra vir enige finansiële hulp nie.  Ek het selfs 'n Kaapse draai gemaak en 50km van die Two Oceans deur gesukkel.

April was 'n maand vir selfondersoek.  Is ek geroep vir die prokureursberoep of was dit tyd vir 'n skuif?  Gebede en smekinge het my gelei tot die besef dat ek regtig weer enige iets kan doen.  Iets in my was gereed vir 'n nuwe avontuur...

Die avontuur het afgeskop in Mei toe ek by 'n kleuterskool begin werk het.  20 en 21 en later 22 driejariges het my verantwoordelikheid geword.  Ek het geen ondervinding gehad nie, net my Hemelse Leermeester om my met wysheid te lei en te leer van die lewe van 'n kind.  Wat 'n voorreg en wat 'n reis...een waarop ek NOOIT alleen was nie.

My eerste Mosambiek kuier saam met 'n lekker groep vriende het in Junie gebeur.  Soveel uitdagings en soveel nuwe dinge.  My hart was in die wolke.  Al die uitdagings (van skaaptjops wat vol petrol gemors is tot groot verdwaal in die Mosambiek kant van die Krugerwildtuin) het my net weer geleer watse verskil die mense maak saam met wie jy rondrits.  Later kon ons rondlê op sagte strande en grootoog agter kleurvolle visse aan swem.  Ook die eenvoudige leefstyl van die inwoners daar het my aangegryp.  Ek wil weer gaan!!

Die tweede helfte van die jaar in die vorm van die koue Julie het my herinner aan my pa se heengaan 10 jaar gelede.  Ek kon agteruit dink en verlang vir 'n rukkie...maar nooit sonder die hoop van 'n toekoms met my Vader in die hemel nie.  Die pad vorentoe lyk nog baie rooskleurig.  Ek ontmoet daagliks nuwe mense wat my lewe inkleur (wat nou nie spesifiek tot hierdie maand beperk is nie).

In die maand van die vrou, Augustus, het 'n dierbare vriendin ons uit die stad geneem na 'n dam naby Vrede in die Vrystaat, vir haar 30ste verjaardag.  Die uitgenooide dames het vir daardie naweek alles gedoen wat 'n man sou doen, behalwe om my motor ordentlik te pak.  Met 'n gesukkel om die kattebak toe te kry weens al die bagasie, het my motor se vlerkie in die slag gebly!

Septembermaand het my laaste energie getap.  Dit was tyd vir konsert hou by die kleuterskool.  Tussen klere koop, kostuums maak, dansies oefen en daaglikse lewe het ek amper myself vergeet.  Ek was tot in my siel in dankbaar toe my ousus my nooi om saam met haar te gaan jag in die Oos-Kaap vir die langnaweek.  Ek kon weer rustig word en onthou dat daar 'n lewe buite die gejaag is.

Toe kom Oktober.  Die kinders word geassesseer vir hul eindjaar rapporte, die laaste knapie word drie jaar oud.  Skielik vreet beplanning weer al my tyd op en moet ek in die aande nog gediggies uitdink en kreatiewe planne maak om die kinders mee besig te hou.

Woerts-warts en dis November.  Besig bly ons besig, want rapporte moet mooi lyk en die skool moet lyk soos Kersfees.  Ons moet speelgoed voorraadopname doen en die assistente (en juffrouens) raak moeg.  Einde ten laaste maak ons ook kerskaartjies en bak koekies vir die oueraande en werk een na die ander eindjaarfunksie in.

Uiteindelik breek Desember aan en die laaste dag van skool laat my weer asemhaal.  Dis vakansie!  'n Troue hier en 'n staptog daar.  'n Draai op die plaas en nou is ek in Stellenbosch...was 2013 die moeite werd?  Ja, ja, ja!

Hoe lekker is dit nie om aan die einde van die jaar te kan dink oor 'n vol jaar met baie dimensies nie?  Ek proe-proe so aan die lewe in oorvloed wat ons hier op aarde kan hê en ek geniet dit met 'n GROOT afwagting, want die hemel gaan soveel meer van dit hê!  Gee my nog een!  Gee my 2014!  :)

Saturday, 3 August 2013

"Is 10 jaar lank, Juffrou?"

Ek onthou toe ek 10 jaar oud geword het, het ek vir my Standerd 2 juffrou gevra of 10 jaar lank is.  Ek wou weet of 10 jaar genoeg jare is om 'n beduidende verskil te maak en of my lewe van 10 jaar dan al tel.  Sy het geantwoord dat 10 jaar wel lank was en vir 'n tyd was dié kort antwoord vir my bevredigend...my lewe het begin saak maak. 

Vandag weet ek presies hoe lank en hoe kort dieselfde 10 jaar kan wees...

10 Jaar is baie herinneringe lank - geloofsbelydenis, 'n pers matriekafskeidrok, die einde van 'n Hoërskool Namakwaland loopbaan, die begin van 'n Matieland ervaring, die einde van 'n eerste liefde, die bou van karakter, gradeplegtigheid, voltooiing van prokureursklerkskap, 'n 180 grade U-draai om kleuterskooljuffrou te word en ALLES tussenin.

10 Jaar is geen meer - ProVita met Marmite, Grunberger Sauvignon Blanc, 1-2-3 wals op 'n troue, nagsê soentjies en drukkies, deur-die-veld-ry trippies met die Isuzu bakkie, rusbank sit, koffie met melk en geen suiker, vaalhoender dieet, kuier om die braaivleisvuur, etes by oom Jopie se kafee, fluit dat die berge antwoord gee, sommetjies op die sakrekenaar om die werknemers se kruideniersuitgawes uit te werk, beesstert potjiekos, lank gesels na biduur, klop aan my kamerdeur met 'n "Nag, Pop!", kerkgeld in my hand, R10 sakgeld, spot-grappies, etenstyd stories uit die ou dae, gestalte van Pappa in die sitkamerstoel, tevrede glimlag oor die bankrekening of drukkie vir Mamma nie...

Nee, toe Pappa gesê het "Ek dink nie ek gaan jou erekleure plegtigheid maak nie", het Pappa onwetend baie waar gepraat.  Toe was dit die begin van 10 jaar, 20 jaar, 30 jaar...  Die einde van 17 jaar van dogter wees vir my pa, my bloed-pa, my waardes-pa, my aardse pa.

10 Jaar is lank en kort gelyk.  10 Jaar is so lank dat ek bang is herinneringe vervaag en so kort dat trane en snikke steeds 'n realiteit is.

Vandag het ek tevergeefs iets tasbaars van Pappa prober beleef.  Pretoria is nie Springbok nie en nog minder is dit Stofkraal.  My motor is nie 'n Isuzu bakkie nie.  Op my kop is nie 'n springbokvel, breërandhoed nie.  My voete loop nie spore in nommer 9 velskoene nie.  Hier is nie 'n skaap of 'n bees of 'n bok of 'n gousblom of 'n jukskei of 'n sakdoek of 'n knipmes in die broeksak nie. 

Al wat ek het en alles wat ek nodig het, is die God van Abraham, Isak, Jakob en John.  Hy wat vir altyd dieselfde bly oor geslagte heen.  Dankie, Pappa, vir 'n nalatenskap wat baie langer as 10 jaar gaan hou.  Dankie, Jesus.

Thursday, 29 November 2012

Mikpunt bereik. Tiek! :-)

Ek het die vorige aand gewonder of Riaan Cruywagen se laaste nuusboeletin regtig nuuswaardig genoeg is om 'n halfuur studietyd daaraan af te staan.  My gevolgtrekking was dat daar in die lewe min genoeg sulke oomblikke is en dat ek maar die opoffering kon maak.  Toe ek boonop hoor dat daar nog 'n ekstra program net na die nuus is, was ek selfs bereid om die verdere opoffering te maak en ook dit te kyk. 

Die studietyd waarvan ek praat was noodsaaklik vir my laaste toelatingseksamen-mondeling wat ek ook per genade gekry het.  Boedels en Testamente.  Heel ironies was dit juis erfreg wat my in die eerste plek na die regswese gelok het(dis 'n storie vir 'n ander keer).  In ons verpligte LEAD klasse was een van my gunsteling dosente ook die een wat Boedels en Testamente aangebied het.  So, ek moes eintlik hierdie vraestel 'n ding of twee gewys het.  Dalk was ek te optimisties toe ek besluit het om drie toelatingseksamens met een slag te skryf of dalk was dit maar net my paadjie wat ek moes loop om weereens bietjie nader aan God te kom.  Toe kry ek die genade-mondeling.

Voordat ek geweet het van die uitslae het ek in my stiltetyd gewonder of ek maar vir God moet vra of hy nie bietjie "magic" vir my sal stuur nie(want kyk, dit het NIE goed gegaan met die eksamens nie).  Hy is immers by magte om selfs vir my antwoorde in te vul of die eksaminator blind te maak vir my foute of watookal.  (Jy weet jy het ook al vir so iets gebid.)  Iewers in die stiltetyd reis het ek begin wonder wat die goed daarvan sal wees as ek my "magic" kry.  Sal my kliënte enigsins baat daarby dat ek nie die kennis het nie?  Sou dit vir myself enige waarde toevoeg? My gebed het verander na 'n gebed van "help my om watookal gebeur te hanteer".  En dit was so...

Dear Ms Kennedy, Your results for the Adm. exam...  Toe daai sms kom het ek omtrent hartkloppings gekry en amper besluit om nie te gaan draf nie.  Ek het nie Etiek gepluk soos ek gedink het nie, maar dit mooi deurgekom.  Ek het Howe, soos te wagte, ook deurgekom en dan was daar die genade-her vir Boedels en Testamente.  Ek het wel gaan draf...met dankbaarheid in my hart.

Die plan van aksie was om maar net weer alles te leer, meer te onthou, beter te verstaan en dan daai mondeling te PRAAT.  Iewers in my lewe het ek mos met Moses begin identifiseer en geglo dat ek nie 'n goeie prater is nie.  Hierdie leuen het ook nie juis gehelp nie.  Wat wel gehelp het, is om op my knieë in afhanklikheid te bly.

My mondeling was geskeduleer vir 09h30.  Ek is ingeroep om 09h20 en om 09h31 het ek vir my prinsipaal haar boodskap van die eksaminatore gegee.  "Sê vir jou prinsipaal jy het 'n goeie mondeling gehad.  Jy kan nou toegelaat word."  In 'n mate wil ek die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades 'n bietjie krediet gee, want die noem daarvan het die twee eksaminatore baie beindruk, maar kom ons wees nou maar eerlik - al die eer kom die Here toe.  Mag daar ook groot eer wees in my prokureurswese in die toekoms.  Soos my Boedels dosent gesê het:  "Integrity is a non-negotiable commodity."  Waarheid is waarheid en hierdie waarheid wil ek in my beroep sien.

EK IS 'N KANDIDAAT PROKUREUR WAT OOR 'N PAAR MAANDE TOEGELAAT KAN WORD AS 'N REGTE PROKUREUR!  MIKPUNT BEREIK.  TIEK!  PRYS DIE HERE!  :-)